
Dean John Smith
Dean John Smith is een van die veelsydigste akteurs in die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf en is ewe tuis voor die kamera as op die verhoog. Hy speel die rol van die geliefde karakter Wade Ferreira in die gewilde kykNET-sepie Suidooster en is by die Suidoosterfees by vier toneelstukke te sien.
Wade se karakter het oor die jare aansienlike groei getoon – van ’n ietwat rigtinglose jong man tot ’n verantwoordelike individu wat sy pad in Ruiterbosch probeer vind. Sy storielyne raak dikwels aan temas van familielojaliteit, vriendskap en die uitdagings van die liefde.

In Kry vir jou ’n tux, Thomas saam met Marion Holm
By die fees is hy te sien in Kry vir jou ’n tux, Thomas saam met Marion Holm; in Lemoene, lemoene, lemoene, lemoene, lemoene saam met Mienke Ehlers; in Dance synergy maak hy ’n verskyning as “Antie Bettie”, ’n karakter wat hy ’n paar jaar gelede geskep het; en hy is ook in die Suidooster-konsert Stormsterk te sien.

In Lemoene, lemoene, lemoene, lemoene, lemoene saam met Mienke Ehlers
Eersgenoemde vertel die verhaal van Tessa wat nie onder ’n kalkoen uitgebroei is nie. Sy wéét vanaand se funksie en die belaglike “toekenning vir lewenslange bydrae” wat sy ontvang, is om subtiel te sê haar tyd is verby. Tessa gaan nie opdaag nie en die stotterende Thomas het sy hande vol om haar te oorreed om tog te gaan. Holm en Smith speel die verhoog vuurwarm in hierdie stuk oor seekatte en wat ons doen om oukei te wees. Daar is baie om oor te lag, maar vir balans, ook heelwat om oor te huil.
Dis pas vir ’n Kanna benoem vir Beste aanbieding: komedie.
Laasgenoemde toneelstuk deur Sam Steiner kyk na ’n Suid-Afrika waar mense net 140 woorde per dag mag gebruik, en hoe twee jong geliefdes moet leer om met stilte te leef, en om met woorde te baklei. Hoe sê jy “Ek’s lief vir jou” as taal self gevaarlik geword het? Hierdie ontroerende stuk ondersoek wat liefde, vryheid en die krag van ’n mens se stem binne beperkinge beteken.
Maryke Roberts se vrae vir Dean:
Jy vertolk al jare die rol van Wade in Suidooster. Hoe het jy dit ervaar om hom te sien groei van ’n “rigtinglose jong man” na die verantwoordelike individu wat hy vandag in Ruiterbosch is?
Wel, ek moet sê, soms dink ek hy’s steeds nie baie verantwoordelik nie. Hy neem net sekere verkeerde besluite met meer conviction. Maar daar is definitief groei. En dis lekker om saam met hom deur daai journey te gaan. Nooit vanaf ’n plek van judgement nie, maar altyd vanaf ’n understanding-punt.
Jy is ewe tuis voor die kamera as op die verhoog. Wat bied die intieme energie van ’n feesgehoor vir jou wat ’n sepiestel nie kan nie en omgekeerd?
Beide mediums het hulle eie “adrenaline rush” wat deurkom. Met ’n sepie is daar nie juis ’n einde nie. So jy speel maar soos dit gaan en probeer uitlê waar die groeidele is en groot oomblikke. Jy moet constantly ’n manier kry om dit vars te hou vir die kyker, maar ook vir jouself as akteur wat dieselfde karakter moet speel vir byvoorbeeld 10 jaar. Met teater is daar ’n begin, middel en einde. So jy weet presies waar om wat te plaas. En daar is niks so lekker soos die rush van ’n live audience nie! Geen “cut” en “ons doen dit oor” nie. Gaan voluit en as iets verkeerd gaan, dink vinnig en fix dit.
In Kry vir jou ’n tux, Thomas word daar gesê daar is baie om oor te lag, maar ook om oor te huil. Hoe benader jy daardie fyn lyn tussen komedie en die rou emosie van “oukei wees”?
Dis maar gedeeltelik hoe ons as Suid-Afrikaners is. Ons coping mechanism is baie keer deur te joke. Solank die eerlikheid in ’n storie gevind en gespeel kan word, kom die grappe ook baie meer natuurlik. En sodoende hoef jy dan nie ekstra hard te probeer om die diep en seer oomblikke te vind nie, want die eerlikheid is reeds die aanslag.
........
Dis maar gedeeltelik hoe ons as Suid-Afrikaners is. Ons coping mechanism is baie keer deur te joke. Solank die eerlikheid in ’n storie gevind en gespeel kan word, kom die grappe ook baie meer natuurlik.
........
In Lemoene, lemoene word die beperking van 140 woorde per dag ondersoek. As akteur wat gewoonlik bladsye vol teks memoriseer, hoe het hierdie konsep jou uitgedaag om meer met liggaamstaal en stilte te kommunikeer?
Aaa, ek’t hierdie konsep gelove vanaf die oomblik wat ek dit gelees het. Tóg so interessant. Juis omdat ek self iemand is wat tog so baie kan praat. Maar ons weet dat sekere stiltes boekdele kan spreek. En dis lekker om daai idee ’n bietjie vleis te gee. En om jou heeltemal in te stel om iets oor te dra in plaas daarvan om net op woorde staat te maak.
In een van die vier stukke staan jy teenoor ’n veteraan soos Marion Holm, en in ’n ander saam met ’n jong tydgenoot soos Mienke Ehlers. Wat leer jy by elkeen van hierdie verskillende vroue in hierdie verskillende temas?
Ek is verskriklik gelukkig om teenoor beide hierdie talentvolle akteurs te speel. As akteur kan mens altyd leer, so om met Marion te werk wat al jare in die bedryf is, is ’n groot eer. Ek leer letterlik deur net te sien hoe sy dinge doen. Klein dingetjies wat mens net met ervaring kan aanleer. Sy besef dit nie eers nie. En met Mienke, iemand wat dinamies en honger vir teater is. Sy het ’n ongelooflike benadering tot karakterisering en heg soveel waarde daaraan om die eerlikheid van ’n karakter te vind. Wat ek die meeste waardeer van beide van hulle is dat hulle ’n liefde en passie het vir wat hulle doen. En dit skyn deur in hulle werksetiek.
Die tema van “vryheid en die krag van ’n mens se stem” is sentraal in jou werk. Hoe resoneer die idee van “beperkinge” in Lemoene, lemoene met die huidige uitdagings waarmee die Suid-Afrikaanse kunstebedryf worstel?
Elke area het maar hul uitdagings; jy moet net vind waarmee jy bereid is om te worstel. Te veel beperkings kan noodlottig wees vir die Afrikaanse kunstebedryf. As die kunste beperk word, sal ons in gevaar wees – dis tog ’n plek waar opinies gelug kan word sonder die boundaries van die realiteit. En dit is broodnodig om juis kwessies aan te spreek en moeilike gesprekke aan te moedig. En met sosio-ekonomiese kwessies wat daagliks groei, het ons ’n platform nodig om van die realiteit te ontsnap en terug te kom met objektiewe oplossings. Dis wat die kunste kan bied.
Jy word beskryf as een van die veelsydigste akteurs in die bedryf. Is hierdie veelsydigheid ’n kreatiewe keuse, of is dit ’n noodsaaklikheid om kop bo water te hou in ’n land waar die kunste swaarkry?
Ek is bevoorreg genoeg om verskeie soorte werk te kan doen en nie juis keuses te hoef te maak uit ’n plek van desperaatheid nie, veral in teater.
Dis ook vir my belangrik om konstant te groei as kreatiewe wese, om sodoende nie later jouself te beperk met hoe mense jou sien nie. So nee, ek dink nie noodwendig dis om kop bo water te hou nie. Ek glo die “veelsydigheid”-kompliment is bloot ’n getuienis van hoe gretig ek is om in elke medium wat die Suid-Afrikaanse kunste bied te wil gaan speel, te skep en te ontdek.
Met vier produksies by die Suidoosterfees, hoe belangrik dink jy is feeste vir die voortbestaan van die bedryf en vir die loopbane van jong akteurs?
Feeste is belangrik omdat dit die platform skep vir gesprekke om aangemoedig te word wat andersins moeilik is om in die alledaagse lewe te hê. Dit is ook ’n wonderlike plek om ’n gehoor te kweek tussen die verskillende kunsvorme. Iemand kom dalk vir ’n dans show en loop dan verby ’n musiek show of kuns wat die aandag gryp. En net so word nog ’n kunsliefhebber gebore.
Lemoene, lemoene vra hoe ’n mens “Ek is lief vir jou” sê as taal gevaarlik word. In ’n Suid-Afrikaanse konteks waar taal dikwels kompleks is, hoe gebruik jy jou kuns om brûe te bou?
Die werk van ’n akteur is om ’n storie so eerlik as moontlik oor te dra. Dis nie net ’n rol wat jy speel nie, dis iemand se realiteit waaraan jy asem gee. Iemand wat nie noodwendig die platform het nie, maar wel iets het om te bied. Om dan so die eerlikheid te probeer oordra kan mense bewus maak van iets anderkant ’n spoorlyn waarvan hulle nie bewus was nie. So word brûe gebou en oorgesteek wat dalk nie voorheen moontlik was nie.
As ’n jong akteur wat sukses behaal het in beide hoofstroomtelevisie en op die verhoog, wat is jou boodskap aan dramastudente wat bang is dat daar nie vir hulle ’n toekoms in die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf is nie?
Vind die ware rede vir jou passie in die bedryf. Is dit vir “roem”, sal daai gevoel verval. Daar is elke dag ’n geleentheid vir iemand nuut om in die bedryf te kom. As jy bereid is om aan te hou leer en soos ’n spons dit op te suig, is jy alreeds op pad in die regte rigting. Moet nie net dink “wat ek eendag wil bereik nie”, maar eerder “Vir wat is ek bereid om hard te werk en op te offer?”
- Kry vir jou ’n tux, Thomas is ’n koproduksie van Toyota Innibos en die Vrystaat Kunstefees. Die vertoning duur 75 minute en het ’n geen o/13-ouderdomsbeperking. Dit speel op 30 April om 20:00 en 1 Mei om 09:00 by The Little Theatre, Hiddingh-kampus.
- Lemoene, lemoene, lemoene, lemoene, lemoene is ’n KKNK- en Suidoosterfees-produksie, moontlik gemaak deur NATi en ondersteun deur Festival Enterprise Catalyst (FEC), in samewerking met The Jobs Fund. Die vertoning duur 80 minute en het ’n geen o/13-ouderdomsbeperking. Dit speel op 2 Mei om 09:00 en 3 Mei om 12:00 en 19:00 by die ATKV Arena Teater.
- Dance synergy word aangebied deur Figure of 8 Dance Theatre en die Suidoosterfees op 2 in die kykNET Teater om 13:30.
- Stormsterk word ondersteun deur kykNET en Homebrew Films. Dit word op 2 Mei om 17:00 in die The Capetonian Operahuis aangebied.
Foto’s: verskaf
Lees ook:
Suidoosterfees 2026: Jakobregop – onderhoude met die regisseur en akteurs

