Tuin van Digters 2019: Mercy Kannemeyer se indrukke

  • 1

Die Tuin van Digters is jaarliks een van die hoogtepunte op my sosiale kalender. Met groot entoesiasme sien ek daarna uit om in Wellington op te daag, deur boeke te blaai, kuns te besigtig en skouers te skuur met die glitz and glam van die letterkunde.

Vanjaar se fees het weereens nie teleurgestel nie. Nie net was daar insiggewende gesprekke en topgehalte vermaak nie, maar die ganse Breyten Breytenbach met sy silwer baard en rooi vellies was ook teenwoordig. Die maer man met die groen trui en sy fyn en vriendelike vrou het my van oor tot oor laat glimlag. Dit het gevoel asof ’n mens in die teenwoordigheid van adellikes uithang.

Breyten Breytenbach en Kerneels Breyenbach deel 'n ligte oomblik by die Tuin van Digters (Foto: Willem S van der Merwe)

Ek probeer jaarliks om nuwe vriende na die fees te neem. Al wat dit verg om my vriende te oortuig, is die woorde “dis regtig cool”. Vanjaar kon ek die pap nog dikker aanmaak en vir hulle sê “Breyten gaan actually daar wees!”.

Ná vele glase wyn wou ek toe by my vriende weet wat hulle nou van die fees dink. Ek het hulle genoeg oortuig deur te beklemtoon dat dit werklik een van my gunstelingplekke en feeste is. Ek moet wel bieg dat ek as ’n groot dissipel van letterkunde bevooroordeeld was. Ek het daarop aangedring dat almal daarvan moet hou.

’n Mens moet wel eerlik wees en kan erken dat dinge nie altyd in almal se smaak val nie. Daar was nie genoeg gesprekke oor jongmense nie. Die meeste van die gesprekspanele het uit akademici of skrywers wat al groot mylpale behaal het, bestaan. Natuurlik is dit iets waarby ons jongklomp kon leer. En ons het. Ons sou net graag wou sien dat meer moderne werk en nuwe stemme groter aandag geniet.  Dit hou die diskoers vars en boonop is dit ’n poging om die gaping tussen oud en jonk te vernou.

Daniel Hugo en Danie Marais (Foto: Willem S van der Merwe)

Dit het my ’n rukkie geneem om hierdie rubriek te skryf. Ek wou bepeins oor dit wat ek ervaar het. En in my gedagteproses het ek ook besef dat die fees steeds oorwegend wit is. Hier kan ’n mens moontlik op ’n paar tone trap, want natuurlik het ek groot agting vir almal wat op hul manier tot die sukses van so ’n fees bydra. Die volgende vrae het wel in my kop gedwaal: waar is die bruin of swart akademici? Waar is die bruin of swart skrywers? Waar is die bruin of swart meningsvormers? Dit is nie genoeg om hier en daar persone van kleur by besprekings in te druk nie. Dis belangrik om verteenwoordigende mense te hê. Die vermaak wat verskaf was deur bruin en swart kunstenaars was wel ’n hoogtepunte. Vat byvoorbeeld die span van Woorde op Akkoorde. Hulle het ons begeester en herinner aan die krag van sterk stemme wat gepaardgaan met poësie wat nie noodwendig altyd hoofstroom is nie.

Breytenbach saam met die Woorde op Akkoorde-groep (Foto: Willem S van der Merwe)

Talle mense is nou al moeg daarvoor om oor ras te praat. Ek ook. Ek gaan wel aanhou daarop hamer tot ek tevrede is. Suid-Afrika is ’n kleurvolle land en dis noodsaaklik vir feeste om die ware demografie van ons land (en in hierdie geval spesifiek die Wes-Kaap) ten toon te stel.

Dit is tog opwindend om te sien dat die Tuin van Digters Afrikaans lewendig hou. Ten einde die taal lewendig te hou, gaan dit wel teen ’n vinniger pas moet beweeg.  Menigte dra kennis daarvan dat Afrikaans onder beleg is. Een van die maniere om seker te maak dat die taal steeds groei, is om genoeg werk daarin te sit om te verseker dat die taal op ander plekke aanhou floreer. Hierdie plekke sluit feeste in.

Ek gaan aanhou uitsien na die Tuin van Digters. Dit is ’n wonderlike plek waar ons byeen kan kom om mekaar, die woord en ons gedeelde burgerskap te vier.

Tuin van Digters 2019 – video: (Aan)dadig saam met Breyten

Tuin van Digters 2019 – video: Is Breyten se gedigte vertaalbaar?

Tuin van Digters 2019 – video: Verse oor huis en taal

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Marietjie le Roux

    Ja, inderdaad. Waar ís die bruin en swart digters en skrywers? Om in aanmerking te kom vir erkenning op dergelike fees moet jy tog sekerlik jou hande uit jou mouer steek en iets skryf!En dan iets van gehate.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top