Toegepaste taalkunde in Afrikaans met redakteurs WAM Carstens en TJ van Dyk: ’n lesersindruk

  • 0

...
’n Besprekingspunt wat herhaaldelik in die 38 hoofstukke na vore tree, is die noemenswaardige gapings in bestaande navorsing, en die amper eindelose moontlikhede wat daar vir verdere studie bestaan.
...

Toegepaste taalkunde in Afrikaans
WAM Carstens en TJ van Dyk (redakteurs)
Van Schaik
ISBN: 9780627039706

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur. 

Toegepaste taalkunde in Afrikaans (TTIA) kan beskryf word as ’n handboek wat as oorsigtelike inleiding en vertrekpunt vir die studie van die toegepaste taalkunde kan dien. Dit is baanbrekerswerk, want alhoewel daar goeie bronne oor die onderwerp beskikbaar is, is daar nog nooit iets soortgelyk in Afrikaans gepubliseer nie. TTIA bied ’n blik op die toegepaste taalkunde wat die Afrikaanse perspektief deeglik verreken, en waarin die vraagstukke wat Suid-Afrika in die algemeen en Afrikaans in die besonder in die gesig staar, deurlopend ’n sentrale fokus vorm. Met 38 uiteenlopende hoofstukke, waarvan sommige onderwerpe behandel waarvan ek gevaarlik min weet, is dit nie moontlik of wenslik om hier op elkeen van die hoofstukke kommentaar te lewer nie, en word ’n seleksie gemaak gebaseer op persoonlike voorkeur.

...
Ek meen ook nie dat TTIA die soort boek is wat ’n mens juis wil saamneem see toe na ’n lang, harde jaar nie. Tog behoort die lees daarvan vir enige persoon wat lief is vir taal, ’n verrykende oefening te wees
...

Die akademiese ontwikkeling van die toegepaste taalkunde is ’n onderwerp wat as ’n goeie vertrekpunt vir die studie van toegepaste taalkunde ingespan word. Benewens die oorsigtelike inleiding in die eerste hoofstuk word die leser spoedig getrakteer op die historiese en filosofiese fondasies van die vakgebied. Historiese kontekstualisering vorm deurlopend ’n belangrike aspek van die meeste van die hoofstukke, en mens het waardering vir die moeite wat die skrywers aan die dag lê om historiese agtergrond te verskaf. Toegepaste taalkunde se ontwikkeling word veral terugherlei na die 20ste eeu, waar die Tweede Wêreldoorlog (1939–1945) as belangrike katalisator beskou word in die ontwikkeling van dié studieveld. Volgens Van Dyk het die oorlog daartoe gelei dat mense wat selde of nooit met mekaar in kontak was nie, skielik moes saamwerk, en kommunikasiegapings het ontstaan. Dit het weer die weg gebaan vir die toegepaste taalkunde se “sistematiese ondersoeke na taalverwerwing en tweedetaalonderrig” (bl 4). Met dit in gedagte, is dit te verwagte dat ’n aansienlike gedeelte van TTIA sou fokus op die verwerwing en aanleer van taal. Vanuit die filosofiese perspektief is die kernvraag waarmee toegepaste taalkundiges hul bemoei, die vraag of die toegepaste taalkunde ’n eie bestaansreg het, en of dit eerder deel van die tradisionele studie van taal vorm. Die toegepaste taalkunde is ’n toegepaste akademiese dissipline. By implikasie is toegepaste dissiplines studierigtings wat nie die tradisionele pad gevolg het in die ontwikkeling daarvan nie. Dis ’n omgekeerde proses, waar daar eers ’n spesifieke behoefte ontstaan, wat dan deur die akademie aangespreek word, in teenstelling met tradisionele wetenskappe.

Alhoewel die aanleer van tweede en vreemde tale grotendeels as die wortels van die toegepaste taalkunde beskou word, is dit nie die aspek van toegepaste taalkunde wat primêr my belangstelling in die onderwerp die meeste prikkel nie, en kan ek geen goeie ingeligte opinie oor hierdie hoofstukke gee nie, behalwe om te noem dat die outeurs op die oog af met gesag oor hulle onderskeie onderwerpe skryf. Die studie van taalverwerwing vind veral neerslag in die nege hoofstukke van deel 2 onder die titel “Taal en onderrig”, waar daar onder meer stilgestaan word by onderwerpe soos sillabus- en kursusontwerp, klaskamerassessering, die onderrig van lees, tweede- en vreemdetaalverwerwing en rekenaargesteunde taalonderrig.

Identiteit en politiek is twee van die verdere fassinerende onderwerpe waarmee toegepaste taalkundiges hulle besighou. In die hoofstuk “Taal, identiteit en nasievorming” skryf Charlyn Dyers dat “beide Engels en Nederlands as ampstale verklaar” is in 1925, “en toe die Nasionale Party aan bewind kom in 1948, het Afrikaans en Engels die twee ampstale van Suid-Afrika geword” (268). Dit is miskien nie heeltemal korrek nie, want Nederlands is reeds in die 1909 Uniewet (wat in 1910 van krag geword het) as ’n amptelike taal erken. Die parlement het egter in 1925 die wetgewing so gewysig dat Afrikaans effektief terugwerkend tot 1910 as landstaal erken is, omdat die betekenis van die woord “Nederlands” uitgebrei is om ook Afrikaans in te sluit.[1] 1925 word gevolglik as die de jure-ontstaan van Afrikaans erken, en dit is ook die rede hoekom daar so ’n groot fees vir 2025 beplan word, ter herdenking van die 100 jaar sedert die staatkundige en juridiese aanvaarding van Afrikaans. Iets om dalk hierby in gedagte te hou is die volgende: Anne-Marie Beukes herinner ons in ’n hoofstuk getiteld “Taalpolitiek” aan die skrywer Jan Rabie (1920–2001) se gevolgtrekking in ’n referaat wat hy in 1973 by die Universiteit van Wes-Kaapland gelewer het, “dat die Afrikaanse taal hierdie land se grootste veelrassige prestasie tot dusver is” (331).

Die bekende Vrystaatse taalkundige Theodorus du Plessis, behartig twee hoofstukke wat ten nouste verweef is, getiteld “Taalbeplanning” en “Taalbeleid”. In sy bespreking van die begrip “ontplanning”, ’n proses waarvolgens bestaande taalbeplanning veral weens politieke veranderinge ongedaan gemaak word, betrek hy die voorbeeld van die Universiteit van die Vrystaat, en die proses wat die instelling gevolg het om Afrikaans te verwyder en slegs Engels in klasse te gebruik.

Die verskynsel van tolking kom in hoofstuk 20 aan bod. Daar is ook interessante hoofstukke oor onderwerpe soos vertaalkunde (hoofstuk 21) en teksredigering (hoofstuk 22). Die boek bevat ’n fassinerende hoofstuk oor Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SAGT). Sedert die hoofstuk in 2021 geskryf is, het SAGT verhoogde status verkry as een van Suid-Afrika se 12 amptelike tale. Die hoofstuk lê weer eens sterk klem op historiese ontwikkelinge, en dek sake soos die ontwikkeling van skole en woordeboeke vir gebaretaal. In afdeling vyf, getiteld “Verwante dissiplines”, is forensiese linguistiek en psigolinguistiek van die verskeie interessante hoofstukke.

In die finale hoofstuk, “Die linguistiese landskap / linguistiese landskapstudies”, skryf Chrismi-Rinda Loth dat die woord “cheetah”, die Engelse woord vir “jagluiperd”, gereeld in Afrikaans gebruik word (771). Dit het my laat wonder hoeveel van die gedeelde woordeskat van Afrikaans en Engels dikwels veel meer as die “eiendom” van Engels beskou word as van Afrikaans. Dié twee tale word immers deur taalkundiges as familie beskou, is beide deel van die Indogermaanse taalfamilie, en deel aansienlike gedeeltes van die leksikon. Loth se opmerking het my as passievolle ondersteuner van die Vrystaatse rugbyspan (welbekend as die Cheetahs) dermate ontstel dat ek my tot uitgebreide ondersoeke van woordeboeke, beide in die biblioteek en aanlyn, moes wend, waaruit dit blyk dat “cheetah” etimologies na Hindi/Sanskrit terugherlei word, maar duidelik ook as erkende Afrikaans beskou word en onder meer opgeneem is in die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Benewens hierdie netelige saak, bied Loth egter ’n heel skaflike hoofstuk oor nog een van daardie studieonderwerpe van die toegepaste taalkunde waarvan ek tot op hede nog nie eens van gehoor het nie. Linguistieselandskapstudie is, in kort, ’n studie van hoe taal aangewend word op publieke kennisgewings en advertensieborde. Dit sluit ook nogal goed aan by die hoofstuk van Angelique van Niekerk getiteld “Advertensietaal”.

TTIA roem nie op volledigheid nie, maar is so na aan volledig ten opsigte van die toegepaste taalkunde as wat mens tot op hede in Afrikaans kan kom. ’n Besprekingspunt wat herhaaldelik in die 38 hoofstukke na vore tree, is die noemenswaardige gapings in bestaande navorsing, en die amper eindelose moontlikhede wat daar vir verdere studie bestaan. Die Suid-Afrikaanse konteks met betrekking tot taal en samelewing is uitdagend, en interdissiplinêre studies, wat ’n algemene verskynsel binne die toegepaste taalkunde is, bied goeie geleenthede om van die tekortkominge aan te spreek. Hoewel die toegepaste taalkunde talle praktiese toepassings het, verval van die hoofstukke soms in eindelose beskrywings, en is die toepassings nie in al die hoofstukke vir my mooi duidelik belig nie. Ek meen ook nie dat TTIA die soort boek is wat ’n mens juis wil saamneem see toe na ’n lang, harde jaar nie. Tog behoort die lees daarvan vir enige persoon wat lief is vir taal, ’n verrykende oefening te wees, en veral vir voornemende studente. Dit is ’n akademiese boek, maar sal vir enige belangstellende leser toeganklik wees, aangesien die outeurs moeite doen om vakterme te verduidelik.

Eindnota

[1] Die wetboeke van daardie jare het eintlik die woord “Hollands” in plaas van “Nederlands” gebruik. Die suidelike variante van Nederlands het ’n gewigtiger historiese invloed op Afrikaans uitgeoefen as die noordelike variante. ’n Goeie bondige uiteensetting van hoe die wetgewing in 1925 aangepas is, kan gevind word op Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument se webwerf: “8 Mei 1925 – Afrikaans word ’n amptelike taal”, https://www.taalmuseum.co.za/8-mei-1925-afrikaans-word-n-amptelike-taal-2 sonder datum; 19 November 2023 geraadpleeg.

Lees ook:

LitNet Akademies-resensie-essay: Toegepaste taalkunde in Afrikaans, WAM Carstens & TJ van Dyk (redakteurs)

LitNet loof maandelikse Crito-prys vir lesersindrukke uit

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top