
Foto: Toyota Stellenbosch Woordfees
Tollie Parton, die drag-naam van Wynand Kotze, het onlangs in Roodepoort kom kuier met die nuwe vertoning Tottie en nie verder nie. Weer eens was dit ’n fantastiese vertoning (soos laas jaar se produksie van Hoofseun), waar Parton komedie tog kombineer met iets ’n bietjie meer ernstigs.
Indien jy wonder waarom ek praat van Tollie en nie Wynand nie, lees gerus die verduideliking in my vorige Tollie Parton-resensie.
Tollie stel haarself ’n bietjie meer bloot in hierdie vertoning, waar daar onder andere gepraat word oor seks, verhoudings en haar ma se papegaai. Soos met enige goeie skerpskertservertoning, is daar grappies wat deurgaans herhaal word en elke keer snaakser raak. Dit maak die ernstige oomblikke nog meer ernstig, wat dan weer die snaakse oomblikke snaakser maak. En natuurlik is daar ’n stukkie musiek aan die einde, wat myns insiens aan die vertoning ’n lekker smakie gee.
Tollie is bekend vir woordspeling en snaakse interpretasies van dit wat sy waarneem. Sy stel beslis nie teleur nie. Dit voel vir my ook daar was hierdie keer ’n bietjie meer interaksie met die gehoor, wat elke vertoning maak. Niemand is veilig teen Tollie se skerpsinnige tong nie.
Tollie praat ook oor die rol van spesifiek ’n gay man in die Afrikanervolk. Wat is aanvaarbaar en wat is nie? Mense skop terug as jy as ’n queer persoon buite die “aanvaarde norme” van wat queer mense mag wees, optree. Veral binne die konteks van internasionale Pride-maand, is dit ’n belangrike boodskap om te hoor. Dit herbevestig wat queer mense weet en wat ons probeer verander. Dit laat ook heteroseksueles dink oor hoe hulle omgaan met queer mense. Die idee van “agter geslote deure” is nie so maklik soos dit uitgemaak word nie.
Jy lag, jy dink en dan lag jy nog meer. Aan die einde van die dag is daar meer dinge wat ons saambind as dinge wat ons van mekaar skei. Soos met die vorige vertoning, is dit nie vir kinders of fyngevoeliges nie. Gaan kyk dit gerus as Tollie in jou kontrei opdaag. Dit is beslis die moeite werd.
Tottie en nie verder nie sal op 10 Oktober om 20:00 te sien wees by die Toyota Stellenbosch Woordfees. Klik hier om te bespreek.


