Om gister te lees

  • 0

totiusheilna

Die vraag of, en indien wel, in watter mate, mense jare later verantwoordelik gehou kan word vir hulle standpunte en uitsprake, kan waarskynlik nie op ’n enkelvoudige wyse beantwoord word nie. Dit sou simplisties wees en daardie soort onskuld is in die tyd waarin ons lewe, nie meer moontlik nie, sê Heilna du Plooy in haar bydrae as deel van ’n LitNet Akademies-webseminaar oor die ironie van vergewe en vergeet.

Die vraag sou ook anders gestel kon word: Hoe “lees” of interpreteer mens die verlede? Hoe verklaar of verstaan of beoordeel jy die verlede, die mense en die gebeure wat hulle aangerig of aangestig het? Daarby kom dan die tweede deel van die probleem: Kan die konteks waarin iemand geleef het, as “versagtende” omstandighede dien as dit later blyk dat wat geglo, gesê en gedoen is, verkeerd of selfs sleg was?

Om aspekte van die kwessie aan die orde te stel, gaan ek onder meer redeneer rondom en in terme van die Afrikaanse letterkunde en die literêre teorie, wat dinge is waarvan ek iets weet. Dit is ook nie ’n vergesogte plek om te begin nie, aangesien daar sedert 1990 ’n sterk tendens om historiese werke te skryf in die Afrikaanse prosakuns na vore gekom het. Oor die afgelope twee dekades is lesers van Afrikaanse boeke gekonfronteer met ’n uiteenlopende verskeidenheid van maniere waarop daar met die verlede omgegaan kan word. Na analogie hiervan sou mens ook ’n verskeidenheid van moontlike maniere kon beskryf waarop historici, filosowe, kultuurkundiges en politieke ontleders na die verlede sou kon kyk.

Die maniere waarop romanskrywers na die verlede kyk, kan op ’n glyskaal geplaas word met romantisering (meestal in meer populêre en toeganklike literatuur) op die een en demonisering op die ander uiterste (waarvan Op soek na Generaal Mannetjies Mentz van Christoffel Coetzee waarskynlik ’n voorbeeld is). Sonder om eindelose voorbeelde te gee, kan daar tussen hierdie uiterstes verskeie posisies aangedui word: pogings tot dokumentêr-getroue weergawes (bv Kroniek uit die Doofpot van John Miles), herinneringswerk, egodokumente in uiteenlopende en meer en minder betroubare vorme, fiksionaliserings en magies-realistiese herskrywings van verskillende soorte, en tekste wat realistiese representasie laat versmelt met mitologisering (soos Triomf en Agaat van Marlene van Niekerk en Disgrace van JM Coetzee). Hierdie intense bemoeienis met die verlede is steeds baie sterk werksaam in veral die Afrikaanse komponent van die Suid-Afrikaanse literatuur, soos blyk uit die tekste wat ingeskryf is in die onlangse Groot Roman-kompetisie van NB-Uitgewers. Dit is dan ook te verstane dat mense in alle vakgebiede in Suid-Afrika so indringend na die verlede kyk.

Ons bevind ons immers in ’n hede wat erg aan die verlede ly.

Lees ook die LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe)-artikel deur Gerrie Snyman wat hierdie gesprek laat ontstaan het: Totius: die ironie van vergewe en vergeet.

Net soos wat romanskrywers elkeen volgens sy eie aanvoeling kies om op ’n bepaalde manier met die verlede om te gaan, maak verskillende soorte akademici en wetenskaplikes ook keuses in hulle benadering tot die verlede. Dit was nog altyd so en sal waarskynlik altyd so wees.

Die geskiedenis van die Slag van Waterloo word byvoorbeeld gewoonlik in die Britse geskiedskrywing beskryf as ’n groot triomf met Wellington as die held. Wellington het op die aand van 15 Julie 1815 nog ’n galadans in Brussel bygewoon en dit is later deur Britse historici beskryf as die hoogtepunt van sy “sielkundige” oorlogvoering teen Napoleon. Inderwaarheid het Wellington nie vooraf besef dat hy Napoleon se magte geleentheid gegee het om op te ruk na die strategiese kruising by Quatre-Bras nie. Gelukkig het die offisiere van ’n mag van 35 000 Nederlandse, Vlaamse en Duitse soldate dit wel besef en op 16 Julie het hulle Napoleon se maarskalk Ney daar verslaan. Dit het die oorwinning op 18 Julie 1815 by Waterloo moontlik gemaak, maar Britse geskiedskrywing onderbeklemtoon hierdie aspek (vgl “Quatre-Bras and Waterloo Revisited” in die tydskrif The Low Countries, 23).

Die geskiedenis van die Tweede Wêreldoorlog is ook nog nie klaar geskryf nie. Dit is eers sedert die begin van die 1990’s dat Nederlandse, en nou ook Duitse, skrywers oor die ongemaklike kante van die geallieerde oorwinning begin skryf. Gaan lees maar die werk van Hans-Ulrich Treichel (byvoorbeeld Der Verlorene – in Engels vertaal as Lost, 1999) of gewoon die geskiedenis van Königsberg, die stad van Kant en die geboortestad van mense soos Hannah Arendt en Käthe Kollwitz.

Hierdie stad is in drie fases verwoes, eers deur die Nazi’s self, wat die inwoners verhoed het om te vlug, daarna deur ’n fosforbombardement in Augustus 1944 deur die geallieerdes, en daarna deur die inval deur die Sowjetsoldate. Net omtrent 100 000 van die burgerlike bevolking van 350 000 het hierdie finale twee invalle oorleef, maar hulle is later onder skrikwekkende omstandighede onder Stalin se etniesesuiweringsprogram uit hulle stad verdryf. Hulle moes 500 km ver te voet en sonder hulp deur Pole na Duitsland reis. Nog derduisende het tydens hierdie trek omgekom. Die stad heet sedert 1945 Kaliningrad en is volgens die Nederlandse joernalis Jan Brokken (in sy boek Baltische Zielen, 2014) tans die hoofstad van die Russiese mafia. Dit is nie inligting wat in standaardgeskiedskrywing oor die Tweede Wêreldoorlog bekendgemaak word nie.

Ons kan daarvan nie wegkom dat ’n geweldig groot persentasie van alle menslike standpunte met verloop van tyd verkeerd bewys word nie. As dit nie so was nie, sou daar geen verandering plaasgevind het nie. Dinge word verander omdat stelsels en opvattings uitgedien of ontoereikend raak of gewoon verkeerd of onverdedigbaar is. Soms word dinge verkeerdelik as verkeerd beskou en soms met reg, en soms voel jongmense hulle moet die erfenis van die vaders vernietig om lewensruimte vir hulleself te vind (vgl Harold Bloom se bekende Anxiety of Influence).

Die mens se verslawing aan mag en konfrontasie is iets wat my eindeloos boei, maar daaroor het ek in Die stilte opgeskort geskryf en daardie soort bespiegeling pas ook nie regtig hier nie, hoewel die behoefte aan konfrontasie en mag op ’n manier die agtergrond van alle ideologiese en politieke selfondersoeke vorm. Wat egter telkens opnuut duidelik word, is twee dinge: dit is baie moeilik om met grasie te wen, en die oorwinnaar skryf die geskiedenis.

Elke nuwe geslag herinterpreteer dus die verlede – die verlede self en wat geskryf word in en oor daardie verlede – maar dit word altyd gedoen vanuit die perspektief van die hede. Hierdie nuwe perspektief voeg iets toe, maar kan ook iets wegneem van die verlede, en die perspektief op sigself stel eise aan die ondersoeker en beoordelaar van die verlede.

In Die laaste goeie man van Dan Sleigh, die roman wat vanjaar die Groot Roman-kompetisie gewen het, werk die skrywer met dokumentêre en argiefinligting op die noukeurige manier wat ’n mens van ’n argivaris kan verwag. Maar hy skryf by en borduur wyer, maak die karakters volronde persoonlikhede en ontroer die leser met sy empatiese uitbeelding. Hy wil dus graag so ’n uitvoerige beeld as moontlik van die verlede gee, maar dit geskied vanselfsprekend vanuit die perspektief van die hede. En die boek sal ook vanselfsprekend oor vyftig jaar en verder anders gelees word as nou, omdat lesers die subtiele suggesties wat na die hede van hierdie dekade verwys, dan sal mislees. Hulle gaan vanuit ’n ander konteks lees.

Hiermee saam moet ek ook daarop wys dat as daar geskryf word, die inligting deur verskeie fases van mediasies verdof, versag, verskerp of gekompliseer raak. In die letterkunde word die moontlikhede van meerduidigheid op die spits gedryf en selfs uitgebuit ter wille van estetiese oogmerke, maar as dit gaan om ander soorte uitsprake, verslae, koerantberigte en politieke geskrifte, is die proses dalk minder kompleks, hoewel nie basies anders nie.

Wat ek hiermee wil sê, is dat die oomblik wat mense taal begin gebruik, daar speling en verskuiwings in betekenisse en in interpretasie in werking tree. Selfs die persoon wat sy eie hede opteken en glo hy doen dit noukeurig, hetsy as skrywer of as wetenskaplike, gaan bloot ’n beeld vanuit sy eie beperkte perspektief gee.

Verder gaan mense die verlede altyd weer en weer anders sien, lees en interpreteer as wat dit ervaar is, des te meer wanneer hulle konfrontasie met die verlede via talige tekste gebeur. En wat ons nou dink en skryf, gaan ook oor tien of twintig of honderd jaar anders verstaan en geëvalueer word. Al dink ons dat ons ons tans in ’n baie verligte en bewuste fase van die geskiedenis bevind en dat ons werklik met groot insig die verlede kan beoordeel, is ons ook maar weer kinders van ons eie tyd.

Dus: omdat wat gesê en geskryf is in die verlede sowel as in die hede, altyd as ’n getuienis van ’n tydperk bly staan en herhaaldelik herinterpreteer gaan word, moet mense gewoon weet en aanvaar dat die verantwoordelikheid vir hulle denke, dade en geskrifte nooit ontduik kan word nie. Maar daarmee saam moet mens ook maar aanvaar dat slegs in hoogs uitsonderlike gevalle mense nie kinders van hulle tyd is nie. Ons eietydse ideologiekritiese benaderinge mag dalk weldeeglik die foute van die verlede uitwys, maar staan op sigself ook bloot aan tipering en beoordeling.

Dit is eintlik maar ’n bose kringloop waaruit ons nie kan kom nie. Ek sou wel baie versigtig wees om kreatiewe werk, gedigte en romans, die tekste of hulle skrywers, op ideologiese gronde totaal te veroordeel.

Net so min as wat dit regverdig of te verdedig was dat mense die Sestigers en hulle werk suiwer op grond van hulle politieke en religieuse opvattings (of dan die publiek se rekonstruksies daarvan) veroordeel het, net so min behoort eietydse werk wat nie sogenaamd polities korrek is nie, afgemaak te word. En dit het inderdaad gebeur.

In ’n studie wat ek rondom 2000 onderneem het saam Phil van Schalkwyk, toe nog ’n nagraadse student, het ons bevind dat onder meer in die tagtigerjare Afrikaanse tekste wat nie polities betrokke was nie, baie maklik afgemaak is (vgl “So is my lewe, so ek” in Stilet (12:1)). Skrywers en digters wat in daardie tyd gedebuteer het en nie die apartheidpolitiek gekritiseer het nie, al was hulle werk tegnies en tematies goed, is nie ernstig opgeneem nie.

Daar was eindelose gesprekke en redenasies oor die regverdigbaarheid van skryf oor die eie “persoonlike pyn” as die “land brand”. Antjie Krog het selfs gedigte geskryf oor die regverdiging vir skryf as sodanig onder sulke omstandighede. In “parool” in Lady Anne (ble 36 en 37) skryf sy: “in die aangesig van soveel onreg/ (lyding) as poësie volhard as luukse bly dit ook ’n leuen” en “waaroor skryf die bevoorregte digter hier? ‘waar estetiek was word politiek portier’”. En tog is die letterkunde en die poësie kosbare dokumente van die verlede, wat die tekortkominge sowel as die triomf en waardevolle dinge van ’n era kan bewaar. Dink maar Paul Celan, Pablo Neruda, TS Eliot, wat tussen duisende ander telkens iets ongrypbaars van hulle eie tyd vasvang en weergee.

As mens nou dink oor ons eie figure van die verlede, soos Totius of NP Van Wyk Louw, CM van den Heever, en ook selfs later figure soos André P Brink, is daar sowel die kreatiewe werk as ander uitsprake waaroor mens moet besin. Ek self verkies om nie suiwer ideologiekrities na hierdie figure uit die verlede te kyk nie. Ideologiekritiek is te “maklik”. Wat ek daarmee bedoel, is dat dit in beginsel altyd, maar altyd, moontlik is om krake in ’n argument te vind, die dun punt van die wig daar in te wikkel en dit uitmekaar te breek.

Dit is dan ook te maklik om met so ’n werkwyse in die slaggat van oorvereenvoudiging te trap. Daarmee sê ek nie dit is wat gedoen word of is nie, ook nie dat dit altyd so is nie, maar dit gebeur weldeeglik soms so. En daarom sou ek ’n ander keuse maak as ek die verlede moet ondersoek, ’n keuse wat waarskynlik voortvloei uit my persoonlike lewensaanvoeling, dat ek naamlik liewer ontleed en interpreteer om te probeer verstaan as wat ek wil weeg en evalueer en veral veroordeel, des te meer as dit gaan om abstrakte dinge soos opvattings en standpunte.

As mens na bepaalde tekste, opvattings en uitsprake kyk, sal jy vanuit die hede ongetwyfeld geldige kritiek daarteen kan uitspreek. MER het iewers (ek kan die presiese plek nou nie vind nie) geskryf dat dit baie maklik is om al die slaggate en slote in en langs ’n pad te sien as jy daarop terugkyk, maar terwyl jy op die pad loop, sien jy dit nie. Jy weet nie hoe die roete van die ander kant af terug bekyk, sal lyk nie. Daarom kan ’n mens dalk kies om met ’n wyer blik te kyk en ook ietwat genadig te wees met die verlede, veral die verlede van koloniale lande.

Ek kan my glad nie vereenselwig met die soort argument wat Totius in sy volkskongresvoordrag van 1944 voer nie. Vreemd genoeg is die eksegese self nie so onaanvaarbaar nie: hy het immers die Bybel baie goed geken, en weet watter tekste relevant is. Sy gebruik en toepassing daarvan maak egter groot en onlogiese spronge en is ongetwyfeld baie sterk tydgebonde. Vanuit die hede kan mens daaroor net jou kop skud.

Wat vir my egter baie interessant is, is dat ek hierdie toespraak van Totius in ons biblioteek gekry het in ’n publikasie uit 1954 waarin daar ook ’n artikel van sy seun, Fanus du Toit, opgeneem is. Fanus du Toit sien sy eie artikel duidelik as ’n aanvulling en opvolging, eintlik ’n voortsetting, van sy vader se werk daarin dat dit vir hom ook steeds gaan om gehoorsaamheid aan die gebod van God. Hy stel dit dan ook eksplisiet dat beginsels uit die Bybel op verskillende tye en plekke verskillend toegepas sal word en eindig sy artikel met die frase: “Siende in die gebod, maar blind vir die toekoms”. Die gesindheid agter die artikel spreek egter die duidelikste uit die inleiding, waarin hy skryf: “Dit is dringend noodsaaklik dat ons apartheidsbeleid aan die Skrif getoets word. Hier lê ons hoogste norm en as ons beleid hiermee nie in harmonie is nie, moet dit dienooreenkomstig gewysig word. As ons beleid in stryd is met die ordinansies van God kan dit geen seën bring nie.”

Wat mens moet maak met hierdie uitspraak in die lig van die feit dat die beleid inderdaad geen seën gebring het nie, moet elkeen maar vir hom- of haarself besluit. Maar dat Totius by alles ’n nederige mens was, is ook ’n bekende feit. In die biografie van die groot Nederlandse digter Adriaan Roland Holst word vertel dat Roland Holst tydens sy besoek aan Suid-Afrika in 1948 by Totius besoek afgelê het. Hy het Totius beskryf as die mees indrukwekkende mens wat hy in Suid-Afrika ontmoet het, omdat Totius vir hom die verpersoonliking van opregtheid en nederigheid was.

Hierdie inligting oor Totius se persoonlikheid en uitstraling kan sy geforseerde motivering van apartheid uit die Bybel nie kanselleer nie, maar toon net al hoe duideliker dat en hoe sterk hy kind van sy tyd was. Hy kon waarskynlik eenvoudig net nie anders as om motivering te soek vir die voortbestaan van sy mense nie en dit het hom in diep waters laat beland.

Die hele voorafgaande is natuurlik my bespiegelinge op grond van enkele vasstaande stukkies inligting, maar dit is immers maar hoe ons as mense, sy dit dan minder of meer formeel of in welke omhaal van wetenskaplike taal, binne die beperkinge van ons wete en insig met die verlede kan omgaan.

In 2013 moes ek die NP Van Wyk Louw-gedenklesing by die Universiteit van Johannesburg aanbied. Die titel van die voordrag (in 2014 in LitNet Akademies gepubliseer) was “Die beeld is duursamer as die begrip”. In die voordrag het ek probeer om aan die hand van ’n resepsiegeskiedenis van Van Wyk Louw se oeuvre insig te verkry in die waarde van die nalatenskap van die digter. Nou is dit so dat Van Wyk Louw nie altyd so opgehemel is as wat mens sou dink nie en sy werk is ook verskeie kere deeglik en grondig aan ideologiekritiese lesings onderwerp, onder meer deur Jack Cope, Gerrit Olivier en Karin Cattell. Maar vir enige leser wat Louw met toewyding lees, sal dit duidelik word dat Louw homself toenemend in die loop van sy lewe bevraagteken het en al hoe meer bewus geword het van sy eie tekortkominge en gebrekkige insig. Die man wat homself aan die begin van sy loopbaan gesien het as die digter wat tussen afgronde en hoogtes beweeg, wat streef na “”magiese deursuiwering”, “sy eie eensaamheid wil besit”, wat daarna gestreef het om op hoër en koue paaie te gaan, skryf later in Tristia oor homself: “Hy het nooit danig waffer liefde ooit gekry, nè?/ Maar watter danige lieflikheid was hy?”

Hy eindig “Groot ode” met die volgende strofe: “’n voël roep in die nag in:/ nie nagtegaal maar onrus,/ uitskreeu na ánders as hy is:/ - heiligheid en volledigheid -/ ander name sluimer nog.”

Heiligheid en volledigheid is dus wat daar nié is nie.

By albei hierdie digters is moet mens onthou, hoe ironies dit ook al is, dat al sou hulle uitsprake hoe erg gekritiseer word, hetsy weens verantwoording vir apartheid of simpatie vir die nasionaal-sosialisme, hulle juis op dié manier deel bly van die gesprek, en elke keer wanneer iemand hulle by ’n debat betrek, beteken dit dat hulle steeds geag word as mense wat stene tot die muur van ons openbare gesprek toegevoeg het (soos Popper die wetenskap se stelselmatige opbou ook sien). Hulle was egter skrywers en dus sensitiewe mense wat meer geskakeerd kon dink as hulle nalatenskap in geheel beskou word en ook binne die beperkinge van hulle tyd. En in beide gevalle is dit die idealisme, die noodsaak van hoop, wat hoogs waarskynlik hulle standpunte beïnvloed het.

Vir die politici sou die meeste mense minder genade wil betoon, want die pragmatiese komponent wat in die daaglike politieke besluite meespeel, plaas selfondersoek baie laag op die politieke agenda. Wat vir my wel deur die loop van die jare al hoe duideliker geword het, is dat Suid-Afrika as ’n koloniale gebied en tans ’n postkoloniale land spesifieke omstandighede het wat sowel vergelykbaar is met as verskil van dié van ander postkoloniale gebiede.

Wat hier in gedagte gehou moet word, is dat ons geskiedenis ’n fase geken het van weerstand en opstand teen Britse kolonialisme, maar dat die koloniale bestel waaruit die land toe gekom het, Nederlands was. Dit was hierdie Nederlandse kolonialisme wat vir mense bekend was, wat die Kaap weer Hollands gemaak het. Nederlandse kolonialisme was nie suiwer staatskolonialisme nie (hoewel die VOC en VWC eintlik die regering oorheers het), maar deels ekonomiese kolonialisme wat minder sterk ingegryp het op die basiese strukture van die gemeenskapslewe as dit met die Britse stelsel vergelyk word. Maar hierdie ingesteldheid het in al die Nederlandse gebiede, in Indonesië, die Karibiese gebiede en Suid-Afrika, ’n rol gespeel in die afloop en finale afwenteling van die Nederlandse invloed.

In die roman Sleuteloog van Hella S Haasse word die meerledigheid van die verhouding met die voormalige koloniale agtergrond baie goed uitgebeeld. Daardie vreemde weet en nieweet van die inherente fout in ’n bestel, die liefde vir die plek en sy mense wat desnieteenstaande ervaar word, die heimwee na die gekwelde land, die verskeurde verhoudinge en emosies – al die dinge is vir ons baie herkenbaar. En as ek die werk van al die inheemse historiese figure in Suid-Afrika lees, dan dink ek ook daaroor in hierdie terme. Daar was waarskynlik ’n soort wanhoop teen die insypelende wete dat die toekoms hier absoluut broos is. En die radikaliteite waarmee ons nou te make het, kom waarskynlik uit soortgelyke verskeurde en verwarrende opvattings, emosies en ingesteldhede. Wat wel dan ook logies en onafwendbaar is, is dat huidige leiers, op politieke, wetenskaplike en ander terreine, ook in die toekoms beoordeel en veroordeel sal word vir wat hulle sê en doen.

’n Laaste opmerking is dat hoewel dit soms heilsaam kan wees om lojaliteite te bevraagteken en te ondermyn deur radikale relativering, dit nie altyd ewe geldig is nie. In die VSA word daar tans dikwels gesê dat die relatiwiteit en ondermyning van dekonstruktiewe denke deur die geskiedenis agterhaal is omdat niemand wat die twee toringgeboue van die World Trade Center sien val het, die absolute werklikheid daarvan kan ontken nie. En daarom moet die meningsvormers en politieke leiers van vandag ook maar weet dat hulle hulle woorde, uitsprake en optrede deeglik moet oorweeg, want die geskiedenis sal weer oordeel. Daar kom altyd weer ’n draaipunt wanneer die werklikheid alle woorde, opvattings en interpretasies sal oorstyg. Trouens, dit het in Suid-Afrika al meermale gebeur, maar ek glo baie mense hoop dat dit nie in die nabye toekoms weer hoef te gebeur nie.

• Heilna du Plooy is professor en senior navorser van die Navorsingseenheid Tale en Literatuur aan die Noordwes-Universiteit.

Lees ook die LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe)-artikel deur Gerrie Snyman wat hierdie gesprek laat ontstaan het: Totius: die ironie van vergewe en vergeet

 

Hierdie LitNet Akademies-webseminaar sluit ook in:


Oor historisme en verstaansraamwerke: Hoe beoordeel ons historiese gebeure en agente?

Anton van Niekerk
Seminare en essays

"Deur met die geskiedenis besig te bly, maak ons vir onsself beter uit waarin ons werklik glo, wat van meer of minder waarde vir ons is, waarmee ons kan identifiseer, en wat ons tot elke prys in die toekoms moet probeer vermy."


Hoe vergewe mens iemand gesien die konteks waarbinne hy geleef het?

Chris van der Walt
Seminare en essays

"Hoe maak ek met die ou Suid-Afrikaanse Weermag en dan ook met Totius en Rhodes en Afrikaans en die Engelse wat nie ʼn gesig het met wie ek kan of kon praat nie, maar emosionele pyn kon veroorsaak?"


Vergifnis – die persoon en sy konteks

Donald Katts
Seminare en essays

"Dit bly ons, die generasie van vandag, se verantwoordelikheid om mense uit die verlede te vergewe, om hulle saam met hul kontekste te vergewe sodat ons vandag vir versoening, eenheid, kohesie en samehorigheid kan werk en leef."

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top