Persverklaring: Cecilia Britz sterf

  • 0

Foto’s van Cecilia Britz: Izak de Vries

Dit is met groot leedwese dat LAPA se personeel verneem het van die afsterwe van Cecilia Britz. Sy is op 12 Desember 2019 oorlede in die hospitaal met die aanvang van ’n prosedure. Op hierdie stadium het die familie gekies om nie verdere detail bekend te maak nie.

Cecilia Britz was bekend vir haar enorme bydrae tot ontspanningsfiksie in Afrikaans.

Britz was eens getroud met ’n diplomaat, maar het uiteindelik as uitgewer begin werk. By die destydse Perskor het sy onder die invloed van Franz Marx begin poog om Afrikaanse lesers terug te wen vir Afrikaans. In haar oë was daar ’n beduidende steun vir die swaarder letterkundige werke, maar Afrikaanssprekendes het Engels gelees wanneer hulle wou ontspan. Dit wou sy verander.

Marx het haar laat verstaan dat sy boeke moes bemark as vermaak en Britz het ’n diepgaande studie begin van hoe die mark vir Amerikaanse lekkerleesfiksie werk.

Ná Perskor deur die destydse Maskew Miller Longman oorgekoop is, het Britz as Huisgenoot se verhale-redakteur gewerk.

LAPA Uitgewers het haar in daardie stadium genader en sy het ’n ruk lank op ’n vryskutbasis vir die maatskappy gewerk.

Op 1 Desember 2004 het sy voltyds by LAPA aangesluit en legendes is gebore.

Een van haar bekende suksesse was LAPA se Romanza-reeks wat in 2020 vyftien jaar oud sal wees.

Britz het tot en met haar aftrede in 2018 by LAPA gewerk, maar het aan almal vertel dat sy sou “mal word” as sy by die huis moes sit en het gewoon op ’n kontrakbasis aanhou werk aan LAPA se fiksie.

Agter die skerms was Britz egter ook besig om ’n volgende generasie uitgewers op te lei.

Sy was baie trots op haar bydrae tot die enorme groei in lekkerleesfiksie. Toe sy na aan aftree was, sou sy dikwels haar wrang sin vir humor uitstal deur te verklaar dat sy met niks anders as ’n standbeeld tevrede sou wees nie. Toe die ATKV dus op 2018 ’n spesiale Woordveertjie aan haar toegeken het vir haar bydrae tot die uitgewersbedryf, het sy van die verhoog af gesê dat sy dankbaar was om “uiteindelik” ’n standbeeld te kry.

Sylvia de Wet, LAPA se uitvoerende direkteur, het die personeel van haar afsterwe ingelig en het afgesluit met: “Ons innige medelye aan Cecilia se kinders, kleinkinders en familie, ons bid vir almal en dra hul op aan onse Vader in die moeilike omstandighede!”

Die roudiens vind Vrydag 20 Desember om 12:45 te Summerplace, Boksburg in Gauteng, plaas.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top