
Foto van Minke Marais as Vlooi: ©2026 Gys Loubser
Vlooi en die verlore fossiel is in Augustus by die Kunstekaap.
Hierdie produksie is gebaseer op karakters in die Oxford University Press se Storieboomreeks; dis die boeke waarmee baie skoolkinders leer lees. En jare lank al word Vlooi lewe in die teater ingeblaas.
Margit Meyer-Rödenbeck vertel vir Naomi Meyer waarom hierdie produksie vir vroeë lesers bedoel is – maar ook vir liefhebbers van die teater van alle ouderdomme.
Hallo, Margit! Dis weer tyd vir Vlooi in die Kunstekaap. Wie is Vlooi? Wat maak hy in die teater? Dis ook nie die eerste keer dat Vlooi van ’n leer-lees-boek tot binne-in die Kunstekaap gevorder het nie, is dit?
Dit is nie die eerste keer dat Vlooi in die teater is nie. Dit is die 24ste keer. So het De Klerk Oelofse ook vier jaar die rol van Vlooi vertolk en nou is hy die regisseur. De Klerk verstaan die kinders so goed en hy ken die Vlooi-brand, so ek is baie opgewonde om te sien watter vindingrykheid hy na die produksie gaan bring.
Vlooi is ’n agtjarige rakker wat al diep in die kinders se harte gekruip het in die leesreeks, en nou maak ons die boekiekarakters vir ’n 24ste keer lewendig. Vlooi is ’n energieke en avontuurlustige seuntjie.
Hy is bang vir niks of niemand nie. Soms, net soms, wanneer sy broekie wel bewe, sit hy sy braafste gesiggie op. Ons held kan alles reg “hatchachachacha” en met die towersleutel neem hy ons op wonderlike avonture. Minke Marais (wat ook nou in die briljante Die oord op kykNET was in die rol van Mia) is vir die vierde keer Vlooi en sy vang hierdie seuntjie so mooi vas.
(Vlooi en die speelgoedkis van 2025 is weer genomineer as beste kinderteater vir die Kaapse Teatertoekennings.)
Dit klink my vanjaar kuier Vlooi ongeveer in Jurassic Park. Ek weet die avontuur gaan oud en jonk boei. Vertel my asseblief watter storie opgevoer word?
Ilne Fourie het vir ons ’n wonderlike teks geskryf. Soos altyd, gebruik ons nie ’n bestaande Vlooi-boekie nie, maar wel die sentrale karakters, soos Vlooi, Kalla en Wilma. Ons het besef in die 24 jaar het ons nog nooit die wêreld van die dinosourusse besoek nie – lank voor hulle uitgewis is – so die maats reis ook terug in tyd.
Julle is al jare lank hiermee besig. Die kinders ken Vlooi uit hul leesboekies en nou kom sien hulle hom in die Kaap op die verhoog. Het jy iets om te vertel van gebeure of terugvoer wat vir jou uitgestaan het – enigiets van die afgelope paar jaar se ouers, onderwysers of kinders wat iets van die produksie gesê het?
Die terugvoer is altyd oorweldigend. Net laas jaar het een skool vertel hoe die graad 4’s wat nie meer die Vlooi-vertoning bywoon nie, in sak en as is as die grondslagfase se busse vertrek. De Klerk, wat ook die TV-program Kyk wie praat aanbied, vertel dat met die laaste reeks het hulle met 700 kinders ’n onderhoud gevoer om te kyk wie sal lekker werk op die program. Een van die vrae is: Wat was jou lekkerste skooluitstappie? Hy vertel 600 uit die 700 het geantwoord: VLOOI!
Devonecia Swartz, wat nou al drie jaar in die Vlooi-verhoogproduksie is, se eerste teaterervaring was Vlooi en net daar het sy besluit dit is wat sy eendag wil doen. So ook Kerscha Titus, wat die rol van Wilma vertolk.
Die kinders wat bevoorreg grootword, sal nie verstaan of begrip kan hê nie van wat dit vir die kinders beteken wat nie so gelukkig is nie, om die eerste keer in die teater te kom. Waarom beskou jy dit steeds as belangrik dat alle kinders nie net kan lees nie, maar ook die teater as lewende ruimte, wat asemhaal en waar kinders kan asemhaal, kan beleef?
Jy stel dit baie mooi: waar kinders kan asemhaal.
Die moderne kind word baie tweedimensioneel groot voor ’n skerm. Maar ’n skerm is nie interaktief en “rêrig” nie. Die kind ervaar teater as werklikheid en ontsnap vir ’n uur, maar hy kan ook deelneem en maak deel uit van die oplossing van die goeie wat die bose oorwin. Teater ontwikkel beslis die kind se kritiese denke.
Die grondslagfase-leerder reageer meestal nog op instink en nie vooropgestelde idees nie en dit maak hulle die heel lekkerste gehore om voor op te tree. Dis onbevange lekkerte. Lekkerste, maar nie maklikste. Kinders wil oortuig word, so die akteurs en teaterspan moet uithaal en wys.
Kan die res van die publiek ook die produksie kom kyk? Wat kos die kaartjies en waar kan mense dit koop?
Ons het een publieke vertoning op Saterdag 29 Augustus om 14:00. Kaartjies by Webtickets. Pryse wissel tussen R100 (groepbespreking van 10 en meer) en R130.
Die skolevertonings is ook oop vir die publiek.
Afrikaanse vertonings: 13–21 Augustus 2026 om 9:30 en 11:00
Engelse vertonings: 24–28 Augustus 2026 om 9:30 en 11:00
Prys vir blokbesprekings: R85 per kaartjie
Rig enige navrae aan: marinda.vlooi@gmail.com of kontak Louise by 071 688 3033
Hier is nog inligting oor die produksie:
Vlooi en die verlore fossiel by die Kunstekaap Teater vanaf 13 Augustus – 31 Augustus
Net een publieke vertoning op Saterdag 29 Augustus om 14:00. Kaartjies by Webtickets (R100–R130).
Met: Minke Marais, Devonecia Schwartz, Eldon van der Merwe, Kerscha Titus, Wian Taljaard
Teks: Ilne Fourie
Regie: De Klerk Oelofse
By die Kunstekaap Teater vir jaar nommer 24! En die Vlooi-span is ook weer vanjaar genomineer vir beste kinderteater vir die Kaapse Teatertoekennings.
Dit is net nog ’n doodgewone dag. Ons maats, Vlooi, Wilma en Wim, woel en werskaf in die tuin wanneer hulle skielik ’n reuseontdekking maak! Flappie het dalk veel meer as net Vlooi se verlore frisbee begrawe! Vlooi vind ’n yslike dinosourusbeen en voor jy kan sê “stegosourus”, swiep die towersleutel hulle weg na ’n tyd lank, lank gelede.
Vlooi en Wilma beland pens en pootjies binne-in ’n oerwoud op ’n verlate eiland, en Wilma se broek bewe behoorlik as sy besef hierdie is nie leeuwêreld nie, maar T-Rex territory. Danksy ’n vriendelike, en effe deur die vere, pterodaktiel, Terry – die vlieënde reptiel – voel hulle gou minder verlore en Terry neem hulle dadelik onder sy vlerk. Die ontmoeting is egter van korte duur, want Terry is besig om te vlug met die eiland se laaste dino-eier! Is Terry dan ’n eierdief? Hy waarsku hulle egter dat hulle fyn in hul spore sal moet trap, want hulle is nie die enigste tweebeengediertes op die eiland nie.
Ongelukkig is daar die nare Professor Fosselina Voetspoor en haar onhandige handlanger, Robbies Relik, wat sommer gou hul planne in die wiele ry.
Fosselina is bekend daarvoor dat sy dinosourusse vang en hulle beentjies kaal kook en weer aanmekaar vasplak met Superglue! Fosselina soek die eiland se laaste dino-eier vir haar versameling. Sy hou selfs lewendige dinosourusse in haar museum aan, want hoe meer dino’s – hoe meer dollars! En as jy eers agter een van haar glasuitstalkaste beland het, kom jy nooit weer daar uit nie! As die laaste dino-eier nie uitbroei nie, is dit dalk die laaste sien van die dino-blikkantien.
Gaan Vlooi en Wilma die nare Fosselina kan vastrek? Gaan hulle die laaste dino-eier kan veilig hou sonder dat hy kraak? En hoe gemaak as Fosselina die hele eiland dophou met kameras?
Trek aan jou stewels en jou safaripak, want hierdie avontuur is beslis nie vir bangbroeke nie!
En hou maar ’n sak toffies naby – net vir ingeval ’n T-Rex jou jaag, want ons almal weet, die vinnigste manier om ’n ry skerp tande aanmekaar vas te plak is met ’n taaierige tongknoper-toffie!
Vlooi en die verlore fossiel is ’n avontuur vir jonk en oud, want fossiele is ongelooflik – en al is hulle oud, is hulle beslis nog nie koud!
Vervaardiger: Krazy Katz Produksiehuis (Marinda Engelbrecht en Margit Meyer-Rödenbeck)
Musiek: Coenraad Rall
Choreografie: Carlia Greyling
Stelontwerp: Gaerin Hauptfleisch
Verhoogbestuurder: Monique Bowes
Beligting: Nazeem Griebelaar
Besprekings vir skole:
Afrikaanse vertonings: 13–21; 31 Augustus 2026 om 9:30 en 11:00
Engelse vertonings: 24–28 Augustus 2026 om 9:30 en 11:00
Publieke vertoning: 29 Augustus 2026
Prys vir blokbesprekings: R85 per kaartjie
Rig enige navrae aan: marinda.vlooi@gmail.com of kontak Louise by 071 688 3033

