US-taaldebat: “Ons sal luister, maar ons sal nie stilbly nie”

  • 1

Dit lyk of die voortslepende taaldebat by die Universiteit Stellenbosch (US) soos die spreekwoordelike armes altyd met ons sal wees. Verlede maand se verkiesing van ’n nuwe bestuur vir die universiteit se konvokasie het gemengde reaksies ontlok. Diegene wat ten gunste is vir die gelykberegtiging van Afrikaans aan die universiteit het die uitslag verwelkom. Sommige ander groepe beskou dit as ’n verlore geleentheid vir groter transformasie. Jean Oosthuizen het met die nuutverkose president van die konvokasie, Jan Heunis, gesels om uit te vind watter rigting hy wil inslaan.

Daar bestaan gemengde gevoelens oor die rigting wat die uitvoerende komitee van die universiteit se konvokasie met jou aan die stuur gaan inslaan. Waarheen mik jy?

Kom ek sê dit nou maar aan die begin: Afrikaans as primêre onderrigtaal, met gelyke beregtiging vir Afrikaans en Engels, is die brandpunt van die huidige debat.

Oor hierdie saak huldig ek dieselfde standpunt as my voorganger, Christo Viljoen. Ek verwag nie dat die bestuur van die konvokasie hieroor ’n ander rigting sal inslaan nie.

Wat ons moet bereik is die volgende: die rektor se driepootpot – soos ek dit noem – van akademiese uitnemendheid, inklusiwiteit en maatskaplike impak bied ’n uitstekende omskrywing van die doel van die “universiteit-in-die-samelewing”, asook ’n gesonde maatstaf vir “significant transformation”.

Deur die bereiking van hierdie drie doelwitte uitdruklik daar te stel as die mikpunt en maatstaf vir transformasie, kan die konvokasie die inisiatief neem en rigtinggewend optree ten opsigte van ’n duidelike missieverklaring, konkrete tydgebonde doelstellings ten opsigte van uitnemendheid, inklusiwiteit en maatskaplike impak, en ’n weldeurdagte strategie om dit te bereik.

Die werklik saakmakende debat is veels te belangrik om gekaap te word deur die vals voorstelling dat gelykberegtiging vir Afrikaans in die pad van die bereiking van hierdie doelwitte staan.

’n Taal of tale is die middel of middele waardeur uitnemende professionele akademiese gehalte, voortreflike en toepaslike professionele standaarde en gepaste norme van maatskaplike verantwoordelikheid aan studente oorgedra moet word.

In Suid-Afrika, met sy 11 amptelike tale, onvoldoende menslike kapitaal en meer as ses miljoen mense (minstens 6 855 000) met Afrikaans as huistaal en nie ’n enkele Afrikaanse universiteit nie, kan die verbrokkeling van ’n instelling wat in staat is om uitmuntende akademiese en professionele onderrig in Afrikaans te lewer, asook om gepaste norme van maatskaplike verantwoordelikheid oor te dra, geensins geregverdig word deur die misbruik van die woord “transformation” nie.

Die vraag is hoe die universiteit uitnemendheid, inklusiwiteit en maatskaplike impak in die gees van “universiteit-in-die-samelewing” op die mees doeltreffende manier kan nastreef.

Die antwoord gaan harde werk vereis. Wat reeds op die gebied van akademiese uitnemendheid bereik is, is indrukwekkend, en al wat in hierdie verband waarskynlik nodig is, is om sinvolle vyfjaar-teikens daar te stel, met gepaardgaande strategieë om dit te bereik.

Maar baie meer word seker vereis ten opsigte van inklusiwiteit en positiewe maatskaplike impak?

Dit is op hierdie terreine waar Stellenbosch hom sal moet bewys as ’n baken van konstruktiewe vooruitgang. Dis ’n lekker uitdaging.

Die studenteraad het gehoop vir ’n ander rigting. Hulle sê in ’n verklaring dit is jammer die konvokasie het nie die geleentheid aangegryp om vir ’n meer getransformeerde uitvoerende komitee te stem nie. Hoe voel jy hieroor?

Die studenteraad se verklaring behoort vir daardie struktuur ’n verleentheid te wees. Dit is vol foute en, soos ek so pas gewys het, ongeldige aannames. Dit is jammer die studenteraad het nie eers met die bestuur in gesprek getree net voordat hulle ’n aanvallende verklaring wat gebaseer is op verkeerde aannames, uitgereik het nie.

Maar behoort die bestuur nie meer verteenwoordigend te wees van die konvokasie se samestelling nie?

Ja, ek dink ook dit sal ’n goeie ding wees indien die bestuur meer verteenwoordigend van die samestelling van die konvokasie kan word. Dit is een van die redes waarom ek aan die bestuur sal voorstel dat ons aanpassings aan die stemproses maak sodat baie meer van die bykans 130 000 konvokasielede aan verkiesings en ander besluitnemingsprosesse kan deelneem.

Daar word dikwels deur die jonger geslag na die pro-Afrikaanses verwys as hedendaagse taalbulle. Is Jan Heunis nie ook maar ’n closet taalbul nie?

Ek dink nie dit is net lede van die jonger geslag wat na die pro-Afrikaanses verwys as hedendaagse taalbulle nie.

Maar die woord "pro-Afrikaanses" is bedoel om verwarring te skep. Diegene na wie verwys word, en dit sluit my in, is voorstanders daarvan dat Afrikaans en Engels die primêre tale van onderrig van die universiteit moet wees en dat daar gelykberegtiging tussen hulle moet wees. As dit van my ’n taalbul maak, dan is ek een.

Lede van die Open Stellenbosch-groep is telkens vir een van die poste op die konvokasie se uitvoerende komitee benoem, maar is tydens elke stemming met groot meerderhede deur die pro-Afrikaanses uitgestem. Sou dit nie beter gewees het om minstens een van hulle, en sodoende groter diversiteit, in die komitee te hê nie?

Die stelling is nie korrek nie. Lovelyn Nwadeyi is amper tot visepresident verkies. Sy het met net ’n paar stemme uitgeval. Natuurlik sal die bestuur graag met haar en Open Stellenbosch in gesprek wil tree, maar is dit nie ’n bietjie naïef om te verwag dat lede van die konvokasie mense tot die bestuur sal verkies wie se standpunte, byvoorbeeld met betrekking tot Afrikaans as primêre onderrigtaal, nie met die konvokasie se heersende standpunt ooreenstem nie?

Maar as sy met net ’n paar stemme uitgeval het, sou dit nie dalk goed wees vir oop gesprek en transformasie om haar ook te koöpteer op die konvokasie se bestuur nie?

Dit is regtens nie moontlik om addisionele lede tot die bestuur te koöpteer nie. Dit beteken nie dat daar nie ’n oop gesprek gevoer kan word nie. Ek het my reeds ten gunste daarvan uitgespreek.

Presies wat verstaan jy onder “transformasie”?

In die konteks van ons gesprek meen ek dit is die omvorming van die universiteit tot ’n instelling wat in die praktyk die hoekstene van ons nuwe grondwetlike bedeling weerspieël.

As ’n mens daaroor praat, meen ek dat ’n mens in ag moet neem dat daar ’n groot verskeidenheid faktore is wat in verrekening gebring moet word, soos:

  • die bevolkingsamestelling van dié provinsie, wat die universiteit se hoofvoedingsbron behoort te wees
  • die feit dat daar 26 universiteite in die land is, waarvan net twee nog klasse in Afrikaans aanbied en drie universiteite in die Wes-Kaap, waarvan net een nog klasse in Afrikaans aanbied
  • die feit dat Afrikaans ’n meerderheidstaal in die Wes-Kaap is.

Die pro-Afrikaanse groep het nou wel geseëvier toe die konvokasie se nuwe bestuur verlede maand verkies is. Maar kom ons wees realisties. Meer as die helfte van US se studente is reeds Engels. Dit is net ’n kwessie van tyd voordat die meeste lede van die konvokasie ook nie-Afrikaans sal wees. Probeer die pro-Afrikaanse faksie nie maar net tyd wen, wetende dat die uurglas vir Afrikaans as onderrigtaal vinnig besig is om uit te loop in Stellenbosch nie?

Solank ons mekaar verstaan dat "pro-Afrikaanse groep” verwys na diegene wie se standpunt dit is dat Afrikaans én Engels as primêre onderrigtale gelyke beregtiging moet kry, dan is jy reg as jy sê dat hulle geseëvier het.

Dit is reg dat meer as die helfte van die universiteit se studente reeds Engels is, en die vraag wat aan die orde behoort te wees is waarom dit so is.

Bekommer dit jou en indien wel, waarom?

Wat rede tot kommer is in dié verband, is die feit dat die universiteit aktief studente uit ander provinsies werf. Dit is iets wat onder die vergrootglas geplaas moet word.

Tweedens, die groei in die getal Engelssprekende studente verteenwoordig nie ’n ooreenstemmende "diversiteittransformasie" nie, aangesien die meeste van die Engelssprekende studente wit is.

Hierdie is aspekte wat indringend ondersoek moet word en ek sal by die bestuur aanbeveel dat ons dit doen.

As ons ons mandaat wil uitvoer – en ons wil – moet ons keer dat die uurglas vir Afrikaans as onderrigtaal uitloop.

Lovelyn Nwadeyi se toespraak by die konvokasievergadering het groot belangstelling in die media geniet. Wat was jou indruk van haar toespraak?

’n Mens sal ’n groot fout maak om afwysend of onverskillig te staan teenoor wat sy gesê het en wat sy sekerlik nog sal sê.

Dit was ’n intellektueel indrukwekkende en welluidende toespraak.

In die breë gesien meen ek nie haar ontologiese idealisering van die Suid-Afrikaanse gemeenskaplike (en verdeelde) realiteit bied ’n oplossing nie. Die vraag is eerder of sommige van haar insigte oor die werklikheid, eerder as haar idealisering van menslike potensiaal, ’n bydrae kan lewer.

En haar uitsprake oor Afrikaans?

As ek by haar uitsprake oor Afrikaans as onderrigtaal kan stilstaan: Ek stem met haar saam dat taal net so persoonlik is soos wat dit polities is en ek vermoed dat die teenkanting teen Afrikaans as primêre onderrigtaal juis polities gemotiveer is.

Haar bydrae tot die debat verreken nie die werklikheid van 26 universiteite waarvan nie een Afrikaans is nie; drie in die Wes-Kaap waarvan nie een Afrikaans is nie; én die provinsie se bevolkingsamestelling.

Ek stem met die volgende stelling van haar saam: "Laastens wil ek praat oor die taal self. Die groot vraag hier is: Aan wie behoort Afrikaans? Die eenvoudige antwoord is dat dit behoort aan Afrikaners. Maar wie besit Afrikaans? Die Kaapse Klopse met hul ghoemamusiek behoort Afrikaans regtens te besit. Die mense van Distrik Ses en die Bo-Kaap behoort Afrikaans regtens te besit. Die gesig van Afrikaans by die US moet nie net die gesig van ’n wit man wees nie, maar ook die gesig van bruin Afrikaanse vroue en van swart Afrikaanse vroue."

Met watter van haar uitsprake oor Afrikaans stem jy nié saam nie?

Sy raak sy die pad skoon byster wanneer sy sê: "Ons moet ophou om bruin en swart Afrikaanse mense, tans ons plaaswerkers en skoonmakers wat onteien is, as ’n verskoning vir uitsluitende beleide en praktyke te gebruik. Dit is uitbuiting, want ons weet hul kinders gaan dit nooit tot by die US maak nie. En selfs al maak hul kinders dit tot by die US, sal hulle hier aankom en ’n Afrikaanse taal en kultuur aantref wat in hul naam verdedig word, maar wat vir hulle vreemd is en waaraan hulle geen deel het nie."

Maar is dit nie waar nie?

Niemand probeer die mense van wie sy praat, toegang tot die universiteit ontsê of hulle misbruik om Afrikaans as onderrigtaal in stand te hou nie. Inteendeel, daar is ’n ernstige aandrang uit die geledere van die "pro-Afrikaanses" dat bruin en swart Afrikaanse mense die fokus moet wees van die universiteit se werwings- en finansieringsprogramme. As daar ’n aanklag is, behoort dit te wees dat daar nie naastenby voldoende vordering gemaak word met ’n poging om bruin en swart Afrikaanse mense in toenemende getalle as deel van die studentekorps op te neem nie.

Oor hierdie saak is Nwadeyi se aansprake en aannames verkeerd en moedswillig.

Dit is veral as gevolg van hierdie verkeerde aannames en persepsies dat ’n gestruktureerde debat oor hierdie sake gouer eerder as later moet plaasvind.

Van debat gepraat, jou voorganger, Christo Viljoen, het in sy toespraak gevra vir ’n Kodesa-tipe taalberaad waarin alle belangegroepe verteenwoordig sal wees om praktiese uiting te gee aan die beginsels van gelyke taalregte. Is so ‘n beraad haalbaar?

Die konvokasie sal beslis aan so ’n beraad deelneem. Of dit haalbaar is, bly ’n ope vraag, veral aangesien Open Stellenbosch se deelname aan die openbare debat tot nou toe gekenmerk is deur onverdraagsaamheid, aggressiwiteit en die omarming van vals aannames oor wat jy noem die "pro-Afrikaanses" se verwagtinge vir die universiteit. Ek hoop dit is moontlik en sien uit na ’n gesprek met alle belanghebbendes.

Lovelyn Nwadeyi het ook gesê 2016 is die jaar waarin wit Suid-Afrikaners ’n “back seat” moet inneem in gesprekke oor ras, mag en voorregte en ’n slag na swart mense moet luister. Wat beteken dít vir oop gesprek?

Ons is bereid om te luister, maar moet ons regtig stilbly? Ek meen van nee, want:

  • As ons nie aan die gesprek deelneem nie, sal die wanopvattinge waarvan sommige van Nwadeyi se uitsprake getuig, nog meer momentum kry, met die gevolg dat dit later die skyn van ’n universele waarheid het sonder dat daar enige empiries verifieerbare feitegrondslae daarvoor bestaan.
  • Ons gaan nie toelaat dat ons nie by is by die gesprek met ’n minister van hoër onderwys wat glo dat die universiteit gedekoloniseer moet word nie.
  • Ons het ’n grondwetlike reg om aan die gesprek deel te neem.

Oor hierdie saak het ek Nwadeyi geantwoord toe ek die rektor bedank het: "Ons sal luister, maar ons sal nie stilbly nie."

Wees nou eerlik, Jan: Is Afrikaans regtig die probleem by Stellenbosch of sit daar dalk ’n ander politieke agenda agter alles?

Daar is ’n probleem met betrekking tot Afrikaans aan die US. Dit het te make met die feit dat tensy daar daadwerklike pogings aangewend word om die proses om te keer, die uurglas – soos jy dit stel – inderdaad besig is om leeg te loop vir Afrikaans as onderrigtaal. Maar Afrikaans is nie die probleem nie; ek het reeds aangedui dat ek meen dat daar ’n politieke agenda agter alles is.

Christo Viljoen het as uittredende president opgemerk dit is haas tyd om halt te roep vir die taaldebat. Tog lyk dit of die debat nog lank gaan voortsleep. Sal hierdie debat ooit ophou terwyl Afrikaans nog aan die US doseer word?

Nee.

Verhoudings tussen die konvokasie en die universiteit se raad aan die een kant en die rektor en sy bestuurspan aan die ander kant was, om dit sag te stel, uiters gespanne verlede jaar na laasgenoemde se voorstel dat Engels die primêre taal van onderrig by die US moet wees. Kan hierdie vertrouensbreuk herstel word?

Dit sal afhang van diegene wat troubreuk gepleeg het. Ek sien daarna uit om met die bestuur saam te werk en dink dit word geïmpliseer deur wat ek ter aanvang gesê het.

Wat is jou eerlike indrukke van die visekanselier en sy bestuurspan se planne rakende Afrikaans op Stellenbosch?

Dit moet bepaal word deur feite soos die regsfakulteit se besluit om klasse feitlik uitsluitlik in Engels aan te bied. Dit is in pas met die bestuurspan se aankondiging verlede jaar wat deur die raad gerepudieer is.

Daar moet met die bestuur in ’n gesprek getree word in ’n poging om hulle te oortuig dat die ingeslane weg die universiteit duur te staan gaan kom. Dat ons daadwerklike pogings sal moet aanwend om hulle tot ander insigte te bring met betrekking tot wat in die belang nie alleen van Afrikaans en Afrikaanssprekendes is nie, maar van die universiteit.

Jy verwys na die regsfakulteit se besluit om die klasse nog meer te verengels ten spyte van verlede jaar se raadsbesluit. In die lig hiervan lyk dit nie of die onlangse “oorwinnings” vir Afrikaans by die US regtig in die praktyk beslag gaan kry nie. Is julle nie maar besig om teen donderweer te raas nie?

Ons sal probeer om hierdie besluit om te dop. Dit is kommerwekkend dat die besluit reeds geneem was toe die rektor tydens die konvokasievergadering ’n – op sigwaarde geoordeel – meer verantwoordelike en versoenende standpunt ingeneem het. Maar ons ís die donderweer!

Wat is dan in ’n neutedop die groot probleem wat die universiteit in die gesig staar?

Die probleem is dat, soos Breytenbach dit gestel het, "[d]ie taalgesprek [...] simptomaties [is] van ’n veel ernstiger situasie: dat daar nie duidelikheid is oor die vitale interaksie tussen ál die geledinge van die Suid-Afrikaanse samelewing in hierdie land waar almal behoort, en almal saam verantwoordelik is vir ’n toekoms wat gedeel moet word nie."

En waar lê die oplossing?

Die kreatiewe oplossing is om Afrikaans se gelyke status by die US te behou deur ’n goedgeartikuleerde toekomsvisie van die "universiteit-in-die-samelewing"; ’n duidelike missieverklaring; konkrete tydgebonde doelstellings ten opsigte van uitnemendheid, inklusiwiteit en maatskaplike impak; en ’n weldeurdagte strategie om dit te bereik so spoedig moontlik daar te stel.

 

US-konvokasie 2016

US-konvokasietoespraak: Die koei in die bos

Breyten Breytenbach

"Indien Afrikaans as omgangstaal, administratiewe taal, onderrigtaal hier sou verketter word en krimp, gaan dit uiteindelik tot ’n onvermydelike tot niet maak van ’n kosbare en geskakeerde instrument van bewuswording lei."

US-konvokasie 2016: Courage, Compassion and Complexity - Reflections on the new Matieland and South Africa

Lovelyn Chidinma Nwadeyi

"Ladies and gentlemen, something is brewing in South Africa. I do not know the name of that something, but I know that it is irreversible and will continue to brew and boil over, whether we give it permission to do so or not."

US-konvokasie 2016: Afskeidstoespraak deur Christo Viljoen, uittredende president

Christo Viljoen

"Stellenbosch dien Suid-Afrika al vir 150 jaar. Hy wil voortgaan om dit deur sy gehalte en deur ’n inklusiewe kultuur en taalgebruik te doen. Daarvoor het hy selfstandigheid en ruimte en ons almal se samewerking nodig. Dan kan Stellenbosch wéér sê hy staan vir ’n idee."

US-konvokasie 2016: Universiteit Stellenbosch: Vorentoe!

Wim de Villiers

"Deur Engels as onderrigtaal te gebruik, sorg ons dat ons toeganklik is vir meer mense. Maar daar is steeds ’n groot behoefte aan en vraag na Afrikaans, daarom duur ons aanbod daarin voort." Rektor en visekanselier Wim de Villiers se mededelings aan die US-konvokasie.

Haal af die Bosch se maskers, vra Maties

Jean Oosthuizen

Byna 2 000 stemgeregtigde oud-Maties het Dinsdagaand hulle opwagting gemaak by die US-konvokasievergadering. Jean Oosthuizen lewer verslag.

US-konvokasie 2016: Foto's en videos

Naomi Bruwer

Die grootste konvokasievergadering in twee dekades is Dinsdagaand in die Coetzenburg-stadion op Stellenbosch gehou. Kyk na foto's en videos.

  • 1

Kommentaar

  • Dit is 'n uitstekende onderhoud en Jean Oosthuizen stel indringende vrae waarop Jan Heunis rasioneel en verantwoord reageer. Die brandende vraag wat myns insiens in die lug bly hang, is hoe ons Afrikaans kan behou deur by anderstaliges die besef van die bruikbaarheid en die ryke uitdrukkingsvolheid van Afrikaans as sodanig en as onderrigtaal tuis te bring; dit wat Breyten so glashelder verwoord het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top