Luna Paige tree op 8 Oktober om 20:30 saam met die Zolani-jeugkoor op. Hier is nog besonderhede.
Luna Paige praat met Naomi Meyer oor Luna se optrede saam met die Zolani Youth Choir by Toyota US Woordfees 2023.
Luna, jy tree by die Woordfees op saam met Zolani Youth Choir. Wie is hulle en hoe het julle paaie gekruis?
..............
Zolani is ’n woongebied net buite Ashton. Die gemeenskap is maar arm en kinders en jongmense van die omgewing staar baie maatskaplike uitdagings op ’n daaglikse basis in die gesig. Odwa Mvunge is ’n onderwyser in die gebied en het ’n liefde vir musiek en sang. Hy het die Zolani Youth Choir gestig met die oog daarop om die jeug in die omgewing ’n veilige hawe te bied waar hulle hul talente kan ontwikkel en samehorigheid kan ervaar.
..............
Zolani is ’n woongebied net buite Ashton. Die gemeenskap is maar arm en kinders en jongmense van die omgewing staar baie maatskaplike uitdagings op ’n daaglikse basis in die gesig. Odwa Mvunge is ’n onderwyser in die gebied en het ’n liefde vir musiek en sang. Hy het die Zolani Youth Choir gestig met die oog daarop om die jeug in die omgewing ’n veilige hawe te bied waar hulle hul talente kan ontwikkel en samehorigheid kan ervaar. Na baie jare het die koor en die geleenthede wat die koor bied, ’n venster na die wêreld geword, waar die koorlede op uitnodiging na ander gebiede kan reis en aan koorkompetisies en allerlei kultuurgeleenthede kan deelneem. So ook aan my vertoning. Ek het hulle by ’n ClemenGold-funksie by Zandvliet Wynplaas ontmoet – ek dink dit was rondom 2014 of 2015. Meneer Mvunge het ’n groot indruk op my gemaak, en ek wou toentertyd al saam met die koor werk. In 2023 het ek die Montagu Art Deco Fees se openingsaand bygewoon en ook by die fees opgetree. Die Zolani Youth Choir het by die openingsaand opgetree. Hulle is baie geliefd in die Montagu-Ashton-omgewing. Hulle klank was so sterk en hul optrede so outentiek dat ek begin huil het. Die herontmoeting en die ooglopende groei van die koor het my finaal oortuig dat ek hulle moet nooi om die verhoog met my te deel. Ek het die afgelope paar weke heelwat tyd met die koor spandeer in hul tuisdorp, Zolani. Na dese staan ek werklik nederig en in bewondering van hul toewyding en deursettingsvermoë. Ek besef dat dié koor en die geleenthede wat dit vir die jongmense bied, ’n ongelooflike aansporing is om hard te werk. Iets waarby baie ander jongmense wat in meer gegoede omstandighede grootword, kan leer.
Wat gaan julle by die Woordfees doen? Vertel in jou eie woorde van julle vertoning en wat mense kan verwag, asseblief.
Die koor gaan vier liedere saam met my opvoer. Met die afstand tussen Stellenbosch en Ashton in ag genome was daar net tyd om aan vier liedere te werk. Ek sal dus my vertoning in samewerking met Schalk Joubert, Frank Freeman en Jonno Sweetman opvoer. Ons neem die gehoor op reis ... deur gedagtegange rondom “Alleenheid”. Hier en daar is ’n toonsetting van ’n gedig, maar meestal is die musiek oorspronklik myne. Ek skryf oor die digitale wêreld en hoe dit ons kan isoleer. Ek skryf oor geboorte, oor sterfte – en ons alleenheid in hierdie gebeurtenisse. Ek skryf oor liefde – as verweer teen eensaamheid. Maar ook oor alleenwees binne die liefde. Ek skryf oor ons gevoel van behoort in ons land ... Ek skryf oor die soek na ons stemme, om gehoor te word, gesien te word. Ek skryf oor ryk, arm, die middelklas, en hoe ons onsself baadjies aantrek wat ons van ander isoleer. Ek skryf ook oor hoop. Oor outentiek wees. Oor vreesloos jy wees. Oor sosiale reëls, hoe hulle ons bind, maar ook hoe hulle afstand tussen ons kan skep. Die koor sluit vir die hoogtepunt van die aand by ons aan – hulle sing die songs van hoop saam met my. Ek het van die songs in my kop eintlik op ’n manier vir hulle geskryf. Ons doen een ongelooflik mooi toonsetting van Antjie Krog se "Fughetta vir drie stemme". Die jongmense is mal oor dié song.
...........
Hulle klank was so sterk en hul optrede so outentiek dat ek begin huil het. Die herontmoeting en die ooglopende groei van die koor het my finaal oortuig dat ek hulle moet nooi om die verhoog met my te deel.
............
Wat is die belang van ’n fees soos die Woordfees wat ’n uitstalvenster op jeugkore bied, en waarom moet mense kaartjies hiervoor koop?
Vir my gaan dit oor wedersydse blootstelling. Eerstens bied my uitnodiging aan die koor vir hierdie kinders en jongmense (hulle wissel van ongeveer 10 tot 26) die geleentheid om na ’n ander dorp te reis, om in ’n topklas teater soos die Drostdy Teater op te tree, om saam met professionele musikante op te tree en te repeteer en te leer hoe dit in die industrie werk. Dit is vir hulle ’n geleentheid om gesien en gehoor te word. Dit is bemarking vir hulle. Dit is ’n kans vir hulle om ’n inkomste te verdien. ’n Droom van meneer Mvunge – dat die koor inkomste-genererend kan raak – dat dit vir die jongmense geleenthede kan bied. ClemenGold maak dit vir my moontlik om hierdie koor te betaal. My vertoning vind maar op ’n winsverdelingsbasis plaas. Ek is onmenslik bevoorreg om bande met ClemenGold te geniet. Hulle doen ongelooflike werk en ondersteun so baie talentvolle mense – van gemeenskapskore tot kunstenaars, tot sportspanne, persone wat in natuurbewaring werk – die lys gaan aan en aan. Dit is juis deur ClemenGold dat ek dié koor ontmoet het. Hulle het die koor gesien lank voor ek hulle gesien het. Wat is die belang vir gehore? Wel, eerstens, topklas vermaak. Hoendervleismooi harmonieë. My musiek soos hulle dit nog nooit gehoor het nie. En laastens, maar nie die minste nie, die geleentheid om die Zolani-jeugkoor te leer ken en moontlik in die toekoms te kan ondersteun, of hulle uit te nooi om by ander geleenthede te kom optree. Op die ou end wil ons almal gesien en gehoor word.
Lees ook: