Om ’n taal formeel as skryftaal te kodifiseer, is ’n komplekse proses wat nóú verweef is met die politieke en sosiale leefwêreld van die taal se sprekers. Oor die afgelope eeu het die Taalkommissie van die Suid‑Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns die taak gehad om Afrikaans as skryftaal te help vestig. Aan die een kant neem die Taalkommissie leiding deur reëls vir die eenvormige spelling en skryfwyse van Afrikaans aan gebruikers beskikbaar te stel. Aan die ander kant reflekteer die Taalkommissie se werk die altyd groeiende woordeskat, segswyse en behoeftes van Afrikaans se skrywende gemeenskap. Die resultaat van dié opdrag word telkens weerspieël in ’n nuwe uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls as Afrikaans se oudste lewende taalhulpbron.
Sedert 1917 het elf Taalkommissies elf uitgawes van die AWS die lig laat sien terwyl daar in Suid-Afrika en in die wêreld rondom hulle belangwekkende gebeurtenisse afgespeel het wat noodwendig op elke uitgawe van die AWS hulle tekens gelaat het.
In die eerste virtuele aanbieding van vyf, op Dinsdag 23 April 2024, het drie lede van die huidige Taalkommissie, Jana Luther, Fred Pheiffer en Annelise de Vries, ’n kort oorsig aangebied oor aspekte van die geskiedenis van Afrikaans wat in wisselwerking met die normering daarvan gestaan het.
Onder die vergrootglas was:
- die ontstaansgeskiedenis van die AWS
- belangrike gebeurtenisse in die Suid-Afrikaanse geskiedenis wat op die kodifisering van Afrikaans as skryftaal ingewerk het
- die AWS en die WAT
- die AWS en die Afrikaanse Bybelvertaling
- die AWS en vaktaal
- anglisismes
- taalbeplanning
Die lesing is intyds aangebied, ingelei deur die TK-voorsitter, Suléne Pilon, en met geleentheid vir vrae aan die einde. (Rol ondertoe om die lesings te bereik; die skakels is onderaan hierdie artikel geplak.)
Hier onder, met dank en erkenning aan die Taalkommissie gepubliseer, verskyn ’n opsomming van die volgende twee bydraes: Suléne Pilon en Jaco du Toit se bydraes by die geleentheid – lesings nommer 2 en nommer 3, gesamentlik hier gepubliseer.
Die hooftaak van die Taalkommissie (TK) is om die inhoud van die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) by te werk sodat dit tred hou met veranderinge wat in formele, geskrewe Afrikaans plaasvind. In die tweede en derde lesings in die TK-lesingreeks (op 30 April en 7 Mei 2024) is die inhoud van die AWS bespreek. Hierdie opsomming van die lesings begin met ’n bespreking van die begrip en term standaardtaal en hoe die TK daaroor dink. Daar word ook kortliks aandag geskenk aan die aard van die AWS om sodoende duidelik te maak watter tipes vrae met behulp van inligting in die AWS beantwoord kan word. Daarna word die inhoud van die AWS van nader bekyk – met spesifieke verwysing na verskille tussen die 2017-AWS en vorige AWS’e, en kwessies wat taalgebruikers dikwels laat kopkrap.
Standaardtaal en die AWS
Die TK beskou Standaardafrikaans as daardie variëteit van Afrikaans wat meestal in formele kontekste as hoëfunksiekommunikasiemiddel gebruik word. Dit is die komplekse resultaat van taalverandering en wysigings oor ’n tydperk van meer as 100 jaar en die dinamiese, lewende produk van kontak tussen verskillende variëteite wat in die Afrikaanse taalgemeenskap in die breë gebruik word. Die TK moedig daarom die ontwikkeling en gebruik van al die variëteite van Afrikaans in verskillende kontekste aan, omdat die standaardvariëteit gevoed en op die lange duur verander en gewysig word deur ontwikkelinge en aanpassings in die variëteite.
Die standaardvariëteit van Afrikaans is, sedert dit die eerste keer in 1917 in die AWS opgeskryf is, deurgaans ’n produk van die tydsgees waarin dit beskryf is. So sien ons tot in 1964 ’n eksplisiete vernederlandsing van die standaardvariëteit. Hierdie vernederlandsing hou direk verband met die anti-Engelse sentiment wat daar na die Suid-Afrikaanse Oorlog in Afrikaanse geledere geheers het, en daar was dus ’n doelbewuste poging om die standaardvariëteit van Afrikaans minder na Engels en meer na Nederlands te laat lyk. Hierdie doelbewuste poging blyk byvoorbeeld uit die feit dat die grondbeginsels van die Afrikaanse spelling, soos in elke AWS vervat, in hierdie periode telkens eksplisiet na Nederlands verwys het: Afrikaanse spelling moes rekening hou met die amptelike Nederlandse spelling.
In die 1991-AWS is die verwysing na Nederlands in die grondbeginsels vervang met die woorde “die tradisie van Standaardafrikaans”, en die opbloei van Afrikanernasionalisme in die tydperk tussen die 1964- en die 1991-AWS word ook op ander maniere in die standaardvariëteit weerspieël. So byvoorbeeld sien ons in die woordelys van die 1991-AWS ’n toevoeging van baie nuwe terminologie wat geskep is vir nuwe bedrywe wat in die land ontwikkel het. Die 2002-AWS weerspieël ’n pragmatiese benadering tot normering, en dié AWS is baie meer gebruiksvriendelik as sy voorgangers. Weer eens is dit ’n weerspieëling van die tydsgees waar daar in die algemeen ’n meer gebruikersgerigte ingesteldheid heers – veral wat tegnologie betref.
Na die publikasie van die 2002-AWS betree die TK die digitale era. Afrikaanse korpora raak meer geredelik beskikbaar en die standaardiseringsproses kan toenemend op ’n meer datagedrewe wyse aangepak word. Gebruikers van die AWS kan in hierdie tyd op verskillende maniere by die werksaamhede van die TK betrek word – veral deur middel van sosiale media, en die 2009- en 2017-AWS’e word ook elektronies, en nie meer net as papierboek nie, beskikbaar gestel (alhoewel dit in die geval van die 2009-AWS net ten dele was).
Die huidige tydsgees het uiteraard ook ’n invloed op die werk wat die TK tans doen en sal ook die standaardvariëteit wat in ’n volgende AWS beskryf word, affekteer. Die aard van die standaardiseringsproses word toenemend meer gebruiksgebaseerd, en soos wat meer korpora van formele, geskrewe Afrikaans beskikbaar word, brei die data waarop TK-besluite gebaseer word, uit. Groot taalmodelle wat met Afrikaanse data afgerig is, word ook meer geredelik beskikbaar en dit kan potensieel ook ’n groot invloed hê op die werkswyse van die TK. Ons is ook deurgaans besig om pogings aan te wend om die bron meer gebruikersvriendelik te maak.
Die aard van die AWS
Die 2017-AWS fokus op hedendaagse, formele, geskrewe Standaardafrikaans en slegs die spelling en skryfwyse van hiérdie variëteit word in die AWS bereël. Dit is ’n hibridiese naslaanbron met eienskappe van woordeboeke en ook van ander bronne, soos ensiklopedieë.
As woordeboek gee die AWS antwoorde op vrae soos:
- Hoe spel/skryf ek ’n bepaalde woord? Meer spesifiek, byvoorbeeld:
- Word kommissie met twee m’e gespel?
- Is ’n bepaalde woord in Standaardafrikaans erken? Meer spesifiek, byvoorbeeld:
- Kan ek die woord app gebruik wanneer ek ’n koerantartikel skryf?
- Wat is die korrekte vorm van ’n woord? Meer spesifiek, byvoorbeeld:
- Wat is die verlede tyd van probeer?
- Wat is die meervoud van kompromis?
- Wat is die oortreffende trap van gesout?
Die AWS bied egter ook ander inligting, wat eerder tuishoort in ensiklopediese bronne, aan gebruikers. Hierdie ensiklopediese inligting sluit onder andere in die spelreëls, ’n terminologielys waarin taalkundige konsepte verklaar word, leiding wat transliterasie betref, ’n lys van buitelandse geografiese eiename en afleidings daarvan, en ’n lys landname met geldeenhede en ISO-kodes. Met hierdie dele van die AWS kan vrae soos die onderstaande beantwoord word:
- Wat is die reël wat bepaal dat ons alzheimers skryf, maar Alzheimer se siekte?
- Wat is ’n meerledige eienaam en hoe word die afleidings daarvan geskryf?
- Hoekom skryf ons in Engels Moscow, maar in Afrikaans Moskou?
- Hoe spreek ek Beijing uit in Afrikaans?
- Wat noem ons ’n inwoner van Djakarta?
- Wat is die geldeenheid van Serwië?
Die TK is ook deurgaans besig om te werk aan addisionele hulpmiddels wat vir gebruikers van die AWS van nut sal wees. So het ons byvoorbeeld reeds sedert die publikasie van die 2017-AWS ’n transliterasietabel van Oekraïens op ons webwerf beskikbaar gestel. Ons werk ook tans aan verskeie ander sulke tabelle (byvoorbeeld vir Arabies, Grieks en Jiddisj). Ons is ook besig om ’n lys van Suid-Afrikaanse en Namibiese plekname te finaliseer.
Die 2017-AWS: Woordelys
Daar is ongeveer 2 000 nuwe lemmas bygevoeg in die woordelys van die 2017-AWS. Hierdie toevoegings sluit verskeie unieke benoemers uit Afrikaans se gebruikersvariëteite in, waaronder antie, dhaltjie (soort gereg), gangster (lid van 'n kriminele bende), motjie (eggenote/bejaarde vrou), poenankies (oulik) en tok (uit sport). Daar is ook talle toevoegings wat ontwikkelinge in die tegnologie weerspieël, soos googleloer, hommeltuig, klusterberekening (uit rekenaarwese), meem (uit rekenaarwese), selfie, spelifiseer ('n spel maak van), videoblog of vlog, warsender en whatsapp (as werkwoord).
Ander toevoegings illustreer ontwikkelinge wat in die samelewing plaasgevind het. Voorbeelde hiervan sluit in Antroposeen, bewarea, biodiversiteit, BRICS-land of Bricsland, bystanddood, dokudrama, Ebola of Ebolavirus, geopolitiek, geopolities, hidrobreking, kleptokrasie en waterskaarste. Daar is ook verskeie leenwoorde wat unieke benoemers is, opgeneem, waaronder breyani of brijani (soort gereg), brötchen, brownie (sjokoladebruintjie), Chanoeka (Joodse fees), charcuterie, gladdejantjie, falafel (soort gereg), muffin, nurk (die geluid wat seekoeie maak), shtetl of sjtetl (Joodse dorpie) en venue.
Daar is ook ongeveer 700 lemmas uit die woordelys geskrap. Dit sluit in verouderde woorde, soos hangar, insinje en standerdsesleerling, woorde wat nie meer in Afrikaanse korpora voorkom nie, soos dartelheid, hoofkaas en ikosaan, en potensieel aanstootgewende woorde. Daar is ook wysigings gemaak aan ongeveer 800 woordelysinskrywings. Hierdie wysigings is meestal gedoen as gevolg van ’n aanpassing van die spelreëls, soos in die geval van Nuwe Testamentikus en top‑ akademiese presteerder. Daar is ook paradigmatiese wysigings aangebring, soos in die geval van inskrywings wat met religie te make het. Ander wysigings was korreksies, soos in die geval van barones (was barones of baronnes) en vir seker (was verseker of vir seker).
Die 2017-AWS: Spelreëls
Daar is heelwat wysigings in die spelreëls van die 2017-AWS aangebring. Die grootste toevoeging tot hierdie afdeling is die twee nuwe hoofstukke wat bygekom het. Die eerste is ’n hoofstuk wat handel oor die manier waarop trappe van vergelyking in Afrikaans gevorm word. Die belangrikste rede waarom hierdie hoofstuk toegevoeg is, is dat die reëls wat dikwels aan leerders op skool geleer word, foutief is. So byvoorbeeld word daar dikwels gesê dat die vergrotende en oortreffende trap van woorde wat drie of meer lettergrepe het, met meer en mees gevorm moet word. Hierdie reël is egter van toepassing op Engels en is nie ’n reël wat in enige Afrikaanse bron gevind kon word nie. Die verstekreël in Afrikaans is om trappe van vergelyking met -er en -ste te vorm – selfs by woorde wat drie of meer lettergrepe het. Jy moet dus skryf algemener en algemeenste en nie *meer algemeen en *mees algemeen, of, erger nog, *mees algemeenste nie.
Die ander nuwe hoofstuk handel oor leestekens. Hierdie hoofstuk bevat 91 reëls wat in aparte afdelings vir elke leesteken verdeel is. Alhoewel publikasiespesifieke riglyne oor leestekengebruik oor die jare heen in verskillende stylgidse vasgelê is, is dit die eerste keer dat so ’n omvattende stel reëls in Afrikaans verskyn. Die TK het besluit om hierdie hoofstuk by die AWS in te sluit omdat daar dikwels navrae van gebruikers oor leestekens aan die TK gerig is, en ook omdat leestekengebruik natuurlik ook deel van die ortografie van Afrikaans is.
Die spelreëls in die AWS bevat inligting wat te make het met spelling en skryfwyse. “Spelling” behels die letters wat in ’n woord gebruik moet word, en die reëls in die AWS wat hieroor handel, bereël die gebruik van konsonante, vokale en skryftekens (byvoorbeeld die deelteken, kappie, akuut- en gravisteken). Ander relevante kwessies sluit in die spelling van wisselvorme (dus: Watter wisseling word daar toegelaat in die spelling van woorde?), die spelling van woorde van vreemde herkoms (dus: Hoe moet woorde wat aan ander tale ontleen word, in Afrikaans gespel word?), en transliterasie (dus: Hoe spel ons woorde uit tale wat nie van die Romeinse alfabet gebruik maak nie?).
“Skryfwyse” behels hoe ’n woord geskryf moet word, en daar is twee belangrike skryfwysekwessies wat in die AWS bereël word, naamlik hooflettergebruik, en of woorde los of vas geskryf moet word. Dit is veral hierdie skryfwysekwessies wat vir skrywers van Afrikaans problematies kan wees, en ’n paar problematiese sake wat met hooflettergebruik en los en vas skryf te make het, word daarom kortliks hier onder uiteengesit.
Hoof- en kleinletters
By verstek word woorde in Afrikaans met kleinletters geskryf, behalwe aan sinsbegin of by eiename. Aan sinsbegin kry die eerste woord tipies ’n hoofletter, byvoorbeeld in Sewe mense was by die partytjie. As ’n sin met ’n getal begin, word die woord wat op die getal volg, met ’n kleinletter geskryf, byvoorbeeld 7 mense was by die partytjie. By ’n sin wat met die onbepaalde lidwoord ’n begin, kry die woord wat op die lidwoord volg, ’n hoofletter, byvoorbeeld ’n Stuk of 7 mense was by die partytjie.
Eiename begin met ’n hoofletter, ongeag waar in ’n sin hulle voorkom, byvoorbeeld Die Antroposeen pla vir Susan wat in Hoopstad sit en verlang na die Oranjerivier. Alhoewel dit waarskynlik vir die meeste Afrikaansskrywers maklik is om ’n eiename te identifiseer en korrek te skryf, is daar ’n paar problematiese kwessies wat verdere bespreking nodig het, naamlik aanhef- en aanspreekvorme, gewone plant- en diername, afleidings van eiename, en eienaamverbleking.
Aanhef- en aanspreekvorme
Reël 9.4 in die 2017-AWS bepaal dat ’n aanspreekvorm sonder ’n eienaam in die aanhef van ’n brief, e-pos en ander soortgelyke skrywes met ’n hoofletter moet begin. Jy moet dus begin met Liewe Ma, Geagte Meneer, Beste Kollegas en ook Hallo Julle. Wanneer daar wel ’n eienaam in so ’n aanhef voorkom, moet die nie-eienaamgedeelte met ’n kleinletter geskryf word, byvoorbeeld Liewe tannie Marie, Beste mnr Van Zyl en Geagte president Ramaphosa. Aanspreekvorme wat nie eiename is nie en wat ook nie ’n eienaam bevat nie, kan met hoof- of kleinletter geskryf word, byvoorbeeld Wil ma/Ma nog koffie hê? Wanneer ’n aanspreekvorm wel ’n eienaam bevat, word die nie-eienaamgedeelte met ’n kleinletter geskryf, byvoorbeeld Wat is jou vraag, meneer Gouws?
Gewone plant- en diername
Die gewone name van plante en diere word in Afrikaans met kleinletters geskryf. Dit geld selfs in gevalle waar die naam ’n ander eienaam as eerste deel het. Jy moet dus skryf Die zambezihaai het ’n gaboenadder en ’n tahitikastaiing ingesluk. Wanneer die afgeleide vorm van ’n (veral geografiese) naam egter gebruik word, behou die afleiding ’n hoofletter, byvoorbeeld Ons het vandag ’n trop Afrikaanse olifante, ’n Rhodesiese katjiepiering en ’n Transvaalse wurmslang gesien. Daar is enkele uitsonderings op hierdie reël:
- Wanneer ’n multiwoordeienaam die eerste deel van so ’n plant- of diernaam is, word die hoofletters van die multiwoordeienaam behou, byvoorbeeld Ek het ’n Jack Russell-terriër en ’n Major Mitchell‑kaketoe as troeteldiere, en my gunstelingplant is ’n Piet Retief‑broodboom.
- Om tradisionele redes kan die name van diererasse, kultivars en plantvariëteite met hoof- of kleinletters geskryf word, byvoorbeeld My oom het jerseys/Jerseys en hubbardpampoene/Hubbardpampoene op sy plaas.
- Gewone plant- en diername wat as handelsmerke geregistreer is, moet geskryf word soos wat dit geregistreer is, byvoorbeeld Ek hou baie van Peppadew® op pizza.
Afleidings van eiename
Naamwoorde en adjektiewe wat van eiename afgelei is, kan met hoof- of kleinletters geskryf word, byvoorbeeld Die darwinis/Darwinis hang ’n boeddhistiese/Boeddhistiese lewensfilosofie aan. Daarteenoor moet werkwoorde wat van eiename afgelei is, met ’n kleinletter geskryf word, byvoorbeeld Ek het gister gegoogle om meer uit te vind oor hoe die Weste amerikaniseer. Dit geld ook vir afleidings van taalname, byvoorbeeld Leenwoorde kan verafrikaans word.
Uitsonderings op hierdie reël sluit in afleidings van multiwoordeiename (byvoorbeeld New York en Ou Testament), saamgestelde eiename met ’n koppelteken (byvoorbeeld KwaZulu-Natal en Suid-Afrika), geografiese name (byvoorbeeld Afrika, Noordwes en Spanje) en taalname (byvoorbeeld Latyn, Nederlands en Slawies). In afleidings wat van hierdie eiename gevorm word, word die skryfwyse van die eienaam wat hoof- en kleinletters betref, behou (dit sluit werkwoorde wat van geografiese name en taalbenamings afgelei is, uit). Hier onder volg ’n lys voorbeelde.
- Multiwoordeiename
- New Yorker, Ou Testamentikus
- Eerste Wêrelds, Nuwe Testamenties, Dooie Seeagtig
- New Yorkifiseer
- Saamgestelde eiename met koppelteken
- KwaZulu-Nataller, Suid-Afrikaner
- Anglo-Amerikaans, Saoedi-Arabies
- ver-Suid-Amerikaans
- Geografiese name
- Afrikanis, Noordwester, Spaans
- Alpyns, Niloties
- (amerikaniseer)
- Taalname
- Latinis, Nederlandikus, Slawistiek
- Latyns, Germanisties
- (verfrans)
Eienaamverbleking
Verbleking is ’n semantiese proses waar betekenisverskuiwing plaasvind. By eienaamverbleking behels die proses dat die eienaam meer soos ’n soortnaamwoord word omdat dit begin verwys na ’n tipe eerder as na ’n spesifieke persoon, instansie, plek, ens. Die eienaam Afrodite verwys byvoorbeeld na ’n baie spesifieke Griekse godin (of na iemand anders spesifieks wie se naam Afrodite is), maar enige mooi vrou kan ’n afrodite wees – dan verwys afrodite nie meer na ’n spesifieke persoon met dié naam nie, maar na ’n tipe vrou, en dan begin dit gewoonlik met ’n kleinletter. Nog voorbeelde sluit in:
- Adolf Hitler (persoon) > hitler (nazistiese persoon)
- Cutex (handelsnaam) > cutex (enige naellak)
- Lesbiër (inwoner van Lesbos) > lesbiër (homoseksuele vrou)
- Rudolf Diesel (spesifieke persoon) > diesel (tipe brandstof)
- Tipp-Ex (handelsnaam) > tippex (enige korrigeervloeistof)
Los en vas skryf
Die dele van komplekse woorde word altyd aan mekaar vas geskryf. Maar dit is natuurlik nie altyd maklik om te onderskei tussen afsonderlike woorde en die dele van komplekse woorde nie. Dit is juis daarom dat mense dikwels sukkel met los en vas skryf, en dit is veral by samestellings en samegroeiings dat mense dikwels twyfel. Spesifieke kwessies betreffende hierdie twee tipes komplekse woorde word daarom hier onder bespreek.
Eers net ’n algemene wenk: Dit gebeur soms dat mense ’n koppelteken verkeerdelik gebruik op ’n plek waar hulle onseker is oor los of vas, omdat ’n koppelteken vir hulle ’n tipe tussentoestand – dus iets tussen los en vas – verteenwoordig. Dit is egter nie die geval nie. ’n Koppelteken beteken dat ’n woord vas geskryf is, en om ’n koppelteken te gebruik waar dit nie nodig is nie, is ’n fout (die reëls vir die gebruik van ’n koppelteken kan in hoofstuk 12 van die 2017-AWS gevind word).
Onthou dus: ’n Woord wat met ’n koppelteken vas geskryf is, is net so vas geskryf as ’n woord wat sonder ’n koppelteken vas geskryf is.
Samestellings
Op skool leer ’n mens dikwels die een-begrip-een-woord-beginsel wanneer dit oor los en vas skryf gaan. Hierdie beginsel werk uitstekend vir gevalle soos boekrak, appelboom en hondehokdakverfwinkel, maar daar is ’n hele paar gevalle waar dit nie werk nie. Dit is waarskynlik omdat dit nie duidelik is wat presies met “een begrip” bedoel word nie. ’n Mens sou kon argumenteer dat groot boom net soveel een begrip is as wat appelboom is, maar groot boom word nie vas geskryf nie. En as stofsuig een begrip en een woord is, dan moet boek lees, klarinet speel en musiek luister ook een begrip wees, al word dit los geskryf. Setselstukke soos op pad en huis toe sou dan ook as een begrip gereken kon word, aangesien dit met die enkelwoorde onderweg en huiswaarts vervang kan word. Maar op pad en huis toe word los geskryf.
’n Beginsel wat in meer gevalle gaan help bepaal of ’n woord los of vas geskryf moet word, is klemtoon. ’n Enkele woord dra net een hoofklem, terwyl afsonderlike woorde elke afsonderlik klem dra. Vergelyk byvoorbeeld die klemverskil in die vetgedrukte woorde in die volgende voorbeeldsinne:
- Ek is op soek na ’n nuwe katjie. (Hoofklem op beide op en soek; afsonderlike woorde)
- Jy moet die woord in die AWS opsoek. (Hoofklem op op; een woord)
- Daar is ’n lui perd op die plaas. (Hoofklem op beide lui en perd; afsonderlike woorde)
- Ek het ’n luiperd in die wildtuin gesien. (Hoofklem op lui; een woord)
- Daar is ’n groot rak in die winkel. (Hoofklem op beide groot en rak; afsonderlike woorde)
- Daar is ’n boekrak in my kamer. (Hoofklem op boek; een woord).
As jy dus wil weet of jy met afsonderlike woorde of met ’n enkele woord te doen het, luister mooi na die klem. As al die dele afsonderlik klem dra, is dit afsonderlike woorde wat los geskryf moet word. As daar slegs een hoofklem is, is dit ’n enkele woord wat vas geskryf moet word. Hierdie toets werk helaas ook nie netjies in alle gevalle nie (mens moet maar uit jou kop uit leer dat op pad, nog steeds en huis toe twee woorde is).
Naamwoord + naamwoord-samestellings
Die meeste samestellings in Afrikaans het ’n naamwoord as tweede deel, en samestellings wat uit twee soortnaamwoorde bestaan (soos appelboom, tandartsstoel en vakansiehuis) is die volopste. Die skryfwyse van hierdie tipe samestellings is onproblematies: As daar twee soortnaamwoorde wat nie deur ’n komma geskei word nie, langs mekaar staan, gaan dit in die meeste gevalle korrek wees om die soortnaamwoorde aan mekaar vas te skryf.
Adjektief + naamwoord-samestellings
Samestellings wat bestaan uit ’n adjektief en ’n naamwoord kom ook in Afrikaans voor. Hierdie tipe samestellings is problematies, omdat ’n adjektief en naamwoord tipies los van mekaar geskryf moet word (vergelyk groen boom, groot rak, pragtige uitvoering en weelderige huis). Wanneer daar egter betekenisverdigting plaasgevind het, en die adjektief-naamwoord-kombinasie nou na iets anders verwys, moet die adjektief en die naamwoord aan mekaar vas geskryf word. Vergelyk byvoorbeeld donker kamer (’n kamer wat donker is) en donkerkamer (’n vertrek waar foto’s ontwikkel kan word), geel wortel (die wortel, byvoorbeeld van ’n boom, wat geel is) en geelwortel (’n tipe plant waarvan die wortel in kookkuns gebruik word), en blou aap (’n aap, byvoorbeeld ’n speelding, wat blou is) en blouaap (’n spesifieke soort aap).
Benewens die feit dat hier adjektief-naamwoord-samestellings betekenisverdigting ondergaan het, is hulle ook nie omstelbaar nie en kan die adjektief dus nie predikatief saam met die koppelwerkwoord is gebruik word nie. Geel wortel kan omgestel word as ’n wortel wat geel is, maar geelwortel kan nie – geelwortels is trouens tipies oranje. ’n Blou aap is ’n aap wat blou is, maar ’n blouaap is grys, nie blou nie. Hierdie samestellings is ook nie skeibaar nie en daar kan dus geen ander woorde tussen die dele van die samestelling geplaas word nie. Vergelyk die voorbeelde hier onder:
- Die huis het ’n donker, koue kamer // koue, donker kamer (donker kamer is skeibaar en dus afsonderlike woorde)
- Hy ontwikkel die foto’s in die *donker koue kamer // koue donkerkamer (donkerkamer is onskeibaar en dus een woord)
- Daar staan ’n groot, groen boom // groen groot boom in die tuin (groot boom is skeibaar en dus afsonderlike woorde)
- Daar staan ’n *appel groen boom // groen appelboom in die tuin (appelboom is onskeibaar en dus een woord)
Naamwoord + werkwoord-samestellings
Die verstekreël in Afrikaans is dat naamwoorde en werkwoorde los van mekaar geskryf word. ’n Mens kan skaak speel, blomme stuur, kos koop en koffie mors, en in al hierdie gevalle is die naamwoord en werkwoord afsonderlike woorde. Daar is egter ’n paar Afrikaanse samestellings wat uit ’n naamwoord en ’n werkwoord bestaan en in die meeste van hierdie gevalle is daar weer eens sprake van betekenisverdigting, byvoorbeeld by stofsuig, asemskep, pretloop, wortelskiet en ysskaats.
Daar is ook ’n klein groepie naamwoord-werkwoord-samestellings wat inslag gevind het in die taalgemeenskap en wat daarom ter wille van die gevestigde tradisie vas geskryf moet word. Hierdie samestellings bestaan dikwels uit ’n baie kort naamwoord en werkwoord – sulke kort woorde wat dikwels saam gebruik word, groei in baie gevalle mettertyd aan mekaar vas. ’n Tipiese voorbeeld hiervan is die samestelling perdry wat so, vas geskryf, in die AWS opgeneem is.
’n Naamwoord-werkwoord-kombinasie wat nié baie duidelike betekenisverdigting ondergaan het nie, en wat nie vas geskryf in die AWS of ander bronne opgeneem is nie, bly afsonderlike woorde, en dit moet daarom altyd los geskryf word.
Bywoord + adjektief-samestellings
Reël 15.48 in die 2017-AWS bepaal dat bywoorde (spesifiek graadwoorde) en adjektiewe los van mekaar geskryf moet word. Opmerking (a) by hierdie reël stel dit egter dat sommige van hierdie verbindings dikwels ook vas geskryf word, weer eens veral in gevalle waar die bywoord kort is. Daar is egter ook gevalle waar gebruikers ’n baie hegte verhouding aanvoel tussen die bywoord en die adjektief, en dit dan vas skryf. Die opmerking stel dit dan dat dit nie as fout beskou moet word wanneer gevalle soos andersdenkend, goedgesinde, halfgaar, hooggeag, hoogliggende, pasgebore, pasverskene, regdenkend, snelgroeiende, tuisgemaakte, veelvoorkomende, weldeeglik, weldeurdag en welgesteld vas geskryf word nie. Die reël bly egter dat verbindings van hierdie tipe los geskryf moet word. Daarom kan dit nooit ’n fout wees om dit los te skryf nie.
Die 2017-AWS: Bylaes
Benewens die veranderinge aan die woordelys en spelreëls van die 2017-AWS is daar ook aan die bylaes verander. ’n Lys landname met geldeenhede en ISO-kodes, ’n lys geografiese eiename in die Ooste (spesifiek Indië, Japan en China), en ’n lys met elemente in die periodieke tabel is drie van die bylaes wat toegevoeg is. Daar het ook ’n omvattende stel gebruikersriglyne wat leiding gee oor die SI-stelsel, bygekom.
Benewens hierdie nuwe bylaes is daar ook kleiner wysigings in reeds bestaande bylaes gemaak. So byvoorbeeld is Sjina as wisselvorm van China uit die lys buitelandse geografiese name met afleidings verwyder. Daar is regstellings gemaak in die transliterasietabel en die skryfriglyne vir Omgangsafrikaans is hersien. Daar is ook 26 nuwe definisies in die Terminologielys bygevoeg.
Tot so ver, dan, wat betref die inhoud van die AWS. Daar is uit die aard van die saak nog hande vol kwessies met betrekking tot spelling en skryfwyse wat gebruikers laat kopkrap. Om al dié kwessies in een skryfstuk te probeer uitklaar, is egter ’n onbegonne taak. Daar is addisionele hulpmiddels en bronne beskikbaar op die TK se webwerf (www.taalkommissie.co.za). Daar word ook van tyd tot tyd inligting en wenke op die TK se Facebookblad gedeel – neem ook gerus daar deel aan gesprekke en peilings. Ons hoor baie graag van AWS-gebruikers.
Die TK is ook deurgaans besig om die inhoud van die AWS te hersien en by te werk. In die volgende opsomming van die TK-lesingreeks vertel ons ’n bietjie meer oor hoe die TK te werk gaan om dié taak te verrig!
Lees ook:
TK-lesing 1 (deel 1): Geskiedenis van die Taalkommissie en die AWS