Vannie wal, af: ’n teaterresensie

  • 0

Plakkaat van Vannie wal, af (bron: Webtickets)

Abba, wat wôd vanne boy
wattie meer ’n boy issi? Kanala –
wat wôd vanni herde
assi skape cannibals is?

(Paul Kammies, “passiflora & hiacint”, ’n vertaling van “Prayer for the newly damned” deur Ocean Vuong)

Wanneer twee mans mekaar liefhet, waarlik met gees en lyf, dan kan daardie beminning soms vergelyk word met ’n natuurramp of ’n wêreldoorlog. Vanaf die Spartans en Romeinse tyd is die verhouding tussen veral ouer en jonger mans hoog geag en besonder intiem. Tot in vandag se tyd is homo-erotiese verhoudings nie soseer minder aweregs as destyds nie, net meer veralgemeen. Afrikaanse lesers en kykers vind dit deesdae duidelik meer verteerbaar. Kyk maar na die toename in toneelstukke vanjaar wat handel oor gay-identiteit, soos Moffie, Please, don’t call me moffie en Die een wat bly, om maar net ’n paar te noem. Dit sien ons ook in die groeiende hoeveelheid boeke en toneelstukke van die afgelope vyf jaar, sowel as verskeie gay-verhoudings in twee van ons land se gewildste Afrikaanse sepies.

........
Either way, Mikyall Harris is aan die woord met Vannie wal, af en sy werk is unapologetically bruin en queer.
........

Either way, Mikyall Harris is aan die woord met Vannie wal, af en sy werk is unapologetically bruin en queer. Sy karakters, Adam (Angelo Bergh) en Jethro (Dean John Smith), is albei Afrikaanse studente op Stellenbosch met ’n liefde vir woordkuns. Adam is eerstejaar, naïef, dolverlief en kwesbaar. Jethro is weer besig met sy Masters, manipulerend, geheimsinnig en konkelend. Die twee maak nogal ’n goeie kombinasie, of hulle probeer. Vasgevang in ’n teaterruimte wat dien as hul romantiese spot, Die Wal – oftewel better known as Lover’s Lane in Stellenbosch – waar die twee alewig hul verhouding nog ’n kans wil gee. Maar die ruimte word later een van verdoemenis ook. Geheime wat uitkom en geweld wat flikker.

Jethro het baie op die brein. En sy phone is net so besig – alewig besig om te lui of te pieng. Uit ’n oproep lei ons af dat sy pa afgesterf het, maar van die man wil hy niks weet nie. Hy hou nie eintlik van goed konfronteer binne en om hom nie. Sy domino’s hou hy stewig teen sy bors. Hier en daar kry ons ’n blik van wat binne hom aangaan. Adam probeer baie hard om sin te maak, aan te hou en mis te kyk. Is dit nie maar hoe mens enige verhouding oorleef nie? Arme Adam lees sy love poem vir Jethro wat dit eerder kritiseer. Sy eie werk wroeg hy mee, ook ’n skyndigter wat worstel met sy woorde. Nogal ’n lovely picture wat vir ons as gehoor geskets word: twee love birds wat vir mekaar gedigte lees, terwyl die musikant, Solomon Mathipa, rivierklanke vir ons skep met ’n waterskottel en mikrofoon. Verder is die verhoog ingekleur met opgefrommelde bruin papier, hope daarvan wat die illusie van klip en koppies skep. Die regisseur, Amelda Brand kwyt haar vernuftig van haar taak om simboliek na die kras gegewe te bring. Sy behou ‘n element van misterie en wonder deurlopend. So ook die musikant al het Mathipa soms my aandag afgetrek en die intiemheid laat verbrokkel tussen die twee, want ons wil inkyk op die verlate vlaktes van hierdie verhouding- met slegs die twee Spartans ook, ‘n amperse Dawid en Johanathan van die Bybel wie in die berge mekaar skelm besoek en bemin het.  

Dit is Die Wal waar alles saamgevleg en later ontlont word. Dis hier waar Jethro se geheime ontbloot word en hy ook ’n laaste keer die verhouding probeer red. En kyk, as ek praat van geheime, dan is dit sommer ’n hengse mondvol: cheating, verkragtings, geestelike gesondheid, middelmisbruik en meer. Harris ryg sy tematiek in soos ’n stywe veggie-sosatie by ’n festive braai. Hy kom nie met ’n lag nie. Die dialoog is effortless, vloei nes die rivierstroom, en die karakterisering is duidelik. Ek neem aan hy skryf uit ’n persoonlike ervaringsveld, want die karakters is tasbaar, ook grootliks te danke aan die puik spelers wat boonop sterk chemistry ook het. Tog kon ek nie help om hier en daar te struikel oor die klippe nie. Harris sou daarby kon baat om wanneer van die storielyne soos ontrouheid, dood van sy pa en middelmisbruik deursyfer, dit reeds te begin ontlont – veral wanneer Adam so vroeg van dit uitvind, om dit reeds aan te spreek, hoe subtiel of onderlangs ook al – sodat ons nie met rou kos teen die slot gelos word nie. Teen die einde val ons ook bietjie van die wal af, want die diepsinnige en dramatiese wêreld wat Harris vir ons skep, skop te laat ons wind uit. En met ’n speeltyd van 50 minute is daar nog meer as genoeg tyd om die tonele en motiewe meer uit te sprei en oop te vlek.

Tog weet mens een ding as jy die stuk klaar beleef het, Harris is hier om te bly. Ons spoel saam weg op die Eersterivier na dieper water, na stiller grond. Vannie wal, af los ons met die vraag: Wat bly oor van ons sonder die liefde?

Lees ook:

Die wenner van die Nagtegaal-tekspryswenner: ’n onderhoud met Dianne du Toit Albertze

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Ek is ook nie Danie

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Boklied – ’n psigedeliese padkaart na binne

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top