US-konvokasie 2018: Breyten Breytenbach reageer op Jeremy Vearey se toespraak

  • 5

Breyten Breytenbach reageer op Jeremy Vearey se US-konvokasietoespraak.

Geagte Generaal Vearey,

Vergun my om te reageer op u onlangse toespraak voor die Konvokasie van Stellenbosch Joeniewersitie – dus die saamtrek van hulle oud-studente.

(En vir wat dit werd mag wees : ek is nié ’n alumnus van die Bos Universiteit nie.) U het dit goed gedink om my te teiken as strooipop – vandaar my vermetelheid om te wil squeal. In die proses, is ek bevrees, het u kosbare tyd gemors en die been gaan lig teen ’n onbenulligheid. Met die beste Kaapse wil ter wêreld kan ek nie begryp waarom ek so ’n doring in u vlees is nie.

Maar kom ons gaan dieper: en dan is dit vir my weer duidelik dat daar ongelukkig geen salf te smeer is aan die wond wat maar net nie wil genees nie.

Dis ’n droewige dag wanneer mens voel daar is eintlik niks meer te doen om jou goeie wil te bewys nie. Dit gaan nie aanvaar word nie. Selfs al sou mens die teendeel van wat aan jou toegeskryf word kon weerlê of illustreer. Ek weet nie of ons ooit gaan ontkom aan die moedswilligheid om strooipoppe op te stel en eenvoudig die ander se motiewe te bly wantrou nie. Dit is ook die nalatenis van wat die gedwonge skeiding van ons gemaak het. Ek glo nie, Generaal, dat u as intelligente en deurwinterde persoon (ek wil sê “stryder”) – en ek ken u nie persoonlik nie maar u is duidelik ’n besonder intelligente en moedige waarnemer en nou ook ’n opregte opskrywer – kan op die keper beweer ek het nie getrou probeer bly aan my beginsels en opvattings nie. (En ek kon en kan nog steeds nie anders nie.)

Die probleem lê dus elders en is veel dieper. Ek vermoed u is daarvan oortuig dat ek (en daar is baie ekke soos ek) eenvoudig nooit u en u mense se lyding en vernedering kan verstaan nie, nie van binne uit nie, nie met die beste wil ter wêreld nie. Wie sou kon sê u misgis u? En dat om, as “inkommer”, jou te wil vereenselwig met die lot wat u in murg en been elke dag ervaar byna ’n belediging is. Dat mens (ek praat nou van ons bleker kleurlinge) met al die voorregte en eindelose spreekbeurte wat jou gegee word (en jy bevraagteken dit nie eens nie) uit hoofde daarvan dat jy uit die vorige heersersklas stam, die outentieke stemme uit die gemeenskap probeer vervang, dat dit de facto so is selfs al is dit nie jou bedoeling nie, dat jy ’n verdringer en ’n usurpator word selfs al is jy nie daarvan bewus nie. Ek onthou nog hoe seergemaak Adam Small gereageer het destyds in die laat sestigerjare toe my vrou en ek nie toegelaat is in die land nie, toe my ouers haar vir die eerste keer kon ontmoet in die Kaap se hawe waar ons, as passasiers op ’n Portugese skip, voet aan wal kon sit – en Adam se gepynigde reaksie omdat daar so ’n ophef van ons geval gemaak is in die media terwyl die diskriminasie ’n daaglikse werklikheid vir hom en Joan was en dit nie naastenby dieselfde ontsteltenis sou veroorsaak nie. Wie sou sê hy was verkeerd? Die catch 22-situasie is eenvoudig dat daar geen manier is waarop hierdie agterdogtigheid weerlê kan word nie.

Dis waarom ek besluit het om liewer opsy te staan. Ek weet nie of u simpatie sal hê daarmee dat dit vir my ook ’n eresaak was om op lomp maniere te wil oordra, “ons is nie almal so nie”; dat die oortuigings en beleid en gedrag van die vorige bedeling (net soos dit nou weer die geval is met die huidige bestel – al is dit om ander redes) ’n wesentlike skending ook van ons wittes se menswees was. En dat mens daarom nie afsydig kon bly nie. Maw, om betrokke te raak was nie ’n luukse of ’n ydele bevrediging of die najaag van berugtheid nie, ook nie ’n wraak neem op mense van eie vlees en bloed nie – maar omdat dit ’n dwingende noodsaak was om met ’n mate van eer en as méns met jouself te kon omgaan. En met jou mense. En met die geskiedenis.

Miskien lees ek u nou heeltemal verkeerd. Maar tog, ek dink u sou u eie intelligensie en dieper verbintenisse ’n oneer aandoen as u sou reken – as u so moedswillig verkeerd sou aflei, u so aan die neus sou laat lei deur sensasiesoekende media of die arrogansie van die universitêre “elite” – dat ek ooit van sg Standaardafrikaans ’n verskansde norm sou wou maak! Dink u dan regtig ek wéét nie waar Afrikaans vandaan kom nie? Dat ek nie wéét wie ek is nie? Dink u waarlik my gepraat oor kreolisering en omvorming en andersword en saam-mekaar-anders-maak is sommer net modieuse gekwiebel vir die vaak? Net om obstreppers te wees? En weet u dan nie dat dit vir my nie gaan om die behoud van “Stellenbosch” nie maar om daardie skraal en unieke moontlikheid dat ons ons veelvuldighede kan uitlewe sonder voorbehoude en sonder selfs om te weet waarnatoe dit ons uiteindelik lei, maar met die oortuiging dat daardie instelling, “Stellenbosch” (soos ook ander instellings) nie sou kon bestaan as dit nie was (en is) vir die gemeenskappe waaruit dit gegroei het en teenoor wie dit ’n waardige toegang tot tersiêre onderwys verskuldig is nie – met die volle potensiaal van menswees (wat reeds as sodanig ’n ellende is), d.w.s. met die moedertaal as polsende naelstring. Dws Afrikaans in al haar variante. Dit is in die ontkenning van hierdie eksistensiële noodsaak en verantwoordelikheid dat die universiteit se Bestuur stront praat en nog lafhartiger is as anonieme briefskrywers in koerante.

Generaal, natuurlik sien ek daarna uit om u eendag te ontmoet. Ek is egter bevrees ek gaan u nie anders kan laat oordeel of voel oor my nie. En in alle ootmoed wens ek u net die allerbeste toe. Die pad wat u en u mense moet loop (dis ook ons mense s’n, dis ook ons s’n) kan deur niemand anders in u en u mense (plattelanders, proletêre ja, ons) plek gedoen word nie.

’n Ou hond soos ek het ’n goeie innings gehad – ver bo verdienste! En ek sou wéér so maak as ek dit alles oor kon doen. Nie slegs omdat ons deel is van mekaar nie – al sou ek nooit die langdurige wonde aan u toegedien kan internaliséér nie, en geen verdeling, hoe regverdig ook, daarvoor sal kan opmaak nie – maar ook omdat ek dit as méns verskuldig is teenoor my mense, teenoor ons. Maar dan moet u darem nou ook nie ’n groter en skadeliker belang aan my toeskryf as wat die geval is nie. Dis nie omdat oppervlakkige instansies kennis geneem het van die ou hond se geblaf dat die hond van enige gevaar sou wees nie. Die karavaan beweeg immers voort. En u saak wat ook ons saak is vir ’n erkenning van die eksistensiële dimensie van die moertaal, is sterk genoeg. Dit is ’n stryd om geregtigheid, vir die volle aanvaarding van burgerlike moontlikhede en verantwoordelikhede in ’n omgewing (waar ter wêreld ook) wat al hoe knellender word, waar napraters die spoegbakkie monopoliseer en hegemonistiese manipuleerders hulle essensiële paternalisme probeer wegsteek agter “rasionalisme” en die provinsialistiese en kleinburgerlike najaag van “internasionale ranglyste”. U werklike “vyand”, Generaal, is die magsvrate en, wanneer dit gaan oor taal en oor common sense, die hoog-gepoepholdes ontplooi as rektorre en Bestuur en filosotte wat te bang is om onder hulle eie name hul man te staan. U werklike “vyand” is die buk-Afferkaners wat nie wil weet hulle is Afrikane soos u, soos ons nie. En miskien ook die wynboete wat nog steeds ’n gat in die kop gepraat word sodat hulle hand in die sak kan steek terwyl hulle behoort te weet die enigste gat wat tel is die een in die vaatjie. U hoef mos nie tyd te mors deur teen strooipoppe te baklei nie !

Met vriendelike groete,

Breyten Boenk Breytenbach

 

Lees ook

US-konvokasie 2018: Kom pad toe

US-konvokasietoespraak: Die koei in die bos

US-konvokasie 2016: Courage, Compassion and Complexity - Reflections on the new Matieland and South Africa

'n Ope brief aan Wim de Villiers aangaande sy bestuur se voorgestelde taalbeleid

 

 

  • 5

Kommentaar

  • Avatar
    André Badenhorst

    Jip, die buk-Afferkaner hoog-gepoepholdes, maar laat ons nou nie fikseer op daardie gekheid wat homself opvreet nie.

    Breyten Breytenbach, die here weet, jy word gehoor.

  • Avatar
    Gustaf Claassens

    Daar's "ou honde" soos Breyten wat nie kundigheid en logika inboet nie. Sy gevorderde grysheid konstateer eerder 'n gevestigde soort ervaringswysheid. Goddank hy het nie een van die meelopers geword wat moedertaal op die altaar plaas bloot omdat dit modegier geword het om 'sterre' (ook gunste en gawes) te probeer verdien deur gal te braak teen dit wat jou eie is nie.
    Wat sin maak is waar Breyten hom uitspreek teenoor diesulkes en dan sê: "... waar napraters die spoegbakkie monopoliseer en hegemonistiese manipuleerders hulle essensiële paternalisme probeer wegsteek agter 'rasionalisme' en die provinsialistiese en kleinburgerlike najaag van 'internasionale ranglyste'. U werklike 'vyand', is die magsvrate en, wanneer dit gaan oor taal en oor common sense, die hoog-gepoepholdes ontplooi as rektorre en Bestuur en filosotte wat te bang is om onder hulle eie name hul man te staan."
    Duideliker kan dit nie gestel word nie en miskien moet Jeremy Vearey minder moedswillig wees. Ook hy kan (en behoort) 'n bydrae tot Afrikaans (met sy variëteite) te maak en 'rang te trek' vir die behoud daarvan op sekere kampusse. Dis makliker om die dialekte daarvan te verreken as om dit nek om te draai of overgesetsynde dan, die baba met die badwater uit te gooi. Moenie dat politieke irritasies van die verlede maak dat die kolonialistiese taal voorkeur kry bo dit wat hier op eie bodem ontstaan het nie. Ons kan verseker klaarkom sonder die jingo's en sikofante van ons tyd wat soos onkruid in droogtetyd die eens groen weivelde van moedertaal (wil) verdring.

  • Avatar
    Adriaan Oosthuizen

    Ek het ook onbeholpe en hartseer gevoel na ek Mnr Veary se artikel gelees het. Jy het alles verwoord wat ek gevoel het. Daar is net een Afrikaans met baie variante.

  • Avatar
    Hélène Opperman Lewis

    Die sothede wat deesdae in SA kwytgeraak word (verstaanbaar as 'n soort wraak teen wit Afrikaners oa - danksy historiese vernedering oa), opgedis as groot en 'diep' waarhede, laat my dikwels wonder... of dit dieselfde is hoe meer denkendes hulle koppe moes skud oor die vurige ou Natte van vervloë dae se hardvogtige en oor-entoesiastiese 'uitinge'. Geduld O! geduld. (As ek nou 'n plaas gehad het sou ek dit noem Geduld O! geduld. (Gelukkig het ek nie een nie).) Destyds het Langenhoven gesê: ... “leë kraan hou jou toe, dan sien hulle jou vir 'n volle aan.” (Of so iets.) Ek vermoed hy beloer ons seker nou van die anderkant en skud seker net sy kop.
    Eintlik al wat ek wou sê is ... Dankie Breyten. So bly jy's nog met ons ... en is nog hy.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top