Surprise! Surprise!

  • 1

My bors trek toe en my hartslag versnel elke keer as ek aan Saterdagoggend dink. Ek kan mense darem nie verstaan nie. Hoe kon Japie dit doen! En dit ʼn dag na Ma se dood! Ewe kamstig onder die vaandel van simpatisering.    

Die orrel begin om Wat ʼn vriend het ons in Jesus te speel. ʼn Uur gelede was ek een van die draers.  “Dis is hoe mense deesdae begrafnisse doen,” het my suster, Elize, gesê. “Eers die begraafplaas en dan die kerkdiens.”

By die graf het my gedagtes die heeltyd na Japie se woorde gedwaal, soveel so dat ek misgetrap het en met my een voet in die opening van die graf beland het. Gelukkig kon ek my balans vinnig herwin en my kant van die kis met Ouboet se hulp stabiel hou.  

Ek sit tussen Ouboet en Elize in die kerkbank. Dis net ons drie wat oor is. Pa is vier jaar gelede aan ʼn hartaanval oorlede. Kort-kort pêrel die sweet op my voorkop en hardloop in straaltjies teen my slape af. Dis nie eens so warm vandag nie. Dis alles Japie … Ek stuur my gedagtes doelbewus weg van Japie na my kinderjare toe. Na die dae toe ʼn mens nog vas geglo het dat jou ouers onsterflik is. 

Ek is Ma en Pa se laatlammetjie. Ouboet is agt jaar en Elize vyf jaar ouer as ek. Ek onthou net twee traumatiese gebeure in my kinderjare. Verder was my lewe baie rustig en sonder enige druk op my.

Toe ek twee jaar oud was, het Oom Johnny per ongeluk oor my kop gery. Almal was besig om te waai en afskeid te neem en niemand het gesien dat ek agterom die motor gewaggel het nie. Pa het met my na die hospitaal gejaag, met Ma wat glo histeries gehuil het, maar ek was oukei. Miskien net ʼn paar breinselle verloor in die proses en verder het ek die voordeel gehad dat Ma en Pa nie hard op my was wat my skoolwerk betref nie.

Ma het altyd ʼn spesiale, sagte plekkie vir my gehad, maar met al drie haar kinders was daar een ding wat soos ʼn paal bo water gestaan het – sy laat nie met hulle mors nie. Dit het die nuwe buurseun gou agter gekom. Hy was twee jaar ouer as ek en het daarvan gehou om my te treiter deur bangmaakgoed voor my te doen. So het hy eendag ʼn kokon oopgesny en hom siek gelag vir die lomp papie wat voortydig uitgepeul het. Ek was vyf jaar oud en het snags nagmerries oor die groteske, misvormde monster gekry. Dis net daar waar Ma op ʼn dag besluit het genoeg is genoeg en sy boude aan die brand geslaan het. Daarna was hy maar skugtig vir Ma.

“Ag toemaar Marius,” het Ma altyd gesê as ek met swak punte by die huis aankom, “As Oom Johnny nie oor jou kop gery het nie, sou jy eerste in jou klas gestaan het, nes Ouboet.” Dit was altyd vir my ʼn lekker verskoning vir slaplê, maar ek het darem matriek met ʼn D-gemiddeld geslaag. Ma en Pa was trots op my, en Ouboet en Elize het albei vir my petrolgeld gegee vir die matriekvakansie op Plettenbergbaai.

“Matriek is matriek,” het Pa gesê. “’n Mens hoef nie ʼn A-gemiddeld te hê om iewers in die lewe te kom nie.”

Na skool is ek weermag toe. Dit was standaardpraktyk. Jy moes maar sorg dat jy fiks daar aankom.  Ek was kaptein van die skool se landloopspan, so dit was nie vir my ʼn probleem nie. Pas-naweke het Ma al my gunstelinggeregte gemaak en baie beskuit vir my en my twee tjommies, Emile en Rassie, gebak.

Ons drie was soos bloedbroers van basies af. Saam op die grens geveg en saam gejol. ʼn  Driedubbele draad wat nie maklik verbreek kon word nie. Tot daardie nag dertig jaar gelede, toe ʼn handgranaat ons uitmekaargeskiet het. Emile en Rassie was saam met nog ʼn troep binne die Ratel.  Die vyand was op ons. Hulle het dit nie gemaak nie. Ek en ʼn paar ander troepe moes die Ratel die volgende dag van binne skoon was, breins en vel en vleis van die wande afskraap. Ek kan die reuk van dood nie vat nie!

Ds Du Toit se woorde swem rond. Dit voel of ek op die bodem van die see rondloop en probeer hoor. 

“Geagte familie … bekendes,  Ons … vanoggend by mekaar geko… vir die begr…fnis van Joha…a Maria van Zyl … of Hanna, soos ons haar geken …” 

Ek probeer konsentreer ter wille van Ma. Dus kyk ek dominee Du Toit in die oë soos ʼn man.

“In 'n kort tydjie is haar liggaam verwoes. Nadat hulle in die hospitaal alles gedoen het wat hulle kon, het hulle haar huis toe gestuur. Toe kon sy maar net sit en wag dat die siekte haar liggaam verder verteer.” 

Arme ma! Sy was só maer. Elize sug saggies. Sy haak by my in en vryf my arm. 

Ma is Donderdagnag oorlede. Ek het ingebel werk toe en gesinsverantwoordelikheidsverlof by Japie ingesit. Ek en Elize het oral rondgery om al die begrafnisreëlings te tref. Nie dat ek van veel nut was nie. Ek het die motor soos ʼn robot bestuur. Gelukkig ken ek elke hoek en draai van die dorp. Elize het al die reëlings getref.

Saterdagoggend het ek gou Pick 'n Pay toe gegaan, terwyl Elize die telefoon beman het. Met my terugkoms, het Japie se wit bakkie voor ons huis gestaan. Ek was effe uit die veld geslaan. Tog was dit sonder twyfel Japie se bakkie. Ek het die versameling Bloubulstickers op die agterruit herken. 

Ek skuif effens en probeer hard om op dominee Du Toit te fokus voordat sy woorde weer soos ʼn vis wegswem. Langs my kug Ouboet. My hande begin bewe. Ek voel kortasem en probeer om reëlmatig in en uit asem te haal soos wat my psigiater my geleer het.

“Ons lees in Hebreërs 12 van ʼn skare geloofsgetuies rondom die atletiekbaan. Hulle is daar op die pawiljoene om vir ons wat nog in hierdie lewe leef aan te moedig om doelgerig volgens die wil van God te leef. As ons mooi kyk, sien ons vir Hanna daar tussen hulle.” 

Ma was nog altyd daar vir my. Toe ek van die grens af terug gekom het, het sy vir my deur Ouboet ʼn werk by ʼn firma in die industriële gebied in die stad bekom. Ek moes hoofsaaklik onderdele bestel. Aan die begin was dit interessant en iets nuuts, maar dit het gou sy glans verloor.  Dieselfde ou vervelige takie oor en oor. Elke middag na werk het ek vir myself ses biere gaan koop. Ek het alleen in ʼn woonstel in die middestad gewoon. Ek het nie vriende gehad nie. Ek wou ook nie vriende hê nie. Die drank het my stadig soos dryfsand ingesuig. Ek het gedurende die dag aan saans se dop begin gedink. Later het ek die horlosie begin dophou, want die tyd het so stadig verbygegaan. Toe het ek aan diens begin drink. Ek het ʼn bottel Cane in die toiletbak by die werk weggesteek. ʼn Mens kan dit mos nie ruik nie. Dit was my lafenis tydens etenstyd en later met teetye. 

“Kyk pêl,” het my onmiddellike baas gesê en my kantoordeur agter hom toegetrek. “Jy het ʼn  probleem. ʼn Helse probleem en ons kan dit nie bekostig nie. Jy werk met ons verskaffers. Om sleeptong oor ʼn telefoon te praat, is no joke. Jy sleep ons firma se naam deur die modder! Jy moet dringende hulp kry. So jy het een van twee keuses: Of jy gaan rehab toe òf jy bedank.” 

Ek het die laaste opsie gekies. Ek het my bedanking ingesit en gevra dat dit binne 24 uur van krag is. Ek het my woonstel opgepak, die stad verlaat en by Ma en Pa gaan intrek. My bestuurder het Ma toe al klaar oor my drankprobleem ingelig. Sy het my saam kerk toe gesleep. Onder Ma se arendsoog het ek ophou drink. 

Elize stamp liggies aan my om op te staan. Die begrafnisgangers val trekkerig weg met, Ek sien ʼn  nuwe hemel kom. Ons gaan sit weer. Ek vou my arms oor my volmaanmaag. Elize spot altyd en sê ek lyk soos ʼn opgepofte marshmallow. Nadat ek ophou drink het, het ek begin eet. Wegneemetes by die hope. Trooskos vir die aande wanneer ek nagskof as bewaarder gewerk het.

Ma het kort na my intrek by hulle, nie gehuiwer om op Oom Johnny se knoppie te druk nie. Ek het nog probeer keer, want hulle was nie eens huisvriende nie, maar sy het net daar die telefoon opgetel en geskakel. Ek het na die kamer gehardloop en op die ander telefoon ingeluister.

“Hallo Johnny, dis Hanna. Jy weet mos, Jan-Hendrik se vrou.”

“Hanna! My magtag maar dis goed om van julle te hoor. Hoe gaan dit nog daar met almal?”

“Nee Johnny, maar aan die gang dié kant. Jy onthou seker nog vir Marius oor wie se kop jy gery het toe hy twee jaar oud was. Ag jong, kan jy nie daar ʼn joppie vir hom by die gevangenis reël nie?  Asseblief man. Jy het mos kontakte daar. Die kind het sy alles vir volk en vaderland gegee en nou sit hy soos verlepte kool hier by die huis.” 

“Hi jinne Hanna, ek voel nog na al die jare steeds sleg oor daardie dag. Ek sal kyk wat ek kan doen.”

Twee weke later is ek as bewaarder by ons plaaslike gevangenis aangestel. Op daardie stadium het ek nog in ʼn nr. 32 broek gepas. Nou dra ek ʼn nr. 44. As ʼn mens nagskof werk, slaap jy bedags.  Snags loop jy so al om die uur in die gange af net om seker te maak almal is nog vas aan die slaap in hulle selle. Dis na so ʼn rondte wat ek my McDonalds-burgers of Kentucky-hoender op my lessenaar uitpak en verorber.

Voor Pa se dood het Ma halfhartig pogings aangewend om my eetgewoontes te verander, maar na sy dood het sy Sondae ʼn ekstra bordjie poeding spesiaal vir my geskep.       

Dominee Du Toit trek darem hopenlik nou al driekwart met sy preek. 

“Geliefdes, dit is ʼn hartseer dag vandag. Mag God ons elkeen vertroosting skenk.” 

Ek onthou skielik weer van Japie en my vuiste bal outomaties. Ek voel hoe my spiere styftrek. Ek moet net nie ʼn paniekaanval hier in die kerk kry nie. 

Ek het altyd dagskof gewerk en saans gaan gim. Ma was opgewonde. Haar kind het weer ʼn mens geraak. Die etikette om my nek was weg. Hy is nie meer bossies of ʼn alkoholis nie. Tot die oggend vroeg net nadat ek aan diens gekom het en die een gevangene se sel oopsluit. Die bloed het al tot by die deur geloop. Hy het aan ʼn geskeurde laken gehang. Sy gesig was grysblou. Sy arms het slap gehang. Sy polse vol bloed. 

Ek het eers weer in die hospitaal bygekom. Blykbaar het ek op en af in die gange gehardloop, “Luitenant! Luitenant!” geskreeu en dekking geslaan. 

Ek was vir drie weke in Weskoppies en is daarna vir nog drie weke by die huis afgeboek. Terug by die werk het ek vir Japie gevra om my permanent op nagskof te sit. Dit het my gepas. Ek hoef nie direk met die gevangenes te werk nie en bedags hoef ek met niemand te meng nie, want ek het geslaap. Heerlike ontvlugtende slaap. Eers met net een slaappil. Later met twee en nog later met drie. 

Japie het begin karring dat ek geen sosiale lewe het nie en dat hy nie weet of die nagskofding ʼn  goeie ding vir my is nie. Die gekarring het begin nadat ek per ongeluk een aand verkeerdelik by die werk opgedaag het, toe dit my afnag was. Mense het ook begin kla dat ek soos ʼn druggie met ʼn  sleeptong praat. Ma het beweer dat ek haar snags, as ek op diens is, soms tot vyftien keer bel.  Waar hulle aan hierdie nonsens kom, weet ek nie. Ek is seker dit is Japie wat sulke snert in Ma se kop begin praat het terwyl sy so siek was.

Dis waarom ek klaar half vies en verbaas was toe Japie se bakkie Saterdagoggend voor ons huis gestaan het. Toe ek in die sitkamer inloop, het hy soos ʼn wafferse Kolonel in die army daar gesit en tee drink saam met Elize. Seker toe al weer ʼn klomp goed in haar kop ook probeer praat.

“Dag Marius,” het hy gesê en sy hand na my uitgesteek.

Met die groet het hy my op die skouer geklop en gesê, “Jammer oor jou ma se dood.”

“Dankie, het ek gemompel. Ek was nie lus vir Japie in ons huis nie.

“Kom sit Boeta,” het Elize gesê. “Japie, ek het net gou Mamma se doodsertifikaat vir jou gesinsverantwoordelikheidsverlof kom haal.”

Voor ek nog kon sit, het Japie afgekondig, “O ja Marius voor ek vergeet, van Dinsdag af werk jy dagskof.”

Ek het hom aangestaar en toe net daar omgedraai en uitgeloop. Elize het nog agter my aangeroep, maar ek het in my motor geklim en dadelik na dokter Huisamen gery. Hy het ʼn brief geskryf dat ek om gesondheidsredes nie dagskof mag werk nie. Ek het vanoggend oppad AVBOB toe, om Ma vir oulaas in haar kis te gaan groet, by die gevangenis gestop en dit persoonlik aan Japie oorhandig, nadat ek gisternag nie ʼn oog toegemaak het nie,

My hart kramp. Ek weet nie of dit oor Ma of oor die bleddie Japie is nie. My Ma is dood en hy probeer om van my ʼn vlinder te maak deur my kokon te knip. En hier is ek nou: ʼn lomp papie met verskrompelde onderontwikkelde vlerke en hy sê: “Vlieg. Vlieg!” 

Dit was toe glad nie so moeilik om Japie se kantoorsleutel in die hande te kry nie. Elke sisteem het mos maar sy loopholes. Ek sluit die deur blitsvinnig oop, sit die lig aan en sluit weer agter my toe.  Japie se kantoor is pynlik netjies, nes die pyn wat hy is. Genadiglik is sy laaikabinet nie gesluit nie.  Ek kry binne sekondes my persoonlike leêr danksy sy alfabetiese liassering. Ek gaan sit agter sy lessenaar en maak my leêr oop. Heelbo lê dokter Huisamen se brief. Die een wat ek persoonlik vir Japie kom oorhandig het en hy met ʼn vlugtige lees as ˮBullshit!” afgemaak het.

Ek maak die silwer knippies los en liasseer my brief aan Japie bo-op. Ek het dit vanaand tydens my laaste nagskof geskryf. ʼn Impuls pak my beet om groot “DOOS” oor die bladsy te skryf, maar ek los dit. Japie sal wel uit dit wat ek geskryf het self daardie afleiding maak. Ek los my leêr oop op sy lessenaar. Nog net ʼn paar formaliteite afhandel, dan is dit Surprise! Surprise! vir Japie môreoggend as hy hier inloop. Amper soos die dag toe hy vyftig geword het en sy vrou balonne aan die balk agter sy lessenaar vir hom gehang het. Net dié keer sal dit ek wees wat daar hang.

Lees ook

Weg van ons

As die aarde bewe …

’n Staaltjie uit die dagboek van ’n maatskaplike werker

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top