
Foto: Izak de Vries
Is nou die oggend knus onder die donskombers terwyl die suidwester koud en skraal die septer swaai. RSG is op die lug, dis die agterstevoorspeelmusiekspeletjieprogram (van 7–9). Tussenin is daar ’n ou aan die beurt met wie ’n onderhoud gevoer word oor die ontstaan/herkoms van die braaibroodjie. Smaak my soos wat daar met die Taal omgegaan word, het ons (die Afrikaner) blykbaar ook die braaibroodjie uit ’n ander kultuur geassimileer.
Die braaibroodjie, sê hy, het ’n Kaapse oorsprong en sy navorsing het hom tot in die donkerste spelonk in die ingewande van die Kasteel ingelei. Daar waar die gedaante van Lady Barnard glo rondsweef – en hy het geen begeerte om terug te gaan nie. Skynbaar, volgens die navorser, is die braaibroodjie deur Kasteelwagte, slawe en gevangenes wat daar ingekerker was, saamgeflans.
Drie jaar het hy navorsing gedoen. Maar hy gaan niks verklap nie, as die luisteraars oor die “nitty-gritty” (my inlas) daarvan wil weet, moet hulle sy boek oor die braaibroodjie wat by die eerskomende Woordfees in Oktober bekendgestel gaan word, aankoop, wat my weer op ’n manier laat dink het aan ou Gehasi.
Ek is ’n Overberger, gebore en getoë, en is nogal geneë daarmee dat die braaibroodjie volgens historiese aanduidings vanuit hierdie geweste afkomstig is. Indien die weer oor naweke saamspeel – ek braai nie in wind en weer nie – word vuurgemaak (’n gasbraaier is ’n stoof). Die braaibroodjie is, soos die sout in brood, onlosmaaklik deel van die ritueel.
Terloops, in my prille jeug het ek vir sowat ses jaar in Pretoria my spore gelos. Ek was by ’n verskeidenheid braaie teenwoordig en het my daar vasgeloop in roosterkoek wat gesny, oopgevlek en met botter ingesmeer word, gevolg deur ’n stuk steak (soms die dunner, “tenderized” soort) met tamatie-en-uie-smeer tussenin. Toe ek navraag doen oor die braaibroodjie, is ek aangegaap. Ek het ook ’n braai of wat gereël en die menasie versoek om die braaibroodjies aanmekaar te sit en dit te verstewig met toutjies, wat met graagte gedoen is.
Die navorser en daardie Braai-ou met sy TV-manewales propageer dat die botter, en hier stem ek saam, botter, aan die buitekant van die broodjie gesmeer word om die broodjie te verbruin en terselfdertyd om dit nie aan die rooster te laat vas sit nie. Skynbaar volgens hulle al rede waarom dit so gedoen word.
Rêrig?
Doen ’n ou dit so, sou ek sê, ontbloot hy hom as hopeloos. Dis daai soort ou wat Sater’aande met ’n glas klip-en-dam in die hand staan omdat dit sosiaal windgat is, dan alles staan en veras (well done) of halfrou (rare) voorlê en boonop daarmee staan en “brag”, maar later agter toe deure ’n teensuurmiddel moet afsluk; hý wat moerig word vir vrou of kinders omdat hy moet “brood braai”.
Ek waag my nek om dit te sê: Om as ’n formidabele braaier beskou te kan word, moet ’n ou ’n braaibroodjie kán braai, bros en bruin en lekker, met die botter aan die binnekant van al twee snye (toemaar, jy sal uitpluis watter kant binne is), omdat die botter binne-in smelt en alles een smaaklike ding word, soos die Franse met hul croque monsieur ook doen. ’n Ou kan dit dan sekerlik as Hugenote-invloed, dus Afrikaner-invloed, op die broodjie beskou.
’n Ander toeklaprooster moet gebruik word en nie die een waarop hy sopas gebraai het nie, hy wil mos nie dat die vorige vleis se gebrande vet en olie onsmaaklike en onooglike blokstrepies los nie. So nie, moet ma die snye met dun toutjies vasbind vir die met-die-hand-omdraaislag, ook op ’n skoon rooster.
Op die internet is daar sowaar ’n warboel resepte (waarin Mrs HS Balls se chutney pertinent aanbeveel word) asook ’n woeligheid rondom die nederige en gewilde broodjie. Ek was nie bewus dáárvan nie. Laat my dink aan die vraag wat die beste wyn is. My siening is daardie een waarvan jy die meeste hou en te hel met wat ’n ander ou sê die beste is.
En die kaasding? Ek gebruik liewer gewone (nou wel Engelse) cheddar en nie (Hollandse) soetmelkkaas (Gouda) nie. Anders, wanneer daar ’n hap gevat word, moet die soetmelk soos kougomstringe eers om ’n vinger gedraai word, wat sleg is vir eetetiket.
Natuurlik moet dit laehittekole wees. Draai die broodjies elke 10 sekondes om. Met die eerste paar omdraaie is daar min verandering maar gou-gou begin dit verbruin. Met ’n oopkopbenadering raak jy gou ’n voorslag.
Los gerus maar die chutney in die kas; per slot van rekening, sou die laerstandouens in die Kasteel hul hande op blatjang kon lê? Dit was ’n kondiment vir die hoërklaspersoon van destyds.
(Terloops: Mrs Balls was ’n Kanadese drenkeling wat in 1852 naby Oos-Londen uitgespoel het – lees gerus hier.)
Soos ou-dominee vanmeleë gesê het: ”Lekker braai broers!”
Raed-na-Gael

