Hoe vergewe mens iemand gesien die konteks waarbinne hy geleef het?

  • 2

totiusvdwalt

Is daar werklik iets soos "vergewe en vergeet"? As deel van ’n LitNet Akademies-webseminaar verduidelik die teoloog Chris van der Walt wat hy onder vergifnis verstaan.

In ons samelewing word daar daagliks krities geoordeel en op grond daarvan opgetree. So is Cecil John Rhodes se optrede kort gelede beoordeel en daarna is geoordeel dat sy standbeeld verwyder moet word. Ekonome beoordeel syfers en gebeure en voorspel dan tendense vir die toekoms. Daar word sake in die hof aangehoor en op grond van getuienis word daar geoordeel en vrygespreek of met ’n vonnis veroordeel.

Lees ook die LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe)-artikel deur Gerrie Snyman wat hierdie gesprek laat ontstaan het: Totius: die ironie van vergewe en vergeet.

Een van die opspraakwekkende hofsake van die onlangse verlede was dié van Oscar Pistorius. Daar is getuienis gelewer en selfs rekonstruksies gemaak om te probeer bepaal wat werklik gebeur het. Oor die verloop van baie dae en met die betrokkenheid van baie mense is dit wat Oscar binne oomblikke gedoen het, met ’n fyn kam gekam, bedink, beredeneer. In hierdie proses het ’n breukdeel van sy lewe in baie se persepsie sy totale nalatenskap geword. Sy hele lewensverhaal is deur die doodskiet van sy meisie gereduseer tot een aksie waarvoor hy onthou sal word. Almal voel egter nie so oor hom nie en beskou hom steeds as die lemnaelerheld.

Dieselfde verhaal speel hom oor en oor af in baie metaforiese “hofsale” in die wêreld. Die wyse waarop die Sokkerwêreldbeker toegeken is, staan vandag in die hofsaal. ’n Paar maande gelede het Cecil John Rhodes in die hofsaal gestaan en so staan HF Verwoerd en FW de Klerk en Totius in die hofsale van mense se gedagtes. Dit is egter nie net persone wat so in die hofsale van mense se gedagtes staan nie. Ook Afrikaans staan in ’n hofsaal – die hofsaal van die Noordwes-Universiteit se topbestuur waar Totius ’n pertinente rol gespeel het.

Die doel van hierdie “hofsittings” is om waardebepalings te maak van mense se optredes in die verlede en dan te oordeel: vrygespreek/veroordeel, wat dan gevolg word deur ’n vonnis.

Totius is in ’n onlangse LitNet-artikel van Gerrie Snyman, “Totius: die ironie van vergewe en vergeet”, in die beskuldigdebank geplaas. As beskuldigde rassis is sy gedigte soos wapens forensies ondersoek vir die skade wat dit in die gemeenskap aangerig het, en dalk steeds kan aanrig. Daar is gevra of Totius se gedigte vandag nog waarde het en of hy in die postapartheid era nog relevant is en of hy gerehabiliteer kan word.

Soos in die hofsaak van Oscar word daar ook ’n rekonstruksie gemaak van Totius se optrede. Hierdie keer is die getuienis wat geroep word, Totius se gedigte en sy hantering van die Bybel. Dit word beskou as sy wapens wat hy gebruik het en hy is aandadig bevind aan die lyding en smart wat die volgende geslag aangedoen is. Ons wat nou lewe, is deel van daardie volgende geslagte en ons sit in die gehoor van die hofsaal met pyn in die oë en die littekens van wat die vorige geslag gedoen het met ’n “Kyk net wat het hulle aan my gedoen! As hy dit aan my gedoen het, dan is dit tog moontlik dat dieselfde weer aan iemand anders gedoen sal word soos deur ’n reeksmisdadiger en daarom moet daar noodwendig gevra word: ‘Is rehabilitasie moontlik?’.”

Al bostaande berus daarop dat ons voorgangers “skuldig” bevind word, maar hoe hanteer ons nóú shulle skuld? Dit is waar die vraag na vergifnis inkom, maar voordat mens oor vergewe kan praat moet mens eers weet wat dit is.

Voordat ek kom by wat dit wél is, wil ek eers sê wat dit beslis nie is nie: vergewe beteken nié om te vergeet nie, want selfs met ons beperkte geheue speel “onthou” ’n belangrike rol as selfverdedigingsmeganisme. “Vergewe beteken om te vergeet” is bloot ’n mite, want geen mens kan vergeet as littekens jou elke dag herinner nie. Totius was dus baie prakties as hy in “Vergewe en vergeet” sê: “Daardie merk word groter en groei maar aldeur aan.” Dit beteken dus nie: “Ag nou goed, ek vergewe jou; kom ons los dit net” nie. Vergifnis is dus nie die resultaat van ’n proses van rasionalisering nie.

Wat is vergifnis wel? ’n Eenvoudige Nederlandse Wikipedia-soektog (Afrikaans het nog nie ’n Wiki-bladsy vir vergifnis/vergewe nie, miskien omdat ons nog nie weet hoe om dit te doen nie) gee ’n hele reeks betekenismoontlikhede en deel dit selfs op binne tye van verstaan: antieke tye, die Middeleeue, die moderne tyd. Daar is ook Christelike vergewing en ’n filosofiese verstaan daarvan soos deur verskeie denkers gesien. Wat min of meer as grootste gemene deler by die gedagtes oor vergewing na vore kom, is dat daar skuld ontstaan het omdat iemand ’n slagoffer van ’n daad was en dat die slagoffer van die negatiewe emosies wat ontstaan het, ontslae moet raak. Wanneer jy dan ontslae geraak het van die negatiewe emosies, kan jy met jou lewe aangaan sonder om ’n slagoffer te bly. Daar moet dus ’n proses plaasvind om die skuld wat iemand teenoor ’n ander het, so te hanteer dat die skuld nie meer seermaak nie.

Hoe werk ’n mens egter in Totius en Rhodes en Afrikaans en Engels se geval met skuld en vergifnis? Dit is juis hier waar die tameletjie lê en waar daar onderskei moet word tussen “ek vergewe jou omdat jy my seergemaak het” en “ek neem kennis van wat jy gedoen het” en dit op ’n ander manier hanteer moet word.

’n Baie goeie werksdefinisie van vergewe lui so: “Vergewe beteken dat ek dit wat tussen my en jou gebeur het, op so ’n manier hanteer het dat dit nie weer ’n negatiewe invloed op ons persoonlike verbintenis sal hê nie.” In hierdie definisie speel direkte teenwoordigheid ’n bepalende rol en word vergifnis op ’n persoonlike vlak ontvang of geskenk: ek vergewe jou, of andersom; dankie dat jy my vergewe. ’n Onontbeerlike deel van vergifnis is dus dat daar ’n direkte betrokkenheid tussen die partye moes wees.

Indien daar nie direkte betrokkenheid tussen die partye was nie, is vergifnis dus nie ’n opsie nie, want hoe vergewe ek, wat diensplig gedoen het, die weermag as ek daardeur te na gekom sou voel? Ek kan tog nie na die bevelvoerende generaal (wat reeds oorlede is) gaan ter wille van vergifnis nie. Met ’n lewende mens wat my pad kruis of gekruis het, kan/kon ek daardie pad loop, want elke keer as ek jou sien of van jou hoor of die litteken sien, dan onthou ek. In terme van Christelike vergewing kan die vergifnis wat by God ontvang is, uitgedeel word. So word dit onthou, maar sonder die seer.

Terug by die weermag: Hoe maak ek met die ou Suid-Afrikaanse Weermag en dan ook met Totius en Rhodes en Afrikaans en die Engelse wat nie ’n gesig het met wie ek kan of kon praat nie, maar emosionele pyn kon veroorsaak? Die antwoord daarop is: hulle konteks plaas hulle buite my bereik om hulle te kan vergewe.

Hoe maak jy dan dat gedagtes oor die weermag en Rhodes en Verwoerd nie meer emosionele lyding veroorsaak nie? Jy haal daaruit wat goed was; of as daar volgens jou niks goeds was nie, sorg jy dan dat jy nie herhaal nie (en laasgenoemde het steeds goeie gevolge). Die weermag het vir my: ordentlik leer klere stryk; dissipline geleer; geleer dat jy nog dae kan aanhou al dink jy dat jy binne vyf minute gaan dood neerslaan van die moeg; geleer wat Psalm 27 prakties beteken; en nog meer. Aan die ander kant het dit my ook geleer om vreeslik te vloek, wat groot verleenthede veroorsaak het en met baie selfbeheersing afgeleer moes word.

Ek kan die weermag egter nie vergewe nie, nie omdat ek nie wil nie, maar omdat daar nie meer ’n “adres” is waar dit kan gebeur nie. Hoe kom mens nou onder sulke omstandighede daarby uit dat jy nie meer emosionele pyn ly nie? Jy soek na sin in die gebeure en “oes wat jy kan”. Van Totius “oes” ek die Bybel wat hy vertaal het. Ek sing/neurie dikwels die Psalms wat hy gedig het (maar nie almal nie).

As ’n mens egter anders daaroor dink, kan jy dalk sê: hulle was kinders van hulle tyd en het nie geweet wat hulle doen nie en ek vind hulle in absentia skuldig en verban hulle na die uithoeke van my gedagtes. Wanneer jy dit só hanteer, beteken dit dat jy soort van afsluiting kry, maar ook gedoem is om hulle foute te herhaal. Om hierdie rede moet die ANC gerus weer Verwoerd se sportbeleid gaan lees, want dit is die beleid wat hulle tans laat geld. Hulle moet ook Totius se gedigte lees, want hy het ras as ’n kwalifikasie gesien, soos Snyman tereg uitwys. Dit was toe nie waar nie en dit is steeds nie waar nie, maar dieselfde fout word nou weer deur die huidige regering gemaak. In die geval van Afrikaans is dit tans ook weer so dat die perspektief van die subjek misken word. Totius se geslag het dit gedoen, soos Snyman noem, maar word nou deur Totius-hulle se “teenpool” herhaal met waarskynlik dieselfde wrange gevolge, en daarom kan jy nie vir Totius en sy denkgenote opsy skuif nie.

Kan ’n mens, om die vraag wat Snyman gevra het te beantwoord, dan vir Totius “rehabiliteer”? Die antwoord hierop is: “Nee, dit is nie prakties haalbaar nie.” Om dit baie simplisties te stel: jy kan nie Peter Paul Rubens se skilderye, waar vroue dikwels met kaal borste geskilder is, rehabiliteer deur hulle van bostukke te voorsien omdat dit as seksisties gesien kan word nie. Jy hoef ook nie die lughawe naby Durban te herdoop omdat koning Shaka ’n geweldenaar was nie. Dit beteken egter nie dat jy dit uit jou denke moet verban nie, maar wel dat jy daaruit moet leer. Jy kan nie Totius se “Kafferlied” rehabiliteer nie, maar dit beteken nie dat jy niks meer van Totius moet lees nie. Jy gebruik dit as impetus in die vorming van jou eie identiteit, wat op sy beurt nie net op een vlak nie, maar op verskeie vlakke gevorm word.

Die eerste vlak waar dit gevorm word, is die vlak van kontinuïteit, en hier is Snyman reg in sy oordeel dat daar dinge is wat in Totius se mondering voorgekom het wat ons nie mag voortsit nie. Daar is egter baie in Totius se denke wat ek beslis in my lewe wil laat voortleef, want, soos Totius, sien ek my ook as “erfseun van my Afrika”. My eie “erfseun van Afrika” wees is egter nie gelyk aan Totius s’n nie, want myne is nie belas met sy bagasie nie. Tog is ons beide met ’n naelstring gebind aan hierdie kontinent wat my op ’n wyse voed wat ek nie altyd begryp nie. Ons is dieselfde, maar tog ook nie, want in ons “dieselfde” wees is daar baie differensiasie. In my selfverstaan het ek ander waardes en prioriteite as Totius, maar deur keuse sit ek tog iets van hom voort, en deur keuse distansieer ek my van sekere van sy gedagtes.

In hierdie proses is my optrede soortgelyk aan dié van die jong swart dame wat in suiwer Engels daarop aandring dat Rhodes – wat Engels so stewig hier gevestig het dat dit nou nog in sy “Rhodesië” as landstaal gepraat word – se standbeeld moet weg. Daar lê die werklike ironie: Rhodes word skuldig bevind en veroordeel vir dit wat hy gedoen het, in die taal wat hy in Suid-Afrika en Zimbabwe tot vandag toe met die Rhodes-Mandela-beurs bevorder. Totius se gedigte word ook gelees en geïnterpreteer en te rassisties en onrehabiliteerbaar bevind, maar daar word onbewustelik in die proses baie daaruit “geoes”. Jou individuele potensiaal word dus ontgin deur dit wat jy saamneem van die “untouchables”.

So maak jy keuses om te vergewe op persoonlike vlak en te oes op onpersoonlike vlak en word jou selfbeeld gevorm. Nie net deur sommiges te vergewe nie, maar ook deur van “die ander” te oes. So vorm jy ’n nuwe selfbeeld wat die uitdrukking is van jou identiteit wat jy vir jouself toegeëien het na aanleiding van wat jy ontvang het, of dit nou geneties is en of dit sosiologies of godsdienstig is.

Dit wat ons in hierdie hele proses baie versigtig voor moet wees, is ‘n oordrewe skuldgevoel. As iemand lank genoeg vir jou sê dat jy skuldig is omdat jy uit ’n geslag van skuldiges – soos Totius – kom, dan word diegene wat dit vir jou sê, jou meester. Hierdie is ’n ou indoktrinasietegniek wat Mao Zedong toegepas het. Deel van sy werkswyse was “heropvoeding” om die denkers te onderdruk – reformasie van die denke van skrywers, wetenskaplikes, professore, onderwysers, regsgeleerdes en uitgewers sodat hulle die kommunistiese regering aanvaar. Dit is bewerkstellig deur hulle hulle foute te laat bely en te laat skuldig voel omdat hulle die Chinese volk verraai het. Hierop het gevolg dat die oortreders Mao Zedong bedank het dat hy hulle foute uitgewys het en daarna is hulle na die plase gestuur vir handearbeid.

Ons moet baie versigtig wees dat ons nie die fout maak dat ons toelaat dat ons deur ’n skuldgevoel oor ons geskiedenis “heropgevoed” word nie, en dit is die persepsie wat Snyman se artikel onder andere by my gelaat het, dat heropvoeding nodig is vir Gereformeerdes. Die Totiuse en Rhodese en Verwoerds en Afrikaans en Engels en Gereformeerdes het almal vrugte gedra en dra dit steeds in die vorm van “Vergewe en vergeet” en Rhodesbeurse en Afrikaanse Bybelvertalings en “the international academic language” en die NWU. Ons moet uit die verlede pluk wat goed is, maar nie die “lewende hawe” in die vrugte saam eet nie. Geskiedenis, waarvan Totius en Rhodes en Verwoerd deel is, is verby en kan nie meer vergewe word nie. Daar móét egter daaruit geleer word. Hierdie les het ek in die onlangse verlede op ’n verrassende wyse in Berlyn geleer en dit word steeds deur foto’s wat daar geneem is, brandend in my gedagtes gehou.

ddr

Hierdie is die foto’s van die uithangbord na die Duitse Demokratiese Republiek (DDR) se museum. Dit is die DDR wat verantwoordelik was vir Berlyn se muur en al die felle emosionele lyding en pyn wat dit nou nog het, en op die museumbord staan: “Geschichte zum geniessen” (Geskiedenis tot genieting/waardering). Hoe waardeer mens daardie geskiedenis? Nie deur dit te vergeet nie, want dan is dit nie meer geskiedenis ter waardering nie maar ter herhaling. Dit is waarskynlik ook waarom deeltjies van die Berlynse muur nog staan as monumente vir die val daarvan, en inlegsels in die nuwe plaveisel aandui waar die muur voorheen was.

Vat dus net wat jy nodig het! In visvangterme kan ’n mens dit uitdruk met: “As ’n vis weet hoe, kan hy homself lekker aan die lewe hou van die aas aan die visserman se hoek.”

Vergewe is dus belangrik, en om nie te vergeet nie is net so belangrik. Totius mag dalk die teenpool van die Nuwe Suid-Afrika wees, maar terselfdertyd is hy deel van die “Geschichte zum geniessen” ter wille van die genesing van ’n nuwe geslag kinders van Afrika.

  • Chris van der Walt is verbonde aan die Skool vir Predikantsopleiding op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit.

Lees ook die LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe)-artikel deur Gerrie Snyman wat hierdie gesprek laat ontstaan het: Totius: die ironie van vergewe en vergeet

Hierdie LitNet Akademies-webseminaar sluit ook in:


Om gister te lees

Heilna du Plooy
Seminare en essays

"Ons kan daarvan nie wegkom dat ’n geweldig groot persentasie van alle menslike standpunte met verloop van tyd verkeerd bewys word nie. As dit nie so was nie, sou daar geen verandering plaasgevind het nie."


Oor historisme en verstaansraamwerke: Hoe beoordeel ons historiese gebeure en agente?

Anton van Niekerk
Seminare en essays

"Deur met die geskiedenis besig te bly, maak ons vir onsself beter uit waarin ons werklik glo, wat van meer of minder waarde vir ons is, waarmee ons kan identifiseer, en wat ons tot elke prys in die toekoms moet probeer vermy."


Vergifnis – die persoon en sy konteks

Donald Katts
Seminare en essays

"Dit bly ons, die generasie van vandag, se verantwoordelikheid om mense uit die verlede te vergewe, om hulle saam met hul kontekste te vergewe sodat ons vandag vir versoening, eenheid, kohesie en samehorigheid kan werk en leef."

  • 2

Kommentaar

  • Ek wonder hoeveel mense wat Totius op grond van "Kafferlied" as rassis kenteken ooit verby die titel lees. Die gedig is niks minder as 'n profesie nie, met slotsom: ja, die wittes is nou in beheer, maar die swartes se beurt gaan kom. Daniël Hugo het al op LitNet daaroor verslag gedoen, maar Gerrie Snyman verwys nie daarna nie. http://www.oulitnet.co.za/seminaar/dhugo.asp

  • Avatar
    Bertie du Plessis

    Baie maklik! Baie maklik Chris, dink net daaraan dat iemand in die toekoms jou weer gaan moet vergewe. Die hede is nie die eindpunt van morele ontwikkeling nie. 'n Bietjie nederigheid doen die ding, Boet. Jy ken mos die gesegde van "hindsight..."

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top