Swan Lake, ’n resensie: tydlose Swanemeer betower

  • 0

Persfoto: verskaf

Ballet: Swanemeer bedryf II, andante en raymonda. Met: Hannah Ward, Zac Healey en ander lede van Cape Town City Ballet. Musiek: Pyotr Ilyich Tchaikovsky en Alexander Glazunov. Choreograaf: Veronica Paeper. Adam Small Teater, Stellenbosch.

Vandat Swanemeer die eerste keer in 1875 in Moscow opgevoer is, het dit al vele verskillende lewens gehad regoor die wêreld. Die stryd om liefde. Transformasie. Die tydlose tirade tussen lig en donker. Tchaikovsky se ballet het van die mees classic temas waarvoor ’n kyker kan vra. Dis die tipe werk wat enige plek en era opgevoer kan word en steeds met gehoorlede sal resoneer. Dus is dit net gepas dat dit weer ’n draai by die Adam Small Teater kom maak!

’n Volgepakte ouditorium was bekoor met Swanemeer bedryf II, andante en raymonda.

’n Sjarmante prins Siegfried (Zac Healey) met pyl en boog daag by die meer op. Een wat bestaan uit die trane van die swane. Toe van die mis met melankolie in die lug. Die oorspronklike komposisie van Tchaikovsky met viool, altviool, tjello, kontrabas en harp vul die teater. Hy word betower deur die hoofswaan wat haarself in die menslike vrou prinses Odette (Hannah Ward) verander.

Gehoorlede was meegevoer deur die herkenbare choreografie, soos die corps de ballet van die swane en die pas de deux van die wit swaan. Dit was egter die pas de quatre (stap van vier), uitgevoer deur die jong swane, wat verstom het. Die eenstemmigheid wat behou is sonder om karakter of grasie te verloor. Healey se gemak met sy tegniek, sowel as sy verhoogteenwoordigheid is altyd iets om op staat te maak, nes met Orpheus in the underworld wat middel-Junie by Artscape gewys het. Hannah Ward moet egter ook uitgelig word vir haar kragtige vertolking van die klassieke heldin. Sy is ’n force of nature met haar moeitelose gemak waarmee sy haar talente met balans, beheer en soepelheid toon.

Daarna was ons verras met ’n oorspronklike stuk andante, ook gechoreografeer deur Veronica Paeper. Die stuk word tussen die twee klassieke werke ingeweef. Dit bied ’n vars bries van kontemporêre dans wat mooi kontrasteer met die streng tegniese en tradisionele dans van die twee ander stukke.

Laastens was ons betower deur Alexander Glazunov se energieke raymonda. Dit was ook, soos Swan Lake deel II, slegs ’n gekondenseerde uittreksel. Raymonda het egter ’n meer hedendaagse gevoel, met musiek gevul met vinnige tempo en sprinkels van kontemporêre dans tussen die ballet. Die energie was aansteeklik en die eens bedeesde balletgehoorlede het luidkeels applous gebied.

Die stuk word steeds aanbeveel vir liefhebbers van enige en alle dansvorme.

Lees ook:

Vlooi en die verlore fossiel in die Kunstekaap: ’n onderhoud met Margit Meyer-Rödenbeck

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top