Meer as net ’n spieël: ’n refleksie oor drie dramas

  • 0

Foto deur Kyle Head van Unsplash

As mense nou nog wonder wat die doel van teater is, dan sal hierdie drie dramas hulle vraag kan beantwoord.

Die gebed van ’n halfmens, Joshlin: meer as ’n naam en Laaitie mettie biscuits is elkeen ’n aanklag op ons gesamentlike gewete as ’n nasie. Want teater bestaan nie alleenlik vir ontvlugting en plesier nie, en glo my dit lê ook in die kepe en plooie van hierdie stories. Teater is meer as net ’n spieël. Dit is ’n reminder daaraan om te voel, die absolute noodsaak aan meegevoel, meelewing en medemenslikheid.

Die gebed van ’n halfmens
Nicola Hanekom

R200

’n Drama wat die doemprofete en sieners saamroep. ’n Waarskuwing, ’n noodkreet om ons menswees te bewaar, wat ook al dit nog werd is. Nicola Hanekom vra dat ons gaan krap in die vullis van wat ons geword het en om die gevolge van ons elkeen se dade op te tel voor ons ook weggooigoed word.

...
Wat die meeste van haar ikoniese dramatekste soos Hol, Trippie en Mirre en aalwyn deurspek, is ’n twisted, sardoniese humor. Nie een van haar karakters neem hulself vir te lank ernstig op nie en dié wat wel doen, word met ’n heerlike skerp spottery wat aan Edward Albee se werk herinner, toegesnou.
...

Mnr Lam en Mev De Groot is twee lappoppe op die ashoop. Hulle leef in ’n era vêr in die toekoms; hoe vêr is ons nie seker nie, maar ons weet net dat kunsmatige intelligensie (KI) wêreldwyd die septer swaai en dat mense al die meeste van hul menslike eienskappe prysgegee het om halwe robotte te word, of in dié geval, halfmense. So as a matter of fact kruip dié twee eintlik weg, want die samelewing waarin hulle woon glo dat ouer persone en persone met kwale soos dié twee moet slagpale toe gepos word.

Hul kleurlose debakel word gou ingekleur deur die femme fatale op rolskaatse Baby wat hul skrootwerf onderstebo draai. Haar skoonheid is vol krake en haar hart bloei uit haar borskas, al is sy ’n taai tannie wat nie doekies omdraai nie. Ons vind gou uit dat die skugter skadukat vol integriteit Mnr Lam eintlik al jare gelede sy hart op haar verloor het. Die een se hart is onder bloed en die ander een s’n skoonveld.

Baby wil haar kop kom neerlê weg van die broeikaste waarin vroue soos sy, wie se DNS nog nie deur bioniese selle deurdring is nie, moet lê en ingespuit word met sperm om nog halfmense voort te bring. Nes die ander twee, wil Baby lewe, veel vryer en ryker as wat sy is. En omdat sy weet dat haar drome nooit bewaarheid gaan word nie, rook sy een lollie na die ander om aan die barse in haar kop te ontvlug.

Ingrid Jonker se gedig “Waterval van mos en son” word ingevleg wanneer Ouma en Oupa verskyn en die drama ons al dieper in ’n digte droomland van ’n draaikolk in laat aftuimel.

En al is die twee stowwerige figurante nog skaars uit die raam en die essensie van wanhoop en verval in hierdie bioniese fantasielandskap, is hulle twee tog die gentle touch wat hierdie toneelstuk laat vlieg met gul warmte en hoop. Maar hoop is dalk die verkeerde woord, want gou volg ’n slagtertuig, stofwolke van verwoesting, verdowende skote en ’n weerbarstige Baron bevlek in tattoos en siek gedagtes.

Die drama is besproet met poëtiese spraak wat dreun soos stootskrapers, en ander kere nes rommel wat ritedanse oor die ashoop doen. Gevul met binnerym en dialoog wat rinkink en flikflooi met ’n mix tussen versdrama en absurde teater.

Moet natuurlik nie van die Hanekomesque galgehumor vergeet nie. Wat die meeste van haar ikoniese dramatekste soos Hol, Trippie en Mirre en aalwyn deurspek, is ’n twisted, sardoniese humor. Nie een van haar karakters neem hulself vir te lank ernstig op nie en dié wat wel doen, word met ’n heerlike skerp spottery wat aan Edward Albee se werk herinner, toegesnou. Dink byvoorbeeld aan die vroulike protagonis/antagonis in Trippie se oversexualized persona waarmee sy haar suurknol mede-passasier uitdaag. In hierdie geval is dit die roekelose blondekop wat ’n roof op rolskaatse is met ’n “fatale begeerte om te oorleef”. As dit nie absurde ironie is nie, weet ek nie.

Die gebed van ’n halfmens is weer eens ’n bewys van Hanekom se verbysterende gawe om drome en nagmerries saam te weef en boonop vermaaklik, roerend en bloedstollend aan te bied. Dit is nie net ’n wekroep vir die gevare van KI nie. Dit is ’n aanklag op die mens en ’n versplinterde beeld wat nogal baie lyk soos ek en jy.

Joshlin: meer as ’n naam
Herschelle Benjamin

R250

Op 19 Februarie 2024 het die sesjarige Joshlin Smith van haar huis in Saldanhabaai vermis geraak. Die hele land het stil gaan staan daai dag. Vir ma’s, pa’s, onderwysers, maatskaplike werkers tot net gewone mense, wel dié met ’n hart, wat hopelik jou ook insluit wat hier lees. En die meeste van ons kon eers ons asems uitblaas in Mei 2025 toe haar ma Kelly Smith saam met haar kêrel Jacquen Appollis en dié se pel Steveno van Rhyn vir ontvoering en mensehandel lewenslange vonnisse ontvang het. Ja, ons weet nou wie is skuldig, maar die hele land wil nog steeds weet waar klein Joshlin is, maar aangesien Kelly tjoepstil bly, word ons in skerwe met vraagtekens agtergelos.

...
Benjamin is egter vernuftig met sy gebruik van anti-realistiese tendense, veral met die plattrap van vierde mure en die inspan van ’n koor wat tussen woorde shape-shift van buitestanders tot newekarakters, en sodoende ’n kombinasie van slagoffers en kommentators word.
...

Herschelle Benjamin se drama Joshlin: meer as ’n naam herverbeel ’n fiktiewe weergawe van die ware gebeure en deel ons mee wat moontlik agter Kelly se swye kon skuil.

Ons volg die tragiese saak van Kendra, ’n verbeelde weergawe van die berugte ma van die vermiste Joshlin Smith. Wat eers lyk na ’n blink toekoms met onderskeidings in Wiskunde en Skeinat, ontaard baie gou in ’n troebel verhaal van ’n abusive boyfriend wat haar aan dwelms bekend stel. Die arme ma van haar kry niks uitgerig nie, nog minder Lea Kiewiet wat haar op die straight and narrow wil hou nie. Die meisie met haar groen oë en geel hare het net die aandag van outjies op haar brein, ook quick fixes om ’n geldjie te maak. Sy begin maar huise skoonmaak, maar kla dat sy’s “moeg van vir die kallits werk”, oor sy voel haar eie mense betaal haar te sleg. Oor haar drie kinders is sy min gespin, want Wiele pas hulle op en volgens haar is hy glad nie gewelddadig nie, al pronk sy gereeld met ’n blou oog. Binnekort bieg sy by haar vriendin Tasha dat sy vir Joshlin wil verkoop, vir twintigduisend, maar sal minder vat solank hulle net betaal.

Die opening het my herinner aan Ek, Anna van Wyk (1986) deur Pieter Fourie, waar die allegoriese karakter van Grootouer ook aangebied word as ’n aktrise wat die rol moet vertolk en die gehoor as mede-getuie inspan. ’n Meta-tegniek wat dieper ontgin kon word, waar ons die skeidslyn tussen aktrise en karakter verder kon raaksien, asook saamgesleur kon word in die bedoelde vergrysing van grense tussen feit en fiksie, asook reg en verkeerd.

Benjamin is egter vernuftig met sy gebruik van anti-realistiese tendense, veral met die plattrap van vierde mure en die inspan van ’n koor wat tussen woorde shape-shift van buitestanders tot newekarakters, en sodoende ’n kombinasie van slagoffers en kommentators word.

Die fragmentele aard het soms die samehangendheid belemmer, deurdat ons eers regtig by die intrige uitkom teen “Fragment 4”, waar ons vir Kendra ontmoet en sy eers in die leser se hart klim voor sy dit later verpletter.

Die geskrewe aanbieding lees amper nes ’n filmteks met beeldryke aanwysings, soos in “Fragment 19” waar daar vir ons geskets word hoe die Weskus-wind waai en die skuimende branders woed. Dit is egter nie baie pragmaties op ’n verhoog nie en pas ook nie by die Brechtiaanse benaderings wat regdeur in die aanwysings beskryf word nie, soos die gebruik van koerantpapiere, skoene en liggame as simboliek. Hier is egter potensiaal vir die dramateks om oor te vloei in ’n rolprentverwerking.

Mag ons nooit vergeet nie. Nie van Joshlin Smith nie. Ook nie van mekaar wat nog hier is nie en om ons vroue en kinders beter te bewaar.

Laaitie mettie biscuits
Christo Davids

R200

Al wat Noah soek, is sy daaglikse pak Lemon Creme-koekies van Wayne se tuckshop, maar daar is riots in Geluksdalweg en al die winkels is gesluit. Noah is anders, ’n spesiale jong man wat op die spektrum is. Hy hoef egter nie met handskoene aan hanteer te word nie, slegs met ’n bietjie insig en baie deernis, twee eienskappe waarmee hy self baie vrygewig is.

...
Laaitie mettie biscuits is ’n storie wat onder jou vel inklim en jou as leser ongemaklik en seer agterlos. Hoekom dit dan lees? Want dit is die werklikheid van ons land.
...

Sy ma June, ’n enkelouer, het nie daai oggend tyd vir sy streke nie en stel hom in kennis dat Wayne weg is as gevolg van die optogte en dat Noah moet huis se kant toe staan, want sy het ’n belangrike werksonderhoud en staan ’n kans om ’n beter werk te kry en sodoende ook ’n beter toekoms vir hulle twee te verseker.

Nie te vêr van ma en seun af nie, is Simon en Melanie besig om koppe te stamp. Albei werk vir die polisie en skep asem buite die storm van gemeenskapslede wat stoei oor die tekort aan water in Geluksdalweg.

Melanie, ’n opreg tog naïewe polisievrou wat nie vir altyd ’n konstabel wil wees nie, maar ook soos Simon ’n hoër rang wil beklee. Simon, die kil en verharde yin tot haar yang, die bad cop, verseker haar egter dat sy haar hande bietjie vuiler kan maak en ophou met rubber bullets skiet. Hy wil die “goed” vrekskiet.

Sy wil niks hiervan hoor nie. Melanie verstaan nie hoekom hy bruin mense so baie haat nie. Veral nie die lede van die gemeenskap waarin sy grootgeword het nie. Hy voel sy witvoetjie nog te veel en word juis deur haar gemeenskap gedisrespekteer oor sy die dogter van ’n vermoorde smokkelbaas in die einste gemeenskap is.

’n Sinistere speletjie ontaard wanneer Noah met die twee paaie kruis en hulle die onomwonde seun betrek by ’n spel wat die nekhare laat rys.

Laaitie mettie biscuits is ’n storie wat onder jou vel inklim en jou as leser ongemaklik en seer agterlos. Hoekom dit dan lees? Want dit is die werklikheid van ons land. Polisiekorrupsie en die onderdrukking van marginale mense, soos Nathaniel Julius aan wie die drama opgedra is en wat as gevolg van soortgelyke polisiegeweld sy lewe verloor het.

Davids het al met films soos The red zone sy slag vir aksie en geloofwaardige uitbeelding van euwels in ons Suid-Afrikaanse gemeenskappe getoon, maar as dramaturg vang hy die leser met ’n deernisvolle tog eiesoortige benadering tot politiese kwessies, soortgelyk aan Michael Picardie se sielkundige drama Shades of brown: Jannie Veldsman and his struggle with the boer (1978).

Mag hierdie drama ons opnuut herinner aan die noodsaak van verdraagsaamheid, om na ons medemens te kyk en ook onsself en ons loved ones in ander raak te sien.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top