Die ander vrou

  • 0

Toppie wonder waar sy vrou bly – dis Vrydagaand en al amper sesuur. Hy het maar aangegaan met die skottelgoed en is besig om die masjien uit te pak. Hy lyk nogal koddig in die rooi geblomde voorskoot terwyl hy ’n teebeker afdroog. Diep ingedagte oor onlangse gebeure by die werk skrik hy effens toe Pippa voor hom staan. Soos gebruiklik beweeg hy nader om haar te soengroet. Sy deins effens terug en met ’n kil stem vra sy saaklik: “… en wie is sy?”

Toppie is oorbluf. “Wie is wie?” Hy kan sien sy dierbare vrou is ontsteld en die gebruiklike drukkie word vervang met ’n “Middag skat, hoe was jou dag op kantoor?”

Sy ignoreer die vraag en vererg haar vir sy flou aangeplakte glimlag.

“Van wie praat jy, my skat en waaroor gaan dit?”

“O, jy weet kwansuis nie waarvan ek praat nie. Jy ontken dus dat jy n verhouding met ’n ander vrou het?”

“Wie is die vrou van wie jy praat?” vra hy weer en onderdruk sy ongeduld. Dis immers haredeurmekaarkrap-Vrydagaand en sake mag nie skeefloop nie.

Pippa is ’n professionele vrou en as finansiële konsultant en makelaar op Stellenbosch vorm haar voorkoms deel van die pakket. Dit is waarom sy suksesvol is. Die kleredrag is modieus en smaakvol. Haar betreklik kort, noupassende rooi rompie en bypassende ligroos bloes met futuristiese motief, asook egte nagemaakte kleurvolle boetiekjuwele, rond die uitrusting af. “Jy lyk soos ’n prentjie, my skat,” het Toppie nog vanoggend gesê, natuurlik skynheilig. Haar haredos is die eintlike fokus en moet haar effens vierkantige gesig met sterk onderkaak versag. Goedbeplande grimering sorg dat haar deurdringende blougroen oë geaksentueer word. Die vaalbruin reguit, lewelose hare word omskep in ’n blonde kapsel wat ’n mengsel is van Maggie Thatcher en QEII, haar heldinne. Sy voel dit gee haar gesag sonder om intimiderend te wees en laat haar langer lyk as die werklike vyf-voet-twee proppie. Die stilettoskoene voeg ’n verdere paar duim by haar lengte. Sy het elke Saterdagoggend stiptelik om tienuur n afspraak by Phillipe, voorheen Flip van Tiervlei, haar persoonlike haarstilis van die gewildste haarsalon op die dorp. Daar word die hare gewas, geverf, gekrul, geknip en bespuit in ’n skepping wat ten minste ’n week onversteurd op hul plek gaan bly. Dit vereis dat sy snags met haar kop in ’n spesiaal-ontwerpte tonnel, ten minste ’n meter weg van haar man, slaap om te voorkom dat die kapsel vervorm word. Toppie kan nogal rollerig wees in die nag. Vrydagaande is ’n uitsondering. Dan word die een-meter-afstand opgehef, die tonnel verwyder en dan kan die hare maar deurmekaargekrap word, want die volgende oggend is dit weer sy en Phillipe.

Toppie het aangeneem dit is vanaand weer plesierige sake soos altyd en is onkant betrap deur Pippa se onverwagse aggressie. Hy sal die situasie mooi moet bestuur, want anders word dit eers volgende week. Deur respekvol stadig te praat met ’n sagte stem en nederige liggaamshouding hervat hy die gesprek. “Wat is dit wat hinder, my liefie?”

“Jy behoort te weet waarvan ek praat,” sê sy kortaf, “en moenie nou kom witvoetjie soek nie. Dis nie ek wat onttrou was nie. Jy kan ten minste sê wat haar naam is.”

“Dis nie ’n sy nie, dis ’n hy,” glip die woorde uit Toppie se mond in ’n poging om humor in die rigtinglose gesprek te bring. Pippa se nou grysblou oë verstar.

“Grappie grappie,” sê Toppie en probeer sy arms liefdevol om haar sit.

Sy gee een tree terug. “Jy raak nie met jou besmette hande aan my nie. Dit walg my om te dink jy het aan ’n ander vrou se lyf geraak. Jou ontrouheid wat op ’n egskeiding gaan uitloop is nou skielik ’n groot grap. Vanaand slaap jy in die seuns se kamer en ek sal ons beddegoed moet vervang en ontsmet en teen kookpunt was. Wie weet waar sulke twyfelagtige vroumense vandaan kom.”

Dit is duidelik dat hierdie nie ’n normale Vrydagaand gaan wees nie en dit begin lyk of drastiese stappe vereis word.

“Liewe hemel vrou, wie praat van ’n egskeidig?” vra Toppie, nou met ’n stem een toonhoogte en ’n paar desibel hoër.

“Johan het so gesê. Sulke ontrouheid loop altyd op ’n egskeiding uit. My ma het my nogal gewaarsku teen vryerige bleskop mannetjies wat een of ander tyd sal rondloop. Ek moes na haar geluister het.”

“Wie is Johan, as ek mag vra?”

 “Dis ons prokureur.”

“My skattebol, ons het nie ’n prokureur nie,” probeer Toppie die situasie in ’n logiese rigting stuur.

“Maar nou het ons een – ons dorp se top egskeidingspesialis. Hy verstaan die vrou se dilemma en dat sy altyd die onderspit delf. Hy het al self deurgeloop onder ’n man se ontrouheid.” Daar is niks soos ’n gekweste en beginselvaste prokureur nie en venynig vertel sy van hulle modus operandi. “Slaan hulle waar dit seermaak: eers finansieel, dan sy manlikheid, dan sy kinders (as daar is, andersins aangenome kinders, vigs-wesies ingesluit), en as ’n coup de grace laat ons die vernietigende pers sy reputasie en loopbaan vir ewig kelder. Die wêreld moet weet.” Sy lig haar wipneusie triomfantelik in die lug.

“Uit ordentlikheid teenoor jou vrou van dertig jaar en respek vir haar as moeder van jou twee kinders, kan jy ten minste sê wie sy is,” probeer sy ’n tweede keer, maar nou op bevel.

“My engel, ek weet nie, hoe …” en voordat hy sy sin kan voltooi, lyk dit op Pippa wil flouval. ’n Bekende prosedure as sy nie dadelik haar sin kry nie.

Nou, effens onvas op haar voete, sis sy ’n stortvloed van woorde: “Jy weet nie eens wat haar naam is nie? Dis erger as wat ek gedink het. Wie is hierdie naamlose slet van die nag wat getroude mans verlei en huwelike en families vernietig? Ek hoop sy is darem blank. Of is sy dalk ’n student? Dit is mos die nuwe gier onder julle personeel. Arme student wat sogenaamd sukkel, word deur sugar-daddy professor gehelp, veral na ure. Daar is genoeg sulke voorbeelde op kampus waar hulle in gunsies terugbetaal word vir ’n slaagsyfer. Ek het nooit geweet jy sal daarvoor val nie, jou swak mens. Hulle is net kinders wat verlei word deur gefrustreerde ou mans soos jy, jou pedofiel.

“Vanaand bel jy die kinders en vertel die hele storie. Hulle moet weet watse pa jy is. Beslis nie die held wat met hulle krieket gespeel het, bal geskop en van die veld en natuur geleer het nie. Nee, hy is ’n rokjagter wat ’n dubbele lewe lei. Jy sal nog gestraf word.”

Na die tirade kom sy tot die besef dat as hierdie katastrofiese situasie op die lappe kom, veral in die binnekringe van die universiteit, soos die senaat, raad, en nog erger, die konvokasie, gaan dit hulle status in die geslote omgewing van ’n universiteitsdorp ernstig benadeel. Selfs haar onderneming op die dorp, wat gebou is op integriteit, Protestantse beginsels en deursigtigheid, gaan ook nadelig geraak word deur hierdie afvalligheid. Al is dit nie haar skuld nie, weet sy haar gierige kliënte sal haar veroordeel. In haar selfsugtige strewe na aardse dinge soos finansiële sukses en ewige jeugdigheid (baie mans het al gesê sy is besonder aantreklik en lyk aansienlik jonger as haar ouderdom; sy word soms Poppa, of selfs Poppie, genoem) het sy haar man verwaarloos, selfs verwerp. Die simpatie gaan by hom lê, veral omdat die grootste deel van haar kliëntebasis mans of weduwees van oorlede professore/doktore is. Johan se veglustigheid om Toppie te vernietig is nie veronderstel om haar ook te sink nie. Drastiese skadebeheer is nou nodig. Berekend besluit sy die selfondersoek-benadering gaan gevolg word.

“My man, wat het jou so ver gebring om groener weivelde te gaan soek?” en sy neem sy nou minder besmette hande in hare. “Is ek dan nie meer goed genoeg vir jou nie? Wat het hulle wat ek nie het nie? Is dit hulle jeug? Wat van al die goeie tye saam, ons wonderlike suksesvolle kinders, jou loopbaan? Wat van ons kosbare Vrydagaande?” Haar mooi oë is nou effens betraand en vol vraagtekens. Die krakies in haar grimering verraai haar ouderdom. “Hoe het ons nie saam gewerk om jou te kry waar jy vandag is nie. Tel al hierdie dinge dan niks meer vir jou nie? Sê tog wat is die oorsaak van jou sondeval?” vra sy hom smekend en op die punt om in trane uit te bars.

Toppie sien sy geleentheid, en nou ook effens aangedaan vra hy simpatiek: “My bokkie, waar kom hierdie stories vandaan? Dis mos sommer twak.”

“Petrus – jy ken hom mos – het my vertel toe ons vanmiddag gaan tee drink het. Hy het jou gesien met ’n jong mollige ligtekoppie in die Dorp Square en wou weet of ek van jou stokperdjie bewus is,” bieg sy.

Toppie vererg hom bloediglik, want hy ken die bliksem van ’n Petrus. “Nou goed, kom ek vertel jou die hele storie. Die blonde dikketjie is ’n Russiese meisie en haar naam is Wellustka en is net agtien jaar oud, maar baie volwasse. Sy kom uit ’n klein dorpie in die noorde van Kasakstan en haar ma oes aartappels met die hand en haar pa is ’n herontplooide KGB-agent wat onwettig wodka stook. ’n Tipiese eerbare Russiese familie.”

Pippa kom nie agter die storie drup van sarkasme nie en kyk hom vraend aan.

“Ek het haar na Suid-Afrika gebring op ’n driemaande-proeftydperk, met die veronderstelling dat indien sy nie aan die vereistes voldoen nie, stuur ek haar terug na haar pa. Ek neem aan jy is bewus van hierdie geleenthede wat op die internet beskikbaar is.”

Pippa knik instemmend – sy het al daarvan gehoor, maar nie verwag dat haar geliefde Toppie by die vrouehandelnet ingetrek is nie.

“Hoekom jou kollega en konfidant Petrus daarby betrokke is, is omdat ek nie die derde maandelikse paaiement van R100 000 kon bybring nie. Dis nogal ’n duur speletjie hierdie en ek het hom gevra vir ’n korttermyn-lening. Ongelukkig trek hy swaar in die huidige ekonomie – jy behoort te weet hy is nie meer jou ster-makelaar nie. Hy was tog bereid om haar teen halfprys oor te neem. Dit sukkel nog met die Russies, maar toe hy aan haar op ’n afstand uitgewys is, was dit njef. Ons tolk vertaal dat sy hou nie van sweterige plakkerige mans wat met verbymiddeljarige vrouens in kort rooi rokkies flankeer nie. Hulle is gewoonlik ontroue huweliksmaats. Van daar dat ek haar vergesel het na die lughawe,” borduur hy voort. “Haar pa is ’n gawe man en as deel van die betaling van die eerste paaiement is 50 kiste wodka by hom gekoop. Om dit deur doeane te kry was maklik, want hy ken nog van die beamptes wat voorheen in Rusland opgelei is.” Die storie begin momentum kry. “Haar pa het laat weet dit was ’n besonder strawwe winter wat ’n rekord-aartappeloes opgelewer het. Hy stuur nog ’n besending, 250 kiste, en dié kom volgende week. Ons sal moet plek maak in die garage. Die dorp is nogal gaande oor die winskopies en alle voorbehoude oor die Russe, wodka en ingevoerde meisies as potensiële eggenote het verdwyn. Dit verkoop soos soetkoek, veral onder die doserende personeel,” vryf hy dit in.

Toppie besluit die mite is nou ver genoeg gerek en met ’n sug sê hy dramaties: “Dis nou die hele storie my skat … Sy is weg.”

Pippa staar hom in ongeloof aan. Sy is sprakeloos. Ontrouheid met ons eie mense is een ding, maar met meisies wat gekoop word, nogal uit Oosbloklande, is ondenkbaar. My gesiene man betrokke by vrouehandel? Dis erger as ’n nagmerrie oor ’n soetsappige Afrikaanse fliek uit die vyftigerjare. Dit, verweef met die KGB, ons aartsvyande, die rooi gevaar, die antichris en internasionale dranksmokkelary kan eenvoudig nie waar wees nie. Nog erger, ons spoghuis in ’n gegoede buurt, nou ’n sjebien en dit reg onder die wakende oë van hulle gesiene en invloedryke bure, soos die rektor en visekanselier. Flitse van die oordeelsdag skiet by haar verby. Vervul met vrees, hoop sy dat dit nie binnekort is nie. As dit skielik sou gebeur, is dit klaarpraat met hulle almal, voorgeslagte en nageslagte inkluis, die hele spul. Geen kans om reg te maak nie, reguit hel toe, sonder ’n blik van die hekke na die beloofde land. Die vernedering is alles haar man se skuld.

Haar normaalweg goed georganiseerde breinselle is oorlaai met kontrasterende inligting. Dis algehele geestelike chaos. Sy voel sy wil regtig flouval.

Toppie kom tot die redding.

“My skat, dis sommer ’n storie. Dit bestaan nie, sommer opgemaak. Net soos die moontlikheid van my verhouding met ’n ander vrou. Dis daardie rokjagter van ’n Petrus wat hierdie saadjies in jou kop geplant het. ’n Mens sweer hy lê by jou aan,” verduidelik hy effens ongeduldig, maar simpatiek.

“Ek sal jou mos nooit verruil vir iemand anders nie, my liefste meisie. Daar is niemand beter of mooier as jy in die hele wêreld nie.” En hy vou sy arms, nou met onbesmette hande, sagkens om haar.

“Dink jy regtig so?” is die eerste woorde wat sy kan uitkry met die pruilstemmetjie van ’n twintigjarige verliefde meisie.

Toe, na ’n lekker glasie wyn, is dit Vrydagaand soos van ouds. Haar laaste slaperige woorde voordat sy rustig wegraak was: “Wat gaan ons met al die wodka maak …?”

Saterdagoggend. Dit was nog donker en Pippa, ’n verligte en tevrede mens, is uit die vere om gereed te maak vir haar gereelde afspraak.

“Good grief, darling, what happened to you? Must have been a storm of a Vrydagaand”, en hy knipoog vir Pippa terwyl sy haar helderkleurige eksotiese kopdoek afhaal. Die eens perfekte haredos lyk nou soos n gestroopte versamelvoëltjienes, maar Phillipe aanvaar die ekstra uitdaging met graagte. Spontaan begin sy vertel van die verskriklike week wat hulle agter die rug het. Die dames in die volgepakte salon spits hul ore en dié reeds onder die raserige haardroërs wend hulle tot liplees soos wafferse matrieks in die skool vir dowes. Sy vertel hoedat hulle as gesin byna ingesleep is in ’n internasionale KGB-beheerde kartel wat spesialiseer in mensehandel, meestal jong vroue, en onwettige invoer van sterk drank uit voorheen kommunistiese Oosbloklande. ’n Kollega, die verraaier, het haar dierbare man op slinkse wyse betrek en weens sy sagte geaardheid het hy onverhoeds in ’n web beland waaruit hy beswaarlik kon kom. Hulle eie huis het byna die afspringplek geword vir die verspreiding van jong, mooi hubare meisies, vergesel met gratis kaste drank as aansporing. Haar gehoor luister met aandag, verstom oor die gebeure wat reg onder hulle oë afgespeel het, nogal hier op Stellenbosch. Die liplesers onder die haardroërs hou by, al moet die assistente sommige van die gapings invul. Dit het hulle huwelik uiteraard onder geweldige druk geplaas en het byna op ’n egskeiding uitgeloop, vertel Pippa. Sommige van die vroue naaste aan haar snak na hul asem – hulle weet waarvan sy praat. Gelukkig kon sy met haar sakevernuf en goeie organisasie- en bestuursvermoë met ’n ferm hand inklim om die potensieel katastrofiese situasie te red. Alles vir hulle gesin se onthalwe. Die judas is in die pad gesteek, al was hy ’n bekwame en nogal aantreklike kollega. Die meisies, al 35 van hulle (die vraag was goed in Wes-Kaap), kon net betyds op die München-lughawe gekeer word en is summier na Moskou teruggestuur. Die reusevrag wodka was ietwat moeiliker en het bemiddeling op regeringsvlak vereis. Met die internasionale kartel oopgevlek, danksy hulle patriotiese optrede, gevolg deur onderhandelinge op die hoogste vlak met die Russe, kon die saak beredder word. Omdat die besending reeds aan land was, het die Russe, as ’n gebaar van welwillendheid die drank aan die owerheid geskenk. Dié sal dit dan aanwend tot voordeel van die voorheen benadeeldes, is belowe. Toppie lei nog aan skok; dalk is psigiatriese behandeling sy voorland.

Haar storie is uit.

Van die dames begin spontaan hande klap en ander pink onbeskaamd ’n traan weg. Hierdie formidable vrou uit eie geledere het swaarde gekruis met van die magtigste in die wêreld. Ons mans, dorp, land en volk is die tirannie gespaar van buitelandse organisasies wat die moreel van ons samelewing tot ’n val wou bring deur ’n vrou wat onselfsugtig vir die behoud van hulle kosbare gesin haar lewe in gevaar gestel het.

In nederigheid laat sak sy haar kop.

“Enige vrou sal dit vir haar gesin gedoen het.”

Selfone in die salon werk oortyd en die dorp word per SMS ingelig oor die ongelooflike verhaal van moed en opoffering. Die nou rooigesig-liplesers het teen die einde gesukkel om die vinnige ontknoping te volg en vra ongeduldig aan die assistente: “Wat sê sy?” Hulle interpretasie van die sage is ietwat anders weens verlies van sleutelwoorde en hulle verstaan nie heeltemal die verband tussen die Russe, jong meisies, sterk drank en die owerheid nie. Hulle is onseker of hulle kwalifiseer vir die wodka en of Toppie al by die psigiater was.

Phillipe was aangedaan, maar ook ingenome met die verhaal en het haar die Woensdagmiddag n gratis optouch belowe, op voorwaarde dat sy die heldedaad kom oorvertel aan die midweek tannies.

Toppie het Pippa nie eens hoor opstaan nie en word teen nege-uur die oggend wakker met die gebeure van gisteraand vlak in sy geheue. Sy het ’n streep onder alles getrek, hom vergewe, hoewel hy nie mooi weet waarvoor nie. Hy het nooit geweet hy kan so verbeeldingryk op sy voete dink nie. Dalk het hy sy roeping gemis. Hy is lankal moeg vir die vaal akademie met sy onderbetaalde, stowwerige mannetjies en suiwer teoretiese aanslag. Dalk het dit tyd geword vir dinge doen, waaghalsig te raak, ook ’n geldjie te maak, die entrepreneurskap in hom te laat ontwaak. Tweede viool speel is uit; hý wil nou begin voorvat.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top