Toyota US Woordfees 2023: ’n onderhoud oor Dis Zamar lekker

  • 0

Foto’s van Veronica Bell (links, bo) en Warren Joubert (links, onder): verskaf. Prent van die Zamar-item: https://woordfees.co.za/en/program/dis-zamar-lekker/

Veronica Bell en Warren Joubert praat met Naomi Meyer oor Zamar, ’n musiekgroep wat by die Toyota US Woordfees 2023 optree – maar ook dwarsdeur die jaar.

Veronica/Warren, vertel vir ons lesers wie jy is en hoe jy by Zamar betrokke geraak het, of wie en wat Zamar is?

V: Zamar, wat beteken “om fees te vier met die pluk van snare”, is al amper 20 jaar besig om in die mark ’n klank te laat klink wat as uniek aan die groep gekenmerk kan word. Die kombinasie van viool en trekklavier is eeue al welbekend, maar die manier waarop die akoestiese kitaar, die baskitaar en tromme inspeel op die twee instrumente is juis die kenmerkende klank van Zamar. As vioolspeler in die groep het ek nooit kon dink dat my nagraadse klassieke-musiek-opleiding tot so ’n praktiese uitvoering van musiek en passie sou lei nie.  Met die sameloop van verskeie omstandighede was die eerste trekklavierspeler van Zamar al die pad uit Oekraïne en dit het die wegspringblok geraak vir die wêreldmusiekrepertoire-benadering van Zamar.

W: Ek speel baskitaar in Zamar sedert 2019. Zamar doen meestal instrumentale musiek, met ’n globale voetspoor, van klassiek, tango, folk, oempa, selfs jazz. As daar een karaktertrek is wat uitstaan, is dit die energie waarmee ons saamspeel. 

Musiek is ’n belangrike deel van jou lewe, maar waarom is musiek belangrik vir hierdie land en in hierdie tyd van ons land se geskiedenis? Wat is die belang van die Woordfees se platform wat ruimte skep vir ’n konsert soos Dis Zamar lekker?

V: Musiek bring mense bymekaar oor grense wat andersins nie met net woorde oorskrybaar is nie. Tydens ons optredes, ervaar jy letterlik die hele wêreld, asof jy op ’n wêreldreis is. Baie van ons gehore is van verskillende lande. Dit laat vreemdes welkom voel. Dan is daar natuurlik niks soos om wysies eg aan Suid-Afrika te speel nie – dis soos om tuis te kom na ’n lang reis.

Inisiatiewe soos die Woordfees bied soveel meer toeganklikheid vir gehoor sowel as kunstenaar om jou boodskap van hoop oor te dra. Dit maak die logistiek net soveel makliker as om self Suid-Afrika te deurreis (alhoewel daar ’n ander bekoorlikheid is om jou land op vloervlak te beleef!). 

W: Die cliché lees: musiek het 'n verenigende of versoeningspotensiaal. Woordfees, in die konteks van Suid-Afrika se geskiedenis (met Afrikaans as ’n wapen van eksklusiwiteit), speel ’n belangrike rol om hierdie tipe sosiale grense te oorkom. Dis Zamar lekker speel met woorde met die naam van die band, maar ’n vertoning soos hierdie sal jou los met ’n optimistiese gevoel van ons potensiaal as Suid-Afrikaners. Woordfees skep ’n goeie platform, nie net vir vertonings soos Dis Zamar lekker nie, maar ook vele ander, om die diversiteit van talente ten toon te stel.

As iemand wat naby Stellenbosch woon en Dinsdagoggend beskikbaar is, hierdie onderhoud  lees, waarom moet hulle ’n kaartjie koop vir Zamar se vertoning? Wat kan hulle by hierdie konsert verwag?

V: Die musiek is aansteeklik met voetstampritmes en passievolle, indrukwekkende spel.  Dis Zamar lekker neem die gehoor van intrinsieke Bach na die flambojante salsa, maak ’n draai in Wene met ’n wals of twee, stop in Ierland en Switserland, maar kom dan weer huis toe! Ons het hierdie keer ’n rok-verrassing (of is dit dalk rock?) (of drie), en natuurlik klink ou bekende wysies anders, want Zamar speel dit in die vlees op die verhoog.

W: ’n Unieke ervaring met baie energie en uitstekende musiek wat jou met ’n optimistiese gevoel sal agterlaat.

Koop hier kaartjies vir "Dis Zamar lekker", op 10 Oktober 2023 om 11:30 in die Drostdy-teater.

Lees ook:

Dude! Wa’s my phone? by die Toyota US Woordfees 2023: ’n onderhoud met Jeremeo Le Cordeur

Bygewerkte, chronologiese program | Die EasyEquities-skrywersfees | 9–14 Oktober 2023 | Toyota US Woordfees

Toyota US Woordfees 2023: ’n onderhoud met Luna Paige oor haar optrede saam met die Zolani-jeugkoor

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top