My seun, kom ons gaan kyk ’n drag show!

  • 0

...
Daar is ek sommer dankbaar vir elke liewe ma en pa in daardie gebou wat dit normaal maak vir my en my gemeenskap om onsself te wees en wat hulle kinders leer dat daar eintlik niks is om te verstaan nie; dit is alles natuurlik.
...

Reg, die titel is seker ietwat misleidend. My ma het nooit daardie woorde gesê of in die moderne wêreld getik nie. Sy het slegs vir my die advertensie gestuur.

Ek het dit vir my kêrel gewys en drie sinne later is dit bevestig, ons sal gaan. Dit is sommer dadelik op ons Google-kalender geplaas. So dan weet jy mos dit gaan gebeur.

Ek moet by voorbaat vertel dat ek as ’n moffie onder 30 al meer as genoeg tyd rondom fopdossers deurgebring het. Om die waarheid te sê, ek het al een of twee keer probeer maak of ek een is wanneer ek aan die Voëlkop Miss Trash-kompetisies deelgeneem het. Dank die sterre die enigste bewyse van daardie gebeurtenisse is ’n enkele kiekie wat slegs op my skootrekenaar bestaan, en die enigste persoon wat dit in die afgelope 10 jaar gesien het, is my kêrel. Maar terug na die punt, ek was al rondom die queens en ek ken ’n paar queens al van voor ek die eerste keer ’n pruik opgesit het.

Maar nog nooit was ek by ’n regte egte drag show waar hulle lip-sync en dans nie. So daar gaan ons die aand na Kat Gilardi en Manila Luzon se optrede by die Bay Harbour Market in Houtbaai. Ek verwag ’n teater, maar stap in by ’n vlooimark. Dit het my twee of drie minute geneem om die verhoog te vind, asook die enigste rokershoekie. Die verhoog was so ’n klein, weggesteekte hoekie tussen die wynkroeg en die DJ-boksie. Daar was ’n ry tafels in elke gang af wat by die hoekie ontmoet, en hier steek ek vas.

Hierdie tafels is almal vol. Nie net vol nie, maar vol met ou, opgedolliede tannies ... Ek is seker daar was meer as een Bybel in ’n handsak en pêrels reg om gegryp te word. Hierdie tannies sit almal met hulle kinders en kleinkinders by hierdie gesinsmark en nou gaan hulle moffies en fopdossers beleef. Ek het half rondgekyk vir een of ander stud sonder ’n hemp op sy wit perd met die gayvlag agter hom wat die aanval sou aankondig.

Ek, my ma en my kêrel het vinnig vir ons ’n drankie gaan kry en toe in die rokershoekie gesellig gaan verkeer. So ’n rukkie later, nes die eerste drankie klaar is, besluit ons dit is tyd om binnetoe te beweeg, nog ’n drankie te vind en dan kyk vir wanneer ’n kerktannie uit marsjeer soos wat ek doen wanneer my kêrel my vertel ek moet my eie koffie gaan maak.

So gesê, so gedaan, wel amper. Ons het ons wyntjie gevind en toe begin soek na ’n plek. Daar was niks. By elke tafel sit ’n heteronormatiewe familie van minstens drie of vier generasies. Maar ons is mos geduldig en ek begelei ons na die tafel met die meeste dames wat lyk of hulle afgetree is. Ek het mos ’n plan!

Die volgende oomblik loop daar ’n fopdosser uit op die verhoog, in die mooiste goue rok wat ek al in lewende lywe gesien het. En sy begin die woorde van die Cher-liedjie vorm. Dis elegant, dis teatraal, dis mooi, en dit het ’n element van humor, definitief uit die boonste gedoentes, soos Oubaas sal sê.

Maar my oog bly op die ouetehuisvergadering langs my. Enige oomblik nou. En daar val my kakebeen op my kleintoontjie! Hierdie blerrie klomp koeksisters por haar aan! Hulle glimlag en dans selfs saam.

Wel, ons almal maak foute!

So begin ek rondkyk. Sjoe, maar hier is baie mense. En flippen baie kinders! Party is op die ouers se skouers, die meeste in hulle arms. Almal kyk na hierdie “mannetjiesvrou”, soos my oorlede oupa sou sê. Dan moedig die pa nog die kinders aan om na die vertoning te kyk!

Vir ’n oomblik het ek gewonder of ek in een of ander parallelle heelal ingetuimel het. Maar toe besef ek, nee, ek is net in Suid-Afrika.

Teen die einde van die aand was dit duidelik dat die grootste deel van die gehoor bestaan uit jou ideale, reguit families met klas. Hulle almal is hier om ’n paar fopdossers te aanskou.

Nie een keer het ek ’n kind gehoor vir haar ouer vra of dit ’n man of ’n vrou op die verhoog is nie. Nie een keer het ek ’n kind gehoor vir sy ouers vra wat ’n gay, of ’n drag, of ’n tottie is nie. Inteendeel, die kinders het geen vrae gehad nie en almal het net saam gedans en die musiek geniet.

Daar staan ek en besef ’n hele paar dinge oor die lewe:

  • Die eerste is dat ek die mensdom onderskat. Daar is meer positiwiteit in die lewe as wat ek gedink het.
  • Die tweede is dat ek dalk te veel mense veroordeel.
  • Die derde, en dalk die belangrikste, geen kind gaan bevraagteken wat hulle ouers hulle leer, tensy hulle ouers hul leer om iets te bevraagteken nie.

En so kyk ek ook na my eie ma en ek onthou hoe sy bloot ’n advertensie na haar gay seun moes stuur. Ons het dit nie eens bevraagteken nie; ons het net besluit ons gaan.

Daar is ek sommer dankbaar vir elke liewe ma en pa in daardie gebou wat dit normaal maak vir my en my gemeenskap om onsself te wees en wat hulle kinders leer dat daar eintlik niks is om te verstaan nie; dit is alles natuurlik.

So volgende keer dat my ma ’n drag show noem, sal dit een woord in plaas van drie sinne neem.

Lees ook:

Wat beteken die + in LGBTQIA+?

Runs in the family draf in die spore van Almodóvar

Só benader mens die transgender-gesprek sensitief en sinvol

Moderne verhoudings in Anne+

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top