Toekomsmens deur Isa Konrad: ’n onderhoud

  • 0

Titel: Toekomsmens
Skrywer: Isa Konrad
Uitgewer: LAPA Uitgewers
ISBN: 9780639605234

Pretoria, 2057. Dertig jaar ná Johannesburg in ’n spookstad verander het, word die Nuwe Republiek van Suid-Afrika deur die Toekomsparty en ’n Raad van Twaalf regeer. Kel de Jong werk as ’n programmeerder in die Intelligensieburo. Sy geordende lewe word in chaos gedompel wanneer ’n militêre observasiesatelliet ’n jong kind op die verlate N1 tussen Pretoria en Johannesburg ontdek. Op dieselfde dag word In-Grid, die Intelligensieburo se sentrale kunsmatige intelligensie, in ’n aanval vernietig. In die chaos wat volg, aktiveer Kel In-Grid se prototipe en ontdek dat dit die herinneringe van Agnes Baumer bevat, ’n vroulike spioen in Duitsland gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Met behulp van tydreise ontdek Kel in die verre verlede die waarheid agter die gebeure in sy hede.

Cliffordene Norton gesels met Isa Konrad oor Toekomsmens.

Foto: verskaf

Wat was vir jou die inspirasie vir hierdie storie, en kan jy onthou op watter dag jy besef het: Dit is die tema en hierdie is die karakters wat hierdie storie gaan vertel? Of ontwikkel ’n boek vir jou op ’n meer organiese wyse?

Ek wou nog altyd ’n wetenskapfiksieroman skryf. Dit is vir my die genre met ’n paar van die beste boeke, en ’n sondvloed van die swakstes, wat ek nog in my lewe gelees het. As mens die dag aan jou skryftalent twyfel, hoef jy net Bram Stoker se Lair of the white worm te lees om jou selfvertroue terug te kry!

Die rede hoekom wetenskapfiksie my fassineer, is dat daar skrywers is wat met suiwer verbeelding storiewêrelde kan skep wat glad nie in die werklikheid bestaan nie. Die beste wetenskapfiksie daag die leser uit om jou realiteit opnuut in oënskou te neem deur jou ’n alternatiewe realiteit aan te bied. Mens kan dit seker as sinlose bespiegeling afmaak, maar goeie wetenskapfiksie – deur outeurs soos Ursula K Le Guin, George Orwell of Liu Cixin – laat my nadink oor my eie wêreld: waar ons vandaan kom, waarheen ons op pad is, en ons plek in die kosmos. Dit gee my ook ’n nuwe waardering vir my wêreld, vir die wonderlike planeet waarop ons leef. Ek wil amper sê dat ek wetenskapfiksie lees omdat dit my terugbring aarde toe.

Toekomsmens was aanvanklik net ’n baie vae idee in my kop dat ek ’n boek wou skryf wat temas soos emosie, siel en bewussyn in die konteks van kunsmatige intelligensie in die toekoms aanroer. Dis nie vreeslik oorspronklik nie, want dit is alles temas wat herhaaldelik in wetenskapfiksie voorkom, maar ek wou dit graag in die konteks van die verre toekoms sowel as die verre verlede skryf. Ek het gehoop dat ’n toekomswêreld meer toeganklik vir die leser sou wees as ek dit met geskiedenis waarmee die meeste mense vertroud is, kombineer. Dit is beslis ’n organiese proses, want as ek die boek regtig moes beplan het, sou ek moedeloos geraak het lank voordat die regte werk begin het.

Ek kan amper nie meer onthou waar die karakters vandaan gekom het nie, net dat ek twee hoofkarakters wou skep waarvan die een ’n mens is wat soos ’n masjien dink, en die ander een ’n masjien met ’n menslike bewussyn. En dan lê en droom mens maar net snags in jou bed totdat die idees duidelik genoeg word dat jy wil waag om dit te begin neerskryf. Dis groot pret, maar regtig so ’n deurmekaar proses dat ek altyd vir myself onnosel klink wanneer ek dit probeer verwoord.

Ek weet, weens my vorige uitgewersposisie by LAPA Uitgewers, dat jy hierdie boek in 2016 die eerste keer voltooi het. Hoeveel van die boek moes jy herskryf, veral in ag genome die COVID-19-pandemie?

Ek wou Toekomsmens aanvanklik as ’n reeks skryf. Ek dink nie ons het wetenskapfiksie-reekse in Afrikaans nie en ek het gedink dit sou ’n interessante projek wees. Maar soos gewoonlik was ek hopeloos naïef en ooroptimisties oor die hele ding. Die manuskrip wat ek in 2016 ingedien het, was die “eerste boek” in die reeks. Dit het omtrent tot daar getrek waar Kel se tydreise begin. Al die gebeure tot op daardie punt was net baie meer omslagtig. Oftewel langdradig.

Cecilia Britz was daardie tyd my uitgewer. Sy het my op die gaafste wyse denkbaar tot die insig gebring dat die idee vir Toekomsmens as ’n wetenskapfiksiereeks twak is. Ek moes die storie in een boek inpas sodat die leser dit van begin tot einde kon lees, en klaar.

..........

“Goeie wetenskapfiksie laat my nadink oor my eie wêreld: waar ons vandaan kom, waarheen ons op pad is, en ons plek in die kosmos. Dit gee my ook ’n nuwe waardering vir my wêreld, vir die wonderlike planeet waarop ons leef.”

..........

Dis wat ek toe gedoen het. Ek het ’n opsomming van die eerste manuskrip se hooftrekke gemaak, die res weggesmyt en van voor af begin. Dit was die beste raad wat ek nog gekry het. Cecilia is ongelukkig oorlede voordat sy die finale manuskrip kon sien. Ek dink nie ek kan ooit ophou hartseer wees oor haar nie, maar ek is haar so dankbaar vir alles wat sy my geleer het en dat ek die voorreg gehad het om so ’n besonderse mens te ken.

Ek het die nuwe manuskrip vir Toekomsmens einde Februarie 2020 ingedien. Twee weke later is die eerste Covid-noodtoestand hier in Switserland uitgeroep en teen die tyd dat Madri Victor, my huidige uitgewer, en die skrywer Chanette Paul daarna gekyk het, het die siekte in Suid-Afrika ook uitgebreek. Chanette en Madri het my albei aangeraai om nog een keer aan die manuskrip te werk en die pandemie in die geskiedenis van ’n toekomstige Suid-Afrika in te werk. Dit is immers geskiedenis wat ons tans leef. Ek het die veranderinge aangebring en toe is die boek darem eindelik klaar.

Hoe neem jou karakters vorm aan? Wie het jou die meeste verras of onkant gevang? Het een of twee ter elfder ure ingeglip, of beplan jy alles haarfyn?

Ek beplan die karakters en gebeure in ’n storie nooit haarfyn nie. As ek aan ’n begin, middel en einde vir ’n storie kan dink, voel ek dis die moeite werd om te waag. As ek ’n idee nie tot by ’n moontlike einde kan dink nie, los ek dit liewer, al is ek hóé opgewonde daaroor. 

Karakters begin vir my as stemme in my kop vir wie ek eers net dialoë in die konteks van ’n moontlike storielyn uitdink. En dan luister ek maar net of ’n vrou of ’n man die beter karakter vir ’n sekere rol is. Wanneer die stemme eers daar is, word dit makliker om die karakters en gebeure meer soos ’n rolprent in mens se gedagtes te sien. Wanneer ek ernstig aan die storie begin skryf, leer ek hul agtergrond en persoonlikhede beter ken. Soos mens hulle beter leer ken, pas jy gedurig die manuskrip aan.

Kel se suster, Adri, was die karakter wat ek nie aanvanklik beplan het nie. Sy het omtrent halfpad deur die storie saam met die idee van verledemense ontstaan. Die Nuwe Orde klassifiseer verledemense as geestesversteurd. Hulle het nie dieselfde regte as ander volksgenote nie. Inderwaarheid is verledemense egter die verstandiges in ’n samelewing wat met dogma gemanipuleer word om die verdraaide utopie wat die Nuwe Orde vir hulle geskep het, onvoorwaardelik te aanvaar. Maar alles het ’n prys en verledemense besef dat die prys van perfekte orde mense se menswees is. Hul siele.

Toe Kel se lewe begin uitmekaarval, is Adri daar om hom te vang. Kel is die held en Agnes die heldin van die verhaal, maar Adri is hulle albei se verlosser.

Soos sy samelewing, onderdruk die hoofkarakter Kel sy emosies. Was dit moeilik of maklik om hierdie karakter te skep? Verkies jy om meer emosiegedrewe karakters soos sy suster Adri te skep? Of het jy geen voorkeure nie?

Kel was ’n interessante skryfervaring omdat hy in die eerste helfte van die boek sterk teen my instink as skrywer indruis. Emosie is so ’n absolute móét vir storiekarakters dat mens amper nie weet waar om te begin met ’n karakter wat deur sy samelewing geprogrammeer is om emosie te verwerp nie. Toe ek aan hom begin werk het, het ek egter gou besef dat hy – net soos al die ander volksgenote wie se lewens om produktiwiteit en gehoorsaamheid aan die Nuwe Orde draai – bo alles ’n eensame bestaan voer. Ek hoop iets daarvan skemer deur in die boek.

Om hierdie aanvanklik eendimensionele karakter ’n pad deur tyd en ruimte te laat stap waarop hy die diepste menslike lief en leed teëkom, en homself uiteindelik vind, was van die mees bevredigende skryfwerk wat ek nog gedoen het. Hoe verder hy ontwikkel het, hoe meer was daar op die spel vir hom. Dit was vir my spannend en teen die einde ook baie emosioneel. ’n Wonderlike skryfervaring. Ek wil dit net nooit weer doen nie!

Die ander hoofkarakter, Agnes Baumer, is ’n interessante maar tragiese karakter. Sy gee ook die leser insig in die daaglikse struikelblokke wat ’n vrou tydens ’n oorlog in die gesig staar. Wat of wie was die inspirasie vir haar?

Agnes se rol in die verhaal was vir my van die begin af duidelik. Sy leef in ’n ander tyd, maar in ’n wêreld wat sekere parallelle met Kel se wêreld vertoon – parallelle wat daartoe lei dat hy uiteindelik die dogma waarmee hy grootgeword het, begin bevraagteken.

Een boek wat ek vir agtergrond gelees het terwyl ek aan Toekomsmens gewerk het, hét my baie gehelp om beter in haar gedagtewêreld in te kom, empatie vir haar te ontwikkel en ’n sterker karakter van haar te maak. Dit was Eine Frau in Berlin, waarvan daar ook ’n Engelse vertaling, A woman in Berlin, beskikbaar is.

Die outeur is ’n anonieme skryfster, ’n jong vrou van Berlyn wat ’n joernalis was voordat die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het. Sy is eers in 2003 as die joernalis Marta Hillers geïdentifiseer.

Marta Hillers was in Berlyn toe die Russe die hoofstad teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog binnegeval en oorgeneem het en duisende vroue verkrag het om wraak te neem op Duitsland. Sy was self ’n slagoffer, en Eine Frau in Berlin is haar dagboek van daardie maande. Dit beskryf onvoorstelbare swaarkry, hongersnood en alles wat met ’n absoluut haglike situasie gepaardgegaan het.

Ten spyte van alles wat sy deurgemaak het, is die skryfster se werk ongelooflik mooi. Haar krag, haar hoop, die manier waarop sy steeds skoonheid, selfs blydskap in haar nagmerriewêreld raaksien. Hoe sy haar gevoelens en belewenisse verwoord. Die boek het my asem weggeslaan, my so baie as skrywer geleer, en ek dink daardie leeservaring het Agnes se karakter verryk.

Die begrafnisseremonie wat in 2057 vir die hoogste range van die samelewing gehou is, is besonder mooi. Wat het dit geïnspireer?

Biomassaontbinding is ’n gekontroleerde stadige proses in die kapsule waar­van die byproduk lig is. Elke volksgenoot wat in die muur geplaas word se ster­wenslig sal honderd jaar in hierdie saal skyn. Tot dusver is daar sewe ligkapsules in die muur. Die kapsules gloei in individuele pastelkleure. Elke tree deur die saal tot by die helde se laaste rusplekke is in ligstrale vasgelê. Die strale verrys soos dun pilare uit die waterhelder glasvloer oor die senotaaf op en simboliseer die gestorwenes se lewenspad. Wanneer die muur eendag vol is, sal die saal in ’n reënboogsee van lig verspoel. (Toekomsmens, bladsy 124)

Die universiteit van Bath in Engeland het in 2016 ’n kompetisie gehou vir argitekte om begraafplase vir ’n meer omgewingsbewuste toekoms te ontwerp. Benewens die besoedeling wat lykbalsem in die grond, of verassing in die lug veroorsaak, gaan dit ook daaroor dat die spasie in Europa besig is om op te raak. Hier in Switserland word grafte byvoorbeeld herbenut. Dit beteken lyke word ná 25 jaar opgegrawe sodat iemand anders in dieselfde graf gesit kan word. Mens wil liewer nie te diep daaroor nadink nie ...

In elk geval, die ontwerp wat Bath-universiteit se kompetisie gewen het, visualiseer begraafplase in mensgemaakte woude, met kapsules in die bome se takke waarin biomassaontbinding plaasvind. Die kapsules word só ontwerp dat die natuurlike ontbindingsproses lig as ’n byproduk vrystel. Die idee van ’n woud, mense se laaste rusplek saam met voëls in hul neste hoog in die bome, vry van die aarde, hul sterwenslig wat in die bome gloei, is vir my nogal poëties.

Watter soort navorsing doen jy en hoeveel tyd bestee jy aan navorsing voordat jy met ’n boek begin?

Ek doen gewoonlik navorsing terwyl ek aan boeke werk, nie voordat ek begin nie. Geen storie-idee word vir my eg voordat ek daaraan begin skryf nie. Dit is hoekom ek nie veel verder as ’n begin, middel en einde beplan nie. Eers wanneer ek skryf, kan ek sien wat ek nodig het en watter inligting die storie gaan dien.

Soms het mens spesifieke inligting nodig. Vir Toekomsmens moes ek byvoorbeeld baie versigtig oor genetiese ingryping gaan nalees en die werk verstaan voordat ek die hoofstukke wat daaroor handel, kon waag.

Maar regte navorsing gaan vir my meer daaroor dat ek elke middel tot my beskikking gebruik om myself in die storiewêreld te verloor. Gedurende die jare wat ek aan Toekomsmens gewerk het, het ek omtrent uitsluitlik boeke oor fisika, geskiedenis en tegnologie gelees. Op treine, in die bed of wanneer ek gaan stap en iewers in die veld sit om te rus. Ek het ook al die klassieke werke in wetenskapfiksie wat ek nog nie geken het nie, gelees. (Maar ek het nie naastenby by almal uitgekom nie, daar is so baie.) Ek het wetenskapfiksiefilms en dokumentêre films oor die bomaanvalle op Berlyn, Lebensborn en spioenasie gedurende die Tweede Wêreldoorlog gekyk. Alles saam wakker my verbeelding aan om die omgewing waarin die storie afspeel, in my kop te begin sien.

Nog iets wat ’n storiewêreld vir my lewend maak, is musiek. Ek het ’n speellys vir Kel se wêreld en ’n speellys vir Agnes se wêreld op my musiekspeler. Ek het ook ’n speellys vir my Karibib-boeke – en nog steeds die een wat ek vir Diva gebruik het. Dit is vir my ’n onontbeerlike skryfinstrument.

Wat was vir jou die moeilikste of uitdagendste dele van die skryfproses?

Die kort antwoord is: Elke dag.

Dit geld vir elke boek. Ek kan nie vir jou sê hoe moeilik dit vir my is om soggens voor my rekenaar te gaan sit en myself wys te maak dat ek dit vandag gaan regkry om iets te skryf wat iemand sal wil lees nie.

..........

“Hier is die ding van skryfwerk (en die lewe, vermoed ek): Mens is altyd in die boks. Of jy dit wil weet of nie.”

..........

As skrywer wil mens graag glo dat jy vernuwend dink, anders dink as ander skrywers. “Uit die boks,” soos mense sê. En soos die meeste ander mense wil jy nie ’n etiket om jou nek hê nie.

Maar hier is die ding van skryfwerk (en die lewe, vermoed ek): Mens is altyd in die boks. Of jy dit wil weet of nie.

Waarom is die wetenskapfiksie-/fantasie-genre in Afrikaans steeds so klein? Veral in ag genome hoe gewild dit wêreldwyd is?

Dis so klein in Afrikaans omdat die oorgrote meerderheid van boeke in dié genre absolute snert is. Ek blameer die Amerikaners en Britte. Wetenskapfiksie het as pulpliteratuur begin – dit was spotgoedkoop leesmateriaal en enige aap met ’n ooraktiewe verbeelding kon hul werk in pulptydskrifte publiseer. Werke soos Mary Shelley se Frankenstein of Bram Stoker se Dracula was meer ’n gelukslag as iets anders. Nie een van dié twee skrywers het ooit weer iets geskryf wat die moeite werd is om te lees nie.

Ek dink nogtans wetenskapfiksie is wonderlik, want daar is hierdie massiewe oeuvre van die wildste skryfwerk wat mens kan beleef. Dit is so baie pret om daarin rond te krap.

Skrywers soos HG Wells, Philip K Dick, George Orwell, Ursula K Le Guin, Doris Lessing, later Margaret Atwood en selfs Douglas Adams met sy Hitchhiker’s guide to the galaxy het die wetenskapfiksie genre tot ’n groot mate hervorm. Catherynne M Valente se Space opera wat in 2018 verskyn het, was die snaaksste, briljantste boek wat ek in ’n lang tyd gelees het. Daar is wonderlike literatuur as mens net vasbyt met die genre.

Maar wie wil nou vasbyt met ’n genre terwyl ander genres soos misdaad en romanse so baie goeie boeke bevat dat mens amper nie kan hoop om in een leeftyd deur meer as ’n druppel in die emmer te kom nie? Boeke is ook te duur dat mens dit kan bekostig om ’n stapel wetenskapfiksie te gaan koop met die wete dat driekwart daarvan vir jou nul leesbevrediging gaan inhou. Dit is vir my totaal te verstane.

Maar omdat mense dan nie baie wetenskapfiksie of fantasie lees nie, kom Afrikaanse skrywers nie op die idee om in daardie genres te skryf nie. Wanneer jy dit wel doen, moet jy ook uit die staanspoor besef dat baie van jou lesers nie gaan belangstel om jou boek te lees nie, want hulle vertrou nie die genre nie. Die feit dat dit so is, beteken egter nie dat ons as skrywers die genre eenvoudig moet afskryf nie. Dit moet ons eerder aanspoor om ons beste te gee in watter genre ons ook al skryf, sodat lesers nooit ingeloop sal voel wanneer hulle geld op ’n boek spandeer nie. Ek kan nie wag om te sien wat van wetenskapfiksie in Afrikaans gaan word nie.

Tydens die laaste hoofstukke ontdek Kel dat Agnes haar familie in Namibië van hom (die toekomsmens) vertel het. Hul ontmoeting en verhouding het familielegende geword. Beplan jy ’n boek oor die Baumer-familie voor Kel en Anri by hulle in 2057 opdaag?

Wat ’n interessante idee! Ek het nie so iets beplan nie, maar ’n boek oor die Baumer-familie sou dalk ’n interessante projek wees. Of een oor Kel en Adri se kinderjare. Dit is beslis iets om in gedagte te hou.

Die boek se slot vereis ’n opvolg. Is jy tans besig om dit te skryf? Wanneer sal die opvolg verskyn? Kan jy ons asseblief ’n proestukkie van die opvolg gee?

Ek weet die boek se einde voel miskien of daar ’n opvolg moet wees, maar ek beplan dit nie. Ek het die einde ’n bietjie oop gelos omdat dit andersins net tragies vir Agnes kon eindig, as jy daaroor nadink. Ek kan die onvermydelike uitstel deur ’n vervolg te skryf, maar dit sou dan ook net daardie een finale einde kon hê. In plaas van ’n tragedie wou ek eerder hê dat die leser die boek met hoop en nuuskierigheid oor die toekoms kan neersit.

Lees ook: 

Lesersindruk: Toekomsmens deur Isa Konrad

"Om siele vir die Here te wen" – die pastorale rol in tye van kunsmatige intelligensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top