Suidoosterfees 2025: Op die markplein – waar almal preek (Jakes Gerwel-gesprekke)

  • 0

...............

Op die vraag hoe ’n mens balans vind in die “Babelse” gesprekke oor geloof, het beide sprekers die klem geplaas op nederigheid en aksie. Storey het gesê die soek na waarheid is ’n voortdurende worsteling wat in nederigheid aangepak moet word.

“Ons moet die waarheid najaag, daarmee worstel en dit dan toepas om te onderskei tussen wat waar en vals is,” het hy gesê. Vir hom lê balans in ’n lewe wat konsekwent is met jou waardes, eerder as in die hardste stem op die markplein.

...............

Bettina Wyngaard, voorsitter van die Andrew Murray-Desmond Tutu-Prysfonds, het by die pas afgelope Suidoosterfees gesels met Siya Khumalo en Alan Storey oor geloof se plek in die openbare diskoers.

Is geloof nog geloofwaardig? Hoe behou ’n mens jouself én jou integriteit in ’n era waar elke slimfoon ’n preekstoel geword het en menings in hoofletters op sosiale media uitbasuin word asof volume waarheid skep?

Jean Oosthuizen gee ’n oorsig van hierdie Jakes Gerwel-gesprek.

Bettina Wyngaard, Siya Khumalo en Alan Storey (foto: Jean Oosthuizen)

In ’n era waar elke slimfoon ’n preekstoel geword het en menings in hoofletters op sosiale media uitbasuin word asof volume waarheid skep, het die vraag na geloof se plek in die openbare diskoers ’n nuwe dringendheid gekry.

Te midde van hierdie Babelse geraas het die Jakes Gerwel-gespreksreeks tydens die Suidoosterfees in Kaapstad ’n ruimte geskep vir nadenke, verdieping en eerlike gesprek daaroor. Onder die tema Op die markplein – waar almal preek het drie uitgesproke denkers, Bettina Wyngaard, Siya Khumalo en Alan Storey, nie net die vraag gevra of geloof nog geloofwaardig is nie, maar ook hoe ’n mens jouself én jou integriteit behou te midde van die rumoer.

Bettina Wyngaard, voorsitter van die Andrew Murray-Desmond Tutu-Prysfonds, het in gesprek getree met twee uitgesproke figure: Siya Khumalo, skrywer van You have to be gay to know God en The queer book of revelation, en Alan Storey, ’n Metodiste-predikant en menseregte-aktivis, bekend vir inisiatiewe soos die Geel Banier-veldtog in 2011, wat solidariteit getoon het met die Right2Know-veldtog teen die Beskerming van Inligting Wet. Sy kerk het in 2019 skuiling gebied aan vlugtelinge wat uit die Waldorf Arcade ontruim is en buite die VN se Hoë Kommissaris vir Vlugtelinge se kantore gekamp het.

Khumalo en Storey, wat uit verskillende generasies en agtergronde kom, deel ’n unieke verbintenis met die Suid-Afrikaanse Weermag, maar hul ervarings kon nie meer verskil nie. Storey, wat tydens die apartheidsjare as jong man opgeroep is vir verpligte diensplig, het dié oproep kategories geweier. “Ek het reeds as seun geweet ek sal nooit in die Suid-Afrikaanse Weermag dien nie,” het hy gesê. Vir hom was die weermag ’n instrument om apartheid se onderdrukking te handhaaf. Sy gewetensbeswaar was gewortel in die leringe van Jesus, Gandhi en Martin Luther King. Sy weiering was nie slegs geloofsgebaseerd nie, maar ook polities, ’n moedige standpunt wat hom voor die vooruitsig van ses jaar tronkstraf geplaas het. Die oorgang na demokrasie het egter sy verhoor kortgeknip, en hy het vrygeloop na twee hofverskynings.

Khumalo, aan die ander kant, het in 2005 as skoolseun tydens ’n beroepsvoorligtingsdag vrywillig aangesluit by die weermag in ’n demokratiese Suid-Afrika, gedryf deur die ideaal van ’n reënboognasie en diens aan sy land. “Die weermag is aan my voorgehou as ’n instelling van orde, stabiliteit en hoë morele waardes,” het hy vertel. Maar sy idealisme het gou plek gemaak vir ontnugtering.

“Die weermag was ’n mikrokosmos van dieselfde politieke speletjies, korrupsie en magspel wat elders in die land afspeel,” het hy gesê. Sy ervaring, veral tydens stakings waar die weermag hospitale moes ondersteun, het hom gekonfronteer met sistemiese wanfunksies; mense wat gesterf het nie weens siektes nie, maar weens ’n gebroke gesondheidstelsel. Dit het hom laat vra: “Waarom laat die stelsel dit toe?”

’n Kernmoment in die gesprek was Wyngaard se vraag aan Storey oor die verskil tussen geloof en spiritualiteit, waar sy hom in Engels as “pastor” aangespreek het. Storey was vinnig om te korrigeer: “Ek wil eintlik nie as ‘pastor’ aangespreek word nie.” Vir hom dra die woord, wat “herder” beteken, die implikasie van versorging, ’n plig wat hy glo primêr by die regering lê.

“Politici en regeerders behoort die ‘pastors’ te wees wat die armes en kwesbares moet versorg,” het hy betoog, en verwys na die staat se verantwoordelikheid om strukturele ongelykhede aan te spreek. Hy het ’n Latyns-Amerikaanse aartsbiskop aangehaal: “As ek brood aan die armes gee, noem hulle my ’n heilige. Maar as ek vra waarom die armes geen brood het nie, noem hulle my ’n kommunis.” Vir Storey is die kerk “makgemaak” en het dit sy roeping versaak om die gemarginaliseerdes te dien.

Storey se benadering tot geloof en spiritualiteit is pragmaties en lewensgerig. “Die woorde geloof en spiritualiteit beteken vir my min, tensy dit gaan oor hoe jy leef,” het hy gesê. “Kyk hoe iemand asemhaal, hoe mededeelsaam hulle is, hoe hulle die waarheid hanteer – dít is hul spiritualiteit.” Vir hom is geloof nie ’n abstrakte konsep of ’n stel dogmas nie, maar ’n leefwyse wat geregtigheid en waarheid najaag. Hy het die kerk se magsposisie gekritiseer, veral die preekstoel, wat hy as ’n “geweldige magsposisie” beskryf waar niemand terugpraat nie. In plaas daarvan, pleit hy vir ’n geloof wat mag afstaan, soos Jesus wat krag verloor het toe die vrou aan sy kleed geraak het om genesing te vind.

Khumalo se perspektief is ewe uitdagend, maar gewortel in sy ervaring as ’n queer Suid-Afrikaner wat godsdiens, seksualiteit en politiek navigeer. Hy lees die Bybel nie net as ’n geestelike teks nie, maar as ’n stuk gereedskap om mag te kritiseer. “Mense lees die Bybel simbolies, maar selde as ’n lens om magshebbers uit te daag,” het hy gesê. Sy tyd in die weermag en sy waarnemings van sistemiese mislukkings het hom meer bewus gemaak van die politieke stelsel en die leiers wat dit bestuur. Vir Khumalo is geloof ’n oproep tot aksie om onreg te bevraagteken en verandering te bewerkstellig, selfs in die gesig van teenstand.

Wyngaard het die gesprek na die geloofwaardigheidskrisis van gelowiges, veral Christene, gestuur. Sy wou weet hoe gelowiges hul morele stem in die samelewing kan herwin te midde van kritiek op georganiseerde godsdiens. Storey was openhartig: “Die kerk se grootste geskenk aan die wêreld sou wees om sy sonde en skuld te erken.” Hy het gewys op die kerk se geskiedenis van magsmisbruik, van die manipulering van mense met idees oor die hiernamaals tot die trauma wat dit veroorsaak het. Vir hom is die hedendaagse profete nie predikante nie, maar joernaliste en burgerlike aktiviste wat korrupsie en onreg ontbloot. “Hulle doen die profetiese werk wat die kerk veronderstel is om te doen,” het hy gesê.

Storey se kritiek op mag strek verder as die kerk. Hy het gewaarsku dat mense vinnig dit kan word wat hulle eintlik haat, en voorbeelde uit Suid-Afrika se geskiedenis aangehaal. “PW Botha het Desmond Tutu se paspoort weggeneem, maar die nuwe regering het dieselfde gedoen toe hulle die Dalai Lama verhoed het om Tutu se verjaardag by te woon,” het hy gesê. Hierdie herhaling van onderdrukkende praktyke, selfs onder ’n demokratiese bewind, is vir hom ’n waarskuwing dat mag voortdurend bevraagteken moet word.

Khumalo het ’n ander benadering tot die geloofwaardigheidskrisis gebied, met die fokus op volharding in die openbare gesprek. Vir hom is sosiale media ’n kragtige platform om sy boodskap oor te dra, selfs wanneer dit weerstand uitlok. “As jy glo iets is waar, hou aan om dit te sê,” het hy aangedring, en verwys na Donald Trump se onverstoorbare houding teenoor kritiek. “Trump laat hom nie afskrik deur diegene wat hom haat nie, en ons moet ook nie wegskram van ons oortuigings nie.” Hoewel Khumalo se voorbeeld omstrede is, beklemtoon hy die belangrikheid van vasberadenheid om verandering teweeg te bring, veral in ’n wêreld waar negatiewe reaksies onvermydelik is.

Op die vraag hoe ’n mens balans vind in die “Babelse” gesprekke oor geloof, het beide sprekers die klem geplaas op nederigheid en aksie. Storey het gesê die soek na waarheid is ’n voortdurende worsteling wat in nederigheid aangepak moet word. “Ons moet die waarheid najaag, daarmee worstel en dit dan toepas om te onderskei tussen wat waar en vals is,” het hy gesê. Vir hom lê balans in ’n lewe wat konsekwent is met jou waardes, eerder as in die hardste stem op die markplein.

Khumalo se benadering is meer konfronterend, maar ewe gefokus op impak. Hy moedig gelowiges aan om hul stemme te gebruik, veral op platforms soos sosiale media, om uitdagende maar nodige gesprekke aan te wakker. “Soms moet jy dikvellig wees om verandering te bring,” het hy gesê. Sy ervaring as ’n queer aktivis wat godsdiens en seksualiteit in die openbaar bespreek, getuig van sy bereidheid om teen die stroom op te swem, selfs wanneer dit ongemak veroorsaak.

Die Jakes Gerwel-gespreksreeks het ’n kragtige herinnering gebied dat geloof en spiritualiteit nie in ’n vakuum bestaan nie. In ’n wêreld waar almal op die digitale markplein preek, is die uitdaging om ’n stem te vind wat nie net gehoor word nie, maar wat ook bydra tot genesing en geregtigheid.

Storey en Khumalo, met hul uiteenlopende maar aanvullende perspektiewe, het gewys dat geloof nie ’n statiese oortuiging behoort te wees nie, maar ’n lewende praktyk wat die moed vra om mag te bevraagteken, waarheid te soek en die gemarginaliseerdes te dien.

Vir Storey is die kerk se roeping om sy skuld te erken en sy mag af te staan. Vir Khumalo is dit om die Bybel as ’n instrument van kritiek te gebruik en nooit op te hou praat nie, selfs in die gesig van teenstand. Saam herinner hul stemme ons dat balans in die Babelse geraas nie lê in die hardste preek nie, maar in ’n lewe wat waarheid en deernis weerspieël; ’n lewe wat, soos Storey sê, wys “hoe jy asemhaal, hoe mededeelsaam jy is en hoe jy met die waarheid omgaan”.

Lees ook:

Suidoosterfees 2025: Gedrukte media of digitaal – hoe vertolk ons die nuus? (Jakes Gerwel-gesprekke)

Jakes Gerwel-gesprek (Suidoosterfees 2025): Afrika op die globale verhoog – met wie speel ons?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top