Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Menopouse: gedeelde ervaring, ligter reis

  • 0

Foto: Woordees

Yolanda du Toit praat met Amelia van Zyl en Renscha van den Berg oor menopouse en die Woordfees-item wat daaroor aangebied word.

Menopouse is ’n natuurlike lewensfase. By die Woordfees vanjaar gesels lewensafrigter Amelia van Zyl en mediese dokter Renscha van den Berg oor wat in jou lyf en kop gebeur met hierdie oorgang. Kom leer meer oor hormonale veranderinge, leefstylaanpassings en hoe jy jou welstand kan verbeter. Die pad deur menopouse raak ligter as vroue mekaar ondersteun.

Amelia, kortliks meer oor jouself, jou beroep, asook jou belangstelling in menopouse.

Ek is ’n entoesiastiese en kreatiewe mens vol planne en drome. Party van dit realiseer, ander nie. Een van my drome was Kamers vol geskenke, ’n platform vir kreatiewe mense wat bymekaarkom en mekaar inspireer. Ek het dit vroeg in 2003 begin en 13 jaar gelede verkoop. Ek is ma van drie volwasse kinders en geseën met ’n wonderlike man wat my drome en planne ondersteun. Ek het verder studeer in lewensafrigting en gefokus op vroue in oorgange.

Nog ’n droom wat bewaarheid is, is ons projek in ’n erfenisgebou in McGregor. Ons het ’n deel gekoop van die ou skool en omskep in lekker akkommodasie en ’n mooi tuin. Hier doen ons retreats en bied lekker werkswinkels aan. Ons visie is to be a life-long learner. Dit is vir my ’n spesiale projek, want ek is ’n passievolle tuinier en glo in die konneksie met die aarde. Dit is juis hier waar ek en Renscha mekaar verlede jaar ontmoet het toe ek ’n retreat rondom menopouse aangebied het.

Waar kom jou belangstelling in menopouse vandaan?

Met my eie peri-menopouse- en menopousesimptome het ek swaargekry en nie besef wat gebeur nie. My middel veertigerjare was ’n moeilike tyd en dit het gevoel asof my wiele ewe skielik afgeval het. Dit wat maklik was, het nie meer maklik gekom nie, en baie onsekerheid het daarmee saamgegaan. Ek het selfs gevoel ek is op ’n pad waar ek my visie en energie verloor het. Dit was ’n wipplank van emosies. Lewensafrigting het my baie gehelp in my eie groei, prosesse en ondersteuning. Ek wil graag ander vroue help wat dit deurgaan. Vrae soos: Wie is ek? Hoekom het ek my selfvertroue verloor? Hoekom sukkel ek met sekere dinge? Die wonderlike ding van lewensafrigting is ondersteuning van iemand wat ’n klankbord is en waar ’n mens die tools kan kry om daarmee te werk. Een van die goed waarmee ek werk is positiewe intelligensie – dit is ’n program en dit help om met praktiese, sensoriese oefening sin te maak van hoe die brein werk. Ook wat ’n mens kan doen om nie vasgevang te bly in ou patrone nie en dat daar altyd nuwe moontlikhede is, asook ander maniere om daarna te kyk. Ons het mekaar nodig en vroue het daardie ondersteuning nodig wanneer hulle voel hulle is die enigstes wat daardeur gaan.

Hoe belangrik dink jy is dit om daaroor te gesels; dink jy vrouens voel alleen tydens dié oorgang?

Dit is verskriklik belangrik om daaroor te gesels en ondersteuning te hê. As ’n mens alleen is en dikwels boonop skaam is oor waardeur jy gaan en hoe jy voel, dra ’n mens swaar. Om met ander te gesels voel of die deur oopgaan en jy ’n nuwe landskap sien. Nie twee vrouens gaan menopouse dieselfde ervaar nie. My simptome was op ’n psigiese vlak. Ek het in my gemoed swaargekry en was glad nie bewus daarvan nie. Omdat ek oningelig was, het dit my belangstelling geprikkel nadat ek gesien het watter verskil dit in my lewe gemaak het toe ek wel die inligting en begrip vir myself kon kry, wat ek nou met ander vrouens kan deel.

Dink jy dis ’n fase waar vrouens misverstaan voel, omdat hul nie regtig hulself en wat in hul liggame verander, verstaan nie?

Ek dink dit is definitief ’n tyd waarin ’n vrou maklik misverstaan kan voel. Dit is belangrik dat jy jouself verstaan juis in ’n tyd waar ons nie genoeg kennis het en verstaan wat in jou liggaam gebeur nie. Eers dan weet ’n mens wat jy kan doen om jouself en ander rondom jou te ondersteun.

Watter ondersteuning is oor die algemeen beskikbaar vir vrouens wat deur menopouse gaan?

Daar is baie min ondersteuning beskikbaar, selfs van jou dokter, omdat dit ’n veld is waarin dokters nie regtig opgelei word nie. Boonop is baie dokters manlik en verstaan dit ook nie. Dit is wonderlik dat daar nou ’n openheid en gesprek en inligting rondom menopouse gebeur en dat vroue bereid is om daaroor te gesels. Ek self het nie van my ginekoloog ondersteuning gehad nie. Eers toe ek en Renscha begin saamwerk het (sy het ’n lewensafrigtingsprogram by my gedoen wat soveel vir haar beteken het), het sy gesê sy sien soveel vroulike pasiënte wat daarby sal kan baat. Ons het begin gesels oor wat ons saam kan doen om vroue in hierdie oorgange te ondersteun. Dit is Renscha se passie om inligting oor te gee om vroue op te voed om dit beter te verstaan.

Waarna kan feesgangers uitsien in Menopouse: gedeelde ervaring, ligter reis?

Juis dat dit ’n gedeelde ervaring is. Baie kulture verwys daarna as die wysheidsjare. Ons gaan gesprekke voer en saamgesels oor hoe ander dit ervaar, tesame met die kennis wat ons gaan deel en ’n paar lekker praktiese oefeninge waarmee jy jouself kan ondersteun. Dit kan ’n wonderlike ligte reis wees; dit hoef nie swaar en moeilik te wees nie.

Waar kan vroue jou kontak vir hulp?

E-pos: encouragegrowth@gmail.com

WhatsApp: 0722247674

www.theoldschoolmcgregor.co.za

Renscha, kortliks meer oor jouself, jou beroep en spesialiteitsveld, asook jou belangstelling in menopouse.

Ek het grootgeword in ’n klein dorpie, Evander, waar my pa ’n dokter was. Vandat ek kan onthou, wou ek ’n dokter word en ek is steeds passievol oor die veld van medisyne. Dis ’n wetenskap en ’n kuns en daar is altyd iets nuuts om te leer. Ek is ’n GP in ’n groot praktyk in Stellenbosch. Dis hier waar al hoe meer vroue rondom menopouse by my spreekkamer ingestap het met hul swaarkry, en ek besef het dat ek my kennis rondom hierdie veld moet uitbrei. Saam met Amelia het daar ook ’n lekker kreatiewe kant ontwikkel, omdat ons beide gevoel het dat soveel vroue swaarkry sonder die nodige ondersteuning en kennis wat die menopouse ’n ligter reis kan maak.

Hoe belangrik dink jy is dit om daaroor te gesels; dink jy vrouens voel alleen tydens dié oorgang?

Dit is ’n groot passie vir my dat vroue verstaan wat in hulle lyf en kop gebeur. Ek hoop dat vroue met mekaar daaroor sal gesels oor boekklubkuiers en koffietafels en selfs by die werk. Soveel vroue sê vir my: “Waarom het niemand nog vir my hierdie dinge vertel nie?”

Dink jy dis ’n fase waar vrouens misverstaan voel, omdat hul nie regtig hulself en wat in hul liggame verander, verstaan nie?

Ja, baie vroue verstaan hulleself en die veranderinge in hulle liggame in die eerste plek nie en dit maak dit heelwat moeiliker om aan ander te verduidelik hoe hulle voel of te vra vir ondersteuning. Daar is ’n studie wat aangedui het dat 50% van vroue wie se huwelike in egskeidings geëindig het rondom menopouse, glo hulle sou steeds getroud gewees het as hulle besef het wat die effek van menopouse op hulle gees en vlees gehad het in die tyd.

Watter ondersteuning is oor die algemeen beskikbaar vir vrouens wat deur menopouse gaan?

Ek glo die belangrikste ondersteuning is van vroue onder mekaar: vriendinne, susters, ma’s en dogters, en kollegas. Die wysheid wat in die gedeelde ervaringe van vroue lê, is van onskatbare waarde. Verder is daar natuurlik professionele persone: GP’s, ginekoloë, sielkundiges, lewensafrigters, fisioterapeute, dieetkundiges en vele ander. Die waarde van sosiale media, webwerwe, potgooie, ensovoorts moet ook nie onderskat word nie en is baie keer ’n beginpunt of ’n “aha”-oomblik vir baie vroue.

Waarna kan feesgangers uitsien in Menopouse: gedeelde ervaring, ligter reis? ’n Lekker saamgesels en leer van mekaar – en moed skep, hoop kry, nog ’n tree gee op hierdie universele reis waarop elke vrou wat ouer as 50 word, sal gaan (party natuurlik heelwat vroeër).

Waar kan vroue jou kontak vir hulp?

Volg ons op Instagram by @women_who_pause, waar ons ook inligting deel oor die Menopause101- aanlyn aanbieding. Daarmee probeer ek om in ’n uur of wat die basiese inligting rondom menopouse met ’n wyer gehoor te deel.

Lees ook:

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Tussen hier en daar, ’n onderhoud met Lize Beekman

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Mel vertel, Portchie paint!

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Woorde open wêrelde, ’n onderhoud met Fiona van Kerwel

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top