
https://woordfees.co.za/en/program/libertaskoor-sing-oratoria/
Johan de Villiers, wat die Libertaskoor aan die einde van die jaar groet, praat met Naomi Meyer oor die koor se oratoria-optredes tydens vanjaar se Woordfees.
Hallo Johan, ek vra jou graag oor die Libertaskoor se optredes by vanjaar se Woordfees. Wil jy agtergrond van die Libertaskoor gee – wie julle is, van wanneer af die koor bestaan en ook jou eie betrokkenheid by die koor?
Die Libertaskoor is in 1989 gestig as ons land se eerste veelrassige koor, met beduidende lidmaatskap vanuit al ons Wes-Kaapse gemeenskappe. Ek as dirigent en my vrou Louwina as koorbestuurder was sedertdien vir die afgelope meer as 33 jaar onafgebroke daarby betrokke.
Die Libertaskoor het reeds in die tagtigerjare ontstaan, en het reg van die begin af en deur die jare soveel vir diverse koorsang beteken. Wat was vir jou persoonlike hoogtepunte wat uitstaan en wat jy graag met ons lesers sal wil deel?
Ek som dit graag op in vier afsonderlike kategorieë:
- Die Libertaskoor het sedert 1989 altesame sewe buitelandse konserttoere onderneem en in die proses talle onvergeetlike ervarings beleef, waaronder ’n optrede in Berlyn se Reichstag, lewend uitgesaai op Duitsland se hooftelevisiekanaal; die sing van die Onse Vader in Afrikaans tydens Westminster Abdy se middagdiens; ’n konsert in Washington, DC se National Cathedral; ’n optrede in De Doelen Ouditorium, Rotterdam, met koningin Beatrix in die gehoor; ’n optrede vir afgevaardigdes na die Wêreld- Ekonomiese Forum in Davos, Switserland; by twee verskillende geleenthede ’n konsert vir die uitgenooide gaste van Duitsland se Bundespräsident in sy ampswoning Schloss Bellevue, Berlyn; ’n konsert in die ikoniese Riverside Church, New York City; konserte in die Grossmünster Kirche, Zürich, asook die Berlynse Domkirche, en in al die gevalle hier bo voor volgepakte gehore wie se hoë waardering vir ons musiek ’n diep plek in ons harte aangeraak het.
- Konsertoptredes regoor ons land, nie alleen in goedgevestigde ouditoriums nie, maar vernaamlik in ook in mindergegoede geeenskappe wie se spontane reaksies op ons koorsang my vir altyd sal bybly.
- Deelname aan etlike van ons land se kunstefeeste, met gehore van oraloor, eiesoortig aan sulke feeste, en wat vir enige uitvoerende kunstenaar baie spesiaal is.
- Onder die nagenoeg 750 optredes van allerlei aard waarin ek die Libertaskoor gedirigeer het, word ’n ereplek in my hart ingeneem deur die meer as 50 kere dat ek die koor, tesame met ’n professionele orkes en soliste, kon dirigeer in die uitvoering van volledige oratoria soos Handel se Messias, die Requiems van Mozart, Brahms en Verdi, asook Mendelssohn se Elijah en Bach se Mis in B Mineur.
Covid, inperkings en ekonomiese uitdagings kan mens neerslagtig laat voel. Daar was lang stiltes en tydperke waartydens die koor nie kon optree nie. Wat is vir jou sigbare effekte hiervan – negatief en positief?
Die inperkingstyd was uiteraard ’n hoogs negatiewe ervaring vir almal in die uitvoerende kunste wat staatmaak op kaartjieverkope vir finansiële oorlewing, en die Libertaskoor was geen uitsondering hierop nie. Ons het die beste daarvan probeer maak deur virtuele optredes, wat dikwels inhiberend duur is om te produseer, en boonop nie naby kan kom aan die geesdrif en musikale opwinding wat ’n konsert in lewende lywe genereer nie.
............
Die Libertaskoor was gedurende die meeste van sy 33 bestaansjare in die gelukkige posisie om beduidende borgskappe van groot instansies te bekom. Daardeur is byvoorbeeld ons deelname aan veraf kunstefeeste moontlik gemaak, terwyl al sewe ons koor se buitelandse konserttoere moontlik gemaak is deur ruim finansiële ondersteuning deur ons oorsese gasheerorganisasies.
............
Ekonomiese uitdagings is maar deel van die landskap in die uitvoerende kunste, met allerlei moontlike maniere om dit ten minste gedeeltelik te oorkom. Die Libertaskoor was gedurende die meeste van sy 33 bestaansjare in die gelukkige posisie om beduidende borgskappe van groot instansies te bekom. Daardeur is byvoorbeeld ons deelname aan veraf kunstefeeste moontlik gemaak, terwyl al sewe ons koor se buitelandse konserttoere moontlik gemaak is deur ruim finansiële ondersteuning deur ons oorsese gasheerorganisasies.
Waarna kan mense op die Woordfeesprogram uitsien – wat gaan julle koor sing?
Ek dirigeer die Libertaskoor, tesame met ’n professionele orkes, in ’n uur lange uitvoering van hoogtepuntkore uit drie oratoria gekomponeer deur groot komponiste, nl Handel se Messias; Mozart se Requiem en Mendelssohn se Elijah.
Is koorsang nie net lekker nie, maar ook belangrik? Waarom dink jy so, of nie so nie?
Sang is die enigste musikale uitdrukkingsvorm wat totaal vanuit die menslike liggaam kom. Deur instudering van ’n koorstuk word die sanger se DNS dus ten diepste binnegedring deur die ritmes en melodieë van die musiek, tesame met die meegaande tekste. Om dit uiteindelik voor ’n gehoor te sing is onvergelykbaar bevredigend, deels ook vanweë die dikwels oorrompelende wisselwerking tussen die koor en hulle luisteraars.
.............
Deur instudering van ’n koorstuk word die sanger se DNS dus ten diepste binnegedring deur die ritmes en melodieë van die musiek, tesame met die meegaande tekste. Om dit uiteindelik voor ’n gehoor te sing is onvergelykbaar bevredigend, deels ook vanweë die dikwels oorrompelende wisselwerking tussen die koor en hulle luisteraars.
..............
Vir so baie van ons dra hierdie spesifieke tipe van musiekmaak daartoe by om die sin van ons lewe beduidend en blywend te verhoog. Daarom is koorsang beide lekker en belangrik!
Lees ook:
Franz Marx: Uit die perd se bek deur Chris Vorster: persoonlike herinneringe en foto’s


Kommentaar
Wonderbaar!! Mag die Libertaskoor steeds van krag tot krag gaan!!
Absoluut só kosbaar!!