Trekvoëls in die politiek (20 Junie 2025)

  • 3

Trekvoëls-prent: Canva

Die onlangse aankondiging dat die jong dinamiese Liam Jacobs in die laatnag van die Demokratiese Alliansie (DA) na die Patriotiese Alliansie (PA) oorgeloop het en die onseremoniële uitskop van trekvoël Floyd Shivambu uit die MK Party (MKP) het my onwillekeurig laat dink aan ander bekende trekvoëls in ons politiek. Soms is die trekvoëls meer omvangryk en vlieg hulle saam met ’n swerm trekvoëls wat agterna kom. Dit herinner sterk aan hoe pikkewyne op ’n ysskots huiwer om in die see te duik totdat een besluit om te duik en dan volg die res! Waarom sal lede van ’n party met goeie posisies in byvoorbeeld die parlement oorstap van een party na ’n ander, en is daar ’n patroon te sien in die proses?

Histories was daar ’n paar interessante politieke trekvoëls gewees. Japie Basson is een van die bekende voorbeelde wat as NP- (Nasionale Party-) lid begin het, in die politieke woestyn beland het en toe by die destydse Verenigde Party (VP) aangesluit het, daarna by die PFP (Progressiewe Federale Party), en aan die einde van sy loopbaan weer by die NP aangesluit. Daar was ook die beminde Koos van der Merwe (wat in 2024 oorlede is) wat sy politieke pad in die NP begin het, daarna na die KP (Andries Treurnicht se Konserwatiewe Party) is, uit die KP die politieke woestyn in, en daarna, tot sy dood, ’n lid van die Inkatha Vryheidsparty (IVP) was.

’n Ander interessante en kleurvolle trekvoël is Patricia de Lille, wat as PAC-lid haar naam gemaak het. Uit die PAC het sy die Independent Democrats- (ID-) party gevorm, en toe by die DA aangesluit. Ontevrede met leierskap in die DA het sy die GOOD-party gestig, waarvan sy steeds ’n lid is. Verskeie ander leiers het ook as trekvoëls uit die DA padgegee, soos Mmusi Maimane, wat sy eie politieke groepering gestig het (Bosa). Mzwanele (Jimmy) Manyi het ’n soortgelyke roete gestap om van die ANC by die EFF aan te sluit en toe die skuif gemaak na die MKP. Trekvoëls wat swerms veroorsaak het, was leiers wat by Cope (Congress of the People, 2008), die EFF (2013), ActionSA (2020) en MKP (2023) betrokke was of steeds is.

Interessante ander trekvoëls kan ook genoem word, soos Roelf Meyer, wat van die NP weg is omdat hulle sy vernuwingsplanne nie binne die NP wou aanvaar nie, en terwyl hy in die politieke woestyn was, vir Bantu Holomisa daar ontmoet het (wat uit die ANC geskop is) het. Saam het hulle toe die United Democratic Movement (UDM) gestig. Meyer het die UDM later verlaat en hom by die ANC aangesluit.

Peter de Villiers was lid van Good (2025) en het onder ’n wolk padgegee en hom by die MKP aangesluit. Mervin Dirks het hom oor Phala Phala die argwaan van die ANC op die hals gehaal en is na die MKP, waar hy nou ook sy pos verloor het. Daar is ook Dali Mpofu, wat uit die ANC na die EFF is en van daar by die MKP aangesluit het, soos die voormalige openbare beskermer Busisiwe Mkwabane, wat ook die EFF-MKP-pad gestap het. Andere kleurryke politici wat in die trekvoëlgarde sou kon inpas, is Carl Niehaus, Kenny Kunene, Mosiuoa Lekota en Makhosi Khoza (wat die ANC verlaat het oor Zuma se leierskap en by die DA aangesluit het en van daar by ActionSA).

As konteks moet genoem word dat daar sedert 2002 geleenthede was waar parlementariërs kon oorstap na ’n ander party ingevolge die reëls van die parlement sonder om hulle setels te verbeur. Hierdie oorstapfase was baie omstrede en is uiteindelik in 2009 gestaak. Oorstappery het hoofsaaklik drie oorsake gehad, naamlik politieke opportunisme, ideologiese verskille en leierskapsbotsings in partye. Tydens die oorstapfase het ’n groot groep ANC-trekvoëls Cope gevorm, maar dit het geblyk nie ’n volhoubare wegbreek-aksie te wees nie, terwyl die EFF weer suksesvol uit die ANC weggebreek het en die ANC-Jeugliga totaal verlam het tot die skaduwee wat dit vandag is.

As Liam Jacobs homself in die PA tuismaak en met die dieselfde dinamika optree wat hy onteenseglik in sy DA-opleiding geleer het, gaan hy waarde tot die PA toevoeg. Floyd Shivambu se saak is egter baie meer kompleks. As trekvoël het hy nie self besluit om aan die vlieg te raak nie; sy tak is onder hom afgekap deur Jacob Zuma, en op sy persverklaring op 19 Junie 2025 is dit duidelik dat hy nie wil terug na die EFF of die ANC nie, maar waarskynlik sy eie nessie wil skrop. Hy maak ook met die MKP soos wat Zuma met die ANC gedoen het deur ’n nuwe party te stig, maar vol te hou dat sy lidmaatskap van die party waarvan hy wegbreek, onaangeraak bly. Dit is waarskynlik om die martelaarskapitaal te verdien indien so ’n persoon dan geskors word, maar die meeste politieke partye het die klousule dat jy jouself eintlik skors as jy ’n ander party stig of by ’n ander party betrokke raak.

Politieke trekvoëls is deel van partydinamika en sal ’n deel van die partywese bly. Elke party beskik oor ’n bepaalde ideologie, spesifieke leierstrukture en partydissipline wat daar is om die party in geweldig kompeterende politieke prosesse te laat funksioneer. Om verandering binne ’n politieke party te loods, stuur egter gewoonlik op leierskapsbotsings en faksievorming af, en as dit nie behoorlik gefasiliteer word nie, kry die trekvoëls vlerke! Binne ’n stelsel van proporsionele verteenwoordiging en koalisiepolitiek as die nuwe werklikheid, kan ons meer trekvoëls in die volgende jaar tot agtien maande verwag.

Lees ook:

Die komplekse konflik tussen Israel en Iran (17 Junie 2025)

Die Kanadese G7-beraad: ’n voorspel tot die G20 in Suid-Afrika? (18 Junie 2025)

  • 3

Kommentaar

  • Barend vd Merwe

    Ja, Theo, en vergeet ook nie van die jong Boereleier Devon Hofmeyr se meteoriese opgang in die politiek nie. Hofmeyr het by die Vryheidsfront Plus begin, toe stig hy later die buite parlementêre Bittereinders, toe bedank hy en skuif oor na Neil de Beer se UIM, en toe fire die UIM hom paar weke voor die 2024-eleksie omdat hy by MK se glansgeleentheid was, en toe skuif hy Toekomsfront toe. Maar toe tuimel Toekomsfront, saam met 'n sekere diamantpakkie se sakeryk. Ongelukkig toe onttrek Hofmeyr hom toe maar aan die politiek. Wat 'n reuse verlies is vir ons wat graag sy loopbaan gevolg het.

  • Giel Oberholzer

    Onse kikvors wat onderhandeling wyd en syd verkondig om veral nou oorloë te besleg (die toppunt vir my natuurlik Zelensky se skouspelagtige besoek!!), laat my terugdink aan onderhandelinge wat gevoer was deur die NP by name Roelf Meyer en die einste kikvors. Deur wigte en teen wigte is die proses deurtrap om uiteindelik 'n demokratiese bestel daar te stel waarvolgens die land dan regeer kan word. Ek weet nie waar ek dit gelees het nie: of FW se biografie of die van Johan Heunis nie, maar FW het na die Meyer voorlegging gesê: "My God, Roelf, jy het die land verkoop", of so iets. Ons land se geskiedenis is deurdrenk van onderhandelinge en ooreenkomste wat nie eerbaar nagekom was nie, tewens vandag kan ons ons seker afvra wat was/is die nut van die volgehoue positiewe uitkyk om verandering teweeg te bring? Tog glo ek die pendulum het begin terugswaai

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top