
Foto: ©Claude Barnardo (verskaf en verskyn met toestemming)
Presies ’n eeu nadat Agatha Christie die speurwêreld vir altyd verander het met haar mees ikoniese en omstrede meesterstuk, kry Kaapse gehore die geleentheid om die spanning van The murder of Roger Ackroyd in die teater te geniet. Pieter Toerien bied dié verhoogverwerking deur Mark Shanahan by Theatre on the Bay aan, voor dit na die Montecasino Teatro verskuif.
Dis nie net ’n viering van ’n eeufees nie, maar ’n triomf van klassieke teaterkuns wat jou tot die laaste oomblik op die punt van jou stoel – in vertwyfeling – sal hou.
Toe Christie se The murder of Roger Ackroyd in 1926 gepubliseer is, het dit skokgolwe deur die literêre wêreld gestuur vanweë haar slim tegniek waarin die gehoor nie die skuldige kan uitsnuffel nie.
Die skerp dialoog, vernuftige intrige en bowenal ’n onvergeetlike slotwending wat vandag nog as een van die mees geniale vindingrykhede in die misdaadgenre beskou word. Om so ’n teks suksesvol na die verhoog te verwerk sonder om die sielkundige spanning te verloor, verg fyn aanvoeling. Hier het Shanahan hom uitstekend van sy taak gekwyt. Maar dan gee jy die stuk oor aan die gerekende regisseur Alan Swerdlow om aan ’n moderne gehoor voor te sit. Die eindresultaat: ’n eeue-oue storie wat vars, polsend en visueel pragtig is.
Die intrige ontvou in die oënskynlik rustige Engelse dorpie King’s Abbot. Deur die oë van die dorpie se enigste dokter James Sheppard (wat deur Graham Hopkins vertolk word) as verteller, ontvou die hele storie.
Wanneer die skatryk Roger Ackroyd (gespeel deur Mike Huff) in sy studeerkamer gevind word met ’n dolk in die nek – boonop kort ná sy verloofde se geheimsinnige dood wat as selfdood vermom is – is elkeen in die huishouding, én selfs ’n kringetjie om die statige huis, ’n moontlike verdagte.
Niemand is bo verdenking nie, en almal het iets om weg te steek. Dit lok die legendariese Belgiese speurder Hercule Poirot uit sy vroeë aftrede om die saak te ondersoek.
Hy sê heel gepas dat hy afgetree het met smagting na stiller dae, sy eie groentetuin en tyd vir homself, maar – soos baie ander afgetredenes – hy nou terugverlang na die besige dae en ’n gevoel dat hy iewers benodig word. Dit kos dus nie veel oorreding om sy snoeiskêr en tuingrafie neer te sit om sy speurvernuf ten toon te stel nie.
Met leidrade wat in elke denkbare rigting wys, word die gehoor uitgedaag om die legkaartstukkies in plek te laat val, voordat die finale gordyn sak.
Goed, voor ek verder skryf: Jy hou óf van Poirot-moordmisteries óf nie. Hercule Poirot se swaar Franse aksent; sy amper verwaande en beterweterige opmerkings; en die uitgerekte moordondersoek is nie vir almal nie. As dit nie vir jou is nie, bly weg.
Maar as jy daar beland teen jou sin, wees gerus: Die akteurs, die kostuums en stel is só mooi, hierdie toneelstuk kan dalk die Rubicon wees wat jou verewig swaai na Poirot.
In die rol van die perfeksionistiese en eksentrieke Poirot, bewys Alan Committie weer sy veelsydigheid as akteur. Committie – wat dalk bekend is vir sy komiese vernuf – bring ’n perfekte balans van elegansie, humor en skerp intellek na dié rol. Sy vertolking van Poirot is sjarmant dog intens, soms irriterend, maar tog só gevat.
Hy word ondersteun deur ’n indrukwekkende Suid-Afrikaanse rolverdeling, wat die komplekse dinamika van die Engelse dorpslewe foutloos vasvang. Graham Hopkins as James Sheppard en Dianne Simpson as sy skalkse, nuuskierige suster Caroline, wat almal se gesprekke afluister, bied ’n uitstekende klankbord vir Poirot se vermoedens.
Poirot weet gou wie die skuldige is en soos hy verklaar: Die maskers wat almal dra, steek niks weg nie.
Dis moeilik om te besluit wie die medalje vir beste spel hier moet kry: Committie of Hopkins. Hulle dra die toneelstuk en dis lekker om te sien hoe hulle mekaar aanvul en vertrou.
........
Wanneer die skatryk Roger Ackroyd (gespeel deur Mike Huff) in sy studeerkamer gevind word met ’n dolk in die nek – boonop kort ná sy verloofde se geheimsinnige dood wat as selfdood vermom is – is elkeen in die huishouding, én selfs ’n kringetjie om die statige huis, ’n moontlike verdagte.
.........
Die res van die ensemble is ewe skitterend. Michael Richard bring tegelykertyd ’n statige én geheimsinnige gravitas na die rol van majoor Hector Blunt, terwyl Dean Goldblum (as die voortvlugtige Ralph Paton) en Mary-Anne Wright (as Flora Ackroyd) die emosionele spanning in die huis tasbaar maak.
Die res van die span – insluitend Sharon Spiegel Wagner, Brett Krüger, Sarah Wolhuter, Louise Saint-Claire en Russel Savadier as die baie irriterende inspekteur Raglan – is soos die ratte van ’n fyn Switserse horlosie: perfek ingestel om die misterie laag vir laag te laat ontvou.
Hier moet ek my gunstelingbyspeler uitsonder: Louise Saint-Claire speel Roger Ackroyd se suster Gertrude. Sy kyk dikwels te diep in die kristal-brandewynkaraf, maar sien ook sommer vinnig deur mense en het geen wag voor haar mond nie.
Teen die pouse staan almal met ’n glas in die hand en bespiegel wie die skuldige is: Is dit die huishulp wat afgedank is; is dit Roger se stiefseun wat geld nodig het? Wat van Gertrude en haar dogter Flora wat finansieel in die knyp is en by Roger se dood kon baat? Maar die huiskneg Parker praat dalk ook nie die waarheid nie. En moenie sy lewenslange vriend, die majoor, sy sekretaresse of die misterieuse Amerikaanse verkoopsman buite rekening laat nie. En so gaan dit aan.
Poirot se goeie maniere weerhou hom nie daarvan om die irriterende inspekteur Raglan te verkleineer op elke moontlike geleentheid nie.
Hoe lekker om ’n produksie met 12 gesoute akteurs te kan geniet. In ’n wêreld waar teater dikwels aan die finansiële agterspeen suig, is dit lekker om mooi én bekwaam op een verhoog te hê. Dit bring my by die mooi: Visueel is die produksie ’n fees vir die oog. Denis Hutchinson se produksie-ontwerp vang die weelderige atmosfeer van ’n 1920’s Engelse herehuis vas en die puik stelkonstruksie van Nadine Minnaar en Scene Visual Productions skep klein toneeltjies binne die groot stel.
Die kostuums deur Margo Snoyman is histories getrou, elegant en help om elke karakter se sosiale stand en unieke persoonlikheid onmiddellik te definieer.
Adam Howard se klankontwerp weef ’n subtiele, onheilspellende spanning deur die stuk wat die sielkundige spanning versterk.
Christie se produksie is klassieke speurteater op sy allerbeste. Of jy nou ’n lewenslange bewonderaar van Poirot is en die boek van voor tot agter ken, of vir die eerste keer met hierdie spesifieke raaisel of die avonture van Poirot kennis maak, die stuk bied ’n meesleurende ervaring.
Swerdlow se regie sorg dat die tempo nooit verslap nie, en ten spyte van die magdom inligting en leidrade, verloor die gehoor nooit die draad van die storie nie. Jy hou aan raai en jou vermoedens oor wie die skuldige is, skuif voortdurend.
En soos die galante majoor Hector Blunt aan die einde van die stuk – ná die dawerende applous – vra: Sê vir al jou vriende om te gaan kyk, maar moenie verklap wie die skuldige is nie ...
The murder of Roger Ackroyd
Met: Alan Committie, Graham Hopkins, Dianne Simpson, Dean Goldblum, Sharon Spiegel Wagner, Brett Krüger, Sarah Wolhuter, Mary-Anne Wright, Louise Saint-Claire, Michael Richard, Mike Huff, Russel Savadier
Teks: Agatha Christie (verwerk deur Mark Shanahan)
Regie: Alan Swerdlow
Kostuums: Margo Snoyman
Produksie-ontwerp: Denis Hutchinson
Klankopnames: Adam Howard
Stelontwerp: Nadine Minnaar, Scene Visual Productions
Theatre on the Bay, Kampsbaai, Kaapstad van 16 Julie tot 16 Augustus 2026 en van 21 Augustus tot 27 September by Montecasino Teatro
Lees ook:

