Universiteit van die Vrystaat volg selfs nog 'n erger roete as die Universiteit Stellenbosch

  • 4

Wat beteken Jonathan Jansen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat, se vroeëre versekering dat Afrikaans veilig is solank hy aan die hoof staan van die instelling? Die UV-Taalkomitee se jongste voorlegging aan die universiteit se senaat bewys die teendeel. Die komitee kom met radikale voorstelle wat onder meer aanbeveel dat studente in nietaalvakke verplig word om hulle proefskrifte en verhandelings slegs in Engels te skryf. Voorgraadse studente “van die platteland” wie se Engels swak is, sal ondersteuning kry om hulle studie in die tweede jaar in Engels voort te sit. Die stappe sal van die universiteit prakties ‘n Engelse instelling maak.

Om Afrikaans op die voorgestelde wyse uit te rangeer, kan lyk op ‘n politieke oorwinning vir aktiviste. Ook ons geagte Minister van Hoër Onderwys sal in sy mou lag. Maar eintlik sou hierdie stap eintlik neerkom op ‘n verarming van ‘n trotse akademiese instelling, ‘n instelling wat in die hedendaagse Suid-Afrika voorsiening behoort te maak vir meertaligheid. Juis ook in ‘n provinsie waar Afrikaans ‘n belangrike taal is naas Engels en Noord-Sotho. Om nagraadse studente te verplig om hulle studies in Engels te skryf, al is hy of sy nie ‘n moedertaalspreker van Engels nie, kom trouens neer op ‘n daad van ontmagtiging van ‘n moedertaalspreker.

Wie is die inisieerders van hierdie taalplan? Dit kan tog nie net Jansen self wees nie. Is dit werklik taalkundiges wat hierdie taalplan ontwerp het? In hoeverre is hulle taalbeplanners wat die nasionale en provinsiale gevolge van hulle taalvoorstelle kan peil? Prof Terblanche van die NWU maak die volgende stelling: "Moontlik dink van die taalbesluitnemers dat hulle taal ken omdat hulle dit praat nie. Maar maak die feit dat ‘n mens ingewande het van jou ‘n snydokter?" Wie is presies die studente wat ‘n sê in hierdie besluitnemingsproses het? Is die huidige SR regtig bevoeg om ‘n ingeligte mening oor taal op tersiêre vlak te hê? Hoe verteenwoordigend is hulle van die taalgemeenskap op die UV-kampus? Wat sê die Afrikaanstalige studente?

Die Afrikaanse Taalraad het begrip vir die anglisering in die tersiêre sektor, maar pleit vir ‘n vaste plek vir Afrikaans op die UV-kampus. Bogenoemde taalplan misken die plek van Afrikaans as wetenskapstaal. Die UV-taalplan lei tot polarisering en vervreemding en ignoreer die belange van Suid-Afrika se sewe miljoen Afrikaans-moedertaalsprekers asook die belange van mense wat verkies om in Afrikaans te studeer.

Jacques van der Elst

Uitvoerende Hoof

Afrikaanse Taalraad

Lees ook: #NtuliMustRepresentAll: Nuwe UV-Taalbeleid moet ook Afrikaanse studente verteenwoordig

Lees verder: Why English should be the language of South African universities

  • 4

Kommentaar

  • Etienne Terblanche

    Toevallig lees ek nou ook u berig, Prof Jacques, en hy slaan die spyker absoluut op die kop! Baie dankie. Oa sny die vrae in die voorlaaste paragraaf tot op die been, en hulle hang sonder antwoord in die "nuwe" gewelddadige ou Suid-Afrikaanse lug. Ek neem daardie bondel vrae met my vorentoe, hopelik ook in die debatte oor taal aan die PUK, welke debatte egter tot dusver maar "debatte" was, sogenaamde "konsultasies," waarin nie 'n enkele goeie vraag deur 'n personeellid gehoor en beantwoord is nie. Ons is letterlik daar aangehou as die stomme gyselaars van 'n "rolling action," asof ons die stokonnoselste mense op die planeet is.
    Ek wens u en ander meer ervare denkers kon ook by sulke vergaderings inspraak kom maak.
    U woorde dat die makabere gedwongenheid van die nuwe prosesse neerkom "op 'n daad van ontmagtiging van die moedertaalspreker" is bitter, bitter waar.
    Wat het geword van die medemenslikheid waarmee die nuwe bestel aanvang geneem het? Maar my eie vraag hier klink vir my skoon hol, asof niemand onder die nuwe besluitnemers (en wie is hulle inderdaad) hulle in elk geval meer aan sulke "sagte" oorwegings steur nie.
    Nog eens dankie vir u raak en suiwer berig.

  • Jacques, mooi brief, maar ongelukkig gaan dit op dowe ore val. Is mense so blind om nie te sien wat die strategie van die ANC agter nasiebou is? Die idee is om 'n monolitiese, swart-dominerende, Anglo-fone kultuur te skep waarin alle mense moet assimileer. Een van die betogende student het hoeka geskree: One Country, One Language. Alle ander tale en kulture is 'n bedreiging vir die eentalige agenda.

  • Afrikaners, net soos enige ander taalgroep in SA , het 'n reg op hul eie skole, universiteite en ander inrigtings. Dit is deel van internasionale menseregte. Die ANC skend Afrikaners en alle ander kultuur- en taalgroepe in SA se regte. Kyk maar wat se Dr Greg Stanton, wat deel was van die span wat die SA Grondwet help ontwikkel het, daaroor: Hy is tans die president van die Genocide Watch en was in 2014 in SA en het hierdie nuuskonverensie gehou wat totaal deur die SA media geïgnoreer is: https://www.youtube.com/watch?v=lEyEEjGTKiM&feature=youtu.be

  • Jonathan Jansen se uitspraak - "Jansen se vetrekpunt is dat die Afrikanerkultuur so deurtrek is van rassisme dat dit eenvoudig moet plek maak vir die vollediger inklusiwiteit en toeganklikheid van Engels?" - is 'n laagtepunt vir versoening en welwillendheid.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top