Verslag ‒ ASSAf-bespreking: The impact of Artificial Intelligence (AI) on Scholarly Writing and Publishing

  • 1

ASSAf se tweede rondetafel, aanlyn bespreking oor ChatGPT gehou op 26 Maart 2023 het gehandel oor die invloed van Kunsmatige Intelligensie (KI) op akademiese skryfwerk en publikasies.

Die paneel onder leiding van emeritus Mike Lambert (UK) het bestaan uit drie kundiges uit die KI-omgewing, Tommie Meyer (UK), Burgert Senekal (UFS) en Bhekisipho Twala (TUT). Die opname van die bespreking is hier beskikbaar: https://www.youtube.com/watch?v=y7q9YIVanb4.

Hoe werk ChatGPT?

Meyer verskaf ’n insigvolle, tegniese verduideliking van die werking van KI in die algemeen en ChatGPT in besonder. Dit is belangrik om te weet dat ChatGPT funksioneer op die basis van “waarskynlikheidsverspreiding oor ’n volgorde van woorde”. Dit gebruik diep neurale netwerke om op grond van ’n baie groot databasis van tekste beskikbaar op die internet via assosiasie te bereken wat die mees waarskynlike kombinasie van woorde is.

Meyer se vrywaring is belangrik: Hy beklemtoon dat die uitsprake van kundiges oor KI aan voortdurende wysigings onderworpe is, aangesien dit verkeerd bewys mag word deur verdere ontwikkelings. Uitsprake moet dus versigtig gemaak word, aangesien ons nie weet waarheen die mens-tegnologie-verweefdheid kan lei nie.

Die grens tussen die mens en tegnologie

Die verhouding tussen mens en tegnologie is onderliggend aan enige gesprek oor KI. Die manier waarop ons verweef is met tegnologie wat deur Stiegler as “tegnogenesis” beskryf word, laat vrae ontstaan oor die grens tussen die menslike en die tegnologiese, asook oor wat moontlik verder kan ontluik (emerge). Tegnogenesis verwys na die evolusionêre verweefdheid van menslike en tegnologiese ontwikkeling. KI het aangetoon dat nie net ons fisiese vermoëns deur tegnologie gevorm is nie, maar ook die moontlikhede en vorme van denke. Die evolusionêre gedagte van ontluiking maak dit moontlik om oor mens-wees en tegnologie in nie-essensialistiese terme te dink. Ons kan dus verwag dat die grense voortdurend gaan skuif en dat ons nuwe moontlikhede van mens-wees gaan ontdek.

Sodanige ontdekking kom na vore in Meyer se bespreking van skaak. Hy herinner ons daaraan dat die spel van skaak in die 1980’s onder die vergrootglas gekom het toe die skaakmeesters deur ’n rekenaar geklop is. Dit het die vraag na die toekoms van skaak laat ontstaan, asook die besorgdheid dat mense mettertyd ook op kognitiewe gebied deur tegnologie vervang gaan word. Die verdere ontwikkeling van skaak verskaf egter insig oor die aard en effek van die verweefdheid met tegnologie. Die spel het baat gevind by die manier waarop dit deur rekenaars gespeel word deur die ontwikkeling van nuwe tegnieke en strategieë wat deur skaakspelers gebruik word.

Uit hierdie voorbeeld leer ons iets van die houding wat ons teenoor tegnologie kan aanneem – een van nuuskierige, ondersoekende en spekulatiewe eksperimentering. Ons nuuskierigheid word geprikkel oor wat ons kan word deur ons verweefdheid met tegnologie; ons ondersoek deur werklike, asook spekulatiewe (wetenskapsfiktiewe) eksperimentering met tegnologiese toepassings. Hierdie eksperimentering word begelei deur ’n etiese besinning.

Die nabyheid van KI aan menslike denke word op verskillende maniere belig deur die paneellede. Meyer wys op die tendens om menslike eienskappe soos denke en kreatiwiteit aan masjiene toe te dig. Hy haal Darwiche aan: “Sommige take, tipies díe wat met persepsie en kognisie te doen het, kan tot ’n redelike mate uitgevoer word deur funksies op data af te beeld.” Twala meen KI se taalvaardigheid skep die indruk dat daar denke onderliggend is. Meyer dring daarop aan dat masjiene nie krities en kreatief kan dink nie, aangesien hulle waarskynlikhede bereken. Hy wys ook op die onakkuraatheid van ChatGPT, asook die mate waartoe dit “hallusineer”.

Ons kan verwag dat ons begrip van die onderskeid tussen die menslike en die tegnologiese voortdurend gaan verskuif.

Hoe kan KI akademiese skryfwerk beïnvloed?

Meyer beklemtoon dat KI ’n waardevolle hulpmiddel kan wees om die sleurwerk van skryf te verminder. Hy vergelyk dit met die manier waarop sakrekenaars gewone berekenings vergemaklik het. Twala noem KI die e-fiets vir die brein. Senekal wys op die manier waarop KI gebruik kan word om ’n nuwe terrein te verken of om konsepte meer verstaanbaar te maak. Dit kan ook bydra tot die verstaan van ’n ander dissipline.

Die paneellede wys daarop dat KI alreeds op verskillende maniere teenwoordig is in navorsing en akademiese skryfwerk, soos ’n speltoetser. Die rol van ChatGPT gaan egter heelwat verder deur teks te genereer. Dit bring die vraag of en hoe erkenning aan die rol van ChatGPT gegee behoort te word. Meyer verwys, byvoorbeeld, na ’n redaksioneel in ’n akademiese tydskrif waar ChatGPT as mede-outeur gelys word. Daar kan geredeneer word dat indien outeurskap toegeken word aan ’n menslike navorser wat ’n suiwer tegniese funksie vervul, daar nie ’n rede is waarom ChatGPT wat ’n soortgelyke funksie verrig, nie ook ’n outeur kan wees nie. Meyer meen egter dat daar ’n onderskeid gemaak moet word tussen die rolle en bydraes van ’n menslike outeur en KI.

Die gebruik van KI in akademiese werk is ’n belangrike kwessie waaroor redakteurs van tydskrifte duidelike riglyne sal moet formuleer. Dit word ook al meer nodig vir outeurs om meer eksplisiet te wees oor die bronne wat geraadpleeg word en die metodes waarmee inligting versamel en geanaliseer word. Ter wille van akademiese integriteit sal outeurs deursigtig moet wees oor die manier waarop KI deelgeneem het aan skryfwerk.

Daar moet besin word hoe ’n teks wat met behulp van KI gegenereer word, as legitiem-akademies beoordeel kan word. Hierdie besinning moet rekening hou met twee kriteria: Die noodsaaklikheid van (menslike) kreatiewe denke en portuurbeoordeling. ’n Teks wat deur ChatGPT gegenereer word, is nie as sodanig die uitkoms van kreatiewe denke nie en is ook nie aan portuurbeoordeling onderworpe nie. Ons weet egter ook reeds dat kreatiwiteit aangewakker word deur tegnologiese bemiddeling en dat KI kan deelneem aan die beoordeling van artikels.

’n Opvoedkundige perspektief

Alhoewel die paneel gefokus het op akademiese skryfwerk kan die verband met ander akademiese aktiwiteite nie uit die oog verloor word nie. Een van die kwessies is die gebruik van KI deur studente en die beleid van opvoedkundige instellings.

In reaksie op opvoedkundige instellings wat die gebruik van KI verbied, maak Senekal ’n belangrike opmerking: Wat is die punt daarvan om studente iets te leer wat binne die vermoë van KI is, aangesien sodanige vaardighede baie goedkoper deur ’n werkgewer bekom kan word? Deur die gebruik van KI te verbied, ontneem die instellings studente van die geleentheid om met KI verder te ontwikkel. Die moontlikheid bestaan dat hulle vaardighede aanleer wat mettertyd deur KI oorgeneem gaan word.

Hierdie stelling van Senekal behoort opvoedkundiges deeglik te laat besin oor pedagogie en kurrikulum waarvan groot dele tans fokus op memorisering en vaardighede gerig op roetine- en meganistiese aksies. Daar sal baie meer klem geplaas moet word op kreatiewe en kritiese denke om tegnologiese ontwikkeling te kan vergesel.

Ons (mense se) verantwoordelikheid

Die positiewe houding teenoor tegnologie kom duidelik uit die sienings van die paneellede na vore. Hulle is egter nie blindweg optimisties nie, aangesien die waarde van tegnologie afhang van hoe ons (as mense) eties, insigvol en kreatief daarmee werk. Senekal wys op die noodsaak vir almal om vertroud te raak met KI deur daarmee te eksperimenteer en op hoogte te bly van die literatuur.

Die inisiatief van UJ om ’n kursus in KI verpligtend te maak vir alle studente word aangeprys deur die paneel. Hierdie kursus moet egter interdissiplinêr (transdissiplinêr) saamgestel word deur aandag te gee aan onder andere die estetiese, etiese, filosofiese en sosiale dimensies. Daar moet gewaak word teen die sosialisering van studente binne ’n eng, neoliberale subjektiwiteit van ekonomiese noodwendigheid. Studente moet bemagtig word om krities en kreatief met KI om te gaan. Dit is juis hierdie oop en eksperimentele verhouding met tegnologie wat uit die gesprek van die paneel na vore kom.

Alhoewel die aandag wat aan KI in die algemeen en ChatGPT in besonder gegee word, na ’n nuwe modegier lyk, is dit dringend en noodsaaklik om te besin oor ons verhouding met tegnologieë. Dit is waarom die inisiatiewe van ASSAf allerweë verwelkom word.

Lees ook:

Besinning oor die ASSAf-paneelbespreking oor ChatGPT, assessering en hoër onderwys

Is ChatGPT ’n bruikbare hulpmiddel vir akademiese skryfwerk?

Kunsmatige intelligensie en akademiese artikels

  • 1

Kommentaar

  • Dit is duidelik dat KI gekom het om te bly en in sommige gevalle baie verder gevorderd is as wat ons besef - elke interaksie daarmee help met die uitbreiding/uitbou van die blikbrein.

    Ons hoef net te luister na internasionale kommer oor die misbruik van KI om te besef dat daar sal sinvolle riglyne en wetgewing in plek gestel sal moet word om misbruik te voorkom. Hoe gouer, hoe beter!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top