Lesersindruk: Toekomsmens deur Isa Konrad

  • 0

Titel: Toekomsmens
Skrywer: Isa Konrad
Uitgewer: LAPA Uitgewers
ISBN: 9780639605234

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Pretoria, 2057. Dertig jaar ná Johannesburg in ’n spookstad verander het, word die Nuwe Republiek van Suid-Afrika deur die Toekomsparty en ’n Raad van Twaalf regeer. Kel de Jong werk as ’n programmeerder in die Intelligensieburo. Sy geordende lewe word in chaos gedompel wanneer ’n militêre observasiesatelliet ’n jong kind op die verlate N1 tussen Pretoria en Johannesburg ontdek. Op dieselfde dag word In-Grid, die Intelligensieburo se sentrale kunsmatige intelligensie, in ’n aanval vernietig. In die chaos wat volg, aktiveer Kel In-Grid se prototipe en ontdek dat dit die herinneringe van Agnes Baumer bevat, ’n vroulike spioen in Duitsland gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Met behulp van tydreise ontdek Kel in die verre verlede die waarheid agter die gebeure in sy hede.

Isa Konrad se jongste boek, Toekomsmens, is ’n wetenskapfiksieverhaal. Die Suid-Afrikaanse samelewing van 2057 is gestroop van emosie, vriendskap en menslikheid. Jou waarde as mens word aan jou produktiwiteit gekoppel.

Die hoofkarakter, Kel de Jong, is ’n trotse volksgenoot van die sesde rang. Hy volg gedwee die Nuwe Orde se reëls totdat In-Grid, die Intelligensieburo se sentrale kunsmatige intelligensie, in ’n aanval vernietig word. In ’n ondersoek om te bepaal hoe In-Grid vernietig is, ontdek Kel ’n prototipe wat hom terug neem na die Tweede Wêreldoorlog en die lewe van Agnes Baumer, ’n spioen.

Die aksie skop in hoofstuk 10 af. Die voorafgaande hoofstukke is nodige agtergrondinligting; hierdie hoofstukke trek die leser in die verhaal in, maar dit kon korter geskryf gewees het.

Die suksesvolle wyse waarop die twee tydperke verweef is, is te danke aan die beskrywing van elke samelewing. Die leser word gevestig in die wêrelde deur Kel en Agnes se belewing van die gebeure. Kel se ontwaking van getroue volgeling tot reëloortreder is geloofwaardig, en word beïnvloed deur sy besoeke aan Agnes se lewe en sy suster, Adri, wat as ’n “verledemens” beskou word. Sy indoktrinasie is by tye irriterend, want dit voel asof hy sy mag as individu weggee. Adri, wat aanvanklik ’n vergeetbare randkarakter is, ontwikkel tot ’n sterk vrou wat ’n soortgelyke invloed as Agnes op hom het. 

Kel en In-Grid se verhouding word nie vir my volledig ontwikkel nie. Hierdie verhouding is fassinerend, want In-Grid is Kel se beste vriend, maar sodra In-Grid vanuit die donker web verskyn, is hul verhouding weer eens formeel. 

’n Ander kwelpunt is hoofstuk 34. In hierdie hoofstuk word Agnes se dood beskryf, maar selfs nadat sy dood is, lewe haar bewussyn nog voort. Dit is onduidelik of dit Agnes die mens of Agnes die masjien is.  

Isa skep met Toekomsmens ’n interessante storie wat die leser intrek. Lesers van wetenskapfiksie sal makliker die boek kan lees en verwerk. Die skrywer se woordgebruik is mooi sonder om onnodig blommerig te wees.

Lees ook: 

Toekomsmens deur Isa Konrad: ’n onderhoud

"Om siele vir die Here te wen" – die pastorale rol in tye van kunsmatige intelligensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top