Wat is ’n taal sonder sy klank? Hoe beïnvloed ons ervaring van klank ons natuurlike omgewing en ons uitkyk op die lewe? Dit is die vrae wat deur die produksie Woorde op akkoorde ondersoek word.
Woordkunstenaars wat toor met woordkuns, sang, digkuns, dramatiese storievertelling, dreunsang en rymklets. ’n Viering van geskiedenis, die natuur en die ontwikkeling van klanke om sin te maak.
Woorde op akkoorde is by die KKNK 2019 vir drie Kanna-toekennings benoem en het die gehoor by Tuin van Digters gaande gehad. Vanjaar is dié produksie ook by die Toyota US Woordfees te sien.
Diana Ferrus, Frazer en Deniel Barry, Churchil Naudé, Jolyn Phillips en Hermien de Vos is die kunstenaars verantwoordelik vir dié produksie, met Mercy Kannemeyer as regisseur.
Frazer, Hermien en Diana gesels oor die produksie.
Vertel ons asseblief meer oor Woorde op akkoorde – wat behels die produksie?
Frazer: Die produksie fokus ook op die impak wat woorde en klanke het op die mensdom en op die natuurlike omgewing. Ses bekroonde woordkunstenaars, Diana Ferrus, Churchill Naude, Deniel Barry. Hermien De Vos, Jolyn Phillips en ek speur hierdie vrae na en betower jou met woordkuns, sang, digkuns, dramatiese storievertelling, dreunsang en rymklets. Die produksie is ’n viering van ons geskiedenis, die natuur en die ontwikkeling van klanke om sin te maak.
Waarom dit op die planke bring?
Hermien: Dit is relevant en val in die tyd se smaak. Verskillende aspekte van ons tyd en kultuur wat as apart gesien is, word weer saamgesit, besing en vereer in ’n poging en hunkering te herenig met ons ware eie natuur binne en buite onsself. En dat dit toe allie tyd nooit ’n “heidense” ding is nie! Waar dieselfde regte geld vir saartjie soos vir die pikkewyne, aan bamboes soos aan boesmans, soos ons menstale ignoreer so ook die natuur se stem.
Julle kombineer woordkuns, sang, digkuns, dramatiese storievertelling, dreunsang en rymklets. Waarom het julle besluit om al hierdie elemente te kombineer en hoe het julle te werk gegaan om die elemente suksesvol te kombineer?
Frazer: Ek het die bindingsteks ontwikkel om enige tipe woordkuns te akkommodeer. Die besluit was nie noodwendig gewees om al daardie verskeie tipes style voor te hou as die wonder van die produksie nie, maar liefs om uit te wys hoe vry en kragtig woordkuns is. Bestaande werke van die kunstenaars is verwerk en gekombineer om gesamentlik ’n sterk boodskap oor te dra.
Wat is die boodskap wat julle wil oordra?
Diana: Met hierdie produksie wil ons bewys dat die natuur, die omgewing onlosmaaklik deel is van ons bestaan. Ons woorde, ons stem is nou verwant aan die aarde, ons is nou verwant aan mekaar, so wanneer die een aspek verwaarloos word, word die geheel geaffekteer. In hierdie produksie praat en sing ons vir almal – mens, dier en natuur!
Frazer: Mense moet nie vergeet dat hulle op die enigste planeet wat hulle hul tuiste kan noem, woon nie. Ons hoop dat die produksie die gehoor gaan aanspoor om die aarde lief te hê en te versorg.
Woorde op akkoorde het verskeie Kanna-benoemings by verlede jaar se KKNK asook kykNET Fiëstas dié jaar ontvang – wat beteken hierdie erkenning vir julle?
Frazer: Elke benoeming en erkenning beteken geweldig baie vir ons as ’n geselskap. Ons is so bewus van honderde produksies wat jaarliks op die planke gebring word. Die feit dat ons genomineer word, is ’n groot aansporing vir ons om aan te hou om die tipe kuns te skep wat tot die hart spreek.
Hermien: Woorde op akkoorde is gehoor, gesien en waardeer.
Diana: Natuurlik is dit goed om erkenning te kry vir ons werk, maar dit beteken nie dat ons werk net vir erkenning nie. Ons werk oor ons geloofsoortuigings; ons wil help sin maak oor wat om ons aangaan. So wanneer ons nie benoem word of ’n prys wen nie, gaan ons nog altyd voort, want ons het alreeds die prys!
Wat sal jul sê om mense aan te moedig om meer die kunste te ondersteun?
Diana: Die kunste gaan oor die lewe, mense se ervarings – daar is ’n boodskap en genesing vir ’n ieder en elk, en dit is ook ontspanning. Jy kan nie lewe sonder die kunste nie. Geniet jou lewe, ondersteun die kunste. Wanneer die kunste nie kan asemhaal nie, sal die samelewing ook “sterf” . Wees jy die suurstof vir die kunste, kom ondersteun ons deur kaartjies te koop, en geniet dit. Sonder die kunste is jy niks en sonder jou ondersteuning is die kunste niks.
- Woorde op akkoorde is 12 en 15 Maart by die Toyota US Woordfees te sien. Kaartjies is teen R100–R160 beskikbaar by Computicket en kos R180 by die deur.