Die psigiater

  • 0

Vandat my linkerskouer flenters geval is tydens opleiding en diens vir volk en vaderland, gee dit my allerhande probleme. Nou veral, met die ouderdom gekombineer met jig, rumatiek en winterkoue, raak dit ’n ergernis.

“Dokter toe met jou, want met hierdie alewige geklaery kan g’n mens dit met jou uithou nie!” beveel die wederhelf.

Ons jare lange huisdokter was gou beskikbaar en met die instap vriendelik en bly om my te sien, want ons kom gelukkig selde daar.

“En hoe gaan dit?” wou hy weet nog voordat ons die spreekkamer instap. Dit bly altyd ’n moeilike vraag. Bedoel hy die laaste drie jaar sedert ek hom laas gesien het, of meer onlangs? Wou nog effens sarkasties sê: “As dit so goed met my gaan, sou ek mos nie hier gewees het nie,” maar bedink my en effens senuweeagtig prewel ek: “Nee wat, dokter Jan-Wim (as ou kennisse noem ons mekaar op die voornaam; hy noem my Prof), eerste klas, dis net die ou ...” en nog voordat ek my sin kon voltooi, is ons die kamer binne.

Hy gaan sit gemaklik agter sy lessenaar en ek op die punt van sy minder gemaklike pasiëntestoel, en dan volg die gebruiklike vraag: “En waarmee kan ons vandag help?” Natuurlik heeltemal te fyngevoelig pla die “vandag”-gedeelte my onmiddellik, so asof ek net gister ook daar was. Die “ons” word gemoedelik aanvaar as gevestigde mediese spreekwyse.

“Man, dokter Jan-Wim, ek het ’n skouer”, en beduie na die linkerkant en probeer Namakwalandse humor by die strak spreekkameratmosfeer inbring. Dit is duidelik dat doktersbesoeke en humor nie saamval nie, al het ek my verbeel dat die effense trek van sy linkeroog dalk ’n versteekte glimlag kon gewees het. Met ’n ewe gebruiklike “Kom laat ons kyk” word die skouer en arm ondersoek. Dit word gedraai, gedruk en gerek met die diagnose dat daar “inflammasie in die bursa is wat ’n subakromiale bursitis veroorsaak”, met ouderdom ’n bydraende faktor, darem niks ernstig nie. Ek knik instemmend en maak asof die tegniese terme vir my heel bekend is. Nog voordat hy sy voorskrif begin skryf, noem ek dat ek nog ’n skouer het.

Daarna het die besoek ’n onverwagse wending geneem. Hy het my reguit aangekyk met onsekerheid in sy oë en ongesiens sy skryfblok nadergetrek, ’n naam en adres in sy kenmerkende, byna onleesbare handskrif neergekrap en fronsend gesê hierdie persoon sal kan help. Die verwysingsbrief sal volg en direk aan die betrokke dokter gestuur word. Sonder ’n salfie of pilletjie of oplossing van die probleem is ek toe daar weg met net die simpatieke woorde “Sterkte en groete by die huis”.

Tuis, en met my onder die indruk dat die persoon na wie ek verwys is ’n skouerkundige is, kom die ontstellende nuus na ’n behendige en verrassende kort internetsoektog deur vroulief.

“Haai, dit is ’n psigiater in Somerset-Wes,” sê sy half opgewonde en sonder om oogkontak te maak. Tot vandag toe sweer ek (al sê my skoonma dat net vuil mense sweer) dat my vrou iets hiermee te doen gehad het.

Sonder om my teë te sit en te veel vrae te vra, en sodoende die vrede te bewaar is ek stiptelik volgens voorskrif by die kopdokter. Eintlik effens te vroeg, want ’n mens wil nie sommer met die intrapslag die indruk skep van ’n laatkommer of pasiënt met ’n traak-my-nie-agtige houding nie. Die spreekkamer is in ’n gerestoureerde Victoriaanse huis, een van vele in die ou hoofstraat. Die ontvangsdame is ’n stil mens. Haar toonbank is op ooghoogte en met ’n professionele glimlag en draai van die oë beduie sy my na ’n leë ry stoele. Dit is duidelik dat sy my verwag het. Die binnenshuise versiering is volgens die boustyl en ’n regop bentwoodstoeltjie lyk die gerieflikste onder die omstandighede. Dokter blyk ’n ervare man te wees en is reeds ’n geruime tyd in die bedryf volgens die tydskrifte op die koffietafel. Landbouweekblad kondig met trots die eerste opening van die sluise van die Katse dam in die Lesotho Hoogland aan en Huisgenoot se voorblad bespiegel oor die erns van die verhouding tussen ’n jeugdige Diana Spencer en heelwat ouer en ervare prins Charles.

Die enkele tjieng van ’n ou bankklokkie laat my aandag na die ontvangstoonbank verskuif.

En daar staan die psigiater! Lyk ook na ’n stil mens en reeds verdiep in die verwysingsbrief. Hy is aan die kort kant, maar geset en in die laaste deel van sy middeljare. Sy uiters konserwatiewe kleredrag met effens verslete alma mater-das pas by die styl van die meublemente. Die sout-en-peper-baard met swartraam-halfmaanbril laat hom lyk soos ’n kruising tussen Sherlock Holmes en Sigmund Freud. Die kromsteelpyp rond sy beeld af en wink my nader. Die ontvangsdame se flou glimlag en bekommerde trek wys dat sy ook die verwysingsbrief gelees het. Nog ’n wink van die kromsteel beduie my na die ingang van sy kantoor.

Die vertrek is indrukwekkend en ruik na Rum and Maple-tabak. Ruim, die beligting skemeragtig gedemp en tesame met sagte agtergrondmusiek, dalk Liszt of laat Rachmaninoff, skep dit ’n omgewing van kalmte vir die ontstelde en onstuimige gees. Op die kant van die onnatuurlik netjiese, massiewe kiaathoutlessenaar staan, byna voorspelbaar, miniatuurbronsreplikas van Albrecht Dürer se biddende assebliefhande wat lyk soos die Sanlam-logo en die beswaarde denker van Rodin. Duidelik dat die dokter ook ’n diep en geestelike mens is. Sentraal is daar ’n reuse gedraaide agaatbak gevul met as, halfverkoolde tabak, pypskoonmakers en uitgebrande vuurhoutjies. Net langsaan staan ’n ronde, verweerde Ouma-se-wattee-blik, waarskynlik om sy voorraad tabak vars te hou.

Die tradisionele psigiaterrusbank staan reg teenoor die lessenaar, maar met ’n verskil. Dit is ’n chaise en in my verbeelding sien ek flitse uit Charlie Chaplin-flieks met ’n nimfagtige jong dame in ’n lang half deurskynende gewaad uitgestrek op die bank. Haar linkerarm ondersteun haar edel hoof met pypgekrulde donker hare. Die regterarm is bo haar uitgestrek en ’n tros blouswart druiwe met korrels so groot soos dié uit die Beloofde Land dartel voor haar soekende lippe. Die vrugtebak op die kanttafeltjie is tot oorlopens toe vol met eksotiese vrugte.

’n Effens ongeduldige wink van die pypsteel beduie na die chaise en bring my terug na die werklikheid. Op die kanttafeltjie is ’n familiegrootte-houer met Twinsaver Rainbow-snesies. Hier word duidelik baie gehuil en min gelag. Nog voor ek kon sit, wys ’n dubbele wink van die pypsteel dat daar gelê moet word. Soos ek geleer is as kind, is skoene op die bank ontoelaatbaar en vroulief het toevallig seker gemaak dat my sokkies nie ’n onpaar is of dalk ‘n groottoongaatjie in het nie. Die vraag is toe hoe maak ’n mens jou gemaklik op so ’n rusbank sonder om die dokter aanstoot te gee. Die uitlokkende nimfhouding sal die indruk skep dat die draak gesteek/gekoggel word met sy meublement, terwyl beide hande agter die kop en gesig wat na die versierde plafon staar, belangeloosheid of selfs slaperigheid aandui. Die begrafnishouding met hande oor mekaar gevou op die laermaaggedeelte kan gesien word as totale afwesigheid en word nie oorweeg nie. Gelukkig onthou ek van die geel papiertjie in my broeksak wat vroulief my gegee het en dit bied uitkoms. Dit word byna ongesiens oopgemaak en bevat ’n lysie van onbeantwoorde vrae oor die gedrag van die pasiënt wat aan die dokter gestel moet word, so tussendeur die behandeling. Dit is lywig met ’n sweem van desperaatheid en toon duidelik dat ons verby mekaar leef. Nogal skokkend.

Intussen het die psigiater stelling ingeneem agter sy lessenaar en begin met die voorbereiding van sy pyp vir die volgende stopsel. Dit is ’n genotvolle ritueel. Die klein lemmetjie van sy Joseph Rodgers-sakmes verwyder die ou tabak en as, pypskoonmakers absorbeer die ou olie uit die steel en reservoir. Die teeblik word nader getrek en vars tabak word met ’n ervare geelswart duim en wysvinger gestop. ’n Enkele vuurhoutjie steek die pyp aan. Daar word hewig gesuig aan die steel en blou rook word die lug ingeblaas.

Na so ’n paar ekstradiep teue sit Dokter agteroor en maak sagte knorgeluidjies soos ’n tevrede speenvarkie. Deur die hele langsame proses bly hy gefokus op die verwysingsbrief terwyl die linkeroog af en toe wegbreek om die stopritueel te lei. Aanvanklik het ek gedink dat dit my verbeelding is, maar soos die besoek gevorder het, was die wandelende oog meer duidelik. Daar is gereeld gedraai na ’n pragtige outydse Gelderse muurhorlosie met ’n hipnotiserende pendulum om die tydsverloop van die besoek dop te hou. Hierdie verkleurmannetjietalent van onafhanklike oë rol en draai is nie ’n genetiese afwyking nie, maar duidelik aangeleer en was dalk deel van die kursus mediesepraktykbestuur, dink ek hoogs geïrriteerd.

Terwyl die blou rook die kamer vul, raak die psigiater al hoe meer verdiep in die verwysingsbrief. Dit blyk ’n ingewikkelde geval te wees. Soms klink dit of hy onsamehangend hardop lees en ander kere beduie hy met die pypsteel in die lug asof hy denkbeeldige notas maak. Af en toe skud hy sy kop in ongeloof en dan weer stem hy kennelik saam met die skrywer. Die ontvangsdame sweef die vertrek gebukkend en geruisloos onder die rookskerm binne. Sy fluister, sonder om die byna gewyde atmosfeer te verbreek, dat ek ’n vraelys sommer so in die lê moet voltooi. Dit bestaan uit ’n vasvra met vyftig hoogs persoonlike, dubbelsinnige vrae oor my karakter (hulle gaan my met iets uitvang, dink ek) wat Dokter dan saam met die brief gaan interpreteer. Die resultaat was gou beskikbaar – dalk het ek die toets gedruip of was dit maar net ’n algemene en eenvoudige geval.

Nog ’n paar diep teue aan die pyp, keel skoonmaak en met die brief en vraelys voor hom maak hy vir die eerste keer oogkontak. Dit lyk of daar vordering gemaak gaan word. Deur middel van ’n paar onverwante vrae, soos van watter geur roomys ek hou, en watter dag dit is en hoe lank ek met my huidige vrou getroud is, en as strikvraag wie die Springbokkaptein in 1964 teen die Franse was, maak hy seker ek is by my volle positiewe en die ene aandag. Die eerste drie vrae was maklik, maar ek het geaarsel tussen Dawie de Villiers en Hannes Marais vir die laaste een. Duidelik dat Dokter behalwe sy pyp ook ’n sportliefhebber is. Uiteindelik gemeenskaplike grond. Wou nog met ’n teenvraag kom of hy weet vir wie Mannetjies Roux disnis geloop het van die Britse Eilande-toerspan in 1968, maar die gesprek het gou verskuif na die meer ernstige rede vir my besoek.

Die formele kernvraag word byna uitgespel soos met iemand in ’n oudisie as radio-omroeper en gevolg deur ’n lang stilte terwyl hy my intens aankyk: “Nou sê my, Professor, wanneer het u vir die eerste keer agtergekom dat u twee skouers het?”

Dit was snaaks, baie snaaks, en ek het hom ongelowig met ’n glimlag om my mondhoeke aangekyk. Hy het nie so gedink nie en driftig kort kantnotas oor my reaksie op die verwysingsbrief gemaak. Wat antwoord ’n mens op so ’n vraag – is dit nog ’n toets? ’n Vloed van sarkasme spoel oor my, maar ek is te bang om my mond oop te maak – dit kan dalk net my saak vererger.

Na ’n oneindige stilte word die pypsteel in my rigting gedraai en liggies op en af beweeg asof om te sê: “Nes ek vermoed het: sprakeloos, tipies van so ’n komplekse geval.” Na diepe, geforseerde denke en oë gefokus op die outydse horlosie wou my goedgeformuleerde antwoord op die vraag net mooi op dreef kom. Die getjieng van die bankklokkie en die wink van die pypsteel na die kantoordeur het egter ongelukkig die einde van die spreekuur aankondig.

Die duidelik bekommerde ontvangsdame was reeds besig om opvolgbesoeke op sulke klein kaartjies in te vul toe ons by die toonbank aankom. Met ’n bemoedigende glimlag word ek na die voordeur met sy kleurvolle glasinlegsels beduie. Effens oorbluf deur die gebeure die afgelope uur skrik ek effens toe daar ’n tenger vroutjie ontvangs binnekom. Haar geel geblomde rok is twee nommers te groot en sy lyk verwaarloos en afgemat. ’n Nat sakdoek word krampagtig vasgehou en effens verbouereerd skuifel sy na binne met oë grondwaarts gekeer.

“Middag, Alettie, en hoe gaan dit vandag?” word sy gegroet deur ’n nou vriendelike en spraaksame ontvangsdame. Alettie was kennelik al voorheen hier gewees. Sonder om te antwoord beweeg sy reguit deur na die psigiater se kantoor. Sy ken die pad na die Rum and Maple-berookte skemerte met sy sagte agtergrondmusiek wat seker al oorbekend is. Die wandelende oog, rigtinggewende kromsteelpyp en opsteekseremonie hinder seker nie meer nie en die gesinsgrootte-Twinsavers is dalk net vir haar bedoel. Gelukkig is sy in ’n veilige ruimte as ’n onwaarskynlike nimf op ’n chaise waar smarte van die onrustige gees aangehoor en hopelik verlig gaan word.

Daar is stadig teruggery Stellenbosch toe. Die geel geblomde rok vars in my geheue en die lysie met die vele onbeantwoorde vrae op die geel papiertjie nou belangriker as ooit. Die tweeskouerprobleem is ’n nietigheid, en was seker maar ’n middel tot ’n doel. Net jammer die afwesigheid van ’n sin vir humor het die saak gekompliseer. Dalk moet dit deel word van praktykbestuur saam met onafhanklike oogkoördinasie in die mediese kursus.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top