Titel: The South African keto and intermittent fasting cookbook
Skrywers: Rita Venter en Natalie Lawson
Uitgewer: Human & Rousseau, September 2024
Prys: R390
ISBN: 9780798184366
Hallo aan ’n nuwe, gesonder jy!
The South African keto and intermittent fasting cookbook is meer as ’n resepteboek vol heerlike disse. Dit gee jou al die hulpmiddels om gesonder te leef.
Al twee skrywers volg hierdie leefstyl en twee ander resepteboeke het die afgelope paar jaar by ander uitgewers verskyn. Rita het meer as 30 kg verloor met hierdie eetpatroon en sy deel graag haar kennis met ander. Sy het 10 jaar gelede ’n privaat Facebook-blad, Banting 7 day meal plans, begin en het vandag meer as 2,3 miljoen lede. Rita se man is ’n diabeet en dit het haar reis laat begin, omdat sy hom wou help om sy insulieninname te verminder.
Natalie het by die groep aangesluit en haar outisitiese, nieverbale seun het haar familie se bantingreis begin.
Maar voor ek meer oor die boek vertel, deel ek eers meer oor my ontdekking oor waar keto en banting vandaan kom, en hoewel hierdie boek op keto fokus, is baie van die bantingbeginsels onderliggend.
William Banting (Desember 1796 – 16 Maart 1878) was ’n Britse lykbesorger wat geweldig met sy gewig gesukkel het. Hy het by sy dokter, William Harvey, aangeklop om hulp en dié het hom op die eetplan gesit wat koolhidrate en suikerinname verminder. Harvey het meer oor dié eetplan geleer tydens lesings in Parys wat deur Claude Bernard aangebied is.
Banting het soveel baat gevind by dié eetplan dat hy in 1863 ’n pamflet, “Letter on Corpulence, Addressed to the Public”, uitgegee het wat die spesifieke plan bevat het vir die dieet wat hy gevolg het. Dit is geskryf as ’n ope brief in die vorm van ’n persoonlike getuigskrif. Banting het al sy onsuksesvolle vas, diëte, en spa- en oefenregimes in sy verlede verantwoord.
Sy eie dieet was vier maaltye per dag, bestaande uit vleis, groente, vrugte en droë wyn. Die klem was daarop om suiker, sakkarienmateriaal, stysel, bier, melk en botter te vermy. Banting se pamflet was vir jare lank gewild en sou as ’n model vir moderne diëte gebruik word.
Die ketogeniese dieet is effe jonger en dateer glo uit die 1920’s as behandeling vir epilepsie en epilespie-aanvalle. Beide banting en keto werk met minder koolhidrate en meer vet, maar keto is blykbaar strenger met hoeveelhede en watter soort bestanddele geniet kan word.
Terug by die kookboek in my hande: Hier word bygevoeg dat die ketodieet gegrond is daarop om jou koolhidraatinname tot 25–35 g per dag te verminder.
Die outeurs skryf: “Dit lei tot gewigsverlies, verbeterde algemene gesondheid, verminderde inflammasie en stabiele bloedsuikervlakke. Die ketomanier van eet fokus op die inname van gesonde vette en ’n goeie hoeveelheid proteïene, en die vermindering van koolhidrate. Die banting- en ketodiëte stem baie ooreen – die enigste werklike verskil is hoe hulle begin is. In Suid-Afrika word die twee terme uitruilbaar gebruik. Om dit op te som: Keto is in wese banting op die groenlys. Dis so eenvoudig.
“As jy uit ’n laekoolhidraat- of bantingagtergrond kom, is jy gelukkig, want jy sal reeds die konsep verstaan. Keto het hierdie skelm manier om jou liggaam te mislei om vette in plaas van koolhidrate vir brandstof te verbrand, wat jou liggaam ’n vetverbrandingsmasjien maak. Dit word ketose genoem. Om die ketomanier van eet te volg, kan ’n lewensveranderende ervaring vir baie mense wees, en was dit al, veral diegene wat ’n paar ongewenste kilo's wil afskud of diegene wat hul metabolisme wil bevorder.
“Jou liggaam produseer ketone uit die afbreek van vette, wat jou brandstofbron word in plaas van glukose. Keto het die afgelope paar jaar gewild geword as gevolg van die gesondheidsvoordele wat hierdie manier van eet bied. In hierdie boek sal ons die ketodieet ondersoek, die voordele daarvan vir spesifieke gesondheidstoestande, die konsep van makro's, begrip van ketose, wat om te eet en wat om nie te eet nie, versteekte koolhidrate, lees van etikette, die impak van saadolies, en die rol van vas met tussenposes, en ons verskaf voorbeelde van vasperiodes.”
Om te vas gee die liggaam die kans om gestoorde vet as energiebron te gebruik.
Dis die aanhaling op bladsy 6 wat my inspireer het om verder te lees en om dinge in die boek te beproef: “You don’t have to be great at keto to start, but you have to start to be great.”
Die boek gee al die voor- en nadele van verskillende plantolies en soorte meel verduidelik wat insulienweerstandigheid is, en wat diabetes behels. Dit spel ook mooi uit wat hoëvet, mediumvet en laevet is.
Daar is ’n 12-stap-program oor hoe jy hierdie reis kan aanpak en volhou. Dis belangrik om te onthou dat hierdie nie ’n dieet is nie, maar eerder ’n leefstyl.
En belangrik vir my wat gou wil moed opgee of glo dat ek dit nie kan volhou nie: “A huge part of losing weight is believing you can do it and realising it’s not going to happen overnight – so be kind to yourself.”
En nou staan ek ook voor die winkelrak en kyk na bestanddele, want dis ongelooflik watter verskil bygevoegte suiker, soja, mieliestroop en ander ongesonde byvoegings aan jou midrif maak.
Die boek het selfs wenke oor hoe jy kan voorberei as jy moet reis en steeds gesonder wil eet.
.........
Dis ’n wonderlike handleiding en beantwoord al jou vrae rondom diabetes, oorgewig, en wat goed en sleg is vir jou liggaam, en dan is daar die resepte!
..........
Dis ’n wonderlike handleiding en beantwoord al jou vrae rondom diabetes, oorgewig, en wat goed en sleg is vir jou liggaam, en dan is daar die resepte! My genade, ek wil onmiddellik begin kook, want alles lyk heerlik en niks voel soos “dieetkos” of “bokkos” soos my vriendin altyd gepraat het van dieet nie.
Lees ook: