Suidoosterfees 2025: Boeke en feeste – pasmaats? (Jakes Gerwel-gesprekke)

  • 1

Chareldine van der Merwe het met Alma Struwig, Melt Myburgh en Nita Cronjé by die pas afgelope Suidoosterfees oor die rol van boeke, lees en boekwinkels by feeste gesels.

Jean Oosthuizen gee ’n oorsig van hierdie Vriende van Afrikaans Ommietafel-gesprek (“Boeke en feeste – pasmaats?”), deel van die Jakes Gerwel-gespreksreeks.

Van links: Alma Struwig, Melt Myburgh, Chareldine van der Merwe, Shireen Crotz en Nita Cronjé (foto: Jean Oosthuizen)

In ’n wêreld waar digitale afleidings toenemend meeding vir aandag, word die voortbestaan van die geskrewe woord, onder meer ook in boeke, se toekoms dikwels onder die vergrootglas geplaas.

Die afgelope naweek, tydens die Suidoosterfees in Kaapstad, is boeke as die hart van kunstefeeste uitgesonder. Boeke is gekroon as die koning van die kunste, wat die relevansie van boeke in die kunste-ekosisteem beklemtoon.

Tydens ’n gesprek as deel van die Suidoosterfees se Jakes Gerwel-gespreksreeks was dit duidelik dat die geskrewe woord op papier in boekvorm steeds ’n kragtige instrument is vir inspirasie, verbinding en kreatiwiteit.

Deur boekgesprekke, skrywers se teenwoordigheid en die lewendige ekosisteem van feeste word die waarde van lees nie net beklemtoon nie, maar ook gevier. Dit was die algemene konsensus van ’n paneel wat besin het oor die belang van boekgesprekke by kunstefeeste.

Die Jakes Gerwel-gesprekke was die ideale platform vir ’n boeiende bespreking oor die rol van boeke, lees en boekwinkels by kunstefeeste soos die Suidoosterfees, KKNK, Aardklop, Woordfees en ander soortgelyke feeste.

Die paneel, bestaande uit Chareldine van der Merwe, Nita Cronjé, Melt Myburgh en Alma Struwig, het die tema “Wat is die rol wat boeke, lees en boekwinkels by feeste speel?” ondersoek. Is daar nog ’n behoefte aan en ’n plek vir die geskrewe woord by feeste, en is boeke en feeste pasmaats in ’n tydperk waarin digitale skerms al hoe meer oorheers.

Melt Myburgh, ’n voormalige uitgewer en nou ontwikkelingstrateeg vir die Suidoosterfees, het met passie gepraat oor die sentrale rol van woorde in die kunste. “Jy kan nie iets manifesteer of verbeel sonder woorde nie,” het hy gesê. “Boeke is die koning van die kunste by feeste, want die woord onderlê alles.” Hy het kunstefeeste as ’n natuurlike omgewing vir boeke beskryf, waar die een kunsvorm die ander voed. Skrywers se teenwoordigheid by feeste skep ’n unieke dinamiek: Hul boekgesprekke word bronne van debat en inspirasie, en die feesatmosfeer gee skrywers ’n verhoog wat boekwinkels of gewone bekendstellings nie altyd kan bied nie.

Met Myburgh se opmerking “... die woord onderlê alles” spreek hy die oortuiging uit boeke in hierdie sin nie net ’n deel van kunstefeeste nie, maar inderdaad die hart daarvan is.

Nita Cronjé, verteenwoordiger van die ATKV by kunstefeeste, het die fondament van die bespreking gelê deur te beklemtoon dat alles by die woord begin. “Die skrywer se stem is dikwels die sneller wat tot ander kunsvorme, soos teaterproduksies of rolprente, lei,” het sy gesê. Boeke is nie net ’n kunsvorm op hul eie nie, maar ook ’n bron van inspirasie vir ander kreatiewe uitdrukkings. Die ATKV, wat lees as ’n kernwaarde beskou, het byvoorbeeld jare gelede ’n boeke-oase by Aardklop begin, en dit later landwyd na ander feeste uitgebrei. Hierdie inisiatief gaan gepaard met diskoersprogramme wat die boekwinkelervaring verryk en gesprekke rondom literatuur aanmoedig.

Cronjé het ook gewys op die ekosisteem van kuns by feeste. “Mense wat van lees hou, is dikwels ook lief vir kunsuitstallings, teater of diskoersgesprekke,” het sy verduidelik. Feeste skep ’n georganiseerde ruimte waar kreatiewe en kritiese denkers byeenkom, en boeke speel ’n sleutelrol om hierdie georkestreerde omgewing te verryk. Sy het bygevoeg dat uitgewers opmerk dat skrywers wat vir meer as een dag by ’n fees betrokke is, beter boekverkope ervaar – ’n bewys van die impak van direkte interaksie tussen skrywers en lesers.

Chareldine van der Merwe, projekbestuurder van die Vriende van Afrikaans, was die gesprekleier. Sy het die uitdagings van leesbevordering in Suid-Afrika uitgelig en na kommerwekkende statistieke verwys: 82% van graad 4-leerders kan nie met begrip lees nie; slegs 14% van Suid-Afrikaners lees aktief; en 58% van huishoudings besit nie ’n enkele boek nie. Hierdie leeskrisis beklemtoon die dringende behoefte aan inisiatiewe wat lees aanmoedig, veral onder kinders. “Ons wil hê kinders moet lief wees vir lees,” het sy gesê, en feeste bied ’n unieke platform om hierdie passie aan te wakker.

Van der Merwe het die gesprek afgeskop met ’n oproep om leesbevordering voort te sit, veral in die lig van die leeskrisis. Sy het die waarde van feeste beklemtoon as ruimtes waar kinders en volwassenes geïnspireer kan word om boeke op te tel. Myburgh het bygevoeg dat die magie van ’n fees lê in die menslike verbinding wat dit skep tussen skrywer en leser, tussen storie en verbeelding.

Van links: Chareldine van der Merwe, Melt Myburgh, Nita Cronjé en Alma Struwig

Van der Merwe het ook die spanning tussen digitale en gedrukte media aangespreek. In ’n era waarin skerms alomteenwoordig is, is daar nog ’n behoefte aan die geskrewe woord? Haar antwoord was ’n besliste ja. Boeke bied ’n dieper, meer introspektiewe ervaring wat digitale media nie altyd kan ewenaar nie. Kunstefeeste, met hul fokus op kreatiwiteit en menslike verbinding, is die ideale plek om hierdie waarde te beklemtoon.

Myburgh het ook die menslike aspek van boekgesprekke beklemtoon. “Wanneer jy ’n skrywer ontmoet en sy of haar stem hoor, lees jy daardie skrywer se boeke op ’n ander manier,” het hy gesê. Hy het skrywers as die “eintlike popsterre” van feeste beskryf, waar hulle erkenning kry vir hul werk. Terselfdertyd het hy erken dat nie alle skrywers gemaklik is op ’n verhoog nie. Hy het staaltjies gedeel uit sy loopbaan, insluitend hoe groot skrywers soos André P Brink probleemloos optree, terwyl debuutskrywers soms meer eise stel. Hy het ook aangrypende ervarings gedeel, soos die gewelddadige ontwrigting van ’n boekbekendstelling in Sandton, Johannesburg van Pieter-Louis Myburgh se Gangster state: Unravelling Ace Magashule’s web of capture, wat die risiko’s en uitdagings van die bedryf illustreer. Die bekendstelling is ontwrig deur Ace Magashule-ondersteuners wat met busse aangery is.

Alma Struwig, ’n bestuurder by Exclusive Books, het insig gegee in die dinamika van boekverkope by feeste. Sy het verduidelik dat verskeie faktore bepaal watter boeke goed verkoop, insluitend die tyd van ’n boek se vrystelling en die aard van die gesprekke op die fees. Elke fees het sy eie karakter, wat beïnvloed watter boeke gewild is. By die Suidoosterfees se kinderfees byvoorbeeld word ongeveer 6 000 kinders blootgestel aan produksies wat deur boeke geïnspireer is, wat die impak van literatuur op jong gehore beklemtoon.

Struwig het ook die belangrikheid van die feesomgewing uitgelig. “Feeste bring mense bymekaar; dis waar wêrelde mekaar ontmoet,” het sy gesê. Die teenwoordigheid van media by feeste vergemaklik blootstelling, wat boekverkope verder bevorder. Sy het saamgestem dat boekgesprekke ’n unieke ruimte skep vir betekenisvolle interaksie tussen skrywers, lesers en ander kunstenaars.

Die paneel was dit eens dat boeke en kunstefeeste onlosmaaklik verbind is. Feeste bied ’n ruimte waar taal, kreatiwiteit en kultuur saamsmelt, en boeke speel ’n sleutelrol in hierdie sinergie. Cronjé het beklemtoon dat feeste uitdrukking gee aan die ATKV se missie as ’n kultuurorganisasie, waar mense deur die kunste mekaar beter leer ken. Sy het ook opgemerk dat feesbywoning toeneem, wat die groeiende belangstelling in hierdie platforms aandui.

Hierdie Jakes Gerwel-gesprek het bevestig dat boeke en kunstefeeste inderdaad pasmaats is en dat Myburgh gelyk het wanneer hy sê dat boeke nie net ’n deel van kunstefeeste nie, maar die hartklop daarvan is.

Lees ook:

Suidoosterfees 2025: Gedrukte media of digitaal – hoe vertolk ons die nuus? (Jakes Gerwel-gesprekke)

In gesprek met Kathie Viljoen oor 2025 SOF Junior, ’n deel van die Suidoosterfees

Suidoosterfees 2025: Proscenium-jeugteater in die kalklig

Suidoosterfees Junior 2025: Woordedief, ’n onderhoud met Margit Meyer-Rödenbeck

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top