
Bertus Basson, Errieda du Toit, Maryke Roberts en Misi Overturf van die In die sop-produksiespan. Foto’s: verskaf
Dis amper weer tyd vir die volgende seisoen van In die sop op kykNET! Maryke Roberts, inhoudvervaardiger van hierdie seisoen, praat met Naomi Meyer oor In die sop 3.
Maryke, jy is bekend aan LitNet-lesers omdat jy en jou man dikwels boeke, teaterstukke of kos- en wynartikels skryf. Wat is jou konneksie met In die sop?
Die kort antwoord is: Woorde is die konneksie. Maar behalwe dat ek alles wat tydens verfilming gebeur, neerskryf sodat dit ’n handleiding vir die regisseur is vir redigering ná verfilming, is ek die skakel tussen die restauranteienaars en die film- en produksiespan. Die proses is ’n baie emosionele ervaring vir restauranteienaars, en dis goed om ’n skouer te hê waarop hulle kan huil. Om te erken jou besigheid is in die sop, is baie moeiliker as wat die meeste mense besef, en om dit boonop op nasionale televisie te doen, nog meer uitdagend. Ek voer al die onderhoude vir agtergrond en ook aan die einde van elke dag se dagboeke. Kykers sien my nooit nie, maar dis in my (soms baie natgehuilde oë) daar langs die kameralens waarin eienaars, Bertus en Misi kyk terwyl hulle gesels. Dis die derde seisoen van die reeks, maar my eerste.
Die program het net ná die grendeltyd begin, toe báie besighede in die sop was. Merkwaardig om te sien hoe konstruktief daar kritiek gelewer was – en die transformasie van eetplekke onder Bertus Basson & kie se hande. Tog was die grendeltyd net één opvallende tydperk wat uitdagings in die gasvryheidsbedryf geaksentueer het. Wat sien jy as eetplekke se grootste uitdagings, as jy ’n paar kan opnoem?
Ek het by Paul Venter van Homebrew Films, In die sop se vervaardiger, gaan kers opsteek. Hy verduidelik: “Die idee het ontstaan net na Covid. Restaurante was die een industrie wat seker van die hardste getref is in die pandemie. Ons wou help. In gesprek met kykNET het ons besluit dis tyd dat ons teruggee en help. Ons het ’n “reddingspan” saamgestel met Bertus Basson en Misi Overturf aan die stuur. Inskrywings het ingestroom en die nood was hoog. kykNET het ’n vasgestelde begroting per restaurant gegee wat ons kon aanwend. (Min mense weet dis 100% produksiegeld en geen borgskap nie wat elke restaurant omtower het.) Die program was nie net gewild by kykers nie, maar het ook lewens verander in die bedryf. Alhoewel Covid nou amper vergete is, het ons besef daar is nog baie restaurante wat in die sop is bloot agv onkunde. Dis mos maklik: Tree af en koop ’n “coffee shop”, of “Kom ons koop ’n restaurantjie by die see” – al het jy geen ervaring of kwalifikasie nie. Die restaurantbedryf is egter nie een wat jy sonder handskoene – en kennis – kan aanpak nie. En dít is waar ons span weer in die prentjie kom. Die wiele rol effe verder in Seisoen 3 – tot so ver as Gauteng. Ons pas ook die formaat aan in een van die episodes waar ons ’n liefdadigheidshoek inslaan – maar die hart en siel van die program bly dieselfde.”
Van my kant: Baie mense het die grendeltyd se beperkende ure oorleef, maar só diep in hul spaargeld gedelf dat daar niks reserwes oor is nie. Een yskas of stoof se breek kan die spreekwoordelike emmer laat oorloop. Beurtkrag is beslis een van die grootste klagtes, maar onbetroubare personeel, stygende voedsel-, gas- en brandstofpryse, en ’n restaurantmoegheid waar jy nie meer entoesiasties voel oor jou besigheid nie, kom ook gereeld voor. Soos Paul noem, misreken mense hoeveel jou restaurant verg, en ’n gebrek aan kennis van die bedryf, beplanning en goeie boekhouding, dwing vele op hul knieë.
Hoe is bepaal watter restaurante die swaarste kry (toe hierdie seisoen geskiet is)? Of was dit nie die kriterium nie?
Hier klop ek by Errieda du Toit, inhoudvervaardiger en navorser aan. Vir die derde seisoen was daar meer as 400 inskrywings van restauranteienaars regoor die land en letterlik nog honderde aanbevelings van ondersteuners wat hul gunstelingeetplekke onder ons aandag wou bring. “Die maatstaf is nie soseer oor wie kry die swaarste nie. Ons kyk na ’n breë spektrum probleme, eerder as die generiese uitdagings wat almal in die restaurantbedryf ervaar. Bykans almal lek nog wonde na Covid; gaan gebukkend onder beurtkrag, worstel met astronomiese prysstygings en ’n baie pryssensitiewe etersmark. Ons uitdaging is om daardie plekke te vind wat daarby hul eie unieke stel uitdagings ook het – en ’n sterk, menslike storie het. Uiteindelik gaan In die sop nie net oor transformasie van spyskaarte, dekor en kombuise nie, maar van die eienaars self. Ons moet ook kyk na ’n verskeidenheid tipes eetplekke – van ’n teekamer vir ’n liefdadigheidswinkel tot ’n deftige ou hoteleetkamer wat sy sprankel kwyt is; ’n hip koffieroostery met ernstige diensprobleme, ’n huisrestaurant waar die generasiegaping spanning bring, tot ’n teaterrestaurant wat sy deuntjie sal moet verander om sy deure oop te hou.” Sy sê ook dis noodsaaklik dat ons moet kan glo dat ’n restaurant die potensiaal het om te kan floreer. Ons kan byvoorbeeld niks doen aan ’n restaurant met ’n swak ligging nie – nie tien Bertusse of ’n dosyn uithangborde kan toor as ’n plek verkeerd geleë is nie. Daar is verskeie faktore wat restaurante in die eerste ronde uitskakel, en dié wat uiteindelik op die kortlys kom, word verskeie male besoek.
........
Baie mense dink dis maklik om op televisie te verskyn, maar sodra hulle die omvang van verfilming besef, begin hulle moed hulle begewe, en daarom is dit belangrik vir die In die sop-span om die eienaars se vertroue te wen en hulle deurgaans empaties te hanteer.
........
Baie mense dink dis maklik om op televisie te verskyn, maar sodra hulle die omvang van verfilming besef, begin hulle moed hulle begewe, en daarom is dit belangrik vir die In die sop-span om die eienaars se vertroue te wen en hulle deurgaans empaties te hanteer. “Ons verstaan dis moeilik om te laat gaan, om jou restaurant vir vier dae te sluit en nie insae te hê in die nuwe spyskaart en voorkoms nie; vreesaanjaend om die onbekende aan te durf. Dit vra ’n geloofsprong van die eienaars om hul ‘livelihood’ bykans blindelings oor te gee aan buitemense, maar dis ook ’n toets of jy werklik bereid is om te verander of maar op jou gebaande weë wil bly wat jou verder in die sop laat sink. Wat baie verblydend is, is dat soveel van die onsuksesvolle aansoekers laat weet, al is hulle nie vir die nuwe reeks gekies nie, hulle baie selfinsig in hul probleme gekry het deur die aansoek te voltooi het, en hul kop uit die sand moes haal.”

Voor (bo) en ná (onder) die In die sop-span ’n plaaslike restaurant opgeknap het. Foto: verskaf
Wil jy dalk iets van jou ervarings deel toe die programme verfilm is? Eerste: prakties. Tweedens: wat jy persoonlik alles beleef en ervaar het.
Prakties: Daar is soms vier kameramanne vir ’n skoot. Soms verfilm daardie vier kameramanne verskillende atmosfeer- of aksietonele. Alles word verfilm, want dit kan die storielyn beïnvloed en ’n lekker besprekingspunt word. Ons verfilm vir vier dae, sommige dae tot 14 uur lank, om een 48-minuut-episode te lewer. Die regisseur en redakteur, SW Strauss, beplan skote vir die dag vooruit, maar soms speel die weer of beurtkrag nie saam nie; iets val en breek; iets werk nie uit volgens plan nie; ’n pyp bars of ’n pizza-oond van twee ton kan nie oor ’n heining gelig word nie en dan moet die regisseur op sy voete dink. Hy verwerk die ure en ure se beeld- en klankmateriaal tot emosionele kykgenot. Wat min mense besef, is dat die uitdra, afbreek, bouwerk, verf, dekor, alles binne twee en ’n half dae gebeur. Die eienaars is op dag 1 tot middagete daar, maar bly daarna weg, tot die nuwe voorkoms op dag 3 teen middagete onthul word. Op die dag voor dag 1 – dag 0 as jy sou wou – doen ons al die vooraf skote en onderhoude om die eienaars beter te leer ken. Almal het groot bewondering – en ’n bietjie vrees – vir Bertus, maar hy is simpatiek en help graag met al die ondervinding wat hy in sy sewe suksesvolle restaurante opgedoen het. Hy som die kombuis- en spyskaartprobleme vinnig op en maak regstellings. Elke eienaar kry ook ’n hele oggend se gesels met Bertus (dit word nie verfilm nie), waar hulle alles kan vra wat hulle oor alle aspekte van restaurante wil vra, van personeelopleiding, dissiplinêre verhore en aankope tot moeilike klante en gesondheidsinspekteurs. Misi se mooimaak laat baie trane rol en die meeste eienaars kan nie die transformasies glo wat met geweldige empatie hanteer word nie. Niks word voor die voet vernietig nie en kosbaarhede word hergebruik. Soms is daar tot 35 verwers, elektrisiëns, nutsmanne, loodgieters, afskuurders en regpakkers in die restaurantruimte. Maak nie saak hoe moeg almal tydens verfilming is nie, daar val nooit ’n harde woord nie. Dis asof elkeen van die span daar wíl wees, wíl help, wíl sien dat hierdie restaurant floreer. Ek het nog nooit sulke spanwerk ervaar nie.
........
Dis wonderlik om te sien hoe die lag en lig na hul oë terugkeer as hulle Bertus se nuwe spyskaart proe, Misi se nuwe dekor sien, en op die onthullingsdag hul lojale klante en vriende in hul mooi nuwe restaurant kan onthaal.
........
Persoonlik: Ek bou baie vinnig ’n noue band met eienaars. Hulle is baie weerloos as hulle hul stories moet vertel en dis ongelooflik hoe hulle groei met elke gesprek. As hulle eers erken het hoe diep in die sop hulle regtig is, is dit asof ’n swaar las van hul skouers afrol. Baie mense het diep seer: Sommige worstel met kanker; ander het persoonlike trauma waardeur hulle worstel; ander is bloot lewensmoeg en ontnugter. Dis wonderlik om te sien hoe die lag en lig na hul oë terugkeer as hulle Bertus se nuwe spyskaart proe, Misi se nuwe dekor sien, en op die onthullingsdag hul lojale klante en vriende in hul mooi nuwe restaurant kan onthaal. Elkeen van die eienaars met wie ek gewerk het, het ’n baie spesiale plek in my hart. Dis mense wat swaarkry en hard werk ken; wat moes erken dat hulle misluk en moes handopsteek vir hulp. Dit maak mens nederig en dankbaar – nie net omdat jy deel is van ’n ongelooflike span wat kan help nie, maar ook vir die voorregte wat jy in jou eie lewe geniet.
Ek weet nie of jy ’n program soos The bear gekyk het nie, maar mens besef net as mens so iets kyk hoe absoluut passievol mens oor kos moet vol om dit te waag om ’n restaurant op die been te probeer bring. Hoe spannend dit is. Hoe baie administrasie en beplanning dit verg. Wat dink jy is wenresepte vir ’n suksesvolle restaurant?
Toewyding, beplanning, kennis, goeie verskaffers en goeie verhoudinge met daardie verskaffers, varsprodukte uit jou omgewing, ’n eenvoudige spyskaart, goeie voorraadbestuur, goeie boekhouding. Jy kan nie alles vir almal wees nie. Besluit wat jy wil wees en doen dit goed.
Waarna kan kykers uitsien in In die sop 3?
Ek dink die reeks het sy nis gevind. En mense laat besef dat om in die sop te wees, nie beperk is tot iets so drasties soos ’n pandemie nie. Klein jakkalsies brand die wingerd af. Kykers ken die formaat, en soos jy tereg hier bo genoem het, die kritiek is konstruktief. Die derde seisoen wyk ook hier en daar af van die standaardresep en dit behoort vir baie meer mense van waarde te wees – baie sportklubs, liefdadigheidsorganisasies en familiebesighede sal uit die episodes kan leer. En ons gaan kuier by ’n paar van die vorige twee seisoene se “suksesresepte” om vir restauranteienaars te wys hoe goed dit met jou kan gaan nadat jy deel van die In die Sop-ervaring was. Om dit van ander restaurateurs te hoor, bring baie waarde en dis lekker om te sien hoe goed dit met vorige deelnemers gaan.
Wanneer begin die program? Waar kan mense dit kyk?
Die derde seisoen begin op 6 Maart om 20:00 op kykNET uitsaai!
Deel asseblief ook persoonlike hoogtepunte vir jou mbt hierdie seisoen, as jy wil.
Sjoe, daar was vele. Elke keer as ons met die onthulling vir die eienaars staan en wag om hul reaksie te sien op die nuwe voorkoms en hulle in trane uitbars en die grimeerkunstenaar vir hulle so ongemerk moontlik ’n sneesdoekie in die hand stop, huil ek lekker saam. Elke keer as hulle smul aan Bertus se kos wat uit hul nuwe kombuis saam met hul personeel gemaak is, bars my hart van trots. Elke keer as daar ’n paar weke na die tyd ’n WhatsApp-boodskap kom en hulle sê die program het hul lewens verander, is ek dankbaar. Maar een hoogtepunt wat my sommer weer tranerig maak: senior ouers wat besef het dis tyd om oor te gee en hul seun die kans te gee wat hy verdien. Hulle het eers op dag 3 besef hoe swaar hulle eintlik op hom leun; hoe groot sy rol in die restaurant is; en boonop dat hy tydens die grendeltyd met planne vorendag gekom het wat hul deure oopgehou het. En hoe hierdie jongman uit sy dop gekruip het, maar ook net voor onthulling stil in die gang staan en huil waar ek op hom afkom en hy vra of hy asseblief ’n drukkie kan kry, want hy voel ongelooflik bang en alleen. Hy weet nie of sy ouers reg is vir die volgende hoofstuk nie. En dan later daardie aand kom sê: “Hulle is gereed. En ek is gereed.”
Lees ook: