As die aarde bewe …

  • 0

“Tien dubbelbrannewyne gisteraand en jy dink dis oukei!”

“Ag magtag Willemien, gaan jy nou weer kerm en teef. Wie het ek nou daardeur benadeel? Die motor is nog in een stuk en julle ook.”

“Dit gaan nie oor jou óf ons óf die motor nie. Dit gaan oor die geld wat jy uitmors! Koop mos sommer rondes vir die hele kaboedel en dan moet ek rondhol en my alie afwerk vir kos vir my en die kinders en dat ons hierdie huis kan behou.”

“Ag hemel Willemien! Asof ’n paar drankies ons nou in ons moer gaan stuur.”

Hannie se keel is droog en krapperig. Sy het pas wakker geword. Sy rol uit die bed uit, loop kaalvoet kombuis toe en maak die yskasdeur oop. Sy is lus vir melk. Pa blaas soos ’n opgepofte verkleurmannetjie. “Wat soek jy hierso, jou nuuskierig hond!” Hannie draai om en gaan klim weer in die bed. Dit voel asof die Karoo homself in haar keel kom tuismaak het.

Die dreuning van stemme gaan voort in die kombuis, nou ’n bietjie sagter. Dan skielik al hoe harder. Sy wip soos sy skrik toe ’n bord in skerwe spat. “… en joune ook!” gil Ma. Die voordeur klap. Hannie hoor die motor wegry. Ma gaan seker na haar haarafspraak.

’n Paar minute later kraak die agterdeur en toe wip die motorhuis se deur op. Die grassnyer begin knor. Nou-nou gaan die bewaarder met die bandiete kom om in hulle tuin te werk. Dis elke laaste Saterdagoggend van die maand se ding. Pa sê dis deel van hulle straf om in mense se tuine te werk.

Hannie klim weer uit haar bed uit en loop kombuis toe. Sy maak die yskas oop en gooi vir haar ’n glas melk in. Sy gaan klim weer terug in haar bed en begin haar biblioteekboeke deurblaai. By die prentjie van ’n slang ril sy en klap die boek toe.

Laas Saterdag het Pa en Boeta droë gras en blare in die agterplaas opgetel.

“Pa, ’n slang!” het Boeta gegil. “Ek het sy kop gesien! So ’n witte.”

Pa het die graaf gegryp en die blare weggeskraap.

“Het hom! Die wetter! Duiwelskind!” het hy uitgeroep en die slang se kop met die graaf afgespit.

“Hannie! Ma! Kom kyk” het Boeta gegil.

“Dis ’n albino,” het Pa gesê.

Deesdae kry Hannie baie nagmerries oor slange. In die nag as sy bang is en na Ma en Pa se kamer wil gaan, lê die gang een meter diep vol krioelende slange. Die ander nagmerrie wat sy oor en oor droom, is dat sy nie buite kan speel nie omdat daar elke drie treë rondom die huis giftige slange lê. Party aande is sy amper te bang om aan die slaap te raak oor die nagmerries. Dan verbeel sy haar dat sy in ’n doodskis lê soos Ouma en vou haar hande oor haar bors. Sy sien haar begrafnis voor haar oë afspeel, hoe Pa en Ma oor haar huil. Boeta staan eenkant en gooi kluite na die graf. Kleinsus hang aan haar ma se bene.

Kleinsus was van geboorte af die witbroodjie. Altyd voorgetrek deur Ma en Pa. Daarom brand Hannie haar kopvel aspris as sy haar hare met die haardroër moet droogblaas. As sy gil, sê Hannie net, “Sorrie”. Na ’n rukkie doen sy dit weer. Kleinsus sou nooit hier gewees het as Hannie en Boeta nie kliphard saans op hulle knieë gesmeek het vir ’n sussie of ’n boetie nie. “Ons het maar ingee voordat ons die kinders se geloof knak,” het Ma aan Ouma oor die telefoon gesê. Dit was vyf jaar gelede.

Hannie staan op en loer deur die kantgordyn. Die bandiete is besig om te spit. “Hou op leeglê,” skree die bewaarder op een bandiet wat met sy arms op sy graaf rus. Die bewaarder en Pa het albei rewolwers om hulle heupe. Hannie hou nie van die bandiete so op hulle erf nie. Sy gril vir hulle soos vir slange. Sy wonder altyd wat hulle gedoen het om in die tronk te beland. Hulle lyk vreemd met hulle kaalgeskeerde koppe, en hulle gesigte lyk wreed.

“Wat maak jy?” Kleinsus loer om die deur.

“Ek blaai deur my biblioteekboeke.”

“Waar is Mamma?”

“Ek weet nie. Sy het gery. Sy sal nou-nou terug kom.”

“Kom speel saam met my pop.”

“Nee, ek lees nou. Gaan speel in jou kamer of gaan eet jou pap.”

Kleinsus verdwyn in die gang.

Hannie dink skielik aan die snaakse droom wat sy laasnag gedroom het. Hulle was op die skoolgrond. Almal het kettings om hulle gehad. Skielik het Jesus op die wolke verskyn en almal se kettings het van hulle afgeval. Hulle het Hom tegemoet gevlieg in die lug. Haar kettings het ook afgeval, maar sy kon nie gevlieg kry nie. Sy het op en af gespring en haar vlerke geklap, maar sy was te swaar. Sy wonder wat dit kan beteken? Sê nou dit is waar dat sy nie eendag hemel toe gaan nie? Haar keel trek toe. Pa sê die Jirre Jesus-storie is sommer nonsens. ’n Tandmuisstorie. Dan raak Ma kwaad en sê: “Karel, jy moet jou woorde tel voor die kinders. Daar staan nie verniet: ‘Laat die kindertjies na my toe kom’ en ‘Glo soos ’n kind’ nie. Moenie die kinders verwar met jou Thomas-maniere nie.”

“Laat die kindertjies na my toe kom” werk nie in Hannie-hulle se huis as dit by storiesomme kom nie. Ma hou nie van sukkel nie. As sy vir Hannie verduidelik en sy nie vinnig genoeg kan verstaan nie, klap Ma haar agter die kop en sê: “Moet jou nie onnosel hou nie. Karel!! Vat tog net die kind oor.” Pa kan goed verduidelik. Hy praat sag met haar. “Hannie, luister nou mooi: Jan spaar R2 elke dag. Hoeveel geld spaar hy in vyf dae?” As sy nie verstaan nie, gee Pa vir haar vyf R2’e uit sy sak en laat haar dit op die tafel uitpak. Dan moet sy in twees tel en dan verstaan sy beter. Pa hou daarvan om grappies te vertel terwyl hulle woordsomme doen. Die laaste een wat hy vir haar vertel het, was oor die onnie en Hannie. Hy hou daarvan om haar naam in die grappies te gebruik. Dit gaan so:

Onnie: Gestel jy het R100 en jy vra jou pa vir nog R50. Hoeveel rand het jy?

Hannie: R100.

Onnie: Kan jy optel?.

Hannie: Juffrou ken nie my pa nie.

Dan lag hy uit sy maag uit en Hannie kan die brandewyn ruik. Sy lag saam, want sy hou daarvan as Pa in ’n goeie bui is.

“Waar hoor Pa al die grappies?”

“Ek lees dit in daai Huisgenoot wat jou ma elke week koop.”

Hannie besluit om bietjie klavier te gaan oefen terwyl Ma nog weg is. Ma raak kwaad as sy nie reg klavierspeel nie. “Nee my magtag, Hannie! Hou op om my te vergas op jou vals note. Oefen jou toonlere dan sal dit ook beter met jou gaan.” Ma raak gou omgekrap. Dis hoekom sy en Pa so baie baklei.

Hannie hoor die motor buite stop. Ma is terug. Sy maak die klavier toe en hardloop na haar kamer.

“Lyk my julle twee was soet,” sê Ma toe sy by Hannie se kamer inloer. "Kleinsus speel pop en jy lees." “Ja,” sê Hannie. Ma maak vir hulle toebroodjies en koffie.

Pa kom in die huis in. Die bewaarder en die bandiete is klaar. Hulle het reeds gery. Hy gaan stort.

“Karel, moet jy nou weer Saterdag saam met jou pelle gaan rugby kyk by die pub? Asof jy nie ’n vrou het wat ook elke dag van die week werk nie! Ek sit nie hier op my alie rond en niksdoen nie! Ek is ook moeg, maar ek kan nie ontspan nie. Dis huiswerk en strykwerk en kinders oppas en jy jol rond met jou vriende. Dis nie reg nie!”

“My liewe hemel, Willemien, wat verwag jy van my? Moet ek hier sit en jou oppas en jou hand vashou? Gun jy my nie ’n bietjie plesier nie? Ek werk ook hard in die week. Dink jy handearbeid is maklik?”

Hannie maak haar kamerdeur toe. Sy wil haar boeke lees. Sy hoor hoe die voordeur klap en Pa wegry. 

Later die middag hoor Hannie ’n dreuning wat van ver af kom. Dit klink amper soos die dreuning van Ma en Pa se stemme in die kombuis vanoggend, maar dit is baie harder en toe is daar ’n hewige skudding. Die blikke op die kombuiskas begin teen mekaar te ratel en tuimel af. Die kasdeure vlieg oop. Ma se blompot vol proteas val fyn en flenters op die teëls. Dit lyk vir Hannie kompleet asof die huis kantel en die mure enige oomblik kan omval.

Sy hoor haar ma gil: “Hannie! Kleinsus!” Hulle hardloop kombuis toe. Ma is asvaal geskrik en bewe soos ’n riet. Sy gryp vir Hannie en Kleinsus elk aan die hand en hardloop na die agterplaas. Boeta gooi sy fiets buite neer en kom staan by hulle op die grasperk. Die aarde tril onder hulle voete.

Kleinsus begin huil.

“Moenie worrie nie. Dis net die klippe wat onder die aarde baklei,” troos Ma.

“Ja,” sê Hannie, “moenie worrie nie, Kleinsus. Die Pappaklip het te veel brannewyn gedrink en toe skel die Mammaklip hom en sê hy mors al hulle geld uit en toe sê die Pappaklip jou moer. Toe gooi die Mammaklip die Pappaklip met ’n bord. Hulle gaan nou-nou ophou baklei.”

Ma gee vir Hannie ’n tamaai klap agter haar kop. “Moenie vir jou slim hou nie,” sis sy en haar oë blits soos ’n slang.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top