
Lisa Ellis, Tollie Parton en Hermione le Roux-Ellis, wat lyk soos 'n “gesmelte marshmallow”.
...
Dit gee ook ’n ander, minder subtiele boodskap: Ons is hier en ons gaan nie weg nie.
...
Tollie Parton het op 11 Julie haar verskyning gemaak in ’n gepakte Roodepoort Teater. Dit was ’n lekker bederf gewees om te kan lag en ook ’n paar ernstiger oomblikke te deel met Tollie Parton in haar eenpersoon-opvoering Hoofseun.
Vir diegene wat nie vertroud is met drag-kultuur nie: Daar is verskeie tipes drag queens (ook bekend as fopdossers), waaronder musiek-queens, pageant queens en komedie-queens. Tollie Parton (die drag-persona van Wynand Kotze) is ’n komedie-queen wat myns insiens kan meeding met internasionale name soos Bob the Drag Queen, Jinx Monsoon en Bianca del Rio. Wat vir Tollie spesiaal maak (vir my ieder geval), is die feit dat ’n Suid-Afrikaanse queer persoon hulself kan vereenselwig met haar storie. Dit voel nie so ver soos Bob of Bianca nie. Dis hier. Sy is een van ons mense.
In drag-kultuur verwys jy na die persona met die toepaslike voornaamwoorde. Dit is dus die konvensie in hierdie resensie.
Die hele vertoning is basies Tollie wat vertel wat op die hart is “voor die show begin”, soos sy dit gestel het. So vind ons uit dat sy grootgeword het op Vanrhynsdorp, hoofseun was op hoërskool en ’n hele paar ander dinge. Ons leer onder andere dat sy nog altyd ’n skerp tong gehad het en dit gebruik het om haarself te verdedig. Maar daardie skerp tong is ook baie goed met iets anders: woordspeling. Suksesvolle woordspelings is moeilik om te doen en Tollie is volgens my ’n meester met woordspel.
Daar is ook wonderlike waarnemings wat sy maak en dan die snaakse daarin sien. Ek het in my ewige wysheid ’n bont, pienk kappietoppie gedra, omdat dit besonders koud was. Toe bestempel Tollie my as ’n “gesmelte marshmallow”, wat histeries en akkuraat is. Plotseling was ek deel van die vertoning en dit was wonderlik. Gehoordeelname is altyd lekker, veral wanneer die mense te skaam is om deel te neem. Sy spot ook gereeld met stereotipes en dit het almal laat rol.
Dis nie net skerp woordspel en waarnemings nie. Daar is ’n dieper boodskap aan hierdie vertoning. Sy’t gekla oor hoe daar nie veel (of enige) queer-verteenwoordiging was toe sy op skool was nie. Sy praat oor hoe die kerk soms betrokke geraak het by gay mense en hoe ons mense baie keer verwerp word deur ander. Dis ’n storie wat ek al baie gehoor het. Dis ’n storie wat ek self beleef het. Om dit op ’n verhoog te sien, was wonderlik. Dis verhale wat vertel moet word voor dit verdwyn. Tollie skep die verteenwoordiging wat sy en ander queer mense so nodig gehad het.
My vriendin Mariëtte wat saam met ons die vertoning gaan kyk het, het veral aanklank gevind by Tollie se skreeusnaakse en raak beskrywings van grootword op ’n klein, Afrikaanse dorpie.
Dit gee ook ’n ander, minder subtiele boodskap: Ons is hier en ons gaan nie weg nie.
Wat ek ook waardeer het, is die toeganklikheid van die vertoning. Die heteroseksueles in die gehoor het die vertoning net soveel geniet. My vrou, wat nie baie goed Afrikaans kan praat nie, het heeltyd saam gelag en kon die storie volg. Ek dink dis ook ’n belangrike ding om te noem. Drag is nog altyd vir almal gewees, omdat dit uitvoerende kuns is.
Hoofseun is ’n drag-vertoning wat ek beslis sal aanbeveel. Dit is wel nie vir sensitiewe of jonger ore nie, so wees gewaarsku. Tollie sal jou self vertel sommige mense sal kwaad word of geskok wees deur wat sy sê of hoe sy praat. As jy nie ’n sensitiewe of jong teaterganger is nie, beveel ek dit beslis aan dat jy Hoofseun gaan kyk wanneer dit in jou kontrei aankom.
Hoofseun is ’n vertoning wat jou laat lag, maar ook soms laat dink: Wat beteken dit om queer en Afrikaans te wees? Verskil ons werklik so baie van mekaar? En hoe het die hoofseun hoofmeisie geword? Gaan kyk gerus as jy Tollie se unieke en skreeusnaakse sienswyses oor hierdie sake en meer wil hoor.
*
Met groot dank aan Mariëtte van Graan wat gehelp het met hierdie resensie.

