Toyota Stellenbosch Woordfees 2025 en die EasyEquities-skrywersfees: ’n onderhoud met Bibi Slippers

  • 0

Agtergrondprent: https://woordfees.co.za/wp-content/uploads/2025/06/Skrywerfees.png; foto van Bibi Slippers: Dirk Skiba Fotografie

........
Tydens die fees is daar ook altyd die spaar-bar waar jy nippertjie-winskope kan kry, en jy kan die Woordfees se sosialemediablaaie dophou vir ander winskope en specials.
.........

Bibi Slippers praat met Naomi Meyer oor vanjaar se EasyEquities-skrywersfees op die Toyota Stellenbosch Woordfeesprogram.

Bibi, die Woordfees is om die draai en die EasyEquities-skrywersfees lyk eersteklas. Deel met my! Ek sien daar’s ’n aand van passie, wat baie klink na die nag van passie van jare gelede. Wil jy iets hiervan vertel?

Jy’s reg, Naomi. Die aand van passie is Saartjie se breinkind, en verwys met opset terug na die nag van passie. Ons wil hiermee ons hoed lig en knipoog na die Woordfees se verlede, en die fees se oorsprong as ’n lees- en skryffees erken en vier. Ons gaan ’n klompie skrywers nooi om die aand saam met ons te geniet, en gaan mense betrek wat by die oorspronklike nag van passie betrokke was – maar dis alles nog ’n work in progress, en ons wil ook graag hê die aand moet baie verrassings inhou vir die skrywers wat dit bywoon. So kom ons praat eerder verder oor die res van die program. 😉 

Antjie Krog en Siphokazi Jonas is saam op die program met "Alles wat ons deel". Kan jy iets van hierdie item verklap?

Antjie en Siphokazi is ons feesdigters, en hulle gesamentlike optrede is ’n lieflike manifestasie van vanjaar se feestema, “deel”. Hulle deel die verhoog met mekaar, deel hulle werk met die gehoor, en hulle is albei digters wat skryf oor die dinge wat ons met mekaar gemeen het, die menslikheid wat ons deel. Al twee is fenomenale voordraers – hulle is woordkuns-showgirls wat hulle werk laat lewe wanneer hulle dit lees of uitvoer, so ek is self besonder opgewonde om te sien hoe alles bymekaarkom op die aand.

Een Saterdagmiddag gaan mense nie alleen hoef te skryf nie. Wat is Boek-deel?

Boek-deel is een van my persoonlike klein obsessietjies wat nou by die fees ’n eie lewe aanneem. Ek dink gewoonlik in die eerste plek aan die skrywersfees as ’n lekkerte vir lesers, om geliefde skrywers te kom ontmoet, om na gesprekke oor boeke te luister, om meer oor nuwe boeke en skrywers uit te vind. Maar ek besef al hoe meer dat die skrywersfees eintlik ook ’n wonderlike geleentheid is om die gemeenskap van skrywers te versterk: om nuwe skrywers aan te moedig, om kennis oor te dra van gevestigde skrywers na die volgende generasie, om skrywers te ondersteun en te bederf. Met Boek-deel wil ek spesifiek ’n geleentheid skep waar skrywers (en hiermee bedoel ek enige iemand wat skryf, of wil skryf, in enige stadium van hulle loopbaan of stokperdjie) ander skrywers kan ontmoet met die doel om skrywersgroepe te stig om mekaar te ondersteun en aan te moedig om hulle skryfdoelwitte te bereik.

........
Maar ek besef al hoe meer dat die skrywersfees eintlik ook ’n wonderlike geleentheid is om die gemeenskap van skrywers te versterk: om nuwe skrywers aan te moedig, om kennis oor te dra van gevestigde skrywers na die volgende generasie, om skrywers te ondersteun en te bederf. Met Boek-deel wil ek spesifiek ’n geleentheid skep waar skrywers (en hiermee bedoel ek enige iemand wat skryf, of wil skryf, in enige stadium van hulle loopbaan of stokperdjie) ander skrywers kan ontmoet met die doel om skrywersgroepe te stig om mekaar te ondersteun en aan te moedig om hulle skryfdoelwitte te bereik.
........

Ek’t die afgelope tyd so baie boeke oor skryf en skryftegnieke gelees, en een gemene deler in baie van hulle is die skrywersgroep as reddingsboei, leerskool, ondersteuningsgroep en noodsaaklikheid in die stories van hoe skrywers hulle manuskripte klaarkry. Jy hoef dit nie alleen te doen nie! Van die boeke wat ek kan aanbeveel wat hieroor praat, is Anne Lamott se Bird by bird, Written deur Bec Evans en Chris Smith, en Writing down the bones deur Natalie Goldberg.

Daar’s ook ’n dag van poësie en ’n Dead Poets Society. Wat behels dit?

Ons het vanjaar bykans al die poësie-aanbiedinge* op die program op een dag geskeduleer, sodat poësieliefhebbers sommer ’n hele dag lank kan kom uitspan en na voorlesings en besprekings luister. Dit beteken ook die skugter digters kan lekker gemaklik in ’n troppie by die fees wees en met mekaar meng en sosiaal verkeer. Daar is ’n groot verskeidenheid poësie op die spyskaart daardie dag, in baie verskillende tale, en ek hoop dit gaan ’n heerlike dag wees sodat ons dit in die toekoms weer kan doen. 

Dead Poets Society is maar een van die items op die program, en dit is waar lewende digters in gesprek gaan tree met die oorlede digters wat hulle geïnspireer het en in baie gevalle gemaak het dat hulle digters wil word en self gedigte skryf. Ons het groot digters aan die dood afgestaan die afgelope jaar, en ook jong digters en skrywers wat nog baie gehad het om te sê – en ons wil graag hulle woorde laat voortleef in die monde van die digters wat nog hier is om dit te laat opklink.

* Die uitsondering is die block party wat ons aanbied vir Ryan Pedro se bundel Prins, wat al die vorige aand gebeur.  

Daar is historiese boeke en ander niefiksie. Wat staan vir jou uit?

Niefiksie is altyd gewild onder die leespubliek, en soos elke jaar is daar vanjaar weer baie interessante onderwerpe wat deur niefiksieskrywers ondersoek en geboekstaaf word. Niefiksie stimuleer gesprek en help ons om sin te maak van die chaotiese wêreld waarin ons leef. Ons het die geskiedenisboeke saam groepeer sodat mense wat mal is oor geskiedskrywing sommer al vier die sessies in ’n ry kan bywoon. Ander niefiksiehoogtepunte is die biografie van die Comrades-legende Louis Massyn, waremisdaadboeke deur Julian Jansen en Anena Burger, oudregter Edwin Cameron se boek oor tronke (saam met medeskrywers Rebecca Gore en Sohela Surajpal), Barnard Beukman se bespreking van sy boek oor die laaste dae van Beeld, en ’n paneelgesprek oor The interpreters, ’n versameling van die voorste kreatiewe niefiksie wat die afgelope jare in Suid-Afrika gepubliseer is.  

The Hunger Games: dit is regtig ’n sinvolle item. Wie maak jag op wie? Can there be only one? Ek klink ligsinnig. Ek sien dit gaan oor skrywers wat sukkel om ’n bestaan te maak. Wat gebeur tydens die item?

Ilse Salzwedel gaan in gesprek tree met ’n klomp skrywers oor hoe hulle die uitdagings van ’n bestaan maak hanteer. Ons gesels oor die harde realiteite, en soek saam oplossings. Ek dink dis belangrik om ’n oop gesprek te voer oor die finansiële lewens van skrywers, want ons kan nie bekostig dat skrywers ophou skryf omdat hulle dit nie kan bekostig om skrywers te wees nie.  

.........
Ek dink dis belangrik om ’n oop gesprek te voer oor die finansiële lewens van skrywers, want ons kan nie bekostig dat skrywers ophou skryf omdat hulle dit nie kan bekostig om skrywers te wees nie.  
.........

Daar is darem ook items waar mense kan kom eet en drink. Koffie, wyn, koek. Wil jy enkele van hierdie geleenthede uitlig?

Kookboeke is terug op die skrywersfeesprogram, en die lekkerbekke kan kom luister én proe wanneer kosskrywers soos Elmarie Berry, Ilse van der Merwe en Frik de Jager oor hulle boeke kom praat. Daar is ook vroegoggendgesprekke oor ’n koppie koffie met skrywers soos Louis Pretorius, Marita van der Vyver, Sven Axelrad en Johannes de Villiers – jou kaartjieprys sluit jou koffie in. Of kom luister gratis as jy nie koffie wil drink nie. Ons ete by Lanzerac waar Nataniël die blinknuwe koffietafelboek Bloei + Blom gaan bespreek, het so vinnig uitverkoop dat ons nou ’n tweede een gaan aanbied – so as jy die koop van ’n kaartjie om na Nataniël te kom luister misgeloop het, daar is nou nog een op die program op 16 Oktober. Kyk uit daarvoor op Quicket.      

Marita van der Vyver deel haar swerfjaarboek. Wil jy iets hiervan vertel?

Marita se bespreking oor My jaar van vrees en vryheid is een van ons boekklubaanbiedings. Die kaartjieprys sluit ’n glas wyn in – so dis sommer ’n lekker geselligheid. Ander boekklubs is die gesprek met Tony Leon, ’n paneel oor misdaadboeke met van ons voorste krimiskrywers, en die supergewilde aand met Antjie Krog, waar sy met Andries Bezuidenhout gaan gesels oor Die binnerym van bloed. “Op die markplein van idees” verwys na Anton van Niekerk se bundel rubrieke Uilvlug in die skemering: Op die markplein van idees – maar dis eintlik ’n baie mooi beeld vir die hele skrywersfees, waar idees uitgeruil word.

Wat is “Reaching readers”? 

Reaching readers is ’n gesprek oor boeke in die media: sosiale media, die tradisionele media, WhatsApp-groepies en so meer. Hoe kan skrywers lesers bereik en gehoor en raakgesien word te midde van ’n stortvloed inhoud? Ons gesels hier met boekbemarkers, skrywers en beïnvloeders oor hoe om ’n sinvolle geraas te maak te midde van ’n chaotiese geraas. 

Ek raak moedeloos, want hoe kies mens wat om te kom kyk? Maak dit maklik vir ons lesers en deel met ons die hoogtepunte op die boekeprogram, asseblief.

Ons het dit op ’n ander manier maklik gemaak, Naomi: Die skrywersfeeskaartjies is regtig billik – so mens hoef nie so hard te wik en weeg nie. Die kaartjies kos meesal in die omgewing van R50 as jy vooraf op Quicket koop, en daar is ook spesiale pakkette as jy byvoorbeeld die hele dag van poësie bywoon. Kry vir jou ’n gratis feesgids by die Woordfeeskantoor (of laat een by jou voordeur aflaai met komplimente van Aramex) – en kies self uit die aanbod – vir ’n paar honderd rand kan jy ’n klomp goed kom kyk. Tydens die fees is daar ook altyd die spaar-bar waar jy nippertjie-winskope kan kry, en jy kan die Woordfees se sosialemediablaaie dophou vir ander winskope en specials.

Koop kaartjies by Quicket!

Lees ook:

Persverklaring: Toyota Stellenbosch Woordfees 2025 – Literatuur is steeds die hart

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Boklied, 30 jaar later – ’n onderhoud met Marthinus Basson

Deel en wees deel: Toyota Stellenbosch Woordfeesprogrambekendstellingsfunksie 2025

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top