Oor historisme en verstaansraamwerke: Hoe beoordeel ons historiese gebeure en agente?

  • 0

totiusanton

Wat in die geskiedenis gebeur, en veral hoe ons dit vertolk en hanteer, word radikaal beïnvloed deur wie en wat ons is en waar ons ons bevind, en wanneer, skryf Anton van Niekerk as deel van ’n LitNet Akademies-webseminaar oor die ironie van vergewe en vergeet.

Die standpunt dat ’n mens sowel die betekenis as die morele verantwoordbaarheid van gebeure in die geskiedenis nie moet beoordeel in terme van die standaarde van die hede nie, maar van die tyd toe die gebeure plaasgevind het, staan bekend as historisme.

Historisme wil die sin van historiese gebeure onderhewig maak aan wat die Nederlanders die “mag van oord en stonde” noem: hoe ons oordeel oor dinge wat in die geskiedenis gebeur het, moet bepaal word deur wáár (“oord”) iets gebeur het, sowel as wanneer (“stonde” of uur/tydstip) dit gebeur het. Volgens die historisme maak ons ’n groot fout as ons ons eie waardes en standaarde van toepassing maak op dinge wat op ander plekke, in ander kulture en op ander tye as ons eie plaasgevind het.

Die probleem meld sigself met hernude aktualiteit aan in die huidige Suid-Afrika (2015), waar daar skynbaar opnuut sterk gevoelens ontketen word deur verskynsels soos monumente en standbeelde van prominente kolonialiste en/of leiersfigure in Suid-Afrika se veelbewoë apartheidsgeskiedenis. Die probleem is egter nie beperk tot Suid-Afrika of tot ons eie tyd nie.

Een van die akuutste debatte oor die vraag hoe vandag se standaarde geldig is vir gister se gebeure, word al vir eeue gevoer rondom die rol wat niemand minder nie as die groot kerkhervormer Johannes Calvyn gespeel het in die veroordeling en wreedaardige verbranding van Michael Servetus, ’n Spaanse tydgenoot van hom.

Lees ook die LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe)-artikel deur Gerrie Snyman wat hierdie gesprek laat ontstaan het: Totius: die ironie van vergewe en vergeet.

Servetus was ’n briljante, hoewel erg omstrede figuur in daardie dae (rondom 1540 tot 1553). Hy was ’n veelsydige en geleerde man wat homself in allerlei wetenskappe ingewerk het en bekend is daarvoor dat hy die eerste akkurate beskrywing van die liggaam se pulmonêre sisteem verskaf het. Tipies egter van Renaissance-geleerdes soos hy self, was Servetus ook geïnteresseerd in die teologie.

Sy teologiese beskouinge was, om die minste te sê, ongewoon en uiters aanvegbaar vir die kerk van sy tyd. Hy het die drie-eenheid van God ontken, sowel as die verantwoordbaarheid daarvan om suigelinge te doop. Dit het hom in botsing gebring, nie slegs met die Katolieke Kerk nie, maar ook met die Gereformeerde Kerk in Genève, waar Calvyn in dié tyd die grootste en invloedrykste gees was.

Om ’n lang storie kort te maak: Servetus is uiteindelik van kettery aangekla. Hy is ’n hele tyd in die hagliks denkbare omstandighede aangehou (in ’n brief uit die tronk kla hy dat “die luise my lewend opvreet”), en op 27 Oktober 1553 is hy in Genève lewend verbrand, vasgemaak bo-op ’n stapel van sy (vir die kerke veragtelike) boeke.

Hoewel daar ’n mate van meningsverskil was oor presies wat Calvyn se rol in die hele aangeleentheid was (hy het byvoorbeeld weens gesondheidsredes nie direk in Servetus se verhoor getuig nie), dui die oorwig van tans beskikbare getuienis daarop dat hy (Calvyn) die persoon was wat Servetus se veroordeling en verbranding die sterkste van almal ondersteun het – soos ook die soortgelyke teregstelling van Michel de Villanueva in Junie 1553. Calvyn skryf byvoorbeeld reeds in 1546 aan sy vriend William Farel: “Servetus het pas ’n lang volume van sy fulminasies aan my gestuur. As ek toestemming gee, sal hy hierheen kom, maar ek sal nie my woord daarvoor gee nie, want as hy hierheen kom, sal my gesag niks werd wees nie. Ek sal hom nooit toelaat om weer lewend hiervandaan te vertrek nie” (Latyn: Si venerit, modovaleat mea autoritas, vivum exire nunquam patiar).1

Hoe moet ons dit beskou? Calvyn is stellig een van die belangrikste en invloedrykste figure – nie slegs in gereformeerde kerke in die algemeen nie, maar met name in die gereformeerde kerke van die Afrikaners. Vir baie dekades is my eie en ander geslagte Afrikaners wysgemaak dat ons ’n “Christelik-nasionale lewens- en wêreldbeskouing” het (of liewer behoort te hê!), en in die verduideliking van laasgenoemde was die naam van Calvyn altyd die prominentste. Aan die (destydse) PU vir CHO, sowel as by die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, is vir baie dekades ’n “Calvinistiese wysbegeerte” aan studente gedoseer. Wat gemaak met so ’n intellektueel-ideologiese reus wat kans kon sien om dissidente te laat verbrand – en dit oor antitrinitarisme en ’n verwerping van die kinderdoop?

Ek herinner my baie goed my toenmalige professor in kerkgeskiedenis aan Stellenbosch se Kweekskool wat Calvyn hand en tand verdedig het – nie omdat hy (die professor) ten gunste van die brandstapel was nie, maar omdat ons, so het hy aangevoer, “Calvyn moet beoordeel in sy tyd”. Kettery was gewoon in daardie tyd beskou as ’n uiters ernstige misdaad omdat dit godslastering geïmpliseer het, en Calvyn het dit so aanvaar.

Sedertdien hoor ons die analoë argumente om ’n skare ander historiese karakters wat vergelykbare morele aberrasies aangevang het, te verontskuldig. Daar is die filosoof Martin Heidegger wat in 1934 by die Nazi-party in Duitsland aangesluit het en deur die Nazi’s as rektor van die Universiteit van Freiburg aangestel is – weliswaar net vir nege maande, waarna hy weer afgedank is, hoofsaaklik omdat hy op sy beurt geweier het om twee Joodse professore af te dank.

In Suid-Afrika verkwalik talle van die ouer geslag Afrikaners steeds vir Jan Smuts omdat hy persoonlik opdrag gegee het dat Jopie Fourie in 1914 tereggestel word. So is ’n martelaar geskep, lui die argument, wat ongekende stimulus verskaf het aan die opkoms van militante Afrikanernasionalisme sedert die dertigerjare.

En dan is daar natuurlik die groot enigma, Hendrik Verwoerd, wat in 1954 een van die (op die oog af) mees rassistiese en verontmenslikende uitsprake onderliggend aan die apartheidsideologie gemaak het toe hy in die senaat verklaar het:

The school must equip the Bantu to meet the demands which the economic life of South Africa will impose on him ... There is no place for him in die European Community above the level of certain forms of labour ... Within his own community, however, all doors are open ... Until now he has been subject to a school system which drew him away from his own community and misled him by showing him the green pastures of European society in which he is not allowed to graze ... What is the use of teaching a Bantu child mathematics when he cannot use it in practice? ... That is absurd. Education is not, after all, something that hangs in the air. Education must train and teach people in accordance with their opportunities in life. It is therefore necessary that native education should be controlled in such a way that it should be in accordance with the policies of the State.2

Wat moet ons hiervan sê? Sonder om volledig te kan wees, sou ek graag die volgende argumente wou aanvoer:

  1. Ek reken die historisme is verkeerd vir soverre dit aanvoer dat ’n mens jouself in die hede heeltemal kan losmaak van jou huidige waardes, oortuigings en standaarde en jouself volledig kan verplaas na ander tye en omstandighede ten einde historiese dade en agente heeltemal in terme van die maatstawwe van hul eie tyd te beoordeel. Kennis van die geskiedenis, wat ten diepste berus op interpretasie, werk nie so nie.

    Natuurlik moet ons probeer om die verstaansraamwerke van ander historiese omstandighede as ons eie na die beste van ons vermoë te probeer ontrafel. Natuurlik kan ons eie waardes en kriteria nie klakkeloos en met presies dieselfde afdwingbaarheid op sulke historiese gebeure van toepassing gemaak word nie. Maar uiteindelik is die toepassing van ons eie waardes en standaarde op dit wat ons probeer ken en uitmaak in die geskiedenis, ’n integrale deel van die interpretasieproses. Ons kan die geskiedenis – met al sy ligte en donker kante – nie ken sonder om dit te interpreteer vanuit ons eie verstaansraamwerk in die hede nie. Wie, wat en waar ons as die mense wat hier en nou die geskiedenis bestudeer en navors, is, is altyd medebepalend vir wat ons in die geskiedenis sal vind. Ek kan dit met ’n eenvoudige voorbeeld illustreer: Van wanneer af kan ons praat van die historiese verskynsel van “die Eerste Wêreldoorlog”? Van 1914 af? Tog nie. Dis interessant dat die uitdrukking “die Eerste Wêreldoorlog” nie voorkom op ’n enkele oorlogsmonument wat tussen die jare 1918 en 1939 opgerig is nie; al wat ons op sulke monumente lees, is van “The Great War”. Die “Eerste Wêreldoorlog” – nie slegs as ’n aanduibare stel gebeure nie, maar veral as ’n betekenisvolle historiese gebeurtenis – verskyn eers nadat daar inderwaarheid ’n Tweede Wêreldoorlog op die toneel verskyn het! My punt is dat wat in die geskiedenis gebeur, en veral hoe ons dit hanteer, radikaal beïnvloed word deur wie en wat ons is en waar ons ons bevind en wanneer.

  2. Is die implikasie hiervan dat ons Calvyn, Heidegger, Smuts en Verwoerd dus volledig moet beoordeel met ons huidige maatstawwe vir reg en verkeerd? Ek sou ook weer nie heeltemal só ver wou gaan nie. Dis gevaarlik om ’n algemene “reël” te probeer formuleer wat op presies dieselfde wyse op almal van toepassing gemaak kan of behoort te word. Dit vra verdere verduideliking.

    Dat ons interpretasie en beoordeling van historiese gebeure/agente medebepaal word deur wie, wat en waar ons wat wil verstaan, ons tans bevind, beteken in dieselfde plek nie dat ons waardes en standaarde die enigste faktor is wat daardie interpretasies en beoordelings beïnvloed nie. Die Duitse hermeneutiese filosoof Hans-Georg Gadamer het ’n idee in sy werk ontwikkel wat bekend staan as horisonversmelting. Dié idee kan ons help om dinge hier beter te verstaan.

    Gadamer voer aan dat wanneer ons historiese gebeure probeer interpreteer, ons ons enersyds bevind binne die omraming van ’n horison van fundamentele betekenisse, waardes en aannames wat ’n groot invloed uitoefen op hoe ons sin maak van wat ons probeer verstaan. Daardie raamwerk, sê Gadamer, is “oop na agter”: wat ons in die geskiedenis vind, gaan wesenlik deur ons huidige raamwerk beïnvloed word.

    Maar dit wat ons probeer verstaan – die historiese gebeure en agente self – het geleef en opgetree in ’n konteks wat andersyds ook gekenmerk is deur ’n horison van sulke waardes, betekenisse en aannames. Daardie horison waarin historiese gebeure plaasgevind het, was op sy beurt “oop na voor”; daarmee bedoel Gadamer dat wat die betekenis van historiese gebeure uiteindelik is, nooit vas is nie, maar verander namate nuwe geslagte in die ontwikkeling van die geskiedenis die interpretasiewerk doen.

    Ons kom by ’n interpretasie en beoordeling van historiese gebeure uit wanneer die twee horisonne – dié van die teks / historiese gebeurtenis, en dié van diegene in die hede wat probeer interpreteer – “versmelt”. Watter betekenisse ons dus in die geskiedenis vind, is nooit afgehandel of finaal nie; dit verander en ontwikkel namate die horisonne van sowel die interpreteerders as van dit wat geïnterpreteer moet word, verskuif. Die sin van historiese gebeure is daarom nie ’n onveranderlike “stand van sake” wat ek “registreer” as vas en vir tyd en ewigheid onveranderlik nie. Daardie sin is eerder ’n “gang van sake” wat dinamies verander namate die horisonne van waaruit ons interpreteer, verander en skuif.

    Toegepas op ons probleem en die voorbeelde wat ek vroeër vermeld het (Calvyn, Heidegger, Smuts en Verwoerd): ons verstaansraamwerk of -horison in die hede kan nie al faktor wees wat ons in ag moet neem as ons die dade (of moontlike misdade) van historiese agente probeer beoordeel nie. Wat hierdie figure aangevang het, het self plaasgevind binne die omraming van ’n verstaanraamwerk wat (soms, soos in die geval van veral Calvyn) drasties van ons s’n verskil het. Hoewel ons hul wandade dus nie hoef goed te praat nie, kan ons wel probeer om begrip te ontwikkel vir die interpretasieraamwerke van waaruit hulle opgetree het.

    Daarby, soos ek gesê het, is ’n algemene reël wat op dieselfde manier vir almal moet geld, waarskynlik nie moontlik of gewens nie. Kom ons neem die voorbeeld van Heidegger. Sy eie verweer vir sy geheul met die Nazi’s was dat hy gehoop het om “die Führer” – die Groot Leier – self intellektueel te lei, en hopelik in so ’n rigting dat sy (Hitler se) grootse visie van ’n “edele Germaanse volk” op iets wat blywend goed vir almal sou wees, sou uitloop. Vandag sien ons almal in dat dit ’n uiters naïewe idee van Heidegger was. Daar is historici wat egter wel simpatie het met Heidegger se naïewe idee as iets wat begryplikerwys kon voorgekom het in die euforie van opgesweepte nasionalisme soos wat in die Duitsland van 1933 geheers het.

    Ek stem egter met Jürgen Habermas saam as hy in ’n artikel oor Heidegger3 argumenteer dat terwyl ’n mens miskien nog simpatie met Heidegger se keuse in 1933 kon hê (omdat Duitsers wat in 1993 gelewe het, geen idee gehad het van waarheen Hitler hulle inderwaarheid sou lei nie), ’n mens weinig/geen simpatie met hom kan hê oor sy optrede na afloop van die Tweede Wêreldoorlog nie. In ’n beroemde onderhoud wat die Duitse koerant Der Spiegel4 byvoorbeeld in 1966 met Heidegger gevoer het, skep hy die indruk dat hy die Holocaust ontken, of, indien nie ontken nie, die werklikheid en betekenis daarvan totaal “verfilosofeer” in ’n rits vae, niksseggende en verdoeselende kwasi-aforismes. Hier, sou ek wou argumenteer, moet Heidegger se optrede ongekwalifiseerd veroordeel word.

  3. ’n Spesifieke ontleding van elke situasie eerder as ’n algemene reël is dus meer gewens. Maar ook dit bied geen waarborg dat ons presies sal uitvind wat ons mag veroordeel en waarvoor ons meer begrip moet toon nie. My laaste punt is dat, bloot omdat dit moeilik is om reëls vir hierdie probleem te vind, dit nie beteken dat ons daarvan behoort weg te skram nie.

    Ons bestudeer die geskiedenis nie slegs om uit te vind wat “werklik gebeur” het en waar ons in die proses vandaan kom nie. Ons bestudeer en interpreteer die geskiedenis om daaruit te léér. Deur met die geskiedenis besig te bly, maak ons vir onsself beter uit waarin ons werklik glo, wat van meer of minder waarde vir ons is, waarmee ons kan identifiseer, en wat ons tot elke prys in die toekoms moet probeer vermy.

    Om daarom standbeelde en monumente van belangrike historiese figure te vandaliseer, te beskadig, af te breek of uit die openbare oog weg te steek, is sowel ’n futiele as ’n dwase oefening. Natuurlik is daar baie figure uit die geskiedenis met wie ons nie identifiseer nie. Dat monumente vir sulke persone opgerig is, beteken nie noodwendig dat hulle geïdealiseer word nie. Daar word bloot erken dat hulle iets belangriks gedoen of vermag het. Natuurlik kan ons in die hede daardie handelinge beleef as beledigend of skadelik vir ons as ’n volgende geslag. Daardie uitwerkinge gaan egter op geen manier vermy of ongedaan gemaak word deur standbeelde te bestorm, te beskadig of af te breek nie. Só leer ons nie uit die geskiedenis nie. Ons leer uit die geskiedenis deur ons te vergewis van wat gebeur het, deur onsself af te vra of ons met daardie gebeure kan identifiseer, en, veral, deur onsself af te vra wat eerder moes gebeur het om aan die geskiedenis ’n gelukkiger gang en afloop te kon besorg het. Niks wat ons tans doen, kan historiese gebeure ongedaan maak nie. Wat wel kan gebeur, is dat daardie gebeure so geïnterpreteer kan word dat dit duidelik is hoekom hulle problematies was, en om die middele of insigte te verwerf om die toekoms beter te maak as wat die verlede was.

    Dit is daarom, wat my betref, nie so ’n deurslaggewende probleem hoe ons moet oordeel oor historiese figure wat kennelik verbrou het nie. Hulle was mense soos ons. Hulle het dikwels keuses gehad wat hulle beter kon uitgeoefen het. Dit sou sekere opofferings gevra het, en dit sou bes moontlik die gang van hul eie lewens, sowel as die lewens van diegene wat deur hul dade beïnvloed is, verander het. Die punt is nie in die eerste plek om hulle aan te prys of te veroordeel nie. Die punt is om van hulle te leer – al is die belangrikste les, soos byvoorbeeld van die lewe van Hitler, om so ’n soort lewe tot elke prys te vermy.

    Dat ons daardie vraag – die vraag hoe ons uit ons verlede kan leer – kan vra, maak ons wat ons is as ’n spesie en onderskei ons van die diere. By al ons geneigdheid tot kwaad en (self-)vernietiging, skep die vermoë tot daardie vraag sowel as die vermoë om onsself en ons wêreld te verbeter, die ruimte en moontlikheid om sinvol te lewe. ’n Moeite werd lewe is een wat daardie geleentheid met albei arms aangryp.

• Anton van Niekerk is ’n uitgelese professor in filosofie en direkteur: Sentrum vir Toegepaste Etiek aan die Universiteit Stellenbosch.

Lees ook die LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe)-artikel deur Gerrie Snyman wat hierdie gesprek laat ontstaan het: Totius: die ironie van vergewe en vergeet

Eindnotas

1 Aangehaal in Durant, W. 1993. The story of civilization, New York: MJF Books, vol 2.

2 HF Verwoerd: Bantu Education Policy for the Immediate Future (the Senate statement of 7 June 1954). Pretoria: Departement van Naturellesake, 1954.

3 Habermas, J. 1989. Work and Weltanschauung: The Heidegger controversy from a German Perspective. In Habermas, J. 1989. The New Conservatism. Cambridge: Polity Press, ble 140–72.

4 Heidegger, M. 1976. Nur noch ein Gott kann uns retten. Der Spiegel (23),31 Mei 1976, ble 193–219. Die onderhoud is gevoer op 23 September 1966, maar Heidegger het daarop aangedring dat dit eers na sy dood gepubliseer mag word. Dit het toe op 31 Mei 1976,vyf dae na sy dood, gebeur.

 

Hierdie LitNet Akademies-webseminaar sluit ook in:


Om gister te lees

Heilna du Plooy
Seminare en essays

"Ons kan daarvan nie wegkom dat ’n geweldig groot persentasie van alle menslike standpunte met verloop van tyd verkeerd bewys word nie. As dit nie so was nie, sou daar geen verandering plaasgevind het nie."


Hoe vergewe mens iemand gesien die konteks waarbinne hy geleef het?

Chris van der Walt
Seminare en essays

"Hoe maak ek met die ou Suid-Afrikaanse Weermag en dan ook met Totius en Rhodes en Afrikaans en die Engelse wat nie ʼn gesig het met wie ek kan of kon praat nie, maar emosionele pyn kon veroorsaak?"


Vergifnis – die persoon en sy konteks

Donald Katts
Seminare en essays

"Dit bly ons, die generasie van vandag, se verantwoordelikheid om mense uit die verlede te vergewe, om hulle saam met hul kontekste te vergewe sodat ons vandag vir versoening, eenheid, kohesie en samehorigheid kan werk en leef."

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top