
206 skoolmeises van Eunice en Oranje, het soos in 1926 weer gedeelgeneem (Foto: Zita Filmz)
In Oktober 1926 toe 20 000 mense hulle laaste eer aan die pasifis en humanis Emily Hobhouse betoon het, was daar nét wit mense teenwoordig. Nou, ’n eeu later, toe ons dié dag herskep het, was dit anders.

Deelnememers aan die begrafnisstoet, vroue in roudrag, “akademici”, antieke motors en ’n berede kommando. (Foto: Zita Filmz)
Hier is die rede daarvoor, in haar eie woorde.

’n Eregas arriveer. (Foto: Zita Filmz)
In 1913 het Hobhouse een van die belangrikste toesprake in dié land gemaak, tydens die inwyding van die Vrouemonument – die einste een waar sy later ter ruste gelê is.
Al was sy nie self teenwoordig nie, omdat sy siek geword het, is dit voorgelees deur Charles Fichardt in beide Engels en “Boer Dutch”, soos Hobhouse na Afrikaans verwys het.
Sy het onder meer gesê:
[G]eneration after generation it will stand here pressing home in silent eloquence these great thoughts: In your hands and those of your children lie the power and freedom won; you must not merely maintain but increase the sacred gift. Be merciful towards the weak, the downtrodden, the stranger. Do not open your gates to those worst foes of freedom – tyranny and selfishness. Are not these the with-holding from others in your control, the very liberties and rights which you have valued and won for yourselves? So will the monument speak to you.
Many nations have foundered on this rock. We in England are ourselves still but dunces in the great world-school, our leaders still struggling with the unlearned lesson, that liberty is the equal right and heritage of every child of man, without distinction of race, colour or sex. A community that lacks the courage to found its citizenship on this broad base, becomes ‘a city divided against itself, which cannot stand.
Dít was haar raad en ook waarskuwing aan die land. Soveel soos sy gerespekteer is, so min is daar ongelukkig na haar geluister in die maalkolk van veral die komende nasionalisme.

Die Vrouemonument (Foto: Zita Filmz)
Die onlangse gebeure by die Vrouemonument en Oorlogsmuseum se terrein – met hulle steun – is aangebied en geborg deur die Story of Emily Museum in Cornwall.
Meer as ’n jaar gelede het ek hieraan begin werk, as projekleier van Emily100 – Ons Onthou Emily, en ’n groot span en vrywilligers en betaalde werkers is ingetrek.
’n Honderd jaar later het swart, bruin en wit in die begrafnisstoet geloop, in die koor gesing en in die orkes gespeel. Daar was vroue op perde en nie net mans nie. Daar was ’n vrou wat een van die vier antieke motors bestuur het. Die “1926- belangrike gaste” wat reg onder die monument gesit het, het almal in die land verteenwoordig.
Die sowat 2 000 mense wat op 31 Oktober die verrigtinge bygewoon het, was inklusief. En ook die vroue wat ’n fenomenale 1 300 komberse vir welsyn gehekel en gebrei het (Blokkies vir Emily, ’n projek gelei deur Dané Swanepoel van die Oorlogsmuseum).
Emily Hobhouse het dié keer weer vir haarself gepraat; haar boodskap van versoening, vergifnis en humanisme het mense geraak. Hulle het deelgeneem en geoefen ten spyte van die hitte en uitdagings.
Ná al die jare van navorsing oor Hobhouse, en by die lees van al haar briewe – die eerste brief toe sy sewe jaar oud was, tot die laaste een op 30 Mei 1926 – dink ek: Sou sy hipoteties gesproke na die dag deur ’n venster kon kyk, sou sy haar kop tevrede knik.
Maar sou sy nie dalk ook hartseer gewees het ná die oorlog, soos sy ook in 1913 gevra het, dat wit mense nie die swart en bruin bevolking ingetrek het in die gedeelde pyn en geskiedenis van die Tweede Anglo-Boereoorlog nie? Juis toe sy genoem het dat duisende swart mense dood is in konsentrasiekampe in ’n onmin wat nie hulle s’n was nie.
Hoe het alles gebeur?

Chris Vorster as Jan Smuts (Foto: Zita Filmz)
Antieke motors, “Jan Smuts” se bokbaardjie, die bloedige Vrystaatse son, ’n vragmotor vol goedere, beesmis en koue water vir 650 mense. Dít, en baie meer, was alles deel van die heropvoering van Emily Hobhouse se staatsbegrafnis.
Maande se navorsing en beplanning, permitte, stoele, TV-skerms, klankstelsels, media, videograwe, fotograwe, sekuriteit, honderde kostuums, verskeie groot tente, kos te koop, kos vir deelnemers, kaartjies, gedenkwaardighede, kloktente, hotelbesprekings, vlugte, rekwisiete gehuur, geleen en vervaardig en nog wat is georganiseer.
Renier en Michelle Horn van Bloemfontein het wondere verrig, onmoontlik om te beskryf wat hulle alles vermag het.
Die eerste repetisie van die stoet was op Sondag 25 Oktober, ’n wárm dag. Kostuums is in ’n tent van 20 m x 40 m aangepas en vinnig deur drie naaldwerkers verstel.
Min het ons geweet die komende Saterdag, die 31ste, gaan nóg warmer wees. Eintlik gelukkig, want daarna moes ons beplan hoe gaan ons water koud hou vir die deelnemers vir die groot dag.
Vries die water of hoe? Uiteindelik is meer as 650 bottels water yskoud gehou en 15 minute voor die stoet sou loop onder die deelnemers se stoele uitgepak, waar hulle voor die Vrouemonument sou sit. En ook binne die ringmuur, byna onsigbaar vir die TV-kameras.
Seker een van die grootste uitdagings was die kostuums. In Februarie het ’n veteraan van kostuumontwerp Sylvia van Heerden en haar dogter Emma Gilpin begin werk aan die historiese uitrustings.
Die prag van hulle kennis is dat hulle 206 wit rokkies en sluiers vir die skoolmeisies begin maak het, asook dié van die 200 vroue in swart, en die koor, sónder dat hulle enige mates gehad het.
Hulle ken mense se mates so goed, hulle kon dit skat. En toe die mates maande later inkom, is verstellings gemaak, en toe wéér nadat nog mense bygekom het, sommer in die tent.
Skat jou rokgrootte?
Sylvia is een van daardie mense wat na jou kan kyk en presies kan sê: Jy dra ’n nr 36, met ’n nr 7-skoen en jou hoed is ’n 60. En sommer ook watter sykouse jou sal pas!
Hulle het nie net kostuums en hoede gehuur en gemaak vir die stoet nie, maar ook vir die hele musiekdrama (Die storie van Emily) én vir die 20 mense wat deel was van die klein konsentrasiekamp wat ons op die terrein van die Oorlogsmuseum opgeslaan het.
Al die kostuums, gehuur en gemaak, is van Kaapstad na Bloemfontein vervoer. Selfs die rosette – net soos in 1926 – het hulle met die hand gemaak.

Een van die kloktente in die konsentrasiekamp (Foto: Zita Filmz)
Elana-Marie Snyman, ’n kenner in ontwerp en rekwisiete, het my gehelp met die konsentrasiekamp met sy agt kloktente – wat skaarser as hoendertande is.
Soos die klein konkas waarmee mense destyds kos gekook het en die droë beesmis wat sy wie weet waar gekry het. Die paar aartappels en die bietjie mieliepap vir die vrywilligers wat ons “kampinwoners” was.
Die meeste van die rekwisiete het ons gehuur: vuil kussings, balies, skinkemmers, houtkiste, klein botteltjies, driepootpotte, enemmel, komberse, sakgoed, erdewerk, grasbesems, alles. Nog ’n vrag goedere het van die Kaap gekom, ’n uitstalling oor die lewe van Emily, gedenkwaardighede en ander items vir die produksie.
Perde, palms en Psalms
Gelukkig was daar mooi foto’s, ’n stilfilm van 1 minuut en 30 sekondes, koerantberigte en 300 bladsye in die Vrystaatse argief, asook ander beskrywings van die begrafnis. Caroline Murray (née Cloete), ’n vriendin van Hobhouse, het in 1926 ’n baie goeie verslag oor die hele begrafnis geskryf. Daarin het sy veral die kleure en mates gegee!

Ses meisies van Eunice en Oranje dra die lykbaar en “kissie met die as”. (Foto: Zita Filmz)
So kon Elana-Marie, met behulp van ’n foto van die kissie waarin Hobhouse se as destyds was, die kissie se grootte ook presies namaak. Met die kussing en doek waarop dit gerus het bo-op die lykbaar.
Uit die aard van die saak is Hobhouse se as en plaatjie met haar naam op nog net so aan die voet van die Vrouemonument. Maar diegene wat na die gebeurtenis gekyk het, sou opgelet het dat “die houtboksie met as” kamtig weer in die nis geplaas is.
’n Houtskerm wat presies dieselfde kleur as die monument geverf is, met die “opening vir die as” is deur Elana-Marie geskep en op presies dieselfde hoogte as die “as” in die nis geplaas.
Die hele idee van Ons Onthou Emily was juis om mense terug te neem na 1926. Om hulle weg te voer na ’n eeu gelede.
Vandaar die vier spoggerige antieke motors, waaronder ’n Bentley vir die “eregaste”, wat van die Bloemfonteinse Veteraanmotorklub kom. Die treursaluut aan die einde is gevuur deur sewe mans van die Vrystaatse tak van die Suid-Afrikaanse Wapen- en Ammunisieversamelaarsvereniging, met ou .303’s wat saam met Pete Smith, ’n wapenhanteerder, gewerk het.
’n Kopseer van formaat was die perde – in 1926 het honderde ruiters deelgeneem in die stoet, geweer oor die skouer. ’n Honderd jaar later was dit letterlik ’n perd van ’n ander kleur. Michelle Mazurkiewicz het boerperde van die Noord-Kaap en Vrystaat gekry en talle van die ruiters was dié keer vroue.
Perde wat nie sou skrik vir geweerskote nie, ook met die hulp van Pete, moes vooraf oefen om hulle bietjie gewoond te maak aan die skote.
Die stoet moes nie net sowat 600 m stap nie, maar daar was ook die 1926-program wat by die Vrouemonument opgevoer moes word. Die relatief eenvoudige program van 1926 was toe nie so eenvoudig nie. Die bekende regisseur Nico Scheepers het dit perfek reggekry.
Janine Neethling was aan die stuur van die musiek saam met die Vrystaatse Jeugblaasensemble, onder leiding van Dingaan Chabalala.
Eunice se koor moes twee verse van Hollandse Psalms leer, asook Uren, dagen, maanden, jaren in Hollands. En die orkes Largo.
Destyds is 350 palmtakke wat die skoolmeisies van Eunice en Oranje gedra het, van die Uniegebou per trein gebring. Regte palmtakke sou nie deug dié keer nie. Dis nagemaak, en die metaal aan die onderkant is met groen bloemistelint toegedraai.
Maande voor die tyd het ek die 1926-program bestudeer en besluit dat ons nie soos destyds deur vier toesprake kan sit nie. Dit sou nie werk nie, en ek het net op Jan Smuts se rede (wat in Engels was) besluit. Omdat dit ’n kragtige toespraak was en hy en Hobhouse vriende was.
Ses dae voor die groot dag het ek Chris Vorster (Jan Smuts) vir die eerste keer in persoon ontmoet. En amper ’n oorval gekry – hy was skoongeskeer! Iewers in die honderde stukke kommunikasie het iemand (nie hy nie) iets verkeerd verstaan of gemis.
Wat is Jan Smuts sonder sy bokbaardjie?
Wel, danksy Jam Events, wat gehelp het met die organisasie, is daai lewensreddende stukkie reputasie vinnig in Johannesburg gemaak.
Baie mense vra hoekom het ons dit gedoen?
Omdat die geleentheid daar was: Dit was ’n eeu ná die tyd. Hoekom nie? Ook om haar juis weer aan ’n nuwe en jong gehoor bekend te stel. Dit is juis ook wat die Emily100-veldtog gedoen het.
Hobhouse is vandag nog net so relevant as wat sy was toe sy in einde 1900 in Kaapstad aan wal gekom het. Haar humanisme, pasifisme en feminisme is ’n vaandel. Sy was ’n ondersoeker, aktivis en fluitjieblaser – ’n kanniedood.
Lees ook:
Eeufees na haar dood: Waarom Bloemfontein weer ’n staatsbegrafnis vir Emily Hobhouse laat herleef

