Die Nuwe Hervormingsnetwerk (NHN) vier vanjaar hulle 20ste bestaansjaar, ’n merkwaardige mylpaal vir ’n organisasie wat in 2004 gestig is met die doel om die tradisionele Christelike leerstellings te bevraagteken.
Die laaste Sondag van Oktober staan bekend as Hervormingsondag. Op 31 Oktober 1517 het Martin Luther sy 95 stellings teen ’n kerkdeur in Wittenberg, Duitsland, vasgespyker. Daarmee het hy die dwalinge binne die Roomse Kerk blootgelê, wat ’n groot omwenteling in die kerkgeskiedenis tot gevolg gehad het.
Hoewel die NHN nie soos in die geval van Luther ’n massiewe hervormingsbeweging begin het nie, kon hulle ’n ruimte skep vir Afrikaanssprekendes om diepgaande gesprekke oor geloof, wetenskap en menswees te voer. In die 20 jaar sedert die stigting van die NHN het die netwerk die komplekse verhouding tussen godsdiens, wetenskap en kultuur aangespreek.
Die NHN het sedert sy ontstaan talle uitdagings in die gesig gestaar. Hoewel die organisasie nie in ’n magtige beweging ontwikkel het nie, kon hulle wel daarin slaag om die debat rondom die invloed van die Christelike godsdiens op mense se lewens en die omgewing lewendig te hou.
Die organisasie slaag steeds daarin om nuwe denke te inspireer onder Afrikaanssprekendes wat vrae stel oor die wetenskap, godsdiens en die toekoms van spiritualiteit in ’n moderne wêreld.
........
Die NHN het oor die jare ’n ruimte geskep vir gesprekke wat alternatiewe perspektiewe bied op geloof en wetenskap. Dit bied ’n platform vir diegene wat sukkel om die tradisionele leerstellings met moderne wetenskaplike insigte te versoen.
........
Die NHN het oor die jare ’n ruimte geskep vir gesprekke wat alternatiewe perspektiewe bied op geloof en wetenskap. Dit bied ’n platform vir diegene wat sukkel om die tradisionele leerstellings met moderne wetenskaplike insigte te versoen.
Volgens een van die stigterslede, Sakkie Spangenberg, het die NHN ontstaan omdat baie mense begin voel het dat die tradisionele Christelike leerstellings nie meer sin maak in ’n wêreld wat deur wetenskap en nuwe kennis gevorm word nie. Die NHN het hierdie wetenskaplike kennis omarm en probeer integreer met mense se lewens, met ’n sterk fokus op die hier en nou, eerder as op ’n hemel iewers daar bo.
Die NHN is in ’n tydperk gestig waarin die Suid-Afrikaanse samelewing vinnig verander het. Na die politieke omwenteling in 1994 het die monopolie wat die Christelike godsdiens op die land se morele en kulturele landskap gehad het, begin afneem en is die Christelike godsdiens op gelyke voet met ander godsdienste geplaas.
Spangenberg meen Christene sukkel om hierby aan te pas en poog om die Christelike godsdiens steeds as die belangrikste godsdiens – indien nie die enigste ware een nie – voor te hou.
“So wil mense steeds Afrikaner-wees met Christen-wees verknoop. Die onlangse verklaring wat ’n klompie Afrikaanse organisasies uitgereik het, is ’n sprekende voorbeeld hiervan.”
Na sy mening behoort veral skole kinders daarvan bewus te maak dat hulle in ’n multikulturele land woon en dat daar meer gekyk moet word na wat ons as mense saambind as na wat ons verdeel. “Skole behoort daarom meer klem te lê op gedeelde waardes as net op sogenaamde Christelike waardes.”
Die aanvanklike doel van die NHN om die Christelike leer te hervorm, het oor die jare verander. Die tradisionele Christelike leerstellings en Christelike narratief van sondeval, verlossing en eindoordeel het vir baie mense nie meer sin gemaak nie.
“Die verhaal van die sondeval, verlossing en eindoordeel, wat sentraal staan in die Christelike narratief, het verouderd gevoel teenoor die wetenskaplike kennis wat oor die kosmos, die aarde en lewe opgedoen is,” verduidelik Spangenberg.
In die plek daarvan het die NHN ’n nuwe verhaal voorgestel: een van geboorte, groei en sterfte – ’n verhaal wat alles in die heelal insluit, van sterre tot mense.
Vir die NHN het die klem verskuif van die hemel en hoe om daar te kom na die aarde en hoe om sinvol hier te leef. "Ons probeer mense help om die kennis wat oor drie eeue op terreine soos die kosmos en biologie bekom is, in hulle daaglikse lewens te integreer,” sê Spangenberg.
“Die Netwerk se fokus het dus oor die afgelope aantal jare verskuif van ’n aanvanklike poging om die Christelike godsdiens en sy leerstellings te hervorm tot ’n meer realistiese oortuiging dat hervorming nie meer moontlik is nie,” sê Spangenberg.
........
Die Christelike verhaal van sondeval-verlossing-eindoordeel het hom volgens Spangenberg vasgeloop vanweë die wetenskaplike kennis waaroor ons tans beskik. Hy sê dit kan net vervang word met ’n meer realistiese verhaal van geboorte-groei-sterwe. “
........
Die Christelike verhaal van sondeval-verlossing-eindoordeel het hom volgens Spangenberg vasgeloop vanweë die wetenskaplike kennis waaroor ons tans beskik. Hy sê dit kan net vervang word met ’n meer realistiese verhaal van geboorte-groei-sterwe. “Alles in die heelal het ’n begin en ’n einde. Sterre word gebore, bestaan en sterf. Planete en mane word gebore, bestaan en sterf. Plante en diere word gebore, leef en sterf. Die mensspesie waartoe ons behoort (Homo sapiens) is vir seker nie hiervan uitgesluit nie.”
Vandag is die NHN se fokus drieledig: hoe mense moet leef om die planeet vir toekomstige geslagte te bewaar, hoe hulle hul plek binne Suid-Afrika se diverse samelewing verstaan, en hoe mense as ’n gemeenskap binne die NHN kan saamstaan om ’n betekenisvolle lewe te bevorder.
Hierdie gesprekke word aangevul deur lesings en besprekings wat op die NHN se webwerf gedeel word. Hulle poog ook om met ander organisasies saam te werk wat ’n soortgelyke visie het.
In 2024 is die NHN steeds aktief en het dit daarin geslaag om na twee dekades relevant te bly in hul doel om vrae oor godsdiens, wetenskap en etiek aan te spreek.
Hulle aktiwiteite fokus tans hoofsaaklik op vier temas:
- Die omgewing en duursaamheid. Die NHN glo dat mense se verhouding met die aarde en mekaar van groter belang is as die vraag na lewe na die dood.
- Diversiteit in Suid-Afrika. Hulle bespreek die hantering van diversiteit, insluitende kulture en godsdienste, in ’n pluralistiese samelewing.
- Onderlinge ondersteuning: Binne die netwerk probeer hulle ’n gemeenskap bou wat mekaar ondersteun en sinvol saamleef.
- Kennisverspreiding: Deur gereelde lesings en gesprekke, waarvan baie op hulle webwerf beskikbaar is, deel hulle nuwe kennis en oortuigings met die breër gemeenskap.
Die hoogtepunt van die NHN se 20ste bestaansjaar vind op 26 Oktober met ’n spesiale geleentheid plaas. Hierdie viering behels ’n lesing, twee video’s wat die geskiedenis van die netwerk weergee, ’n feesete, en ’n saamkuier.
"Baie mense het gedink dat ons binne ’n paar jaar sou verdwyn, maar ons is steeds hier," sê Spangenberg tevrede.
Maar nie alles was suksesvol nie. Spangenberg erken ook mislukkings. Die grootste uitdaging waarmee die netwerk tans worstel, is om jonger lede betrokke te kry. Die NHN se gemeenskap bestaan hoofsaaklik uit ouer mense. Dit is onseker of daar jongmense is wat die werk van die NHN sal voortsit. "Ons wonder gereeld oor die toekoms, veral oor wie die netwerk gaan voortdra," sê hy met ietwat van ’n bekommernis.
Spangenberg gee toe dat hulle ook nie ’n groot invloed op die Afrikaanse gereformeerde kerke gehad het nie. Daar was wel ’n versagting in sekere leerstellings, soos die erfsondeleer tydens doopdienste, maar dit is moeilik om te bepaal of die NHN direk hiervoor verantwoordelik is.
Hoewel die NHN nie ’n groot invloed op die gereformeerde kerke in Suid-Afrika gehad het nie, het hulle wel daarin geslaag om ’n alternatiewe tuiste te bied vir diegene wat met tradisionele dogma sukkel.
Die netwerk staan byvoorbeeld families by wat ’n geliefde aan die dood afgestaan het, maar wat nie ’n kerklike begrafnisdiens wil hê waar daar gepreek word oor God se oordeel en ’n lewe na die dood nie. Dit geld ook vir troues. Baie mense vind nie meer aanklank by die tradisionele gereformeerde trouformulier waar die vrou as onderdanig aan die man voorgehou word nie.
Die NHN het van die begin af klem daarop gelê dat die Bybelboeke deur mense geskryf is wat in ander tye as ons geleef het. “Daardie skrywers se kennis van menslike seksualiteit was beroerd en daarom kan hulle tekste ook nie as riglyne dien vir hoe ons vandag oor sake soos gay-verhoudinge en -huwelike moet dink en handel nie,” sê Spangenberg.
“Ons viering van die tuiskoms van ’n baba in ’n gesin en familie, in plaas van die doop, is nog so ’n voorbeeld,” verduidelik Spangenberg. Die NHN het ook daarin geslaag om gesprekke oor godsdiens te hervat en mense bewus te maak van alternatiewe beskouings.
Een van die suksesverhale van die NHN is volgens Spangenberg hul aanpassing tydens Covid. Deur hul aanlyn teenwoordigheid en Facebook-groep het hulle daarin geslaag om hul gemeenskap lewendig te hou, met meer as 2 200 lede wat aan besprekings deelneem.
Die NHN is destyds amptelik gestig op ’n Sondag die naaste aan 31 Oktober om so ’n bietjie die Protestantse kerke na te aap. Die gedagte was ’n soort van Nuwe Hervorming. Dit het egter nie tot ’n grootskaalse nuwe hervorming gelei nie.
Terugskouend erken Spangenberg dat hulle aanvanklik dalk ietwat voortvarend was in hulle verwagting van ’n nuwe hervorming in die Christelike godsdiens. Hulle het wel sterk steun vir hulle oortuigings gevind in die werke van teoloë soos Marcus Borg, John Spong, Don Cupitt, Cees den Heyer, Lloyd Geering, Daphne Hampson, Gerd Lüdemann, Elaine Pagels, Anne Primavesi, JAT Robinson, en nog vele ander. Uiteindelik het hulle ’n eie identiteit ontwikkel en ook ’n eie koers ingeslaan.
........
“Ons het besef dat die Christelike godsdiens, in sy Augustiniaanse formaat, nie meer ’n werkbare model bied vir mense wat in die 21ste eeu leef nie,” verduidelik [Spangenberg]. Die netwerk het sedertdien verder wegbeweeg van die idee van hervorming. Dit fokus vandag eerder op nuwe maniere van dink oor menswees, moraliteit en die verhouding met die aarde.
........
“Ons het besef dat die Christelike godsdiens, in sy Augustiniaanse formaat, nie meer ’n werkbare model bied vir mense wat in die 21ste eeu leef nie,” verduidelik hy. Die netwerk het sedertdien verder wegbeweeg van die idee van hervorming. Dit fokus vandag eerder op nuwe maniere van dink oor menswees, moraliteit en die verhouding met die aarde.
Spangenberg erken dat daar wetenskaplikes is wat steeds glo in ’n god, maar vir hom is dit onlogies om aan te hou vashou aan ou leerstellings in die lig van die nuwe kennis wat daar oor die kosmos en die aarde is.
“Ek het in ’n onlangse boek met die titel Die Bybel, die Christelike godsdiens en die waarheid (Naledi 2024) probeer uitwys hoe moeilik dit is om die Christelike leerstellings met die moderne wetenskaplike kennis te rym. Daar is egter wetenskaplikes wat – alhoewel hulle nie meer die tradisionele Christelike leerstellings onderskryf nie – tog in die Christelike god bly glo.
“Neem die Spaans-Amerikaanse evolusionêre bioloog Francisco José Ayala (1934-2023) as voorbeeld. In sy boekie Darwin and intelligent design (Fortress Press, 2006) neem hy die hipotese bekend as intelligente ontwerp onder die loep en wys hy dit af, maar gee hy te kenne dat hy steeds in die Christelike god glo. Dit geld ook van die Amerikaanse Ou Testamentikus Lester L Grabbe, wat in ’n onlangse boek met die titel Faith and fossils: the Bible, creation and evolution (Eerdmans, 2018) ook evolusionêre biologie onderskryf, maar beklemtoon dat dit nie sy geloof ondermyn nie.”
Vir Spangenberg is dit ietwat onverstaanbaar, veral aangesien Grabbe goed bekend is met die geskiedenis en godsdiensgeskiedenis van Israel en heelwat daaroor gepubliseer het.
Die NHN het sedert sy ontstaan ’n sterk verbintenis gehad met die wetenskap en het die idee van ’n “Nuwe Humanisme” omarm soos destyds deur Bernard Lategan voorgestel.
“Toe Bernard Lategan destyds oor die Nuwe Humanisme in Beeld en Die Burger geskryf en vertel het van die navorsingsprojek wat hulle by Stias op Stellenbosch geloods het, het ek positief daarop reageer. Lategan het destyds geskryf dat die Nuwe Humanisme daarvan bewus is dat die mens deel is van ’n omvattender ‘netwerk van lewe’ (web of life) en dat hierdie netwerk belangrik is vir mense se bestaan en voortbestaan.”
Die uitvoerende komitee van die NHN het dit in ’n stadium selfs oorweeg om die NHN te herdoop en dit die Nuwe Humanisme Netwerk te noem, maar na vele beraadslagings het hulle besluit om die oorspronklike naam te behou.
Alhoewel die NHN nie direk aansluit by die Nuwe Humanisme, soos Bernard Lategan dit voorgehou het nie, sê Spangenberg dat hulle doelstellings grootliks met dié van die Nuwe Humanisme oorvleuel. Hulle glo dat die mens deel is van ’n groter netwerk van lewe. Hul fokus bly egter om mense bewus te maak van hulle gedeelde verantwoordelikheid vir die aarde en mekaar.
Dis nie net in Stellenbosch waar die NHN destyds nie vastrapplek kon kry nie, maar ook op Potchefstroom. Dit hang volgens Spangenberg saam met die Teologiese Seminariums van die NG Kerk en die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika wat onderskeidelik op die twee plekke gevestig is. “Verskeie teologiese professore het negatief gereageer toe die NHN destyds gestig is en die mening uitgespreek dat die NHN bloot net ou ketterse sienings laat herleef.”
Intussen het dit egter volgens Spangenberg duideliker geword dat die Christelike godsdiens en teologie nie die nuwere wetenskaplike kennis met die ou Christelike leerstellings kan integreer nie. “Die gereformeerde kerke kan nie vernuwe wat hul leerstellings betref nie.”
Hy sê al hoe hulle probeer om te vernuwe, is deur hulle liturgie aan te pas. Daarom neig almal om charismatiese kerke se praktyke oor te neem. “Verskeie NG gemeentes het hulle preekstoele platgeslaan en dit vervang met verhoë waar ’n orkes die plek van die orrel kan inneem.”
Hierdie neiging is destyds deur Spangenberg beskryf met die woorde: “Slaan plat die preekstoel, gooi uit die orrel en bring in die ‘band’.”
........
Die toekoms van die NHN mag onseker wees, maar hulle nalatenskap is een van voortdurende vrae, gesonde kritiek en ’n strewe na die waarheid. Hulle slaag steeds daarin om ’n stem te wees vir Afrikaanssprekendes wat na iets anders soek as die tradisionele Christelike narratief.
........
Hy sê eintlik is dit te verstane, want godsdienste se primêre funksie is om mense as ’n gemeenskap byeen te hou, “en die beste maniere om dit reg te kry, is deur sang, musiek en dans”.
Die NHN se benadering vandag is realisties: Godsdienste sal nie sommer verdwyn nie. Spangenberg voorspel dat godsdiens eerder in ’n meer fundamentalistiese formaat sal oorleef.
Die NHN wil egter aanhou om diegene by te staan wat sukkel met tradisionele geloof en na ’n alternatiewe ruimte vir gesprek soek. “Die vraag is nie of die NHN gaan voortbestaan nie, maar hoe dit sal aanpas by die veranderende wêreld,” sê Spangenberg.
Die toekoms van die NHN mag onseker wees, maar hulle nalatenskap is een van voortdurende vrae, gesonde kritiek en ’n strewe na die waarheid. Hulle slaag steeds daarin om ’n stem te wees vir Afrikaanssprekendes wat na iets anders soek as die tradisionele Christelike narratief.
Volgens Spangenberg is hulle hoopvol dat hul werk oor die volgende 20 jaar sal voortleef, selfs al is dit in ’n kleiner, meer gefokuste gemeenskap. Die uitdaging sal wees om jonger generasies te inspireer om deel te neem aan hierdie voortgaande gesprek oor hoe ons saam op die aarde kan leef.
Met hul vasberade visie vir die toekoms bly die NHN ’n unieke ruimte vir kritiese denke en besinning oor godsdiens, wetenskap en die mens se rol as mense in die kosmos.
- Die NHN se webwerf kan besoek word by https://nuwe-hervorming.co.za en hulle Facebook-blad hier.
Lees ook:
Uit die argief: Die Nuwe Hervorming – Piet Muller (OuLitNet)
Uit die argief: ’n Nuwe hervorming? – Sakkie Spangengberg (OuLitNet)
Die opkoms en ondergang van die NG Kerk deur Jean Oosthuizen: ’n lesersindruk
Kommentaar
Mooi Djaan.
Dankie vir die inligting en poging tot rasionele denke.