Onderhoud met laerskoolteaterwenner: Die land van die groot woordfabriek

  • 0
Winnie Nel

Die land van die groot woordfabriek het pas die Akkedissiedramafees vir laerskole gewen. Winnie Nel is aan die stuur van dié wenproduksie en vertel vir Naomi Meyer waarom sy dink teateropvoeding vir laerskoolkinders is belangrik.

Winnie, jou akteurs het pas 'n laerskooltoneelkompetisie gewen. Wat was jou rol?

My roeping is om laerskoolkinders te verhoog, te belig en ’n stem te gee. ’n Skoolkonsert is net die platform waarop ek my doel kan bereik. Elke laerskoolkind moet kan leer om hul woord te doen voor ander mense. Hul moet leer dat hulle werd is om raakgesien te word en by tye selfs verhoog en belig te word. Ek sien so baie dat kinders verkleineer word in die onderwys. Dit gee my diepe vreugde om die teenoorgestelde te doen.

Ek is die regisseur van Laerskool Stellenbosch se jaarlikse skoolkonserte. Elke tweede jaar hou die hele skool ’n revue, maar vanjaar was dit weer my beurt om my dramaskool se kinders te laat skyn. Ek het dit probeer doen deur hul ’n bietjie uit te daag met Die land van die groot woordfabriek.

Wat is Die land van die groot woordfabriek en waarom het jy spesifiek hierdie toneelstuk aangepak?

Want die storie het my verbeelding aangegryp en ek het onmiddellik die land begin visualiseer. Ek het opgewonde geraak oor die boek se meervlakkigheid en die dieper temas, wat baie geskik is vir oorgangsdrama. Ek het ’n drang om kinders op te voed en uit te daag, asook blootstelling te gee aan goeie literatuur.

Ek is besield om vir kinders nuwe woordeskat aan te leer. Hul moet dit insluk, dan uitspreek, die betekenis assimileer en in hul lyf en gesig wys. Dis die beste boek ooit om kinders se woordeskat uit te brei. Kinders is selfs lui om te praat deesdae. Ek voel geroepe om boeke lewend te maak deur dit lyf te gee in die vorm van teater.

Drama vir 'n laerskoolkind? Hoekom?

Laerskooldrama is geweldig belangrik, omdat dit kinders leer om met selfvertoue voor ’n gehoor te kan praat. Die kind leer dat hy of sy belangrik is. Hul word mooi aangetrek, grimeer en belig en verhoog. Mense betaal toegangsgeld om na hul te kyk en te  luister. Daar is geen taal om die waarde daarvan te verduidelik nie. Kinders moet weet hoe spesiaal hul is. Daarom moet elke kind een of ander tyd in hul laerskooljare op die verhoog kom, met of sonder talent. Talent is nie ter sprake op laerskoolvlak nie. Ek hou nie oudisies om net kinders met talent te kies nie. Dit is wel ’n bonus en ons het vanjaar baie talent gehad. Ek hou oudisies slegs om te besluit watter rol by watter kind se karakter pas. Ek kies rolle om kinders te laat  blom. Soms kies ek doelbewus ’n skaam kind om ’n hoofrol te speel, byvoorbeeld in hierdie jaar se konsert was die Reinhardt- karakter deur ’n baie skaam seun gespeel. Ek het hom baie uitgedaag. Hy het geweldig gegroei. Ek is so trots op hom. Dit gee my baie bevrediging. Op ’n vlak voel ek ek red kinders deur teater. Teater het my op skool gered van ’n byna onherstelbare swak selfbeeld na ’n kind wat dink sy is dalk spesiaal.

In ’n wêreld waar die kind oorlaai word met tegnologiese wonders soos rekenaars, selfone, televisie en mp3’s en wat nog, is daar beslis die dreigende gevaar dat die stil stem van elke kind se siel dalk vir hom/haar onhoorbaar gaan raak. Dit is vir my angsaanjaend, want sonder die hoor van jou eie stem kan geen individu homself vind nie en sal dit moeilik wees om jou stempel met selfvertroue op die wêreld af te druk. Elke mens het iets om te bied. Ons wil verhoed dat ons ’n samelewing vol tegnologiese barbare word. Ons het nog nie die eeu van tegnologie deurleef of oorleef nie en is dalk nog redelik onbewus van die invloed wat dit op elke individu kan hê. Al wat ek weet, is dat tegnologie, en veral TV en Sony PlayStations ens, baie raserig is en die visuele sintuig bombardeer met beelde wat te vinnig en soms te gewelddadig beweeg. Die kind se luistervaardighede word geweldig afgeskeep en is besig om drasties te verswak. Dit is van uiterse groot belang dat die kind sensitief moet bly en nie toegelaat moet word dat enige van hul sintuie oorlaai word op ’n te vroeë ouderdom nie. Dit sal van die individu ’n afgestompte mens maak. ’n Kind se sintuie is die sleutels tot sy belewing van die wêreld. ’n Sensitiewe mens  is ’n verantwoordelike mens wat moraliteit en etiek in stand hou. ’n Sensitiewe mens is ook ’n kreatiewe mens. Elke mens is kreatief – dit word egter uitgeleef slegs as mens na aan jouself en jou wêreld leef. Met ander woorde, bewustelik lewe.

Drama is die oudste vorm van kuns. Dit is gebore uit die mens se drang om uiting te gee aan sy innerlike wêreld, sy emosies en veral sy belewing van sy leefwêreld en die invloed wat dit op sy psige het. Daardie drang is vandag nog net so sterk soos eeue gelede. Ek glo (wat my nering in die veld gevind het) om die kinders daardie ruimte te gee om hul stem te laat hoor en hul emosies uiting te gee.

Kinders hoor dalk te maklik: "Volg jou drome." Maar wat van talent? Kan jy enige laerskoolkind aanmoedig om drama te neem?

My doel is nie om kinders groot te maak om professionele akteurs te word nie. Ek wil hul net ’n liefde vir die gesproke woord gee. Ek wil hul blootstel aan goeie gedigte en goeie tekste.

As hul eendag teater kies as ’n loopbaan, sal ek trots wees op hulle, maar ek is nie gefokus op daardie uitkoms nie.

Wie is jou persoonlike teaterhelde?

Ek het geen enkele groot teaterheld of -heldin nie. Ek geniet enige goeie drama wat goed vertolk word. Ek is wel altyd onder die indruk van David Kramer se musiekteater en wil sulke tipe teater nog kan skep.

Jou Laerskool Stellenbosch-toneelgroep het pas die Akkedissiefees gewen. Wat is die belang van die kompetisies of feeste soos die Akkedissiefees vir jou?

Ek hou self niks van kompetisies op laerskoolvlak nie. Ek word maar aangemoedig deur die skool. Ek dink nie drama is iets wat beoordeel moet word nie. Dis iets wat geniet moet word deur die kinders se geliefdes. Die kinders wat uiteindelik durf om op die verhoog te staan en op te tree is weerloos en oorgelewer. My drang is altyd om hul te beskerm. Die laaste ding wat ek wil hê, is dat ’n vreemdeling oor hul moet oordeel. Net ek weet hoe broos daardie kinders se selfbeeld is. Een verkeerde woord van kritiek kan maak dat hulle nooit weer die verhoog betree nie.

Wat’s die snaaksste ding wat al op die verhoog gebeur het? En was dit vir die akteurs ook so snaaks soos vir die gehoor?

Kyk, kinders is vir my skreeusnaaks. Laasjaar het ons vier aande opgetree en teen die laaste aand het die meisietjie wat Klokkies Kotzé vertolk het – ’n verwelkte ou opera-diva – besluit om haar karakterisering  te verander: toe sy weer die  verhoog betree, lyk sy soos ’n ou diva wat ’n hele bottel Jack Daniels gedown het. Ek sal daardie gesig nooit vergeet nie. Dit was regtig baie vermaaklik.

Dis vir my wonderlik om te sien hoe die kinders die gate wat ek in my regie laat, inkleur met hul eie verbeelding en interpretasie. Dit hou teater vars. Mens moet altyd gate los vir die Muse om mens te betower.

Dis dalk wat die beoordelaars by die Akkedissiefees raakgesien het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top