
Spitsberade het ’n baie belangrike deel van die internasionale geopolitieke wêreld geword. Alhoewel daar strukture soos die VN, EU en AU (Afrika-Unie) bestaan, is dié spitsberade wat deur die verskillende magsblokke gehou word, meer dinamies en het hulle dikwels ’n groter impak. Strukture soos die VN en die EU maak staat op onderlinge bydraes van deelnemende state en word met verloop van tyd tipiese burokratiese strukture. Magsblokke, daarenteen, is gewoonlik gebou rondom spesifieke vraagstukke, soos ekonomiese ontwikkeling of politieke gemeenskaplikhede, eerder as omvattende organisatoriese strukture. Voorbeelde is Brics, die G7, die G20 en Asean. Asean, die vereniging van Suidoos-Asiatiese nasies, is reeds in 1967 gestig is, maar is deur die wêreldorde ná die Koue Oorlog probeer beskryf as die Globale Suide, met China uit die noorde as die paradoksale leier en dan ook met state uit Suid-Amerika, Afrika, die Midde-Ooste en Suidoos-Asië as deel daarvan. Daarteenoor staan die geïndustrialiseerde Noorde met die VSA en die EU as polities-ekonomiese leiers, maar die blok sluit ook Australië en Nieu-Seeland in!
Die Groep van Ses begin in 1973 en brei uit na die Groep van Sewe (G7) op 15 September 1976 toe Kanada ook aansluit. Hulle voeg later Rusland by en word sodoende die G8. Rusland word egter in 2014 uitgeskop vanweë sy inval in en anneksering van die Krim-Skiereiland. Sedertdien staan die groep geïndustrialiseerde lande (of dan die Geïndustrialiseerde Noorde) as die G7 bekend en hou jaarliks ’n spitsberaad. Die sewe lande is die VSA, die VK, Italië, Frankryk, Duitsland, Kanada en Japan, soos reeds genoem. Die EU as streekstruktuur vorm egter ook deel van die G7. In September 1999 het die jaarlikse ontmoetings van ministers van finansies en presidente van sentrale banke ’n formele struktuur aangeneem en so word die G20 gebore, waarby die G7 inbegrepe was. Die G20 is gestig as nadraai van die Asiese finansiële krisis in 1997 en 1998. Naas die G7, die EU en die AU is Suid-Afrika ’n vaste lid van die G20 en vanjaar die voorsitter daarvan. Ander bekende lede van die G20 is Argentinië, Australië, Brasilië, China, Indië, Indonesië, Meksiko, Rusland, Saoedi-Arabië, Suid-Korea en Turkye. Die G7 en uitgebreide G20 het veral ekonomiese samewerking ten doel, maar hulle agendas sluit ook klimaatskwessies en politieke vraagstukke in. Daar is interessante oorvleueling met die Brics-groep lande, maar die Brics Plus-groep word meer gesien as ’n politieke blok uit die Globale Suide. Die G7 verteenwoordig 30% van die wêreld se bruto binnelandse produk en die Brics-lande in 2025 35%. Hierdie syfers verklaar onder andere die uitnodiging van lande soos Brasilië en Indië na die G7-spitsberaad.
Vanjaar se G7-beraad is in Kanada in die Rotsgebergte in Alberta gehou. Dit is ’n toerismestreek wat as Kananaskis bekend staan. Die nuwe Kanadese premier, Mark Carney, was die gasheer en het ’n interessante agenda saamgestel wat onder andere oor klimaatsverandering en verskeie ander dringende sake sou handel. Dit was nie net Mark Carney se eerste G7 beraad nie, maar ook ’n eerste vir premier Keir Starmer en bondskanselier Friederich Merz, asook die Japanse eerste minister, Shigeru Ishiba. President Macron en Italië se Giorgia Meloni is ervare G7-deelnemers. President Donald Trump het in sy eerste termyn baie ontwrigting die G7-byeenkomste veroorsaak, maar die Kanadese G7 is ook die eerste spitsberaad van sy tweede termyn as VSA-president. Verskeie lande buiten die G7 is ook spesiaal uitgenooi na Kanada, soos Suid-Afrika, Suid-Korea, Oekraïne, Australië, Brasilië, Indië en Meksiko. Die meeste van bogenoemde lande het Amerikaanse tariewe op een of ander manier beleef, maar die interessantste uitnodiging is dié van Indië, wat sedert 2023 gespanne diplomatieke verhoudinge met Kanada gehad het oor bewerings dat Indië betrokke was by die sluipmoord op ’n Sikh-separatisteleier in Kanada.
Op die vooraand van die G7-beraad het Israel egter ’n omvangryke lugaanval op Iran van stapel gestuur, wat toe die hele spitsberaad oorheers het. Die beraad is verder ontwrig toe Donald Trump net ’n enkele dag van die drie dae wat opsy gesit is, kon bywoon, sodat hy sy aandag aan die konflik tussen Israel en Iran kon gee. Suid-Afrika het ook ’n groot belang by die beraad gehad, omdat dit ’n noodsaaklike voorbereiding vir die G20-beraad sou wees wat vir November 2025 in Johannesburg beplan word.
Opsommend kan die volgende oor die Kanadese G7-beraad gesê word:
- Dit bly ’n geweldig waardevolle netwerkgeleentheid vir staatshoofde en senior amptenare.
- Die G7 het sy voortgesette steun aan Oekraïne verklaar.
- Donald Trump kon nie bilaterale gesprekke voer met Meksiko, Oekraine of Suid-Afrika nie.
- Die VSA en die VK het wel ’n bilaterale ooreenkoms met betrekking tot wedersydse tariewe geteken.
- Die G7 het gevra vir deëskalering van konflik in die Midde-Ooste en ’n skietstilstand in Gaza. Donald Trump het glo geweier om ’n verklaring te onderteken wat vir ’n skietstilstand tussen Israel en Iran gevra het.
- Trump het verklaar dat dit ’n fout was om Rusland uit die G7 te skop.
- Mark Carney en Donald Trump kon wel ’n bilaterale gesprek hou, en volgens hulle is baie vordering gemaak ten opsigte van die VSA se penaliserende tariewe op Kanada.
Dit was ’n G7-beraad in die tradisionele sin, met baie geleenthede vir kollektiewe gesprekke en ook verskeie bilaterale gesprek in ’n pragtige deel van Kanada. Die uiteindelike gesprekskwessies was reeds bepaal in die voorbereidings wat ’n maand tevore deur ministers van finansies gedoen is. Politici en staatshoofde moet die finale besluite neem, maar ongelukkig het die Israel-Iran-lugaanvalle dit vir die Amerikaners baie moeilik gemaak om op die agendapunte te fokus.
Die les vir Suid-Afrika en die G20-beraad is: Kry jou huis in orde en stel die sake reg wat reggestel kan word. Dit is te sê as ons Donald Trump vir ’n paar dae in Johannesburg wil huisves.
Lees ook:
Suid-Afrika se teenwoordigheid by G7-beraad: ’n platform vir globale invloed

