Vergifnis – die persoon en sy konteks

  • 0

totiuskatts

Wanneer daar van 1994 se politieke oorgang van Suid-Afrika gepraat word as niks minder as ’n wonderwerk nie, benodig ons nou die wonderwerk van vergifnis om mekaar waarlik te vergewe. Maar hoe vergewe mens iemand gesien die konteks waarbinne hy geleef het? As deel van ’n LitNet Akademies-webseminaar verduidelik die teoloog Donald Katts wat hy onder vergifnis verstaan.

Lees ook die LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe)-artikel deur Gerrie Snyman wat hierdie gesprek laat ontstaan het: Totius: die ironie van vergewe en vergeet.

In die “Onse Vader”-gebed soos dit in die evangelie van Matteus 6 opgeteken staan, leer Jesus ons om te bid vir vergifnis van sonde en skuld, maar leer Hy ons ook om ander hul oortredinge te vergewe. Hiervolgens alleen blyk vergifnis reeds ’n integrale deel van geestelike groei, ons godsdiensbeoefening en gesonde onderlinge verhoudinge te wees.

As ons vandag in Suid-Afrika moet praat oor vergifnis, en veral oor of ’n mens iemand met sy konteks en strukture van die verlede moet vergeef, is die vraag: Waar begin ons met mekaar oor vergifnis praat? Dan is daar die tergende vrae soos byvoorbeeld: Gaan om te vergeef saam met om te vergeet? As ons onthou, wat moet ons onthou en hoe moet ons onthou? Beteken vergifnis verraad teenoor myself, my familie, volk en landgenote? Maak ek die pyn, lyding en onreg wat mense deurgemaak het, af as niks of ag ek dit as minder belangrik as ek mense hul wandade en onmenslike optrede vergewe? Moet ek onmiddellik of kan ek tydsamig vergewe? Wat is die dinge wat maak dat mense mekaar nie onmiddellik of selfs nooit kan vergewe nie?

Kort na 1994 het dit gelyk asof Suid-Afrika goed op weg is na versoening en eenheid en was die optimisme in die land bergpiek-hoog. Vandag blyk dit anders te wees tussen mense op die grond. Die hoë syfers van mense wat daagliks beroof, aangerand, verkrag en vermoor word, asook die vele klagtes van rassisme en haatspraak, is ’n duidelike bewys dat baie nog nie die punt van vergewe en vergifnis bereik het nie. Die onlangse xenofobiese voorvalle, asook die skending en vernietiging van standbeelde wat selfs daartoe gelei het dat sommige standbeelde met houtpanele toegekap is en ander as voorsorgmaatreël van hul staanplekke verwyder is, getuig verder van die aanwesigheid van ’n gees en gesindheid om nie te vergewe nie of met voorwaardes te vergewe.

Dalk word diesulkes gevoed en gemotiveer deur die teorie van sommige wat meen dat vergifnis die oortreder die reg verleen om weer en weer teen die slagoffer te oortree en so weer pyn en ellende oor die persoon te bring. Dalk is dit die oortuiging van geleerdes dat volhardende en gekoesterde woede die slagoffer van krag voorsien en so help om van dag tot dag te leef, wat sommige beweeg om nie te vergewe nie.

Vir Suid-Afrika met sy diverse, multikulturele samelewing, asook sy uiteenlopende politieke beskouings en ekonomiese ongelykhede, is die aspek van vergifnis as gesindheid van kritieke belang. Die woorde “no future without forgiveness” van Desmond Tutu (wat ook die titel van een van sy boeke is) benadruk die belang van vergifnis en van die noodsaaklikheid om  mense  hulle oortredinge te vergewe.

Om mense uit ons geskiedenis vir hul wandade en praktyke te vergeef, hou vir my verband met hul kontekste waarin hulle geleef het. Siende ’n persoon deel is van sy of haar konteks en ja, deels deur hul huislike, en polities gesien, ook deur sy of haar politieke strukture gevorm word, hulle dus produkte van hulle huislike en godsdienstige of kerklike en samelewingstrukture en sosiale beleid is, kan vergifnis van die persoon se optrede of dade nie losgemaak word van vergifnis van hul kontekste nie. Dit beteken daarom dat as jy die persoon vergewe, jy ook hul politieke, sosiaal-ekonomiese omstandighede en die invloed wat dit alles op hulle gehad het, moet vergewe.

Vergifnis beteken nie ons praat die verlede goed nie. Dit kan en mag ons nie doen nie, veral gesien in die lig van die pyn, seer, ongerief en gebrek aan geleenthede wat dit veroorsaak het. Om iemand en hul kontekste te vergewe, beteken juis om te probeer verstaan, om die persoon en die invloed wat hul kontekste op hulle gehad, te verstaan, om hul huislike, godsdienstige en skolastiese opvoeding te verstaan, om die druk waaronder hul geleef het, te verstaan. Hierdie verstaan is nodig vir heling, versoening en die toekomstige samewerking en samehorigheid wat ons as Suid-Afrikaners dringend nodig het.

Hoor ek iemand vra wat van vergoeding, reparasies of restitusie? Wel, ek dink waar die oortreder by die vermoë is, is enige fisiese of materiële vorme van regstelling aanvaarbaar. Waar die persoon nie by die vermoë is nie, behoort dit nie die mate en opregtheid van ons vergifnis te beïnvloed nie. Ware, diepe en opregte vergifnis is immers nie afhanklik van enige vorm van vergoeding nie.

Die wonder van vergifnis is die feit dat ons almal, individueel en gesamentlik, oor kan begin en dat ons weer kan probeer. Saam kan ons die dinge van die verlede regstel. Saam kan ons verhoed dat die foute van die verlede  herhaal word. Saam kan ons die beleide en strukture, opvattings en gesindhede verander tot waar ons almal met menswaardigheid, gelyk en sonder enige vooroordele behandel.

Wanneer daar van die 1994 politieke oorgang van Suid-Afrika gepraat word as niks minder as ’n wonderwerk nie, dan benodig ons nou die wonderwerk van vergifnis, benodig ons mense, Suid-Afrikaners, jonk en oud om mekaar waarlik te vergewe. Dit bly ons, die generasie van vandag, se verantwoordelikheid om mense uit die verlede te vergewe, om hulle saam met hul kontekste te vergewe sodat ons vandag vir versoening, eenheid, kohesie en samehorigheid kan werk en leef. So kan ons as uitdelers van vergifnis en as vergeefdes saam bou aan ’n Suid-Afrika wat gekenmerk word deur burgers wat kan vergewe en werk vir versoening, gelykheid en menswaardigheid.

  • Donald Katts is die moderator van die Volkskerk van Afrika en verbonde aan die Universiteit Stellenbosch se kantoor vir Moraliteit en Morele Leierskap.

Lees ook die LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe)-artikel deur Gerrie Snyman wat hierdie gesprek laat ontstaan het: Totius: die ironie van vergewe en vergeet.

Hierdie LitNet Akademies-webseminaar sluit ook in:


Om gister te lees

Heilna du Plooy
Seminare en essays

"Ons kan daarvan nie wegkom dat ’n geweldig groot persentasie van alle menslike standpunte met verloop van tyd verkeerd bewys word nie. As dit nie so was nie, sou daar geen verandering plaasgevind het nie."


Oor historisme en verstaansraamwerke: Hoe beoordeel ons historiese gebeure en agente?

Anton van Niekerk
Seminare en essays

"Deur met die geskiedenis besig te bly, maak ons vir onsself beter uit waarin ons werklik glo, wat van meer of minder waarde vir ons is, waarmee ons kan identifiseer, en wat ons tot elke prys in die toekoms moet probeer vermy."


Hoe vergewe mens iemand gesien die konteks waarbinne hy geleef het?

Chris van der Walt
Seminare en essays

"Hoe maak ek met die ou Suid-Afrikaanse Weermag en dan ook met Totius en Rhodes en Afrikaans en die Engelse wat nie ʼn gesig het met wie ek kan of kon praat nie, maar emosionele pyn kon veroorsaak?"

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top