The real meal revolution deur Tim Noakes

  • 3

Titel: The real meal revolution
Skrywers: Tim Noakes, David Grier, Sally-Ann Creed, Jonno Proudfoot
ISBN: 9780992206277
Uitgewer: Quivertree Publications
Eerste keer uitgegee: 2013
Eersdaags ook in Afrikaans: Die kosrevolusie (ISBN: 9780992216924)

Koop The real meal revolution by Kalahari.com

Vet laat jou gewig verloor. Hoe meer vet jy eet en hoe minder koolhidrate, hoe makliker sal jy gewig verloor, aldus The real meal revolution.

Op 26 Maart 2014 het ek my eerste resensie oor hierdie teks op Facebook geplaas. Dit het uit vyf woorde en ’n datum bestaan. Hier is dit:

Ek het egter onlangs ’n kosbare stukkie wysheid raakgeloop in die vorm van ’n persoon wat sê: “Ek is nog net twee weke op hierdie dieet, en ek is reeds erg irriterend.”

Om presies hierdie rede gaan die eerste deel van dié resensie opsetlik min oor myself bevat.

Hierdie resensie val in drie dele uiteen:

1. Die boek se inhoud word beskou.
2. Ek kyk na die kontroversie om die boek.
3. My eie belewenis van ses maande lank leef volgens die boek se riglyne sal gedeel word.

Vir diegene wat belangstel, hier is ’n video van elf minute waarin Tim Noakes en Jonno Proudfoot oor die boek praat. https://www.youtube.com/watch?v=mazvUejaKaQ

1. The real meal revolution van nader beskou
In hierdie gedeelte gaan ek my bes doen om ’n baie dik boek op ’n toeganklike wyse op te som.

1.1 Die weergawe wat ek resenseer
Ten tye van hierdie resensie is ’n Afrikaanse weergawe van The real meal revolution op pad. Dit staan bekend as Die kosrevolusie. Dit was egter nog nie beskikbaar toe die resensie geskryf is nie. Daarom mag ek dalk terme gebruik wat anders klink as in die Afrikaanse boek.

Ek resenseer ook ’n eerste druk van The real meal revolution wat ek by Bargain Books gekoop het. Ten tye van die skrywe is die boek reeds as ’n tiende druk beskikbaar. Hierdie brokkie inligting is belangrik, want daar was ’n aantal foute in die eerste weergawe wat in daaropvolgende drukke reggestel is. Ek het moeite gedoen om wel latere drukke na te gaan voor ek die resensie geskryf het.

1.2 Die inhoud
Wat kan die leser van The real meal revolution verwag?

1.2.1 Part myth-busting thriller, part mouth-watering cookbook
Op die agterblad word die teks so beskryf: “Part myth-busting thriller, part mouth-watering cookbook, the goal of the real meal revolution is to change your life by teaching you how to take charge of your weight and your health through the way you eat.”

Die boek is nie ’n riller nie, maar dit lees maklik en toeganklik. Dit is geskryf en uitgelê om tot ’n breë gehoor te spreek, baie soos Rapport, wat sekere stukke beklemtoon om die leser toe te laat om die belangrikste goed raak te sien en ander gewoon te los. Bibliofiele mag dalk dink die setters het oorboord gegaan (soos wanneer sterk, gekleurde teks boonop ook onderstreep word). Oor die algemeen is die boek egter leesbaar uitgelê en veral die resepte is smaakvol gedoen en keurig afgeneem.

1.2.2 ’n Voorwoord deur Gary Player
Gary Player was die eerste groot gholfspeler wat na sy fiksheid en dieet omgesien het. In daardie tyd was dit ongehoord – gholfspelers moes ’n bal kon slaan; fiksheid had niks met gholf te doen gehad nie. Tog, in Player se eie woorde, “when it came to the back nine of a Major on the Sunday, I knew I could remain alert.”

Vandag volg al die groot spelers sy voorbeeld en Player werk baie hard daaraan om gewone mense bewus te maak van gesonde eetgewoontes. Hy het daarom ook die voorwoord geskryf tot The real meal revolution.

Player sê oor Noakes: “Tim is a pioneer and a man who is not afraid to challenge convention.”

Hy sluit af deur te sê: “This is a food revolution and you have no better guide on this journey than Tim Noakes.”

1.2.3 Die konvensie word op sy kop gedraai
Die heel belangrikste boodskap van hierdie boek is dat ons baie vet moet eet en alle koolhidrate so ver as moontlik moet vermy.

Omtrent alles wat ons op skool geleer het oor dieet, word in The real meal revolution as verkeerd afgemaak. Daardie kospiramide met ’n klomp stysel onder in die basis en ’n baie klein hoeveelheid vet, is heeltemal verkeerd.

Hier is ’n voorbeeld van die verkeerde piramide (volgens Noakes). Dit kom van Michigan Universiteit se interaktiewe gesondheidsblad af. Verkeerd, volgens The real meal revolution. Water, ja. Daarmee stem almal saam. Vrugte mag egter net in beperkte hoeveelhede geëet word. Sommige groente mag jy glad nie eet nie, ander weer in oorvloed. Graan is heeltemal uit, peulgroente is uit en moenie tyd mors met laevetvleis nie, eet vet!

1.2.4 Bekendes se stories word vertel
’n Groot aantal bekende mense, soos Bruce Fordyce en Simon Gear, word as voorbeelde genoem van diegene wat sukses behaal het met ‘n hoëvetlewenstyl.

In 2012 het Gear die Twee Oseane-marathon net-net klaargemaak, in 6:57:57 – dit is twee minute en drie sekondes voor die afsnytyd. Toe gaan hy op die Banting-dieet en verloor 15 kilogram. In 2013 het hy dieselfde marathon in 3:59:42 gehardloop – dit is drie uur en agtien sekondes voor die afsnytyd.

Billy Tosh is ’n sakeman wat op 44 nie sy vlug kon haal nie, want hy was te vet vir die vliegtuig se ekonomieklassitplek. Hy het op Noakes se hoëvetdieet gegaan en binne sewe maande het hy 84,6 kg verloor.

Daar is ook ander voorbeelde in die boek. Vir die skrywers was dit belangrik om die leser daarop attent te maak dat talle bekendes dié lewenstyl reeds beproef het.

1.2.5 Goed, so jy wil ook probeer?
Die boek help die leser met die oorgang van ’n hoëkoolhidraatdieet na ’n hoëvetdieet. Daar is ook heelwat geskryf oor verskillende siektes wat voorkom kan word met die regte dieet en praktiese wenke word verskaf oor hoe om jou kinders gesonder te laat eet, asook wat om gedurende swangerskap en menopouse te eet.

1.2.6 Groen, oranje en rooi
Een van die beste hulpmiddels in die boek is die groen, rooi en oranje lyste op bladsye 47 tot 49. In drie bladsye kry die leser ’n oorsig oor die kosse wat te alle tye geëet mag word, watter kossoorte liefs nie geëet moet word nie en watter jy net in matige hoeveelhede mag eet. Die meeste vrugte is byvoorbeeld op die oranje lys (versigtig), want hulle bevat baie koolhidrate.

Dit het my nogal ’n tydjie geneem om vrugte te sien as bederfies, nie as ’n grootskaalse deel van my dieet nie.

(Nota bene: Daar was foute in die eerste druk van die boek; die lyste is in die daaropvolgende drukke effens aangepas.)

1.2.7 Die resepte
Die boek beslaan 396 bladsye, waarvan 260 resepte bevat.

Daar is heerlike resepte wat ’n mens se mond laat water. Elkeen word vergesel van ’n volkleurfoto.

Klem is gelê op lekker eet. Hier is ’n video waarin Jonno Proudfoot sy visie omtrent lekker eet deel.

Van die resepte is maklik om te maak; selfs ek kan dit doen. Tog is nie almal so eenvoudig soos hulle lyk nie. My vrou is ’n baie goeie bakker, maar om sonder gluten te bak, is ’n aanpassing. Gluten tree op as gom in die bakproses, en om daarsonder reg te kom, is nogal ’n uitdaging.

Beide Jonno Lightfoot en David Grier is kokke, so wat vir hulle natuurlik kom, is soms vir gewone mense ’n bietjie moeilik. Daar is egter darem hulp in die vorm van ’n videokanaal op YouTube.

Hier is die kanaal.

Ek het baie gou die resepte begin aanpas om by ons smaak te pas, soos ek met enige kookboek maak.

1.2.8 Die einde van die boek
The real meal revolution eindig met ’n meer wetenskaplike bespreking van Noakes se navorsing. Hier is ’n minder populistiese, meer wetenskaplike stem aan die woord.

1.3 Hoe maak vet jou maer?
Ek is nie ’n medikus nie, maar ek is bereid om die leser te probeer prikkel deur ’n opsomming te gee van die boek se argumente. (My vrou het wel my feite nagegaan; sy is ’n mediese dokter.)

1.3.1 Insulien: die probleem
Die skrywers spandeer ’n hele aantal bladsye daaraan om ons te laat verstaan dat die probleem met koolhidrate by insulien lê.

Om koolhidrate af te breek, het die liggaam insulien nodig. Insulien maak ’n mens egter honger, en daarom moet jy meer eet. Die nuwe koolhidrate wat ons inneem, verhoog ons insulienvlakke, wat ons weer honger maak. Dit beteken jy moet weer eet, wat weer meer insulien tot gevolg het ...

Ons neem dan soveel koolhidrate in dat ons liggame nie al die voedsel kan gebruik nie en die ekstra energie word gestoor vir later – om die heupe en in daardie boep.
Hoe vetter ons word, hoe meer word ons selle weerstandig teen insulien, en uiteindelik word baie mense gediagnoseer met tipe 2-diabetes.

Die boek maak dit duidelik dat tipe 1-diabetes kan baat by ’n gesonde dieet, maar dat dit nie sonder mediese hulp en medikasie benader moet word nie. Tipe 2-diabetes is egter leefstylverwant en kan deur ’n gesonde, hoëvetdieet voorkom word. Daar is selfs mense wat hulleself nie meer hoef in te spuit met insulien nie ná hulle genoeg gewig verloor het en nou nie meer koolhidrate eet nie.

1.3.2 Na Mosselbaai, 195 000 jaar gelede
Tim Noakes se dieet is nie nuut nie, maar dit is klaarblyklik eg Suid-Afrikaans. Die aarde was 195 000 jaar gelede in die greep van ’n ystydperk en Mosselbaai was een van die plekke waar die klimaat warm genoeg was vir ons voormense om te oorleef.

Die boek beweer dat die jagters toentertyd fikser en gesonder was as ons. Hulle het vleis gejag en verder veldgroente en veldkos geëet. Diabetes was glad nie ’n probleem nie: “not even a blip on the nutritional radar”.

Toe kom die landbourevolusie en veroorsaak dat mense minder hoef te hardloop agter hulle kos aan en veel meer graanprodukte begin eet het.

1.3.3 Cholesterol en hartsiektes
In 1953 het ’n Amerikaanse biochemikus, Ancel Keys, ’n studie gepubliseer wat aantoon dat te veel vet in jou dieet cholesterol verhoog, wat weer hartsiektes veroorsaak.
Noakes verduidelik waarom Keys gewoon verkeerd was. Cholesterol is nié so gevaarlik soos ons vir lank geglo het nie.

1.3.4 United States Dietary Goals for Americans
United States Dietary Goals for Americans, wat in 1977 gepubliseer is, was ’n direkte gevolg van Keys se studie oor cholesterol.

Daardie driehoek waaraan ons op skool ook gewoond geraak het, met baie koolhidrate en min vet, is ’n regstreekse gevolg van hierdie riglyne; so ook die enorme toename in vetsug in die VSA. Ditto in Suid-Afrika, wat redelik slaafs alles navolg wat in die VSA gebeur.

1.3.5 GM-kos
Die outeurs blameer ook kos wat geneties gemodifiseer is vir ons vetsug. Groente en vrugte is gekweek om soeter te wees en om veel meer koolhidrate te bevat as die oorspronklike veldvrugte.

1.3.6 Banting
Die moderne hoëvetdieet is reeds meer as ’n eeu gelede uitgevind. In 1862 is William Banting, ’n obese begrafnisondernemer, deur sy dokter, William Harvey, op ’n hoëvet- laekoolhidraat-dieet geplaas – met groot sukses.

1.4 Dus, eet vet, word maer
Aangesien vet stadig afbreek, neem dit jou veel langer om honger te word. As jy min of geen koolhidrate inneem nie, sal jou liggaam nie te veel insulien afskei nie en jou bloedsuiker sal dus nie val nie.

Die boek beveel dus aan dat jy vet eet – tot jy versadig is. Omdat jy minder gereeld hoef te eet, neem jy uiteindelik minder kos in. Die liggaam het nie koolhidrate om te brand nie, en begin dan vet brand. So word ons maer.

2. Kontroversie
Dat The real meal revolution kontroversieel is, is nie altemit nie.

2.1 Noakes die Malema van die wetenskap?
Martinique Stilwell, die outeur van Thinking up a hurricane, is ook ’n mediese dokter en joernalis. Sy het reeds op 21 September 2012 ’n artikel in Mail & Guardian geskryf met die titel “Is Tim Noakes the Malema of medicine?” Soos Stilwell sê: “Now the former high priest of carbo-loading has perplexed and stunned his followers and colleagues, making an abrupt change in his diet to shun carbohydrates in favour of high-fat, low-carbohydrate eating.”

Tim Noakes se seminale boek, The lore of running, beskryf in besonderhede hoe om voor ’n groot wedloop soveel koolhidrate as moontlik in jou stelsel te kry. Daar is gedetailleerde diagramme en voetnotas wat ’n mens help om koolhidrate te omarm. Vandag sê Noakes: “Skeur daardie hoofstuk uit, gooi dit weg!”

Daardie koolhidrate maak jou vet, sê die einste Noakes nou. “That belly is there because I caused it and I apologise.”

Stilwell het vir Noakes gevra waarom hy van plan verander het. Dit het alles te doen met sy eie dieet, vertel hy toe aan haar. Hý moes gewig verloor en kon nie, tot hy met die Atkins-dieet begin eksperimenteer het.

Noakes is nie meer ’n openlike ondersteuner van die Atkins-dieet nie, hoewel hy erken dat Atkins sy eerste kennismaking was met die idee van ’n laekoolhidraatdieet. Ek wil nie namens Noakes praat nie, maar ek vermoed dat die redes tweeledig is: Atkins se dieet is veel meer ’n plan om gewig te verloor as ’n lewenstyl en ten tweede skryf die Atkins-beweging heelwat produkte voor wat Noakes en sy span nie as gesond beskou nie. Die Atkins-beweging het allerlei koekies en sjokoladestafies en ontbytgraan en skommels wat hulle verkoop, terwyl The real meal revolution glad nie hierdie geprosesseerde leefstyl voorstaan nie. Noakes en sy span wil juis die lesers van hulle boek leer hoe om self kos te maak, hoe om vars produkte te koop en hoe om daardie produkte op die regte manier te kook en te geniet.

2.2 Volgehoue kritiek
Daar is steeds talle opvoedkundiges en dieetkundiges wat hulle lewe maak uit die promosie van ’n laevetleefstyl – nou sê Noakes hulle is verkeerd.

Die vervaardigers van margarien is ook onder druk. My vrou vertel byvoorbeeld dat ’n groot deel van hulle mediese notas oor hartsiektes deur ’n bekende margarienmaatskappy geborg is. Hulle was jare lank die hoofborg van die hartstigting. Nou kom Noakes en kie en sê dis bog.

Ook vanuit mediese kringe word Noakes aangeval, maar aan Stilwell sê hy: “The key is you must not be irrelevant. The fact that I can stir up this controversy is because I’m relevant.”

Ek het vir dr Dawie van Velden gevra wat hý dink. Van Velden is self bekend vir sy werk in die sportwetenskappe en het ook al heelwat oor dieet geskryf. Dit is duidelik dat Van Velden nog onseker is. Hy wil Noakes nie direk teengaan nie, maar waarsku dat ’n oorinname van proteïene skadelik kan wees vir die niere. Toe ek hom egter daarop wys dat Noakes juis nie ’n hoëproteïendieet voorstaan nie, eerder ’n hoëvetdieet, was sy antwoord dat daar baie te sê is vir goeie vette.

2.3 Vleis en die vegetariërs
Ek het baie respek vir mense wat vegetaries eet – en ek bedoel nou geen lewende goed nie. Die Noakes-dieet en die resepte in The real meal revolution bevat egter baie vleis.
Ek en my geliefde het al ’n hele aantal vegetariese geregte gemaak wat by die Noakes-lewenstyl pas, maar dan het ons wel suiwel gebruik. Verder eet ons maar vleis.
Daar is selfs van my vriende wat al jare lank vegetariërs was en nou weer vleis eet. Een het dit gedoen om sy langafstandwedlope te verbeter – en dit het gewerk.

Dit is uiteindelik ’n baie persoonlike keuse.

2.4 Koste
Verskeie rolspelers, ook Noakes, het al vermeld dat dit duurder is om uit hierdie boek te kook as om ’n klomp koolhidrate te koop wat in groot tonnemaat geproduseer word. In ’n arm land is dit ’n probleem.

Ek wil nie in te veel besonderhede ingaan op dié saak nie, maar ons het al begin eksperimenteer met goedkoop proteïene en vette en kon al heerlike geregte daarmee maak. Dan gebruik ons die resepte in The real meal revolution as ’n riglyn, maar ons maak ons eie kos.

Ek sou graag later veel meer oor hierdie aspek wou skryf, maar dit sal dié resensie te lank maak. Vir diegene wat belangstel, sou ek hierdie skakel aanbeveel. Die skrywer is ’n mediese dokter in die platteland. Sy probeer om op ’n begroting van R150 per week dié dieet te volg. http://bandagesandlace.wordpress.com/2014/05/12/banting-on-a-budget.

2.5 Religie?
Een van die goed wat my aanvanklik gepla het, was die oomblik van “bekering” en dan die evangeliese passie waarmee die Noakes-volgelinge hulle nuwe lewenstyl met ander deel. (Soos ek ook binnekort gaan doen.)

Om baie koolhidrate én baie vet te eet, is die “cardinal sin”, volgens die boek. Daar is selfs ’n tong-in-die-kies-verwysing dat jy, voor jy iets eet, moet vra: “What would Banting do?”

Die teks bevat ook tien gebooie oor gesond eet.

Sulke goed irriteer my.

Toe ek egter die nuanses in The real meal revolution begin snap, was ek minder gepla hieroor. Noakes sê openlik dat daar talle mense is wat baie goed vaar op ’n dieet van koolhidrate. Hy wil sulke mense glad nie afraai om op hulle gewone manier voort te gaan nie.

Daar is dus geen veroordeling van mense wat hom nie nodig het nie. Noakes se teikengehoor is mense wat sukkel om gewig te verloor. Ek was een van hulle, daarom sal ek dan nou mý irriterende storie ook weergee.

As jy egter ’n goeie liggaamsgewig op ’n koolhidraatdieet kan handhaaf, dan sê Noakes het jy nie sy boek nodig nie.

3. Mý storie
Ek leef reeds ses maande lank met hierdie teks en probeer om die riglyne daarin te volg.

3.1 Waar dit begin het
In 2013 het ek die Comrades die sewende keer voltooi, in ’n tyd van 11:53:49. Ek het die medalje gekry, maar dit was ’n slegte ervaring en ek het gedink my ultradae is verby. Ek kon eenvoudig nie vinniger nie, al het ek nog nooit tevore harder geoefen vir enige wedloop nie. Een van die probleme was dat ek toe 86 kilogram geweeg het. Niks, maar niks, wou maak dat ek gewig verloor nie.

My pa het ook vroeg al gewig opgetel en teen 45 het sy tipe 2-diabetes al so erg gepla dat hy sy groottoon moes laat amputeer. Van daar af was sy lewe hel en hy is ’n aantal jaar later dood in die hospitaal die aand voor hulle sy been sou afsit. Op sy dag was hy ’n Junior Springbok-jukskeispeler en as rugbyspeler het hy vir Suidwestelike Distrikte én vir Maties in die voorry gesak.

Ek is nou 45.

Ek was vrek bekommerd dat diabetes ook mý voorland sou wees en het begin nalees oor ’n dieet wat ’n lae glisemiese indeks het (low GI diet in Engels). Vir baie jare al drink ek nie suiker in my koffie nie en ek was gelukkig nog nooit mal oor lekkergoed nie. Tog het ek begin let op die groot hoeveelheid suiker wat in alledaagse goed soos vrugtesap, ontbytkos en dies meer voorkom.

Ek en my geliefde het dit bespreek en ek het meer soos ’n diabeet begin eet, hoewel ek gelukkig nog nie een was nie. Dít het reeds gemaak dat ek makliker kon begin hardloop. My marathontye het begin verbeter.

My geliefde het ook oor dié goed begin lees en toe ons hoor van Noakes se boek, het ek dit vir haar gaan koop.

By die skryf van hierdie resensie weeg ek 74 kg. Ek het dus al 12 kg verloor.

Drie weke gelede het ek die 2014-Comrades in 11:13:53 gedraf. Nie net was dit 40 minute vinniger as die vorige jaar nie, maar dit was lekker. Ek het pret gehad. Ek was nooit in die moeilikheid nie.

Volgende jaar wil ek nog vinniger hardloop en ek wil beslis my groen nommer in 2016 met ’n tyd onder 11 uur verdien.

My geliefde is minder koolhidraatintolerant as ek, maar sy geniet dié manier van eet en saam ontdek ons allerlei lekker maniere om ou gunstelingresepte te verander om weer by ons nuwe lewenstyl te pas.

3.2 Honger?
Ek was een van daardie mense wat tipies ’n goeie ontbyt geëet het, teen 11h00 desperaat honger was, dan weer moes eet, teen 13h00 weer en later in die middag nog ’n keer. Saam met die honger het lae bloedsuiker gekom en dit het gemaak dat ek moeilik kon konsentreer.

Deesdae eet ek soveel as moontlik vet vir ontbyt. Die eiers en spek wat ek eet, drup van die botter. Soms is ek teen 13h00 weer honger, veral as ek ver gehardloop het daardie oggend, maar dit is nie daardie soort honger wat maak dat ek nie kan konsentreer nie.

3.3 ’n Volhoubare lewenstyl?
The real meal revolution is nie ’n dieetboek nie. Dit is ’n boek wat my radikaal anders laat dink het oor die res van my lewe.

Die probleem is dat nie almal om ons ’n laekoolhidraat-bestaan voer nie. Dit is baie maklik om by die huis die regte kos te eet, maar wat gebeur as jy vir jou werk moet reis?

Ek vind ontbyt is gewoonlik maklik, want jy kan twee eiers en spek bestel. Ek neem egter pakke droëwors saam as ek reis. Wanneer daar dan happies neergesit word, sal ek beleef knibbel aan dié wat die minste koolhidrate bevat, en dan in die stilligheid die droëwors kou.

Meer as een restaurantgroep het al begin dink aan Banting-vriendelike opsies. Weer eens is ontbyt dikwels ’n goeie roep en ek vra soms of ek ’n ontbyt kan bestel, al is dit al aand.

Michael’s hier in Rondebosch, net oorkant Rondebosch Boys’ High, adverteer selfs “Build your own Noakes”.

Twee dae voor die Comrades het ek ook gesien die Spur het ’n groot advertensie “For the carb-conscious”, maar toe ek my kelner daarvoor vra, kon hy glad nie verstaan wat ek wou hê nie.

Daar is dus maniere om jou leefstyl te volg as jy weg is van die huis af, maar dit is soms moeiliker by vriende en familie. Dan eet ek wel die koolhidrate as dit is wat vir my aangebied word, maar ek probeer die porsies beperk.

Soms sondig ek egter openlik, soos toe ’n vriendin 40 geword het. Ek het die hele dag gesond geëet en toe met genoegdoening een enkele rooifluweelkollewyntjie geëet wat met regte beet gemaak is.

Die ding wat ek verreweg die meeste mis, is heerlike, vars brood. Gelukkig kan ’n mens brood bak wat by die Noakes-leefstyl pas, maar soms hunker ek na ’n sny dik, warm plaasbrood.

Bier, moet ek darem ook sê, bevat baie min koolhidrate. Nou en dan is enetjie steeds baie lekker, veral na ’n lang dag van fisiese oefening.

Ná ses maande waartydens ek die leefstyl van The real meal revolution gevolg het, vermoed ek dat ek dit vir die res van my lewe gaan probeer doen.

Ek is ook nou een van daardie irriterende mense wat in Noakes se leefstyl glo.

’n Goedkoop resep
Dié resep is my eie, gebaseer op Noakes, maar die idee is om goed, dog eenvoudig en betreklik goedkoop te eet. Koop die boek as jy hulle heerlike kos wil probeer.

Ek dui ook aan dat die meeste van hierdie kos op die groen lys is – jy kan dus maar eet.

2 eetlepels klapperolie (groen lys)
4 groot uie (groen lys)
1 eetlepel vars, gekapte gemmer (groen lys)
1 kg vetterige varkskenkel* (goedkoop en op die groen lys)
2 huisies knoffel, fyn gekap (of meer as jy wil, groen lys)
’n goeie skeut borrie (groen lys)
’n skeutjie neutmuskaat (groen lys)
’n halwe teelepel koljander (groen lys)
’n handvol vars roosmarynblare (groen lys)
’n teelepel vol mosterdsaadjies (groen lys)
100 m? droë witwyn** (groen lys)
4 mediumgroot tamaties (groen lys)
1 lemoen (oranje lys)

* Vir Joodse en Moslemvriende, gebruik vetterige skaapvleis.
** Vervang met 100 m? water en twee eetlepels suurlemoensap as jy vir Moslemvriende kook.

Die pot
Ek gebruik ’n swaarboompot vir die gereg, maar jy kan dit ook in ’n stadige koker doen, of op ’n ysterpotjie op die vuur.

Metode
1. Plaas die klapperolie in die pot (dit is solied by kamertemperatuur).
2. Skil die uie en sny hulle in kwarte. Sit al om die rande van die pot.
3. Skil en kap die gemmer en plaas dit in die pot.
4. Plaas die vleis in die middel van die pot (die uie is om die rande).
5. Werk die gekapte knoffel in die vleis in.
5. Gooi die borrie, neutmuskaat, koljander, roosmarynblare en mosterdsaadjies oor die vleis.
6. Gooi die wyn oor die uie.
7. Nou kan jy die deksel op die pot sit, en die pot op die plaat of vuur sit teen die laagste moontlike temperatuur, vir twee ure. Ek gebruik gas, en die heel kleinste plaat op die heel laagste stelling – ná twee uur behoort die vleis al bruinerig te wees.
8. Sny nou die tamaties en die lemoen in kwarte, almal met skil en al.
9. Plaas die kwarte langs die kant van die pot.
10. Sit die deksel terug en laat vir nog so 90 minute saggies prut.

 

  • 3

Kommentaar

  • hi. Ek en my man het ook nou begin met banting. Eers gekant daarteen, agv volhoubaarheid, kry baie negatiewe kommentaar oor dit. Op d stadium werk dit vi ons leefwyse omdat ons nogal naweke gereeld sosiaal is met vriende. Ek sukkil nou erg om my lasste 6kg te verloor na my 2de kind, en het al allis probeer. Is dit nou di nuwe leefstyl om te volg volgens jou resensie? En later, hoe gemaak as jy jou gewig bereik het? Sal een of 2 keer se kroek in d week jou weer laat optel? Soos lekr pap en d brood met botter. Het ook agtergekom mense interpreteer dit verkeerdelik as hoe proteien dieeet. En eintlik gaan dit oor d hoeveelheid vet en groente wat jy inkry wat ek voel is gesond.. Sal dit baie wardeer indien ek grasg van jou kan hoor. Danki.

  • Ek is nou twee weke besig met Banting en dit is redelik maklik om te volg en ek dink ek sal redelik maklik met die leefstyl kan saam leef. Net een problem, die afgelope twee weke het ek drie fiets wedrenne gery van onderskeidelik 25km, 45km en 50km met drie maal per week se oefening tussen in +/- 20km elk. Ek voel uiters uitgeput en swak met 'n gemiddelde spoed wat afgeneem het met +/- 4km per uur. Ek voel verskriklik moeg. Gee raad of inspirasie asb.....!

  • Hi. Ek het die Kos rewolusie gekoop. Ek wil net weet of 'n mens biltong mag eet? Soveer lyk die boek watermond lekker. En ek kan beslis nie wag om te begin nie

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top