Vervaldatum

  • 0

Alles herinner ʼn mens deesdae aan die verganklikheid. Melk het ʼn vervaldatum en is gewaarborg om suur te word enkele dae daarna en so is dit ook met groente en vrugte. Selfs blikkieskos het ʼn beperkte rakleeftyd. Medisyne en pille word sogenaamd giftig na ʼn sekere tydperk. Daar word selfs na ʼn veertigjarige oujongnooi verwys as verby haar verkoop-teen-datum wat betref die vreugde van die huwelik en moederskap. Van ʼn kruppel ou oom of tannie word soms onsimpatiek gesê dat hul verby of naby hul vervaldatum is. So is alles verganklik en wat die winkels betref, word hierdie vriendelike waarskuwings gemik op die verbruiker se wel en wee. Maar soms is hierdie besorgdheid van die winkeleienaar of vervaardiger verwarrend.

Om inkopies te doen, is nie my idee van ontspanning nie. Die enorme groot sentrums met tientalle winkels, die massas mense wat mekaar verdruk en vertrap, die groot verskeidenheid van produkte, haastige enkelmoeders, ontledende winskopiejagters en rustige kasregister-operateurs is een groot bron van frustrasie. Soms gebeur dit dat ek, natuurlik teen my wil maar steeds hoflik en ondersteunend,  meegesleep word om te help met die besluitneming oor een of ander winskoop en die hoeveelhede wat aangeskaf moet word. Mans gaan lankal nie meer saam oor hulle beursie nie, daarvoor is daar kredietkaarte. Hulle moet net instem tot die aankope en om sodoende medepligtig te word. Dit voorkom die kommentaar soos “Liewe genugtig vrou, jy het genoeg seep gekoop vir ons, die kinders en kleinkinders vir die volgende tien jaar.”

Die teen-antwoord is altyd dieselfde: “Hulle het gesê die prys gaan styg weens inflasie, verswakking van die Rand, politieke onsekerheid, grond wat onteien gaan word en ander vae redes. Wat die seep betref, word daar ʼn internasionale tekort verwag van die unieke velvoedende en ouderdomwerende olies wat die seep kenmerk. Gevolglik is die huidige afslagprys net te goed om waar te wees.” Die motivering is veronderstel om die aankope en investering te regverdig hoewel die tien bondels van 18 koekies elk vir die verbruik van twee mense nie ekonomiese sin maak nie. Soms word die verweer afgesluit met “en weet jy hoeveel geld ons gespaar het?” Hierdie argument word nie meer so gereeld gebruik nie, want dit het later deurgeskemer dat die netto-effek ʼn uitgawe is waardeur jou beursie dunner en nie dikker word nie.

Die jongste besoek aan die nabygeleë inkopieparadys – daar is ʼn hele paar van hulle in Stellenbosch en Somerset-Wes – het sy eie geur gehad. Die omstandighede en frustrasies was presies dieselfde. Nadat daar die vorige dag wild rondgeblaai is tussen die magdom kleurryke advertensies is ʼn besondere winskoop raakgesien, toiletpapier. Advertensie in die hand is ons die winkel binne en die produk is vinnig opgespoor, berge daarvan. Geen oortuiging was nodig om die aankope te motiveer nie, want geen plantasies is per ongeluk afgebrand of papiermeulens het langdurige stakings ondervind nie. Die prys was nou sommer net ʼn hengse bargain en klaar. Die verpakking was soos voorspelbaar in simmetriese pakke van 18 rolle.  Daar is altyd gewonder waarom die verpakking in of veelvoude van sesse is; selfs bier het kratte van 24 bottels of blikkies. Dit is seker maar die Engelse se skuld. Die verpakking is netjies, deursigtig met ʼn fraai 6-maande-oue, kaalbolyf-, blondekop- mannetjie in sy papierdoek. Sy effens skugter glimlaggie en netjiese kuif wys hy is gelukkig, en tevrede met die lewe. Dit weerspiëel ook die gehalte van die produk. Selfs die kleinste van ons vind aanklank daarby. Dit is immers dubbellaag en het beertjies, hondjies en katjies in die papier gedruk en word ondersteun deur mikro-kussingtegnologie. Dit is onduidelik wat laasgenoemde beteken, maar klink gemaklik. Omgewingsbewustes word verseker dat die papier van verantwoordelike bronne kom, en ʼn mens kan aanneem dit is verpulpte  uitheemse bome en nie gehersirkuleerde toiletpapier nie. Daar is 360 velletjies op ʼn rol, dus 6 480 in ʼn pak.

Twee van die grootste trollies word flink aangetree en die winskoop word ruimskoots ingeskeep. Die voorkeurkleur is wit, omdat dit meer higiënies voorkom. Die bestuurder word opgekommandeer om nog voorraad uit die stoor te gaan haal, want die rakke word leeg weens die besonder hoë vraag. Die pakke van agtien word hoog opgestapel en die trollies moet met die een hand gestuur word terwyl die ander die toring met babagesiggies orent hou. My vrou se trollie het ʼn wil van sy eie en beur na die broodrakke terwyl sy eintlik die naaste uitgang soek. My reddingspoging om die trollie te trek, en myne met my maag te stoot, misluk toe ek my konsentrasie verloor en die toring inmekaar tuimel. Gelukkig is die skade beperk danksy die mikro-kussings, maar ʼn middeljarige, effense mollige rooikopdame word skrams getref deur ʼn pak wat van die rak met ingemaakte groente teruggebons het. My verskonings het geen indruk gemaak nie en haar yskoue deurdringende kyk vir sowat dertig sekondes het boekdele gespreek. Sy het seker vir haarself gevra, “Wat maak twee sulke onbeholpe mense met soveel toiletpapier, verwag hulle ʼn storm? Dalk kom hulle van die platteland (hulle lyk so) en bedryf ʼn winkel, seker ʼn jaar se voorraad; of dis dalk ʼn gebaar van welwillende liefdadigheid, en hulle voorsien skole en koshuise met minderbevoorregtes in die omgewing vir die res van die jaar.” Toe sy wegstap, was die ys gesmelt en kon sy haar lag nie hou nie. Met die toring herbou, word in gelid na die uitgang beweeg sonder enige voorval totdat my vrou ontsteld, byna geskok, sê ”Het jy dit gesien?” en wys na die dowwe fynskrif op een van die pakke net onder die baba se voetjie. Die konvooi word tot stilstand geruk, maar met torings intakt. Soos altyd maak sy seker dat die produkte wat aangekoop word, ruim binne die vervaldatum is. Die opwinding van die winskoop en massale aankope het haar onkant gevang en in ʼn oomblik van swakheid het sy dit misgekyk.

“Die toiletpapier het reeds verval, met een dag. G’n wonder hulle het dit amper verniet weggegee nie” sê sy teleurgesteld en begin rondkyk vir die klagtesafdeling. Sy voel bedrieg. Voordat sy die bestuurder naderklap en hom oor die kole haal, en gegewe die ontberings om die betaalpunt te haal, word daar rustig met haar onderhandel, want hierdie is ʼn krisis en vroulief is veglustig. Terugpak is nie ʼn opsie. Daar is geredeneer oor die implikasies van vervalde toiletpapier op mens, dier en omgewing en wat dit kan voorstel. Die waarskynlikheid dat die uitheemse houtvesel begin bot is skraal, dat dit totaal sal disintegreer sodat net foeseltjies rondom die perforasies oorbly, klink onmoontlik. (Dit is algemeen bekend dat die perforasies die sterkste deel van toiletpapier is). Die ergste wat kan gebeur, is dat die gedrukte diertjies kan vervaag, een van die lae loskom of dat die mikro-kussings hulle veerkragtigheid verloor en platter word. Sou daar nou ʼn glipsie kom, dan kan ons altyd terugval op die voorraad seepkoekies met die velvoedende olies. Die laaste opmerking was ietwat riskant, want die seepaankope bly ʼn teerpunt. Die woord “aansienlike” om die voorraad te beskryf, is dus doelbewus uitgelaat. Daar is toe gesamentlik besluit dat een dag nie eintlik ʼn verskil gaan maak nie en ons is toe deur die betaalpunt, 181 440 velletjies toiletpapier later.

As meelewende landsburger en verantwoordelike verbruiker voel ek my verplig om na 6 maande en een dag na die vervaldatumtoiletpapiersage terug te rapporteer. Enersyds om verbruikers wat vervaldatums met valkoë dophou, gerus te stel en andersyds die vervaardiger gemoedsrus te gee dat die speling tussen vervaardig- en vervaldatum uiters konserwatief is. Dit is natuurlik hoe dit hoort. As gemiddelde Suid-Afrikaanse verbruiker van die produk is dit goed om te kan rapporteer dat daar geen noemenswaardige insidente oor genoemde tydperk plaasgevind het nie. Daar was ook geen rede om ʼn enkele rol om te ruil of geld terug te vra nie. Ons moet erken dat daar nog nie eintlik ʼn duik in die voorraad gemaak is nie. Die produk het wel ʼn verskeidenheid van abnormale uitdagings deurstaan. By een geleentheid het ʼn spastiese dikderm losgeskiet en is die papier tot op byna industriële skaal beproef. ʼn Besoek aan ʼn restaurant met ʼn cowboy-en-indiane-tema het gelei tot ʼn dubbele aanslag weens die guatemala-sous wat spontaan begin gis het in die vroëe oggendure. Weereens het die papier sy man en vrou gestaan. Gelukkig het net een van ons ʼn hardnekkige somerverkoue gekry en die papier het sy rol as lang-tissue met sukses vervul. Die volgehoue, nou kroniese hooikoors word nie aan die produk of vervaldatum toegeskryf nie. Die oorloop van die badkamerwasbak se skade is beperk deur met ʼn hele paar rolle ʼn klein kofferdam te bou wat voorkom het dat die aantrekkamer oorstroom. Gelukkig het ons genoeg voorraad gehad. Die absorpsievermoë van die papier was indrukwekkend.

Selfs ons kleinkinders spandeer nou meer tyd in die kleinhuisie. Die gedrukte diertjies verskaf oneindige vermaak en die papier word met reëlmaat afgerol en dan soms weer opgerol. Ons het later gedink dat dit beter is as elkeen sy eie rol kry. Dié word nou met trots onder die arm rondgedra oral waar hulle gaan.

Ons gelukwensinge met hulle duursame, uitstekende produk is na die vervaardiger deurgestuur, maar daar was nog geen reaksie tot op hede nie. Daar is wel opgelet dat die fraai babatjie op die verpakking vervang is met ʼn wollerige klein Labrador-hondjie wat tussen die rolle speel. Soos ons honde ken, veral kleintjies, gaan hulle die rolle sommer vinnig opspeel en net papiere sien waai. Ons het ons nie in die bemarkingsboodskap verdiep nie, want ons verstaan nie heeltemal wat die hondjie se rol is, as onwaarskynlike verbruiker, om die produk te koop nie. Ons het ʼn spesiale plastiekknyptang-tipe hondebollie-opteller vir die grasperk en papier is dus nie eintlik nodig nie.

Die vriendelike babatjie sal egter ons agterland bly in die afsienbare en selfs verre toekoms.  

Lees ook

Die psigiater

Die ander vrou

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top