
Anzio September as Gertjie; Dean Balie as Freda en Marcel Meyer as Beaulah (foto’s: Fiona MacPherson)
Christiaan J de Swardt skryf oor Jakobregop by die Suidoosterfees 2026, en voer ’n onderhoud met die regisseur, Fred Abrahamse.
In die wêreldpremière van Hennie Aucamp se heerlike en ondeunde skaterlagsaterspel – Jakobregop by die Suidoosterfees sit twee verouderende “boesemvyande”, Beulah en Freda, skielik met ’n asemrowende jong Adonis op die voorstoep – en voor iemand kan keer, is die lus los in die onderbroek. Dit is ’n volwasse komedie van stoute maniere wat wys dat die hart (en ander liggaamsdele) nie sommer aftree nie, en dat ’n mens nooit té grys is om nóg een laaste keer te kafoefel nie …
Prikkelingtergend.
’n Saterspel is ’n soort blyspel wat in antieke Griekeland die slotstuk ná drie tragedies vorm en waarin spelers, geklee soos saters, ’n wilde, sinnelike, pantomimiese dans ter ere van Dionusos uitvoer. Drie dae lank is daar by die “tragiese fees” in ou Athene opvoerings gehou, met elke dag drie tragedies (’n trilogie). Maar aan die einde (ná al die plegtighede) het die berugte saterspel gevolg om die hoë spanning te verbreek en in dolle vrolikheid die ewewig te herstel.
Die bekroonde kortverhaalskrywer en kabaretskepper Hennie Aucamp het dié formaat vir Jakobregop gebruik. Dit word nou die eerste keer – twaalf jaar na sy dood – opgevoer. Die stuk is vier dekades gelede in sy bundel Sjampanje vir ontbyt opgeneem.
Fred Abrahamse is die regisseur.
Ons gesels.
Fred, jy is bekend vir jou epiese produksies waarin lyfteater dikwels byna orgasmiese klimakse bereik. Nou pak jy ’n ikoniese, kort teks – wat boonop nog nooit opgevoer is nie – aan. Waarom?
Van die eerste oomblik af wat ek die stuk gelees het, was ek opgewonde oor die bykans eindelose kreatiewe moontlikhede wat dit bied. Stilisties het dit sterk aanklank gevind by temas en obsessies wat reeds in my ander werk voorkom. Eerstens is daar die rou, onbeskaamde seksualiteit van die stuk, wat aansluit by vorige produksies soos Sasha Turner se Contested bodies en Steven Berkoff se Decadence.
Terselfdertyd werk Jakobregop in ’n meer intieme, kamerformaat, iets wat herinner aan die kortvormwerke van Tennessee Williams wat ons in die verlede aangepak het. Daarby sluit die inherente stilering van klassieke vorme aan, soos die saterspele van antieke Griekeland en selfs die streng estetika van Japannese Noh-teater, soos in ons bekroonde produksie van Yukio Mishima se The Lady Aoi.
Wat al hierdie invloede verbind, is ’n onderliggende queerestetika en -wêreldbeskouing. Dit is juis wat my so gefassineer het: dat hierdie klein juweel van ’n teks soveel tematiese rykheid en kompleksiteit in so ’n kompakte vorm kan omvat.
Hoe skep jy en jou trio energie in ’n beperkte ruimte?
My werk – hetsy dit klassieke teater, opera, musiekteater of kontemporêre drama is – neig nog altyd eerder na stilering en teatermatigheid as na filmiese realisme of naturalisme. Sentraal tot my benadering is die oortuiging dat teater in die eerste plek ’n akteursmedium is, en meer nog: dat dit ’n kunsvorm is wat aktiewe deelname van die gehoor vereis, in teenstelling met meer passiewe mediums soos televisie, film en stromingsdienste.
Die soort teater wat my werklik opgewonde maak, is teater waar die gehoor medeskeppers word – waar hulle verbeelding geaktiveer word en hulle hulself aan ’n verbeelde werklikheid kan oorgee.
Soos Peter Brook dit so treffend stel: “I can take any empty space and call it a bare stage. A man walks across this empty space whilst someone else is watching him, and this is all that is needed for an act of theatre to be engaged.”
Met ander woorde: Met minimale middele – ’n sitbank, ’n stoep en drie akteurs – kan ’n hele wêreld geskep word, mits die spel, die energie en die verbeelding eg en lewendig is.
Waarom die ouderdomsperk?
Die fallus, beide as beeld en as teaterobjek, was ’n integrale deel van die tradisie van die saterspel, en in Hennie Aucamp se Jakobregop is dit ook so – dit is ’n prominente en herhalende visuele motief in die stuk, wat direk aansluit by die oorspronklike saterspeltradisie, waar oordrewe en eksplisiete falliese beelde deel van die estetika was.
Om hierdie rede is ’n ouderdomsbeperking nodig, aangesien die produksie elemente bevat wat nie vir jonger gehore geskik is nie.
Wat is die geheim van subtiele, volwasse teater?
Ek dink die geheim van alle groot teater, hetsy dit vir volwasse gehore is of nie, lê daarin dat elke element van die produksie in diens van die teks staan: die spel, ontwerp, beligting, musiek – alles. Veral wanneer ’n mens met ’n sterk teks werk van ’n skrywer soos Hennie Aucamp, Tennessee Williams of William Shakespeare. Soos Shakespeare dit self so raak gestel het: “The play’s the thing.”
Marcel Meyer is die medevervaardiger. Hy voeg hieraan toe:
As ’n oorwegend klassieketeatergeselskap werk ons minder met nuwe tekste en eerder met herinterpretasies van bestaande werke. By uitsondering kry ons egter die geleentheid om nuwer tekste van groot skrywers op die verhoog te bring – soos ons reeds met twee wêreldpremières en verskeie Suid-Afrikaanse premières van Tennessee Williams se minder bekende stukke gedoen het.
Toe die geleentheid hom voordoen om ’n wêreldpremière van ’n toneelstuk deur een van die ikone van die Suid-Afrikaanse teater- en letterkundelandskap, Hennie Aucamp, aan te pak, was dit eenvoudig onweerstaanbaar. Dit is boonop só ’n besonderse, fyn geslypte klein juweel van ’n teks.
Ons is opreg dankbaar teenoor Melt Myburgh wat die teks aan ons deurgegee het, want van die eerste lees af het ons geweet: Hierdie stuk móét op die verhoog kom.
Was daar uitdagings?
Komedie vereis byna chirurgiese presisie en ’n besonder verfynde tegniek om op die verhoog werklik spontaan en moeiteloos te lyk. Daarom het ons baie sorg en aandag daaraan bestee om elke oomblik in die stuk só te vorm dat dit tot sy maksimum komiese potensiaal ontgin word – sonder om die patos en die emosionele kern wat Hennie Aucamp in die teks ingebou het, te verloor.
’n Verdere uitdaging was dat Aucamp self die stuk bestempel het as ’n “saterspel”, ’n baie gespesialiseerde vorm van die klassieke Griekse teater wat onderskei moet word van gewone Griekse komedie. Tradisioneel is hierdie stukke deur die tragiese digters geskryf as afsluiting van ’n trilogie tragedies, en het dit ’n koor van saters ingesluit wat, dikwels met oordrewe en obseen falliese kostuums, gesing en gedans het ter ere van Dionusos.
Ons moes dus ’n manier vind om daardie rou, ondeunde, byna anargistiese saterspel-energie vas te vang, terwyl ons steeds getrou bly aan die styl en fynheid van die teks.
Moes julle teksaanpassings maak?
Glad nie. Wanneer ’n mens die wêreldpremière van ’n stuk aanbied, dra jy ’n besondere verantwoordelikheid om dit so na as moontlik aan die skrywer se visie na die verhoog te bring. Met ouer, gevestigde tekste wat gehore reeds goed ken, kan ’n mens dit bekostig om ’n meer radikale of eiesoortige aanslag te volg. Maar met ’n nuwe teks is die taak van die akteurs en die kreatiewe span om alles in hul vermoë te doen om die suiwerste, getrouste vertolking van die stuk met ’n gehoor te deel.
Waarom is Hennie Aucamp se werk nog in 2026 relevant?
Hennie Aucamp se nalatenskap lê in sy buitengewoon verfynde sensitiwiteit vir die intieme, die suggestiewe en dit wat onuitgesproke bly. As skrywer het hy ’n ruimte geskep waarin die subtiele emosionele en seksuele onderstrominge van mense se lewens kon bestaan – dikwels in ’n tyd toe dit nie openlik benoem kon word nie. Hy was ook ’n pionier van Afrikaanse kabaret en het bewys dat sogenaamde “kleiner” vorme – ’n kortverhaal, ’n kabaretteks, selfs ’n satiriese of speelse stuk – ’n diepgaande waarheid en kompleksiteit kan dra. Só het hy doelbewus die grense tussen hoë en lae kuns laat vervaag.
Wat besonder treffend is, is hoe sy werk ’n soort gekodeerde queerbewussyn dra, nie as slagspreuk nie, maar as atmosfeer, as spanning, as verlange. Dit maak Jakobregop vandag besonder relevant, omdat ons nou daardie subteks openlik kan vier op maniere wat moontlik nie in sy tyd haalbaar was nie.
Uiteindelik was Aucamp ’n meester van suggestie – iemand wat verstaan het dat dit wat onuitgesproke bly, dikwels die hardste praat.
Die karakters en akteurs
Dean Balie vertolk die rol van Freda, ’n naam wat in gay-sleng verwys na ’n verwyfde man of iemand wat baie kamp of flambojant is.
Dean: Ek en Freda is baie dieselfde: Ons hou albei van bier en ’n stoute grappie! Ek is egter getroud met ’n pragtige vrou en is ’n trotse pappa. ’n Akteur se eie menswees, eie omstandighede en eie lewensiening bepaal nie hoe hy in die gees en lyf van ’n karakter klim nie. Ek speel teenoor twee talentvolle akteurs en ek is ook ’n akteur. Dus: My benadering om hierdie rol te vertolk is basies dieselfde as toe ek die varkie in Charlotte’s web was.
Marcel Meyer vertolk die rol van Beaulah, wat in gay-sleng na ’n ouer, kieskeurige, skinderagtige gay man verwys; met ’n soort moederhen-energie wat alles van almal weet.
Marcel: Hennie Aucamp beskryf Beaulah en haar boesemvyand, Freda, as “tussen 70 en 80; geslag: onseker”. Hy dui ook spesifiek aan dat die rolle deur akteurs óf aktrises vertolk kan word. Reeds in die voorwoord tot die teks gee hy speels woordverklarings uit ’n sogenaamde gayle-idioom, waar Beaulah byvoorbeeld beskryf word as “beautiful”, dit wil sê beeldskoon, ongeag geslag, en Freda as “frustrated”.
Soos met enige karakter put ’n mens noodwendig uit jou eie ervarings en lewensgeskiedenis. Maar die grootste vreugde van toneelspel lê juis daarin om jouself oor te gee aan die wêreld van die dramaturg en om in die psige van ’n karakter in te tree wat ver verwyder is van jou eie werklikheid. Met verbeelding, en met die leiding van die skrywer, kry jy die geleentheid om ’n mens te beliggaam wat heeltemal anders as jy self is.
Anzio September vertolk die adoniskarakter, Gertjie.
Anzio: Ons is min of meer dieselfde in die sin dat hy ’n swerfjagter is en ek ook. Veral in die toneelspelbedryf moet ons altyd uitkyk vir die volgende optrede. Ons leef in ’n moeilike ekonomiese tye. Daarom is verskeie inkomstestrome noodsaaklik.
Jakobregop is vandag nog relevant omdat dit die mensdom en die hunkering na liefde, sorg en aanvaarding weerspieël. As ons kyk na al die oorloë wat polities en sosiaal aan die gang is, het die wêreld vrede en liefde nodig. Alhoewel dit ’n ondeunde satiriese toneelstuk is, is die temas van liefde en aanvaarding deurgaans duidelik!
Verwag die onverwagte in hierdie toneelstuk. Ondeunde humor sal daardie maagspiere laat kramp. Die karakters is oordrewe en heeltemal bisar, wat weer die menslike psige weerspieël.
Koop kaartjies vir Jakobregop.
Lees ook:
Suidoosterfees 2026: Gesprekke oor Eugene, die teaterproduksie

