
Fanie Viljoen en Tumi Steyn
Hulle praat met Naomi Meyer oor Die dag as die draak kom, ’n kinderboek rondom seksuele misbruik. Fanie Viljoen het die boek geskryf en Tumi Steyn het die boek geïllustreer.
Fanie en Tumi, baie geluk met die Akademie se toekenning aan Die dag toe die draak kom. Hoe skep mens ’n boek rondom ’n moeilike en belangrike tema soos hierdie?
Fanie: Baie dankie! Mens moet baie versigtig met die verhaal werk omdat die teikenmark so jonk en ontvanklik is, maar die boodskap so belangrik. Dis hoekom ek ’n sprokieselement as invalshoek gebruik het, gemeng met die realiteite van ’n hedendaagse gesin.
Tumi: Baie dankie! Dis belangrik om illustrasies uit die oogpunt van ’n kind te benader. Dus wou ek vriendelike karakters teken waarmee kinders kan identifiseer en wat as inleidingspunt kon dien tot die meer ernstige boodskap van die storie.
.........
Ek wou die klein lesertjies laat verstaan dat daar hulp sal wees as hulle praat, en ek wou hulle toerus met maniere waarop hulle hulp kan vra.
..........
’n Kinderboek met so ’n belangrike tema verdien om gelees en bekyk te word. Dit moet dus ook toeganklik wees vir kinders. Hierdie vraag is: Hoe maak mens so ’n boek met so ’n onderwerp ook iets wat vir ’n kind hoop gee, en ’n ligkolletjie bied as die lewe donker voel?
Fanie: Ek wou die klein lesertjies laat verstaan dat daar hulp sal wees as hulle praat, en ek wou hulle toerus met maniere waarop hulle hulp kan vra. Af en toe is daar klein bietjies humor om die boodskap makliker te laat oorkom. Aan die einde van die boek praat ek ook in ’n ernstiger stem met ouers en onderwysers en vertel hulle wat hulle moet doen indien hulle vermoed ’n kind word seksueel misbruik.
Tumi: Ek wou hê die donker elemente van die storie moet afspeel teen ’n veilige, stabiele agtergrond met al die goed wat vir kinders belangrik is – speelgoed, boeke, ens. Die sprokieselement, asook die humor wat Fanie bygesit het in die vorm van die klein hondjie en woeste nefie, was ’n wonderlike beginpunt om die illustrasies warm en prettig te maak. Die lyftaal van die karakters was ook belangrik. Ek wou wys dat die sibbe mekaar ondersteun en dat die ma aan die einde van die verhaal ’n beskermende teenwoordigheid is.
Waarom dink julle moet sulke soort boeke, oor onderwerpe wat in sekere kinders se leefwêrelde bestaan, geskryf en geïllustreer word?
Fanie: Dit is bitter sleg dat ons boeke oor sulke aaklige gebeure moet skryf, maar dis ’n realiteit waarvan ons nie kan wegkyk nie. Omdat dit met ons kinders gebeur, is ’n kinderboek die ideale manier om kinders toe te rus en te waarsku teen die euwel in ons samelewing. Ons kan op hulle vlak met hulle kommunikeer.
Tumi: Kinders maak dikwels sin van die wêreld deur middel van stories. ’n Boek soos hierdie kan kinders in so ’n ontstellende situasie bemagtig en troos, en ’n lewenslyn wees.
Wat was die moeilikste aspekte van julle werk aan hierdie boek?
Fanie: Die navorsing was nogal uitdagend, maar twee persone wat in hierdie veld werk, dr Marianne Kotzé en Edith Kriel, die uitvoerende direkteur van Jelly Beanz Inc, het my geweldig baie gehelp om die boek op ’n sensitiewe, maar ook inligtingsvolle manier aan te pak. Ek het soveel by hulle in die proses geleer.
Tumi: Dit was ’n uitdaging om die regte emosionele balans in die illustrasies te vind sodat dit kinders nie skrik maak nie, maar ook die erns van die gevaar oordra. Die uitgewer, Simone Hough, se leiding was uiters waardevol.
........
My hoop is dat die boek talle kinders sal bemagtig.
.........
En wat was die mees vervullende aspekte van werk aan ’n boek soos hierdie?
Fanie: Die feit dat ouers die boek saam met hulle kinders lees, is ’n groot riem onder die hart. Ek het van ouers gehoor wie se kinders seksueel misbruik is. Hulle het gewens hulle kon vroeër al so ’n boek vir hulle kinders gekry het. ’n Ouer het my selfs al by ’n koffiewinkel voorgekeer en vir die boek bedank. My hoop is dat die boek talle kinders sal bemagtig.
Tumi: Dit was verrykend om ’n boek met soveel emosionele diepte visueel te interpreteer, en op dié manier by te dra tot ’n baanbrekersboek vir kinders en ouers in Suid-Afrika. Dit is uiters belangrik om boeke te skep oor onderwerpe wat dikwels nie aangeraak word nie, maar tog vir baie kinders ’n angswekkende realiteit is. Fanie het dit meesterlik gedoen.
Lees ook:
Die dag toe die draak kom (vir seuns en vir meisies) deur Fanie Viljoen: ’n resensie van albei boeke