US Woordfees 2019: Winnie Nel praat oor Met of sonder woorde

  • 0

Winnie Nel

Winnie Nel praat met Naomi Meyer oor die toneelstuk Met of sonder woorde by US Woordfees 2019.

Winnie, jy is skrywer, regisseur en stelontwerper van 'n produksie op vanjaar se US Woordfeesprogram: Met of sonder woorde. Waardeur is die toneelstuk geïnspireer?

Die toneelstuk is geïnspireer deur Die land van die groot woordfabriek, oorspronklik in Frans geskryf deur Agnés de Lestrade en Valeria Docampo en vertaal deur Nicol Stassen.

My ma (die ontslape skrywer Winnie Rust) het geweet ek is altyd op soek na ’n goeie kinderboek. So as sy op een afkom, het sy dit onmiddellik vir my gekoop of bestel. Die land van die groot woordfabriek was natuurlik een van haar vondste en ek was die gelukkige ontvanger van so ’n juweel.

Ek weet dat jy al jare lank betrokke is by kinderteater. Was dit juis dit - kinderteater in jou agterkop - wat veroorsaak het dat die storieboekstorie toe vir jou iets geword het wat jy kon sien gebeur op 'n verhoog, as toneelstuk? Of hoe het die proses gewerk om 'n storie in boekvorm 'n storie te laat word wat op 'n verhoog afspeel?

Ek is reeds vir agt jaar ’n dramajuffrou by Laerskool Stellenbosch. Elke jaar moet daar iets op die planke kom en daarom is ek pal op soek na idees. Met die eerste lees van hierdie boek (met maar min woorde) het ek geweet dit is te verbeeldingryk en kosbaar om nie opgevoer te word nie. Dit was ’n uitdaging om ’n boek met so min woorde lewend te maak, maar dit was juis dít wat my bekoor het. Ek het geweet dat die stuk effens bo ’n laerskoolkind se vuurmaakplek is. Die stuk is ryk aan simboliek met die stilte as die hoofrolspeler. Het jy al ooit stilte by laerskoolkinders probeer bemark?

Ek het geweet ek is uiters waaghalsig met die storie, eerstens om ’n toneelstuk daarvan te probeer maak en tweedens om dit deur 34 10–13-jarige kinders te laat opvoer. Die eerste keer wat ek dit opgevoer het, was in 2014 vir ’n Toneelfees-kompetisie in Villiersdorp.

Die temas in die verhaal is beslis meervlakkig. ’n Tema wat sterk gedra word deur die twee hoofspelertjies, Amelief en Reinhart, is dat mens nie altyd woorde nodig het om jou liefde vir iemand te wys nie. Daan die Donderhaan en Abel Formidabel besit die duurste, rykste woordeskat in die wêreld, maar in hul besit word dit goedkoop gemaak deur hul vals motiewe. Mens kan selfs die tema letterlik vertolk deur te sê dat kinders wat nie blootgestel word aan goeie taalgebruik nie se woordeskat sal verarm. Woordeskat is nodig vir kinders om hul emosies uit te druk en hul sê te sê. As mens nie mag praat nie, kan mens ook nie gehoor word nie, en as mens nie gehoor word nie, word mens gefrustreerd en soms selfs gewelddadig – soos uitgebeeld word deur Abel.

Ek sien op die Woordfeesprogram word aangedui hierdie produksie is deur kinders vir kinders. Wie is die kinders wat gaan deelneem en die stuk gaan opvoer? En hoe het die proses gewerk om hierdie spesifieke toneelstuk op die Woordfees se program te kon kry?

Met my eerste konsert by Laerskool Stellenbosch het ’n dogtertjie wat van ’n ander laerskool was, vir my gesê sy wens hulle skool kan ook sulke mooi konserte hou. Dit was dus my droom om eendag so ’n grootskaalse produksie te kan aanbied vir die wyer Stellenbosch-omgewing. Ek het nog altyd heimlik gewens ek kon ’n Woordfeesproduksie doen mét kinders vír kinders. Met ’n tema “Jonk” het ek geweet dat hierdie jaar dié jaar is. My voorstel aan die Woordfees was om 12–13-jarige kinders van die hele en wyer Stellenbosch-omgewing vir ’n professionele produksie te gebruik. Ek het gedink hulle gaan nog daaroor dink, maar my voorstel is net daar aanvaar. Ek moes toe einde laas jaar inderhaas begin met oudisies by al die skole in die dorp.

Toe almal al begin pak vir vakansie, het ek aan die produksie begin werk. Ek moes swaar steun op die samewerking van die onderwysers van die verskillende skole. Die kinders was klaar met eksamen en nie eens almal was nog in die skool nie. My spanningsvlakke was hoog. Die produksie was reeds in die Woordfeesprogram , maar ek het nog nie eens ’n toneelgeselskap gehad nie. Ek dink die engele was met my en op die nippertjie is die oudisies gedoen en het ek wonderlike kinderakteurs gevind.

Wat was uitdagend daaraan om aan hierdie produksie te begin werk?

Die grootste uitdaging om met kinders van verskillende skole te werk, is natuurlik om hulle almal betyds en getrou by die repetisies te kry. Die ander uitdaging is om ’n professionele produksie te doen met kinders wat nog nooit spraak-en-drama-onderrig gekry het nie. My tyd om met hulle te werk is so kort dat ek maar moet staat maak op hulle natuurlike talent. Gelukkig het hulle baie daarvan.

En wat was lekker hieraan?

Hierdie projek is in alle opsigte ’n wonderlike leerskool vir my en die kinders met wie ek werk. Alles gebeur in ’n hoogs professionele omgewing. My produksiespan is uiters knap en mense sal werklik nie kan glo wat hul sien en ervaar nie. Die skoonheid van die dekor, rekwisiete en kostuums is reeds oorgenoeg rede om na die vertoning te kom kyk. Daarvoor is ek baie dankbaar vir Pata-Dawn Retief, my verhoogbestuurder, Marlene Koekemoer verantwoordelik vir dekor en rekwisiete, en Zonia Nel as kunstenaar en skilder van die stel.

Die musiek is betowerend en mense sal hul ore en oë nie kan glo dat sulke mooi musiek deur sulke jong kinders gemaak word nie. Ek is so gelukkig om Annalene Kemp as my musikale regisseur te hê – sy toor met die kinders. Annalene se komposisies is só roerend dat mense hul sneesdoekies moet saambring, want as Amelief haar solo sing, “Daar’s nie woorde om my te troos nie ...”, sal daar maar min droë oë in die gehoor wees.

Wanneer kan mense na Met of sonder woorde by die US Woordfees kom kyk?

Ons voer hierdie stuk op 2 Maart om 16:00 en 3 Maart om 10:00 in die Stadsaal op. Ouers en oumas met of sonder kinders kan hierdie stuk kom kyk. Daar is geen woorde om dit te beskryf nie. Hierdie produksie sal sy gehoor stomslaan.

Lees ook:

Onderhoud met laerskoolteaterwenner: Die land van die groot woordfabriek

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top