Toyota Stellenbosch Woordfees 2026: Die geskiedenis van braaibroodjies onthul

  • 0

Frans de Villiers, ’n Stellenbosser wat op Somerset-Wes as bemarkingshoof werk, maar heimlik ’n geesdriftige kosliefhebber is, het ’n reusetaak agter die rug: Hy het die geskiedenis van braaibroodjies gaan navors en ’n splinternuwe boek gepubliseer wat by twee gesprekke by die Toyota Stellenbosch Woordfees in die kollig gaan wees.

In Die geskiedenis van braaibroodjies wat deur Flyleaf uitgegee word, volg Frans die storie van hierdie klassieke braaikos. Hy kyk 300 jaar terug in die geskiedenis en bestudeer ou resepteboeke, krap in kerkargiewe rond en vind leidrade en bestanddele in Boerekalenders, reisjoernale, VOC-korrespondensie, koerante en tydskrifte. Natuurlik kry hy ook talle handgeskrewe familieresepte onder oë.

Wat hy ontdek, is meer as ’n ontstaansverhaal: Dit is die geskiedenis van Afrikaners, vertel deur vuur, witbrood, kaas, uie, tamaties en – of jy daarvan hou of nie – blatjang.

Op die agterblad van Frans se boek skryf die bekroonde sjef Bertus Basson: “’n Heerlike kykie agter die skerms van een van my geliefde Suid-Afrikaanse disse.” Ek het darem al baie lekker braaibroodjies geëet by Bertus se onderskeie restaurante en dat hy weet hoe om nostalgie in kos terug te knie, is gewis.

Braaibroodjies is selfs die maatstaf van ’n ander Somerset-Wesser Johann Biermann se verbruikersprys-indeks, die Braaibroodjie Indeks, wat inflasie op die prys van ’n braaibroodjie se bestanddeelpryse monitor.

Ons sit onlangs in die Cape Grace Hotel se Heirloom-restaurant. Erfenis is die tema van ’n samewerkingsete tussen sjef Shaun Scrooby van VUUR-restaurant op Remhoogte-wynlandgoed en uitvoerende sjef Wesli Jacobs. Natuurlik is braaibroodjies deel van ons erfenis en dis onder die broodgang. Die broodjie is klein roosterkoekies met kaas, tamatie en uie en so wraggies ’n klein bakkie met blatjang. Sommelier Armand van Huyssteen lag toe ek na die bakkie wys. Ons almal weet: Jy is of ’n blatjang-op-jou-braaibroodjie-aanhanger, of nie. “Daar is geen middeweg nie en die sjefs is liefs versigtig!” vertel hy.

Vrae vir Frans.

MR: Waar kom hierdie passie vir kosgeskiedenis vandaan, en wat in jou eie agtergrond het jou die geduld en nuuskierigheid gegee om so diep in ons verlede te gaan delf?

FDV: Ek was nog altyd baie lief vir geskiedenis. Van kleins af het ek boeke gelees met sterk historiese ondertone, selfs skrywers soos Wilbur Smith en Jeffrey Archer, wat dikwels lekker narratiewe teen ’n historiese agtergrond plaas.

Dieselfde geld vir kos. Ek was my hele lewe lank baie lief vir kos en kosmaak. Ek is definitief nie ’n kok nie, maar met hierdie boek was dit eintlik die vraag self wat my geïnteresseer het: Hoe kan iets wat so ’n geliefde deel van ons koskultuur is, nie ’n opgetekende geskiedenis hê nie?

As deel van my MBA moes ek ’n tesis voltooi, so ek het darem ’n bietjie ervaring van akademiese navorsing gehad. Dit het my ten minste geleer hoe om so ’n vraag sistematies te begin benader. Die akademiese bronne was die beginpunt, maar in hierdie geval moes ek natuurlik baie verder gaan, na ou tydskrifte, koerante, resepteboeke, reisjoernale en skrywers soos Leipoldt.

MR: Met wie is jy by die Woordfees in gesprek en hoekom dié keuse van gespreksmaat?

FDV: Ek gaan eerder ’n voorlegging doen by Woordfees, sodat ek vir mense beelde uit my navorsing kan wys, asook ’n paar spesiale items wat ek langs die pad versamel het – en van die historiese stories daaragter vertel. Dit gaan dus eerder wees dat ek direk met die gehoor praat as ’n tradisionele onderhoud of gesprek.

Ek wil egter beslis aan die einde vir die gehoor kans gee om vrae te vra, en hopelik kan ons soveel moontlik daarvan in die beskikbare tyd inpas.

MR: Van al die geregte wat op die Suid-Afrikaanse braairooster beland – van roosterkoek tot tjops en wors – hoekom spesifiek die braaibroodjie? Wat maak dit so ’n unieke kulturele simbool?

FDV: Die braaibroodjie het my juis geïnteresseer, omdat dit bestaan uit dinge wat so ongelooflik alledaags is: brood, kaas, uie en tamatie. En tog sit daar ’n interessante geskiedenis agter elkeen van daardie bestanddele.

Met alledaagse dinge gebeur dit dikwels dat ons juis nié hulle geskiedenis neerskryf nie, omdat ons so gewoond daaraan is. Ons aanvaar eenvoudig dat dit nog altyd daar was.

Wat die braaibroodjie verder laat uitstaan, is hoe ongelooflik lief mense daarvoor geraak het. Dit is amper verhef tot ’n simbool, of soos ’n mens in Engels sou sê, ’n soort mascot. Mense is absoluut versot daarop, maar niemand kon eintlik vir my sê waar dit vandaan kom nie. Dit was vir my ’n onweerstaanbare vraag.

MR: Waarom voel jy is nét nou die regte oomblik om hierdie 300 jaar oue storie neer te skryf, en wat sê die tydstip van hierdie boek oor ons huidige behoefte aan identiteit en nostalgie?

FDV: Nostalgie en mense se nuuskierigheid oor waar alledaagse dinge vandaan kom, interesseer my baie. Ek dink ons leef in ’n ongelooflik vinnige wêreld. Ons is heeltyd gekonnekteer, ons aandag word voortdurend in verskillende rigtings getrek en dalk is dit juis hoekom mense weer aanklank vind by eenvoudige, tasbare stories.

Vir my was die braaibroodjie presies so ’n storie. Dit is iets wat miljoene mense ken, iets wat deel is van familiekuiers, vakansies en braais, maar niemand kon eintlik vir my sê waar dit vandaan kom nie.

En hoe dieper ek begin delf het, hoe mooier en interessanter het die verhaal geword. Dit het my deur ou resepteboeke, reisjoernale, koerante, tydskrifte en argiewe geneem, en skielik het iets so eenvoudig soos ’n braaibroodjie ’n venster op drie eeue se alledaagse lewe geword.

Ek dink daar is ’n groot behoefte aan sulke stories. Nie noodwendig omdat hulle belangriker as ander geskiedenisse is nie, maar bloot omdat hulle ook verdien om vertel te word.

MR: Wat was die mees onverwagse of vreemdste plek waar jy ’n leidraad tot die moderne braaibroodjie teëgekom het?

FDV: Die mees onverwagse leidraad het ek in ’n reisjoernaal uit 1908 gekry, geskryf deur twee Amerikaanse onderwysers wat deur Suid-Afrika gereis het op pad van Kaapstad na Oos-Afrika.

Wat hulle daarin beskryf, was vir my ’n ongelooflike oomblik in die navorsing.

Ek gaan ongelukkig nie nou presies verklap wat dit is nie, want ek wil graag hê mense moet dit in die konteks van die hele verhaal sien. Maar dit was by verre een van die grootste verrassings in die boek.

MR: Watter patrone of geheime het uit persoonlike gesinsnotas na vore gekom, en hoe verskil die “volksresep” van dit wat in amptelike kookboeke opgeteken is?

FDV: Ek het wel ’n aantal ou familieresepte onder oë gehad, maar nie honderde daarvan in ’n vorm wat my gemaklik sou laat voel om groot gevolgtrekkings daaruit te maak nie.

Dit is juis een van die uitdagings met familieresepte: baie daarvan sit steeds in mense se laaie, in ou resepteboeke of tussen familiedokumente en is nooit gepubliseer of behoorlik gekatalogiseer nie.

Ek het dus interessante voorbeelde gesien, maar ek sou versigtig wees om op grond daarvan te sê daar is vaste patrone wat vir die hele volk geld.

MR: Hoe weerspieël die evolusie van hierdie eenvoudige bestanddele die groter sosio-ekonomiese en kulturele verskuiwings van die land oor drie eeue?

FDV: Die groot sosio-ekonomiese en kulturele verskuiwings het ’n direkte invloed gehad op wat mense geëet het en hoe hulle geëet het. Neem byvoorbeeld die armblankevraagstuk. Vir baie Afrikaners, veral in die noorde, was daar eenvoudig nie altyd genoeg geld vir kos nie en werkloosheid was ’n werklikheid. Dit móés ’n invloed hê op eetpatrone.

Dit is iets wat ek redelik deeglik in die boek probeer volg. Hoe het die Groot Trek verander wat mense eet? Wat het die Tweede Wêreldoorlog aan ons koskultuur gedoen? Wat gebeur wanneer mense van plase na dorpe en stede trek?

Brood, kaas, uie en tamaties is ’n fantastiese manier om daardie groter geskiedenis te vertel, juis omdat dit sulke basiese boustene van ons dieet is. Wanneer groot dinge in die ekonomie of kultuur gebeur, sien jy uiteindelik die gevolge daarvan op mense se borde.

MR: Jy noem “[blatjang] of jy daarvan hou of nie”. Die debat oor wat ’n “regte” braaibroodjie uitmaak, kan nogal hitte rondom die braaivleisvuur veroorsaak! Hoe het jy hierdie “kulinêre dogmas” in jou navorsing hanteer?

FDV: Met die navorsing het dit nooit vir my gegaan oor ’n uitspraak oor wat reg of verkeerd is nie. Ek wou eerder die stories vertel, dit in historiese konteks plaas en probeer verstaan waar sekere gewoontes vandaan kom.

In die boek neem ek natuurlik self ’n paar besluite, want ek maak uiteindelik ook ’n braaibroodjie. Maar dit is persoonlike keuses. Elkeen het die volste reg om sy braaibroodjie te maak soos hy daarvan hou.

En ek moet sê, die blatjangdebat laat my altyd so effens lag. Ons stry daaroor, ja, maar meestal met die tong in die kies. Dit is eintlik deel van wat die braaibroodjie so lekker maak as onderwerp: Mense het sterk opinies daaroor, maar dit bly ’n positiewe, prettige ding om oor te praat.

MR: Wat is die grootste waanvoorstelling of mite oor die braaibroodjie wat jou navorsing verkeerd bewys het?

FDV: Ek dink een van die grootste wanvoorstellings is dat ons aanvaar die bestanddele wat vandag vir ons vanselfsprekend in ’n braaibroodjie is, nog altyd daar was. Dit is nie noodwendig die geval nie. Daar is veral een bestanddeel waaroor ek dink baie mense verbaas gaan wees. Vandag aanvaar ons dit amper as deel van die standaardresep, maar histories was dit glad nie so eenvoudig nie.

Ek het vir die boek ook redelik diep in die geskiedenis van braai self ingegaan, iets waaroor daar verbasend min geskryf is. Daar het ek persoonlik ongelooflik baie geleer. Ons heg vandag geweldig baie waarde aan braai as deel van die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse kultuur, maar wanneer jy die oorsprong daarvan begin naspeur, ontdek jy invloede uit baie verskillende oorde en ’n klomp stories wat ek self glad nie geken het nie.

Ek dink mense gaan lekker verras wees.

MR: Hoe hoop jy verander hierdie boek die manier waarop feesgangers en lesers voortaan na ’n alledaagse verskynsel soos ’n braaibroodjie kyk – én na hulle eie argief en geskiedenis?

FDV: My grootste hoop is dat mense weer nuuskierig raak oor die klein geskiedenisse rondom hulle.

Ons dink maklik geskiedenis moet oor groot gebeurtenisse of bekende mense gaan, maar daar is ook ongelooflike stories versteek in alledaagse dinge: wat mense geëet het, hoe hulle gekook het, waar hulle inkopies gedoen het, wat in ’n ou familieresepteboek geskryf staan, of selfs hoe ’n braairooster oor tyd verander het.

Baie van daardie stories is nog nooit behoorlik opgeteken nie, juis omdat hulle vir mense te gewoon gevoel het.

Met hierdie boek het ek eintlik net een van daardie draadjies begin trek. Dit was ’n mooi, interessante storie, en ek wou dit vertel. Ek hoop mense lees dit en begin dan self wonder oor die alledaagse dinge waarmee hulle grootgeword het: Waar kom dít vandaan? Wie het dit voor my gedoen? En watter stories lê nog in ons laaie, kombuise en familieherinneringe en wag om ontdek te word?

MR: Hoe lyk – en proe – Frans de Villiers se eie, volmaakte braaibroodjie vandag op die rooster?

Ek is eintlik redelik tradisioneel. Witbrood, ’n lekker plaaslike kaas, tamatie en ui. Geen blatjang vir my nie, sout en peper, en botter binne én buite.

Die ui moet vir my nog net so effens rou wees; ek hou daarvan as daar ’n bietjie byt oorbly.

Maar mense moet hulle braaibroodjies maak soos hulle daarvan hou. Ek gaan nie vir iemand anders voorskryf wat op syne hoort nie. Almal moet maar hulle beste braaibroodjie-lewe leef.

  • Die gesprek Die geskiedenis van resepteboeke vind op 8 Oktober om 12:30 in die Hofmeyrsaal plaas. Die bespreking duur 60 minute en word deur Flyleaf aangebied. Kaartjies kos R50 vooraf en R80 by die deur.
  • Die gesprek Die geskiedenis van braaibroodjies vind op 9 Oktober om 17:30 in die EasyEquities Skrywerskamer plaas. Die bespreking duur 60 minute en word deur Flyleaf aangebied. Kaartjies kos R50 vooraf en R80 by die deur.
  • Die skrywerspartytjie Boekmense, braaibroodjies en Buurvrou, op 9 Oktober om 19:00 by die Khaya-kafee, neem vanjaar ’n ander vorm aan: Ontmoet jou gunstelingboekmense terwyl almal saam smul aan vars braaibroodjies en luister na Buurvrou, die Afrikaanse folk-sangers wat hulself beskryf as ’n groep “bemindes, familielede en regte bure”. Gesels oor boeke of die regte resep vir braaibroodjies, bewonder die beste skrywers van naderby. Jou kaartjie verseker toegang – bier en braaibroodjies sal by die venue te koop wees. Kaartjies kos R50 vooraf en R80 by die deur.
Lees ook:

Vanwaar die braaibroodjie?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top