US en Afrikaans: die student se werklikheid

  • 8

Tian Alberts (Foto: verskaf)

Die Universiteit Stellenbosch (US) het op 10 Oktober vanjaar as oorwinnaars teen Gelyke Kanse in die Konstitusionele Hof uit die stryd getree toe die hof bevind het dat die US se nuwe taalbeleid grondwetlik geregverdig is. In sy artikel van 19 Oktober, “Die US en Afrikaans: die feite" maak die US-rektor, Wim de Villiers, teen die agtergrond van hierdie oorwinning sekere stellings oor die implementering van die nuwe beleid.

Die feit is egter dat die Konstitusionele Hof nooit oor die kwessie van implementering beslis het nie, en die rektor se stellings aangaande die implementering van die beleid is in elk geval heeltemal teenstrydig met die US-student se werklike ervaring. Dit kan eenvoudig nie daar gelaat word nie en noop my om as student aan die US die werklike feite onder die publiek se aandag te bring.

Uit die staanspoor benadruk ek dat ek nie ten doel het om die rektor te antagoniseer of sy integriteit in twyfel te trek nie. Ek werp bloot lig op gebeure op grondvlak soos wat ek en talle van my medestudente wat my aangemoedig het om hierdie antwoord te skryf, dit oor bykans drie jaar ervaar het op die US-kampus. Die leser kan dan self besluit.

Die rektor het alle reg om die publiek toe te spreek oor die Konstitusionele Hof se onderskrywing van die US se nuwe 2016-taalbeleid. Die hof se uitspraak is per slot van rekening 'n belangrike oorwinning vir die rektor. Die rektor se verbloeming van die tragiese werklikheid rondom implementering van die beleid is egter 'n hopelose nederlaag vir die US en sy studente.

Ek illustreer die tragiese werklikheid en die verbloeming daarvan met verwysing na bewerings wat die rektor in sy onlangse artikel maak.

Die rektor se verwysing na ʼn onlangse interne opname waarin 66% van studente wat deelgeneem het, aangedui het dat hulle Engelse lesings verkies en 71% aangedui het dat hulle Engelse leermateriaal verkies, berus op 'n foutiewe voorveronderstelling dat hierdie “keuse” spontaan en natuurlik manifesteer as die uitkoms van 'n ewewigtige keuse tussen voldoende Afrikaanse onderrig en Engelse onderrig. Sedert die implementering van die nuwe taalbeleid het Afrikaanse kontak in dubbelmediumklasse – die plaasvervanger-modus vir parallelmedium wat die rektor en taalbeleid beskryf as een waarin Afrikaans en Engels in dieselfde klasgroep gebruik word – tot 'n weglaatbare, betekenislose hoeveelheid verkrimp. Dít is 'n feit. Natuurlik gaan die meerderheid studente nie verkies om in Afrikaans te studeer wanneer die keuse om in Afrikaans te studeer gereserveer is vir die Afrikaanse student met 'n hoëgehalte- Engelse agtergrond en die addisionele behoefte om energie en fokus in klasse af te staan aan gedurige selfvertaling uit Engels na Afrikaans in klasse wat vir alle pedagogiese doeleindes slegs Engels geword het! As die beleid se uitwerking om Afrikaans bykans heeltemal uit te wis die hoender is, en die afname in voorkeur onder studente om in Afrikaans te studeer die eier, dan was die hoender beslis eerste. Wat ek in bykans drie jaar sedert die implementering van die nuwe taalbeleid in voorgraadse en nagraadse klasse in drie fakulteite – regsgeleerdheid, ekonomiese en bestuurswetenskappe en lettere en wysbegeerte – ervaar het, was die stelselmatige verdwyning van parallelmediumklasse sowel as Afrikaanse kontak in dubbelmediumklasse. Dit het gepaard gegaan met 'n algehele gedwonge toename in voorkeur vir Engels onder Afrikaanse studente. Die gevolg is dat die “keuse” om in Afrikaans te studeer vir Afrikaanse studente akademies onverantwoordelik geword het. Ten spyte van advies van medestudente en dosente om na Engels oor te skakel juis omdat Afrikaans nie meer in klasse gebruik word nie, poog ek steeds om in Afrikaans voort te studeer. Google Translate is my gedwonge nuwe vriend, en elke dag bring 'n stryd om genoeg Afrikaanse inhoud in klasse ingeneem te kry. Om aan te dring op Afrikaanse kontak waar ’n dosent in stryd met die bepalings van selfs die nuwe 2016-taalbeleid sy voorneme bekend gemaak het om die klasse slegs in Engels aan te bied, kom teen die prys van uitputtende agter-die-skerms-konflik met dosente – die beleidstoepassers.

Die rektor se bewering dat daar “enkele onbedoelde afwykings” met die implementering van die nuwe beleid “was” wat deur fakulteite “self hanteer en opgelos is”, berus ook op ‘n naïewe voorveronderstelling dat alle afwykings deur studente aangemeld word. Die realiteit is dat daar daagliks afwykings is, dat die regstelling daarvan gereelde intervensie deur die student sou verg binne die konteks van 'n geweldig ongelyke magsverhouding, en dat stille berusting of oorskakeling na Engels eenvoudig ʼn makliker en “verantwoordeliker” alternatief bied teenoor die demoraliserende vooruitsig om gereeld hierdie afwykings aan te spreek en aan te meld. Dit kan eenvoudig nie die kernfunksie van 'n student in 'n klas wees om daagliks beleidstoepassers aanspreeklik te hou nie. Die “beklemtoning en opsomming in Afrikaans” wat veronderstel is om in dubbelmediumklasse plaas te vind, geskied nie op 'n konsekwente basis nie en word soms net heeltemal versaak. Die idee dat dit onbedoeld so gereeld gebeur, sou tog 'n erkenning van dosente se onkunde daarstel oor die beleid wat hulle veronderstel is om toe te pas? Dit sou kommerwekkend wees, maar die realiteit is nog meer kommerwekkend: Ervarings in die verlede van intimidasie, passief-aggressiewe verdediging, beledigings en volstrekte weiering met versoeke aan dosente dat die nuwe taalbeleid reg toegepas word, dui daarop dat onkunde nie altyd die wortel van die probleem is nie. Hierdie kru praktiese ontoeganklikheid wanneer dit by Afrikaanse onderrig kom, is 'n geweldige onreg in die lig van die rektor se erkenning dat sowat 8 000 studente jaarliks aandui dat Afrikaans die medium is wat hulle die beste toegang tot die US-kennisbronne gee.

Dit is ook vreemd dat die rektor die inklusiewe ideaal van die US so digotomies verduidelik. Die rektor se formulerings veronderstel dat die US die potensiaal het om óf aan die een kant 'n “nasionale bate wat toeganklik vir almal is” – met ander woorde bykans slegs Engels soos nou in die praktyk – te wees, óf 'n slegs Afrikaanse “volksuniversiteit” en “insulêre enklawe wat agter 'n taalgordyn toegetrek is” aan die ander kant. Hierdie digotomiese denke verklaar baie oor die rigting wat die US tans inslaan. Besef die rektor dan nie dat tussen daardie twee ekstreme daar heelwat beweegruimte is vir die US om werklik meertalig te wees nie? 'n Universiteit waar Engels en ander tale gebruik kan word om almal in te sluit sonder dat Afrikaans moet kwyn tot simboliese en sporadiese gebruik en sonder dat selfs die informele gebruik van Afrikaans soms uitdruklik in koshuise en by vergaderings verbied word? En ook, 'n universiteit waar die Studenteraad nie soos destyds e-posse slegs in Afrikaans uitstuur nie, maar insgelyks ook nie soos vandag slegs in Engels nie? Daar is middeweë en dit vereis nie die uitputting van hulpbronne nie maar bloot 'n meelewende ingesteldheid wat daarteen waak om “inklusief” ten koste van voldoende Afrikaanse aanbod en gebruik te wees. Die rektor se bewering dat die US nie 'n Engelse universiteit is nie en dat die US nie op verengelsing ingestel is nie, is kennelik teenstrydig met die student se werklikheid op kampus. Ek nooi daarom die rektor uit om (sonder vooraf aankondiging of waarskuwing) 'n paar “dubbelmediumklasse” en studentevergaderings op kampus by te woon en hom in die skoene van die student te posisioneer en dan weer te besin oor die “feite”.

Dit is moontlik om 'n balans te tref tussen enersyds die handhawing van Afrikaans as 'n taal wat die meerderheid studente ten beste kan verstaan, en andersyds die konsekwente gebruik van Engels as taal wat almal ten minste kan verstaan. Die pendulum het egter hopeloos te ver in een rigting (Engels) geswaai en ontkenning van en onkunde oor die werklikheid – hetsy doelbewus of onbedoeld – bewys die US geen guns nie. Dit is onverantwoordelik, skadelik en onregverdig teenoor die studente wat elke dag die gebroke, verborge werklikheid trotseer.

Tian Alberts het in 2018 'n BComm (Regte)-graad aan die US verwerf en is nou 'n nagraadse LLB-student. Hy was ook vanjaar die primarius van Dagbreek-manskoshuis.

Lees ook: 

 

Stories op die Rooiplein: Veeltalige Maties of gerusstellende leuens?

  • 8

Kommentaar

  • O koud is die windjie
    en skraal.
    En blink in die dof-lig
    en kaal,
    so wyd as die Heer se genade,
    lê die velde in sterlig en skade
    En hoog in die rande,
    versprei in die brande,
    is die grassaad aan roere
    soos winkende hande.

    O treurig die wysie
    op die ooswind se maat,
    soos die lied van ‘n meisie
    in haar liefde verlaat.
    In elk' grashalm se vou
    blink ‘n druppel van dou,
    en vinnig verbleek dit
    tot ryp in die kou!
    - Eugene Marais

  • Helaas. Nog 'n beskrywing van hoe die US se taalbeleid sy gat gesien het. Die ongelyke kanse waarmee hy nou daagliks opfoeter en deur sy Afrikaanssprekende academici blindelings met hierdie of daardie foefie gepaai word, laat mens wonder
    hoe die pot so treffend misgesit kan word. Snork maar op terwyl my taal krepeer.

  • Avatar
    Gustaf Claassens

    Dankie hiervoor. Dit gee perspektief en onderstreep die werklike toedrag van sake. Mens wil nie eers meer die moeite te doen om jou oor hierdie rektor en van sy meelopers uit te spreek nie. Dit was van meet af 'n geval van kruipende anneksasie en nou is Stellenbosch finaal weer ge-herkolonialiseer. Dis hoe dit is. Tian Alberts spel dit hier in praktiese en eenvoudige term uit. Iets waarvan ouers en voornemende studente moet kennis neem.

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Ek het die hoogste waardering vir studente soos Tian Alberts wat op grond van eerstehandse ervaring die aandag vestig op die druk wat doelbewus uitgeoefen word om die US al hoe meer te verengels. Wat eienaardig is, is dat daar skynbaar nie 'n enkele US-dosent is waarna hierdie studente kan opsien vir openlike ondersteuning en leiding nie.

  • Avatar
    Marianne de Jong

    Ek het lank aan Unisa in Engels en Afrikaans klasgegee, studiemateriaal ontwikkel en vraestelle opgestel en nagesien ook nadat die universiteit Engels tot amptelike kommunikasiemedium verklaar het. Daarmee is bedoel: amptelike korrespondensie, aankondigings, notules en dies meer was slegs in Engels. Die tweetaligheid het goed gefunksioneer onder andere omdat die universiteit bereid was om ondersteunede infrastruktuur soos die vertaling van studiemateriaal beskikbaar te hou. Waar dosente self vertalings moes (of wou) doen, kon hulle in hulle "Performance Agreement" -verslae om erkenning daarvan as formele werksuitset vra. Soos Tian Alberts aandui, kan daar baie meer gedoen word en is die amptelike diskoers oor taalregte op Stellenbosch abstrak en misleidend.

  • Avatar
    spook speurder

    Lees gerus op oor die fisikus en onlangs afgedankte professor dr. Peter Ridd eens van die James Cook University se Townsville kampus in Australië.
    Die verskillende posisies deur die regter, die JCU en P Ridd geneem is interressant, veral gegewe die kwaliteit van die reg in ons land in hofsake openbaar, en sover die regskoste in Ridd se sake, maar van groter belang, miskien, vir ons gesprek, is Ridd se misnoeë soos in die pers verwoord oor die form en werking van die universiteite, hoedat die akademici se verantwoordelikhede namens administrasiemag vernietig is, en word, en die ongesonde posisies wat universiteite gevolglik in die samelewing in beland.

  • Avatar
    spook speurder

    Dankie Marianne, jy maak dinge duideliker, maar ek weet nie of dit beteken dat die Afrikaanse US se klasse nog steeds meerendeels in Afrikaans is nie.
    Mag ek vra, van wat kan baie meer gedoen word?
    Waar en onder wie vind die amptelike diskoers plaas?
    Sal jy op abstrak en misleidend uitbrei?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top